Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Die hele mensdom is tans by ‘n groot stryd betrokke tussen Christus en die Satan oor die natuur van God, Sy wet en Sy soewereiniteit oor die heelal. Hierdie stryd het in die hemel ontstaan toe ‘n geskape wese wat met vryheid van keuse bedeel was, homself verhef en sodoende die Satan, die teenstander van God geword het. Hy het ‘n gedeelte van die engeleskare saam met hom tot rebellie opgesweep. Hy het die gees van opstand in hierdie wêreld ingevoer toe hy Adam en Eva tot die sonde verlei het. Hierdie menslike sonde het daartoe gelei dat die beeld van God in die mens geskend, die geskape wêreld ontwrig en die wêreld tydens die wêreldvloed verwoes is. Terwyl die hele skepping toekyk, het hierdie wêreld die arena van die universele konflik geword, waaruit die God van die liefde uiteindelik gelyk gegee sal word. Om Sy volk in hierdie stryd by te staan, stuur Christus die Heilige Gees en die getroue engele om hulle op die verlossingsweg te lei, te beskerm en te onderhou. ( Openb. 12:4-9; Jes. 14:12-14; Ese. 28:12-18; Gen. 3; Rom. 1:19-32; Rom. 5:12-21; Rom. 8:19-22; Gen. 6:8; 2 Pet. 3:6; 1 Kor. 4:9; Heb. 1:14. )
Die Groot Stryd
Die Skrif beskryf
‘n kosmiese stryd tussen goed en kwaad, God en die Satan. ‘n Begrip van hierdie
stryd, waarby die ganse heelal betrokke is, help die vraag beantwoord, waarom
Jesus na hierdie planeet gekom het.
‘n Kosmiese Beskouing van die Stryd
Dis ‘n onverklaarbare raaisel waarom ‘n botsing tussen goed en kwaad in die hemel uitgebreek het. Hoe kon sonde in ‘n volmaakte omgewing ontstaan?
Engele, wat wesens van ‘n hoër orde as die mense was (Ps. 8:6), is geskape om intieme gemeenskap met God te geniet (Openb. 1:1; Openb. 3:5; Openb. 5:11). Met groter krag, en gehoorsaam aan die Woord van God (Ps. 103:20), dien hulle as dienaars of dienende geeste (Heb. 1:14). Hoewel hulle gewoonlik onsigbaar is, verskyn hulle soms in menslike gedaante (Gen. 18; Gen. 19; Heb. 13:2). Dit was deur een van hierdie engelewesens dat die sonde in die heelal gekom het.
Die Ontstaan van die Stryd. Deur die konings van Tirus en Babel as sinnebeelde te gebruik, vertel die Skrif ons hoe die stryd ontstaan het. Die “môrester, seun van die dageraad,” die beskuttende gerub, het hom in die teenwoordigheid van God bevind (Jes. 14:12; Eseg. 28:14).1 Die Skrif sê: “Jywas die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid…. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is” (Eseg. 28:12, 15).
Hoewel die ontstaan van die sonde onverklaarbaar en onverdedigbaar is, kan sy oorsprong na die hoogmoed van Lucifer (die Morester) teruggespoor word: “Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid: jy het jou wysheid verderwe weens jou glans” (Eseg. 28:17). Lucifer was nie tevrede met die verhewe status wat die Skepper aan hom toegeken het nie. In sy selfsug het hy gelykheid met God begeer. “Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God…ek wil… my gelykstel met die Allerhoogste” (Jes. 14:12,14). Hoewel hy God se posisie begeer het, het hy nie Sy karakter begeer nie. Hy het na die gesag van God gereik, maar nie na Sy liefde nie. Lucifer se verset teen die heerskappy van God was die eerste stap in sy verandering in die Satan, “die teenstander.”
Lucifer se bedekte handelinge het baie engele se oë verblind vir die liefde van God. Die gevolglike ontevredenheid en ontrouheid teenoor die heerskappy van God het toegeneem totdat ‘n derde van die engeleskare saam met hom in opstand gekom het (Openb. 12:4). Die vreedsaamheid van die koninkryk van God was verbreek en “daar het oorlog in die hemel gekom” (Openb. 12:7). Die uitslag van die hemelsestryd was dat die Satan, wat as die groot draak, die ou slang en die duiwel beskryf word, “neergewerp [is] op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openb. 12:9).
Hoe Het die Mens Betrokke Geraak? Toe die Satan uit die hemel gewerp is, het hy sy verset na die aarde uitgebrei. Vermom soos ‘n slang wat praat, het hy dieselfde argumente gebruik as die wat tot sy val gelei het, het hy daarin geslaag om Adam en Eva se vertroue in hul Skepper te ondermyn (Gen. 3:5). In Eva het die Satan ontevredenheid oor haar status verwek. Gelok deur die vooruitsig om aan God gelyk te word, het sy die verleier se woord geglo – en God s’n betwyfel. Ongehoorsaam aan die bevel van God het sy van die vrugte geëet en haar man oorreed om dieselfde te doen.
Deur eerder die woord van die slang te glo as dié van hul Skepper het hulle hul vertroue in en trou aan God verraai. Tragies, dus, het die stryd wat in die hemel begin het, op die aarde posgevat (Kyk Genesis 3).
Deur ons stamouers tot sonde te verlei het die Satan op slinkse wyse die heerskappy oor die aarde van hulle afgeneem. Hy het nou beweer dat hy die “prins van hierdie wêreld” is en God, Sy heerskappy en die vrede van die ganse heelal van sy nuwe hoofkwartier, die aarde, uitgetart.
Die Gevolge vir die Mensdom. Die gevolge van die stryd tussen Christus en die Satan het weldra duidelik geword namate die sonde die beeld van God in die mens geskend het. Ondanks God Sy genadeverbond deur Adam en Eva aan die mensdom aangebied het (Gen. 3:15; kyk hoofstuk 7 van hierdie boek), het die egpaar se eerste kind, Kain, sy broer vermoor (Gen. 4:8). Die ongeregtigheid het al erger geword totdat ‘n bedroefde God moes verklaar dat “die boosheid van die mens op die aarde groot was, en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was” (Gen. 6:5).
God het ‘n groot vloed gebruik om die wêreld van sy onboetvaardige inwoners te reinig en om die mensdom kans te gee om van voor af te begin (Gen. 7:17-20). Dit was egter nie lank nie of die afstammelinge van die getroue Noag het van die verbond van God afgewyk. Hoewel God belowe het om die aarde nooit weer deur water te laat vergaan nie, het hulle op blatante wyse getoon dat hulle Hom nie vertrou nie en die toring van Babel begin bou om die hemel te probeer bereik en sodoende te ontkom indien daar weer ‘n oorstroming sou wees. Hierdie keer het God die mens se wederstrewigheid beantwoord deur sy universele taal te verwar (Gen. 9:1, 11; 11).
Ietwat later, toe die wêreld byna heeltemal afvallig geword het, het God Sy verbond met Abraham aangegaan. Deur Abraham sou God al die nasies van die wêreld seën (Gen. 12:1-3; 22:15-18). Ook die daaropvolgende geslagte van Abraham se afstammelinge het egter ontrou aan God se genadige verbond geword. Vasgevang in die sonde het hulle die Satan gehelp om sy doel in die groot stryd te bereik deur die Aanbieder en Borg van die verbond, Jesus Christus, te kruisig.
Die Aarde die Arena van die Heelal. Die verslag in die boek Job waarin daar na ‘n kosmiese vergadering verwys word waarheen verteenwoordigers uit verskillende dele van die heelal kom, gee groter insig in die groot stryd. Die verslag begin met: “En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die Here te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die Here vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die Here en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het” (Job 1:6,7; Job 2:1-7).
Toe sê die Here wat min of meer neerkom op: “Satan, kyk na Job. Hy is getrou in die gehoorsaming van My wet. Hy is volmaak!” (kyk Job 1:8).
Toe die Satan beswaar maak met: “Ja,maar hy is maar net volmaak omdat dit die moeite werd is om U te dien. Beskerm U hom dan nie?” Daarop het Christus toegelaat dat die Satan Job op enige manier beproef behalwe om sy lewe te neem (kyk Job 1:9-2:7).
Die kosmiese perspektief wat die boek Job verskaf, is ‘n duidelike bewys van die groot stryd tussen Christus en die Satan. Hierdie planeet is die verhoog waarop hierdie dramatiese stryd tussen goed en kwaad afgespeel word. Soos die Skrif sê: “Ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense” (1 Kor. 4:9).
Sonde het die verhouding tussen God en die mense verbreek, en “alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde” (Rom. 14:23). Die skending van die gebooie of wette van God is die onmiddellike gevolg van ‘n gebrek aan geloof, die bewys van ‘n gebroke verhouding. Op sy beurt, deur die verlossingsplan, beoog die Here om die vertroue in die Skepper te herstel, wat lei tot ‘n liefdevolle verhouding wat deur gehoorsaamheid gekenmerk word. Soos Christus gesê het, die liefde gee aanleiding tot gehoorsaamheid (Joh. 14:15).
In hierdie wettelose dae word absolutes geneutraliseer, oneerlikheid geprys, is omkopery ‘n lewenswyse, word egbreuk alom gepleeg, en word ooreenkomste, internasionaal sowel as persoonlik, verbreek. Dit is ons voorreg om verby ons wanhopige wêreld te kyk na ‘n sorgsame, almagtige God. Hierdie groter siening toon ons hoe belangrik ons Heiland se versoening was, wat die universele stryd sal beeïndig.
Die Kosmiese Strydpunt
Wat is die strydvraag in hierdie worsteling om lewe en dood?
Die Heerskappy en die Wet van God. Die sedewet van God is net so noodsaaklik vir die bestaan van Sy heelal as die fisiese wette wat dit aanmekaar hou en laat funksioneer. Die sonde is “wetteloosheid” (1 Joh. 3:4), soos die Griekse woord anomia aandui. Wetteloosheid spruit uit ‘n verwerping van God en Sy heerskappy.
Pleks van verantwoordelikheid vir die wetteloosheid in die wêreld te erken, plaas die Satan die skuld op God. Hy beweer dat die wet van God, wat hy arbitrêr noem, inbreuk maak op individuele vryheid. Verder beweer hy ook dat, omdat dit onmoontlik is om dit te gehoorsaam, die wet inbreuk maak op die belange van geskape wesens. Deur hierdie volgehoue en slinkse ondermyning van die wet, trag die Satan om God se heerskappy en selfs God self omver te werp.
Christus en die Kwessie van Gehoorsaamheid. Die versoekinge waaraan Christus blootgestel is tydens sy bediening op aarde het die erns van die polemiek oor gehoorsaamheid en ‘n oorgawe aan die wil van God onderskryf. Deur hierdie versoekings te weerstaan, wat Hom voorberei het om ” ‘n barmhartige en getroue hoëpriester” te wees (Heb. 2:17), het Hy in ‘n tweegeveg teen dodelike vyand te staan gekom. Nadat Christus veertig dae lank in die woestyn gevas het, het die Satan Hom versoek om klippe in brood te verander om te bewys dat Hy waarlik die Seun van God was (Matt. 4:3). Net soos hy Eva in die versoeking gebring het om die woord van God te betwyfel, wou die Satan Christus nou laat twyfel aan die geldigheid van wat God met Sy doop gesê het: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het” (Matt. 3:17). As Christus sake in eie hande geneem en klippe in brood verander het om te bewys dat Hy die Seun van God is, sou Hy, soos Eva, ‘n gebrek aan vertroue in God aan die dag gelê het. Sy sending sou op ‘n mislukking uitgeloop het.
Christus se vaste voorneme was egter om Sy lewe na Sy Vader se woord te orden. Ondanks Hy baie honger was, het Hy die Satan se versoeking beantwoord met: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4).
In nog ‘n poging om Christus te verslaan, het die Satan Hom ‘n panoramiese uitsig oor die koninkryke van die wêreld gegee, met die belofte: “Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (Matt. 4:9). Hiermee het hy te kenne gegee dat Christus die wêreld daardeur sou herwin het en sodoende Sy sending sou voltooi sonder om die foltering van Golgota deur te maak. Sonder om ‘n oomblik te aarsel en in volstrekte gehoorsaamheid aan God het Jesus beveel: “Gaan weg, Satan!” Toe, het hy die Skrif aangehaal -en dis die doeltreffendste wapen in die groot stryd “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Matt. 4:10). Sy woorde het ‘n einde aan die stryd gebring. Deur volstrekte afhanklikheid van die Vader te handhaaf, het Christus die Satan verslaan.
Beslissende Kragmeting op Golgota. Hierdie kosmiese stryd word op Golgota die duidelikste gesien. Die Satan het sy pogings verskerp om Jesus se sending te verongeluk namate die tyd van die einde genader het. Die Satan het veral daarin geslaag om die godsdienstige leiers van die tyd te gebruik. Hulle nyd oor Jesus se gewildheid het soveel moeilikheid veroorsaak dat Hy Sy openbare bediening moes staak (Joh. 11:45-54). Deur middel van verraad deur een van Sy eie dissipels, en meinedige getuienis is Jesus in hegtenis geneem, verhoor en tot die dood veroordeel (Matt. 26:63, 64; Joh. 19:7). In volstrekte gehoorsaamheid aan Sy Vader se wil, was Jesus tot die dood toe getrou.
Die heilsame resultate van sowel Christus se lewe as Sy dood reik verby die beperkte domein van die menseras. Met verwysing na die kruis het Jesus gesê: “Nou sal die owerste van hierdie wêreld [die Satan] buitentoe gedryf word” {Joh. 12:31).”Dieowerste van hierdie wêreld [is] geoordeel” (Joh. 16:11).
Aan die kruis het die kosmiese stryd sy klimaks bereik. Die liefde en lojale gehoorsaamheid wat Christus daar ondanks die Satan se wreedheid gedemonstreer het, het die Satan se posisie ondergrawe en so sy uiteindelike ondergang verseker.
Stryd om die Waarheid Soos Dit in Jesus Is
Tans gaan die groot stryd wat so hewig om Christus se gesag woed, nie net oor Sy wet nie, maar oor Sy Woord – die Skrifte. Uitgangspunte oor die vertolking van die Bybel het ontstaan wat min ruimte vir Goddelike openbaring laat.2 Die Skrif word bejeen asof dit geensins verskil van enige ander antieke geskrifte nie en word met dieselfde kritiese metodologie ontleed. Al meer Christene, onder wie teoloë, beskou die Skrif nie meer as die Woord van God, die onfeilbare openbaring van Sy wil nie. Die gevolg is dat hulle die Bybelse siening van die wese van Jesus Christus bevraagteken; Sy natuur, maagdelike geboorte, wonderwerke en opstanding word wyd en syd gedebatteer.3
Die Kritiekste Vraag. Toe Christus gevra het: “Wie sê die mens dat Ek, die Seun van die mens, is?” het die dissipels geantwoord: “Sommige Johannes die Doper, en sommige Elia, en ander Jeremia of een van die profete” (Matt. 16:13, 14). Met ander woorde, Sy tydgenote het Hom as ‘n gewone mens beskou. Die Skrif sit die bespreking egter voort: Jesus het die twaalf gevra: “Maar julle, wie se julle is Ek?”
En Simon Petrus antwoord en se: ”U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
”Toe antwoord
Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit
nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is” (Matt. 16:15-17).
Tans staan almal voor dieselfde vraag wat Christus aan Sy dissipels gestel het. Ons antwoord op hierdie vraag van lewe en dood hang af van ons geloof in die getuienis van die Woord van God.
Die Middelpunt van die Bybelse Leer. Christus is die brandpunt van die Skrifte. God nooi ons om die waarheid soos dit in Jesus is te verstaan (Efe. 4:21), want Hy is die waarheid (Joh. 14:5). Een van die Satan se strategieë in die kosmiese stryd is om mense te oortuig dat hulle die waarheid afgesien van Jesus kan begryp. Etlike bronne van waarheid is dus al voorgestel, hetsy individueel of gesamentlik: (1) die mens, (2) die natuur, of die waarneembare heelal, (3) die Skrifte, en (4) die kerk.
Hoewel al hierdie dinge ‘n rol het in die openbaring van die waarheid, hou die Skrif Christus voor as die Skepper van al hierdie dinge, en wat bo hulle verhewe is. Al hierdie dinge kry eers ware betekenis in die Een uit wie hulle ontstaan het. Om die Bybelse leerstellings van Hom te skei, lei tot ‘n wanbegrip in verband met “die weg en die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6). Dit pas sowel die aard as die doel van die antichris om ander sentrums van die waarheid aan die hand te doen as Christus. (In die oorspronklike Grieks beteken antichris nie net “teen” Christus nie, maar ook “in die plek van Christus.) Deur ‘n ander middelpunt as Christus in die kerk aan die hand te doen, bereik die Satan sy doel om die aandag weg te trek van die Een wat die mens se enigste hoop is.
Die Funksie van die Christelike Teologie. Die kosmiese oogpunt onthul die Satan se poging om Christus uit Sy regmatige posisie te verdring, sowel in die heelal as in die waarheid. Die teologie, wat ‘n studie is van God en Sy verhouding met Sy skepsele, moet al die leerstellings in die lig van Christus ontvou. Die Christelike teologie se mandaat is om vertroue in die gesag van die Woord van God in te boesem en om al die ander voorgestelde middelpunte van die waarheid met Christus te vervang. Sodoende dien die ware Christelike teologie die kerk goed, want dan raak dit die kern van die kosmiese stryd; dit onthul die strydpunt en weerlê dit met die enigste onweerlegbare argument – Christus soos in die Skrifte geopenbaar. Uit hierdie perspektief kan God die teologie as ‘n doeltreffende instrument gebruik om die mens te help om die Satan se pogings op aarde te weerstaan.
Die Belangrikheid van die Leer
Die leer aangaande die groot stryd openbaar die geweldige worsteling waarmee elke mens te doene kry wat in die wêreld gebore word – en dit raak in der waarheid elke uithoek van die heelal. Die Skrif verklaar: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efe. 6:12),
Die Leer Wek ‘n Volgehoue Waaksaamheid. ‘n Begrip van hierdie leer oortuig ‘n mens van die noodsaaklikheid om teen die bose te stry. Sukses is alleen moontlik deur afhanklikheid van Jesus Christus, die Leërowerste van die Here, die Here, “geweldig in die stryd” (Ps. 24:8). Soos Paulus gesê het, om Christus se oorlewingstrategie aan te neem is: “Neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheid en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evanglie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle vandie Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God – terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efe. 6:13-18). Watter voorreg is dit vir die ware Christen om ’n lewe te lei wat gekenmerk word deur geduld en getrouheid en ‘n paraatheid vir die stryd te alle tye (Openb. 14:2), waarin ’n voortdurende afhanklikheid betoon word van die Een wat ons meer as “oorwinnaars ” gemaak het (Rom. 8:37).
Dit Verklaar die Raaisel van Lyding. Ongeregtigheid het nie by God ontstaan nie. Hy wat “geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat” het (Heb. 1:9), is nie aanspreeklik vir die wêreld se ellende nie. Die Satan, ‘n gevalle engel, is verantwoordelik vir wreedheid en lyding. Ons kan roof, moord, begrafnisse, misdaad en ongelukke – hoe hartverskeurend ook al beter verstaan as ons hulle in die kader van die groot stryd beskou.
Die kruis getuig van sowel die verwoestende uitwerking van sonde as van die diepte van die liefde van God vir sondaars. So leer die tema van die groot stryd ons om die sonde te haat en om die sondaar lief te hê.
Dit Vertoon Christus se Huidige Liefdevolle Sorg vir die Wêreld. Toe Christus na die hemel teruggekeer het, het Hy Sy kinders nie as wese agtergelaat nie. In Sy groot deernis het Hy ons van elke moontlike hulp in ons stryd teen die Bose voorsien. Die Heilige Gees het opdrag gekry om namens Christus op te tree en om ons gedurige metgesel te wees totdat Christus terugkeer (Joh. 14:16; vgl. Matt. 28:20). Die engele is ook ingespan om by Sy reddingswerk betrokke te wees (Heb. 1:14). Ons oorwinning is verseker. Ons kan hoop en moed skep waar ons die toekoms tegemoet gaan, omdat ons Meester in beheer van sake is. Ons lippe kan Hom loof vir Sy reddingswerk.
Dit Openbaar die Kosmiese Betekenis van die Kruis. Die heil van die mensdom was op die spel in Christus se bediening en dood, want Hy het gekom om Sy lewe vir die vergifnis van sondes te gee. Daarmee het Hy Sy Vader se karakter, wet en heerskappy geregverdig – waarteen die Satan valse begeertes gekoester het.
Christus se lewe het God se geregtigheid en goedheid bewys en getoon dat die wet en heerskappy van God billik is. Christus het die ongegrondheid van die Satan se aanval teen God aan die kaak gestel en getoon dat berouvolle gelowiges deur algehele afhanklikheid van God se krag en genade bo die kwellinge en frustrasies vandie daaglikse versoekings kan uitstyg en ‘n lewe van oorwinning oor die sonde kan lei.
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
TERUGVOER
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. Lucifer is’n Latynse woord wat “ligdraer” beteken. Die uitdrukking “seun van die dageraad” is algemeen gebruik en het die “môrester” of Venus beteken. ” ‘n Letterlike weergawe van die Hebreeuse uitdrukking wat as ‘môrester, seun van die dageraad’ vertaal is, sou wees ‘blinke [wese], seun van die dageraad: Die figuurlike toepassing van die skitterende planeet Venus, die helderste van alle hemelliggame, aan die Satan voor sy sondeval…is heel gepas as ‘n grafiese uitbeelding van die hoë posisie waaruit Lucifer geval het” (“Lucifer,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 683).
2. Kyk General Conference Committee, “Methods of Bible Study,” 1986; Hasel, Biblical Interpretation Today (Washington, D.C., Biblical Research Institute [van die Wêreldkonferensie van Sewendedag-Adventiste], 1985).
3. Kyk bv. K. Runia, The Present-day Christological Debate (Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press, 1984); G.C. Berkouwer, The Person of Christ (Grand Rapids, MI: Wm. B. Eerdmans, 1954), bl. 14-56.