Lesing 1: Die Openbaring van Jesus Christus
Ds. Louis Jordaan
Hierdie reeks se doel is om die boek Openbaring met duidelikheid te verduidelik. Die reeks is inlyn met hoe die protestante deur die eeue Openbaring verstaan en verkondig het. Die hedendaagse protestante het n katolieke vertolking van die boek Openbaring aangeneem wat nie inlyn is met hoe ons protestante pioniers die boek vertolk het nie. In hierdie reeks laat ds Jordaan die Bybel homself vertolk. Hierdie reeks was oor die 50 maal deur ds. Louis Jordaan aangebied. Jare later is die lesings meer en meer van toepassing op ons vandag, weens die aard van die profesieë.
Die reeks bestaan uit 16 lesings. Ek stel voor dat u by lesing 1 begin en werk stap vir stap deur die lesings. Byna al die verse is aanhalings uit die 1953 Arikaanse Bybel. Onder aan elke lesing kan u die volledige lesing aflaai in pdf, klankgreep en video.
Onderaan die lesing sal u die skakel kry vir die volgende lesing.
Inleiding
Die eerste Hoofstuk van die laaste boek in die Bybel
Open. 1:1 “Die Openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van Sy engel aan Sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”
Hierdie boek het net 404 verse maar 278 daarvan kom uit die res van die Bybel. Dus ‘n opsomming wat deur God self gemaak is. .
Open. 1:3 “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor, en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.”
Die woord Salig kom net 7maal in die Boek Openbaring voor.
Die drie stappe wat hier verduidelik word, is lees, hoor en bewaar. Net ons kan besluit of ons dit hoor. Laastens vra God ons om dit te bewaar. Ons moet tot aksie kom wat in hierdie reeks tot ons gaan kom.
Die laaste oproep in die Bybel
Die Laaste Hoofstuk
Open. 22:7 “Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.
Open. 22:10 “En Hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.”
Al is die woorde wat in hierdie boek geskrywe staan, nie maklik is om te bewaar nie, vra God vir ons, dat ons nie die boek moet verseël nie. Ons is besig met die laaste hoofstuk, die laaste bladsy, van die oudste boek ter wêreld.
Genade Afgesluit.
Daar kom ‘n dag in elkeen van ons se lewens, wat hierdie teks gaan waar word, God gaan dit verklaar:
Open. 22:11 “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.”
God verklaar Hy roep na jou , maar jy wil nie meer hoor nie. Hy het jou lief, maar ek sal dit moet afsluit. Hierdie teks het twee kante. Die wat wel wil hoor, gaan heiliger word. God gaan net voor die plae val, dit wat reg en verkeerd is uit mekaar haal. Op die oomblik lê reg en verkeerd as ‘n relatiewe begrip. Ons sal verskil, uit ‘n menslike perspektief wat reg en verkeerd is. Maar reg voor die einde gaan die Here hierdie lyn breed laat lê. Die lyn tussen reg en verkeerd gaan baie duidelik lê
Open. 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en My loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
Elkeen gaan nie gered word volgens jou geloofsbelydenis nie, ook nie volgens in watter kerk jy is nie. Maar jy sal gered word volgens jou werke. Dus sal jy gered word volgens hoe die verlossing van Jesus Christus in jou lewe gerealiseer het.
Ons Paspoort Tot Die Hemel
Ons het ‘n paspoort vir die Hemel nodig. ‘n Paspoort waarvoor Jesus baie duur op die kruis betaal het:
Open. 22:14 “Salig is die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte van die stad.”
Die Laaste Oproep
Kom ons lees die laaste oproep wat God vir ons gee. Is ons gereed om hierdie laaste oproep te hoor?
Open. 22:17 “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
Ons gaan die laaste aand hierdie vers weer lees. Dan gaan jy die besonderhede van die boek gehoor het.
Die kans vir ons tot die ewigheid is verniet.
Ons het nou enkele verse uit die eerste en laaste hoofstuk van Openbaring gelees. Ons gaan nou vir Jesus self vra oor Sy profetiese rede.
Deel 3
Jesus Se Profetiese rede
Die dissipel vat Jesus eenkant op die berg, alleen vra hulle hom hierdie drie vrae:
Matt 24:3 “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”
- Hoe gaan die wêreld tot ‘n einde kom?
- Wat is die teken van u koms?
- Wanneer sal hierdie dinge wees?
Jesus se antwoord:
Matt. 24:4 “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.”
Matt. 24:5 “Want baie sal onder My Naam kom en sê: Ek is die Christus! En hulle sal baie mense mislei.”
- BAIE MISLEIDING – baie valse profete.
Die Tyd Van Die Einde
Matt. 24:6 “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.”
Matt. 24:7 “Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.”
Matt. 24:8 “Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.”
Ons moet besef. Die tyd van die einde is nie ‘n oomblik of ‘n dag en ‘n datum nie. Die tyd van die einde is ‘n tydperk. Dit is ‘n tyd waar die kwaad tot ‘n klimaks gaan kom. Jesus sê wanneer al hierdie dinge begin, begin die smarte.
Baie Vaise Profete
Wat ons nou gaan lees is seker een van die moeilikste begrippe wat ons in Openbaring gaan moet verstaan:
Matt. 24: 11 “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.”
Hoeveel valse leraars, dominees, pastore en priesters gaan daar wees. Dus is daar niks besonders in wat in hierdie lesing gegee word nie. Ons moet net glo wat die Woord sê.
Hulle Doen Groot Wonders & Tekens
Hierdie is ‘n groot skok. Dis asof Jesus nie weg kom van die onderwerp af nie. Ons gaan sien dat hierdie een van die boek Openbaring se hoof temas is:
Matt. 24:24 “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen, om as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
Ons dink baie keer dis net Jesus wat wonderwerke kan doen. Ons dink hoe wonderlik is dit as die Dominee of Pastoor in die kerk bid en daar kom ‘n groot wonderwerk. Duidelik wil Jesus vir ons in hierdie vers uitwys dat ons die wonderwerke moet bevraagteken. Wys vers 24 nie vir ons uit dat die valse profete wonderwerke gaan kan doen nie? Klein of groot wonderwerke? Tot God se uitverkorenes sal mislei kan word, as hulle nie let op wat in die Bybel staan nie.
Matt. 24:25 “Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.”
Ons gaan nie kan sê ons het nie geweet nie.
‘n Baie Ernstige Waarskuwing
Kom ons kyk hoe baie kom hierdie waarskuwing in die Bybel voor:
Matt. 7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”
Hoe lyk ‘n valse profeet? Kom hy/sy met ‘n Bybel onder sy/haar arm of met ‘n vurkie in die hand?
Matt. 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! Sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is.”
Die wil van die Vader in die Hemel is dat daar in jou hart, liefde tot jou God moet wees en liefde teenoor jou naaste. EN hierdie liefde ontvang jy van God. God sê, Hy kan jou kliphart uithaal en vir jou ‘n hart van vlees gee. Die Here wil vir jou wedergeboorte skenk. Maar soos ons in die einde van die boek Openbaring gesien het, moet dit realiseer in jou lewe.
Hier kom twee skok-verse nou. Asseblief, nou moet ons lees, hoor en bewaar. Lukas 13 bring dieselfde waarskuwing:
Matt. 7:22 “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam – duiwels uitgedryf en in u Naam baie kragte gedoen nie?”
Matt. 7:23 “En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid(wet van God oortree) werk!”
Satan is so oortuigend met sy “Christelike” misleiding dat baie in die oordeel oortuig sal wees dat hulle gered is, maar in werklikheid is hulle verlore. Wat ‘n Ernstige waarskuwing!!!
So hoe werk Satan?
Satan As ‘n “Engel van die Lig”
2 Kor. 11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
2 Kor. 11:15 “Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”
Waar dink jy werk die Satan die hardste? By die dobbelhuis of in die kerk? Ons moet net glo wat in die Woord van God staan!
2 Kor. 11:13 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.”
Hoeveel valse dominees, pastore en priesters gaan daar wees? Gaan hulle wonderwerke kan doen? Dis nie Satanisme nie, ook nie die New Age Movement nie. Dis die laas genoemdes met ‘n nuwe baadjie aan, wat binne die kerk werk.
Die Antichris
Die Wederkoms van Christus sal vooraf gegaan word deur die openbaring van die Antichris.
2 Thess. 2:4 “Die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is
Die woord teëstander verwys na iemand wat anti- is, en in die geval Anit-Christus is. Waar gaan Satan werk? In die kerk.
2 Thess. 2:9 “Hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen.”
Almal dink dis van Jesus, trane word afgevee. Ja hulle gaan allerhande kragtige dade, wonderwerke, tekens en wonders van die leuen. Die King James vertaal dit.. “with lying wonders”
Die Draak Wat Soos Jesus Lyk
Ses en twintig keer verwys die boek Openbaring na Jesus as die Lam. Maar hier in Openbaring 13 sien ons ‘n ander mag. Die mag lyk of hy die lam is, maar hy praat soos die draak. Hierdie lam is van Satan af.
Open. 13:11 “En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak.”
Wat gaan hierdie lam doen?
Open. 13:13 “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.”
Dit Is Die Duiwel Wat Hierdie Wonderwerke Doen.
Open. 16:14 “Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”
Mag ons nooit glo dat almal in die Lam/Jesus se naam wonderwerke doen van God af is nie. Dis in werklik ‘n verskriklike Bybelse waarskuwing.
Jesus Se Bekommernis Oor Die Laaste Dae
Matt. 24:3 “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”
Nou mag ons dalk beter verstaan hoekom Jesus se eerste woorde was:
Matt. 24:11 “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.”
Matt. 24:24 “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
Daarom verklaar die Bybel in Matt. 4:4, Luk. 4:4 en Deut 8:4. dat ons nie van brood alleen kan leef nie, maar van die Woord van God. Die vraag is, hoeveel ure sit ons met sosiale media… alle vorme van media? Hoeveel tyd spandeer ons met die Woord van God? Het ons ‘n verhouding met Jesus? Waar lê jou balans?
Galásiërs 1:8 8Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!
As jy ‘n gesig kry, as jy ‘n droom kry, as jy ‘n wonderwerk in die kerk sien. Wat moet jou eerste reaksie wees? (Jes. 8:20, Matt. 22, Rom. 3:21,31)
Deel 5:
1 John 4:1 GELIEFDES, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.
Wanneer jy ‘n sterk indruk gekry het, stel dit op die proef. Is die boodskap van die bo-natuurlike in harmonie met die Woord van God?
– Hoe sal ons nou weet wie is Vals = Die sleutel om die Boek Openbaring oop te sluit = Die Boek Daniël.
Matt. 24:15 “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – Iaat hy wat lees, oplet.” (Mark 13:15)
Hier verklaar Jesus die antwoord oor hierdie griewel wat binne die kerk sal wees. Wanneer ons dus hierdie verleiding in die kerk sien, moet ons mooi oplet wat Daniel vir ons geskryf het. So kan ons die griewel verstaan wat aan die einde van tyd gaan plaasvind, veral wat binne die kerk gaan gebeur.
Ons gaan nog sien dat die boek Daniel en Openbaring loop hand aan hand. Die Boek Openbaring kan nie verstaan sonder die boek Daniel nie.
Dan. 2:28 “Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadneser bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit:”
Dan. 8:17 “Toe kom hy by my staanplek, en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.”
Dan. 8:19 “en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.”
As ons dus die einde wil verstaan, as ons wil verstaan wat nou in die wêreld aangaan, moet ons die boeke Daniel en Openbaring verstaan.
Gewoonlik as ‘n profeet ‘n boodskap van God gekry het, moet hy dit dadelik gaan gee vir die volk. Kyk nou wat gebeur met hierdie boodskap:
Dan. 12:4 “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe, baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.”
Dan. 12:9 “En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.”
1. Die Geheime Inligting
2. Die Verseëlde Inligting
3. Die Verborge Inligting
Hierdie inligting was nie vir Daniel se tyd nie, maar vir die tyd van die einde. Hier het God 2700 jaar terug vir ons ‘n boodskap geskryf, vir vandag.
Hierdie inligting is nou eers oopgemaak. Ja ons gaan nuwe inligting kry wat nog nie vroeër gedeel was nie. Ja daar gaan lesings wees wat jou totaal gaan skok.
Deel 6:
Die Heiliges Oorwin
Dan. 7:21 “Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin,”
Open. 13:7 “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.”
Dan. 8:12 “En ‘n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.”
Dan. 8:25 “En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sa! groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.”
Hierdie Gesigte = Waarheid
Dan. 8:26 “En die gesig van die aande en die mores waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op ‘n verre toekoms.”
Hierdie Is Skokkende Inligting
Dan. 7:15 “Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik.”
Dan. 7:28 “Hier is die einde van die saak, Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar.”
Dieselfde Konsep In Openbaring
Open. 10:1 “En ek het ‘n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met ‘n wolk, en ‘n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur.”
Open. 10:2 “En in sy hand het hy ‘n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land.”
1. Die Geheime Inligting
2. Die Verseëlde Inligting
3. Die Verborge Inligting
Open. 10:4 “En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek het ‘n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie.”
Verseëlde Inligting Geopen in die 7de Tydperk
Open. 10:7 “Maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.”
Deel 7:
Open. 10:8 “En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer tot my gespreek en gesê: Gaan, neem die geopende boekie in die hand van die engel wat op die see en op die land staan.”
Die Bitter, Soet, Skokkende Inligting
Open. 10:9 “En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning.”
Wanneer is jou maag seer? Wanneer jy goeie nuus gekry het of skok boodskap? Skok. Daar gaan lesings wees waar daar skok boodskappe gaan kom.
Open. 10: 10 “Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword.”
Ja die Bybel gaan vir ons nog lewend word. Jy gaan nie glo wat die Bybel alles vir ons te se gaan hê nie.
Openbaring vir ons wil bring, is moeilike inligting. Hier in Openbaring word ons meegedeel van ‘mag wat heiliges oorwin soos ons alreeds gesien het.”
Dit is dan die groot doel waarom hierdie Openbaring seminaar sal gaan. Dit is om vers vir vers hierdie laaste Profesie van Jesus Christus te bestudeer.
As u ernstig is oor u Christelike lewe dan gaan die Bybel vir u dit gee waarna u soek. As u wil verstaan wat nou in die wêreld aangaan, wag daar vir u ‘n opwindende tyd saam met die Woord van God.
Wees egter gewaarsku dat dit uiters belangrike, ernstige en skokkende inligting is wat nou na u gaan kom. Dit is waarom so baie mense wegskram van die Boek Openbaring.
Open. 10:11 “En hy het vir my gesê: Jy moet probeer oor baie volke en nasies en tale en konings.”
Hierdie Verborge Inligting Moet Wêreld-Wyd Geneem Word.
Samevatting
Open. 1:1 “Die Openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van Sy engel aan Sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”
Open. 1:3 “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor, en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.”
Jesus sê dat hierdie inligting soet en bitter sal wees. Met ander woorde daar is goeie en slegte nuus vir ons.
Groot is die seën wat tot ons gaan kom in hierdie studies uit die Boek Openbaring.
Het ons Gelees, Gehoor & Ter Harte geneem dat dit die Openbaring van Jesus is wat God die Vader aan Hom gegee het.
Het u gehoor dat die valsheid dalk in jou kerk kan wees? Het u gehoor dat u dominee dalk deur Satan beïnvloed/gelei kan word. Dis God wat dit sê. Daar is niks besonders in die skrywer van die woorde nie, ons kan net die Woord van God vertrou.
Hierdie hele boek is gevul met spesiale inligting wat Jesus nou wil hê ons moet weet. Besef u dit was geseël vir baie jare. Juis relevant vir ons vandag. Spesiaal geskryf vanaf God vir jou en my vandag.
Die Boek Daniël die sleutel om die Boek Openbaring mee oop te sluit.
Matt. 24:15 “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël sien staan in die heiligdom -laat hy wat lees, oplet-“
Die Profetiese Woord
2Pet. 1:19 “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte.”
2Pet. 1:20 “terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’11 saak van eie uitlegging is nie;”
Laat die Bybel die profesieë vir ons uitlei in die reeks
2Pet. 1:21 “want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
Amos 3:7 “Want die Here HERE doen niks tensy Hy Sy raadsbesluit aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”
Een van die grootste geheime in die Christelike lewe, is persoonlike Bybelstudie. Dit is eers wanneer ons persoonlik met die Bybel bekend is dat ons spontaan groei, en ook ‘n spontane geloof ontwikkel.
Die Boek Openbaring het 404 verse. 278 van die verse is aanhalings uit die res van die Bybel. Openbaring kan dus met reg gesien word as ‘n Opsomming van die hele Bybel.
Dit is ook goed om te besef dat hierdie ‘n opsomming is wat persoonlik deur Jesus gedoen was. Dit maak dan van Openbaring ‘n besondere boek van die Bybel.
| 3 Ure | 3 Dae | |
| Gehoor alleen | 70% | 10% |
| Gehoor & Visueel | 72% | 65% |
| Persoonlike Studie | 90% |
Lesing Media
Die boek Openbaring – Lesing 1 pdf: 01-Die-Boek-Openbaring-Die-Openbaring-van-Jesus-Christus-JLL-Jordaan.pdf
Volledige klankbaan van Lesing 1: 01-Die-Boek-Openbaring-Die-Openbaring-van-Jesus-Christus-JLL-Jordaan.mp3
Oorspronklike Video van Lesing 1: -Die-Boek-Openbaring-Die-Openbaring-van-Jesus-Christus-JLL-Jordaan.mp4
Elke hoofstuk word aan die einde van die bladsy beskikbaar gestel in pdf (geskrewe formaat), mp3 (klankbaan) en mp4 (video). U is welkom om die materiaal en die webwerf te deel soos u goeddink. Daar is wel een voorwaarde: moet nie die inhoud op enige manier verander dat dit afbreek maak van die oorspronklike nie. As u enige veranderinge aan die oorspronklike wil maak, kontak ds. Louis Jordaan se seun Jaco by info@TeksOpTeks.co.za of TeksOpTeks@gmail.com
4 replies on “Die Boek Openbaring – 01 Die Openbaring van Jesus Christus”
Ek soek die geskrewe formaat maw die handleiding wat met hierdie reeks saamgaan, nie die video’s of klank opnames nie, slegs getikte formaat in Afrikaans, asb.
Goeie dag, ons is besig om die reeks te verwerk. Hier is die geskrewe wergawes van elke hoofstuk. Soos die verwerking gedoen word sal die volgende hoofstukke beskikbaar gemaak word op dieselfde skakel en die webwerf.
OneDrive Skakel na PDF
Goeiemôre, wil baie graag uitvind of u ‘n Bybelstudie het oor Daniël en Openbaring?
Goeie dag. Ja ons is besig om die reeks oor Openbaring (en Daniel) te verwerk. Dit behoort vroeg volgende jaar gereed te wees.