Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
God die ewige Gees was saam met die Vader en die Seun werksaam met die Skepping, vleeswording en verlossing. Hy het die skrywers van die Bybel geïnspireer. Hy het Christus se lewe met krag vervul. Hy trek en oortuig mense; en diegene wat gehoor gee, vernuwe en verander Hy na die beeld van God. Omdat Hy deur die Vader en die Seun gestuur is om altyd by Sy kinders te wees, deel Hy geestelike gawes aan die kerk uit, stel Hy dit in staat om vir Christus te getuig, en lei Hy dit ooreenkoms die Skrifte in alle waarheid (Gen. 1:1,2; Luk. 1:35; 4:18; Hand. 10:38; 2 Pet.1:21; 2 Kor. 3:18; Efe. 4:11, 12; Hand. 1:8; Joh. 14:16-18, 26; Joh. 15:26, 27; Joh. 16:7-13.)
God die Heilige Gees
Hoewel die dissipels van Jesus na die kruisiging verwar, beangs en verskrik was, het die opstanding vir hulle ‘n nuwe dag ingelui. Toe Christus die bande van die dood verbreek het, het die koninkryk van God in hul harte opgekom.
‘n Onuitbluslike vuur het nou in hul harte gebrand. Verskille wat enkele weke tevore onaangenaamheid onder die dissipels veroorsaak het, het nou verdwyn. Hulle het hul foute teenoor mekaar bely en hul harte meer volkome oopgestel vir Jesus as hul opgevaarde Koning.
Die eendrag tussen hierdie eens verstrooide kudde het toegeneem namate hulle dag na dag in gebed deurgebring het. Een onvergeetlike dag was hulle besig om God te prys toe die geluid soos van ‘n rukwind deur hul geledere getrek het. Asof die vuur in hul brandende harte sigbaar geword het, het vurige vlamme op elke hoof neergedaal. soos ‘n verterende vuur het die Heilige Gees op hulle neergedaal.
Noudat hulle met die Gees vervul is, kon hierdie dissipels hulle nie meer bedwing in hul nuutgevonde liefde en vreugde in Jesus nie. Hulle het openlik en geesdriftig begin om die goeie tyding van verlossing te verkondig. Op die geluid het ‘n menigte inwoners en pelgrims uit talle lande hulle na die gebou gehaas. Verbaas en verward het hulle – in hul eie taal – kragtige getuienisse oor God se magtige werke uit die mond van hierdie ongeleerde Galileërs gehoor.
“Wat gaan aan?” wou party weet. “Ek verstaan dit nie!” Ander het dit probeer wegpraat deur te sê: “Hulle is dronk.” “Nee,” het Petrus bo die rumoer van die skare uitgeroep, “dis nog maar nege-uur in die oggend. Wat julle gehoor en gesien het, is wat gebeur omdat die herrese Jesus Christus na die regterhand van God opgehef is en nou die Heilige Gees uitdeel” (Hand. 2).
Wie Is die Heilige Gees?
Die Bybel openbaar dat die Heilige Gees ‘n wese is, nie ‘n onpersoonlike mag nie. Verklarings soos, ”Die Heilige Gees en ons het besluit” (Hand. 15:28), toon dat die vroeë gelowiges Hom as ‘ n persoon beskou het. Christus het ook na Hom as ‘n afsonderlike persoon verwys. “Hy sal My verheerlik,” het Hy gesê, “omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Joh. 16:14). Skrifte wat na die Drie-enige God verwys, beskryf die Gees as ‘n persoon (Matt. 28:19; 2 Kor. 13:14).
Die Heilige Gees het persoonlikheid. Hy heers (Gen. 6:3), onderrig (Lukas 12:12), oortuig (Joh. 16:8), rig kerksake (Hand. 13:2), help en bemiddel (Rom. 8:26), besiel (2 Pet. 1:21) en heilig (1 Pet. 1:2). Hierdie werksaamhede kan nie deur ‘n blote krag, invloed of hoedanigheid van God verrig word nie. Alleen ‘n persoon kan dit doen.
Die Heilige Gees Is Waarlik God
Die Skrif sien die Heilige Gees as God. Petrus het vir Ananias gesê dat hy vir die Heilige Gees gelieg het en daarom nie vir mense gelieg het nie, “maar vir God” (Hand. 5:4). Jesus beskryf die onvergeeflike sonde as “lastering teen die Heilige Gees” en verklaar: “Elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook nie in die toekomende nie” (Matt. 12:31,32). Dit kan alleen geld as die Heilige Gees God is.
Die Skrif assosieer Goddelike hoedanighede met die Heilige Gees. Hy is lewe. Paulus verwys na Hom as die “Gees van die lewe” (Rom. 8:2). Hy is waarheid. Christus noem Hom “die Gees van die waarheid” (Joh. 16:13). Die uitdrukkings “die liefde van die Gees” (Rom. 15:30) en “die Heilige Gees van God” (Efe. 4:30) toon dat liefde en heiligheid deel van Sy natuur is.
Die Heilige Gees is almagtig. Hy deel geestelike gawes uit “aan elkeen afsonderlik. .. soos Hy wil” (1 Kor. 12:11). Hy is alomteenwoordig. Hy sal ”by julIe bly tot in ewigheid” (Joh. 14:16). Niemand kan aan Sy invloed ontkom nie (Ps. 139:7-10). Hy is ook alwetend, want “die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” en “niemand [weet] wat in God is nie, behalwe die Gees van God” (1 Kor. 2:10, 11).
Die werke van God word ook met die Heilige Gees geassosieer. Hy is by sowel die skepping as die opstanding betrokke. Job het “Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend” (Job 33:4). En gesê: die psalmdigter getuig: “U stuur u Gees uit, hulle word geskape” (Ps. 104:30). Paulus het getuig: “Hy wat Christus uit die dode opgewek het, [sal] ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy Gees wat in julle woon” (Rom. 8:11).
Alleen ‘n alomteenwoordige persoonlike God, nie ‘n onpersoonlike invloed nie, ook nie ‘n geskape wese nie, kon die wonderwerk verrig het deur die Goddelike Christus aan een individu, Maria, te gee. Met Pinkster het die Gees die een Godmens, Jesus, vir alle gewillige ontvangers universeel teenwoordig gemaak.
Die Heilige Gees word in die doopformule (Matt. 28:19), die apostoliese seënbede (2 Kor. 13:14), en die rede oor die geestelike gawes as gelyk met die Vader en die Seun beskou (1 Kor. 12:4-6).
Die Heilige Gees en die Godheid
Van ewigheid af het God die Heilige Gees as die derde lid in die Godheid bestaan. Die Vader, Seun en Heilige Gees is ewe selfbestaande. Hoewel elkeen gelyk is, is daar ‘n ordening van funksie binne die Drie-eenheid (kyk hoofstuk 2 van hierdie boek).
Die waarheid aangaande God die Heilige Gees kan deur die wese van Jesus beter verstaan word. Wanneer die Gees tot gelowiges kom, kom Hy as die “Gees van Christus” – Hy kom nie in eie hoedanigheid, met Sy eie geloofsbriewe nie. Sy werksaamheid deur die geskiedenis berus op Christus se verlossingsending. Die Heilige Gees was aktief betrokke by die geboorte van Christus (Lukas 1:35), het Sy openbare bediening tydens Sy doop bevestig (Matt. 3:16, 17), en het die voordele van Christus se soendood en opstanding aan die mens beskikbaar gestel (Rom. 8:11).
Dit blyk dat die rol van die Heilige Gees in die Godheid uitvoerend van aard is. Toe die Vader Sy Seun aan die wêreld gegee het (Joh. 3:16), is Hy deur die Heilige Gees verwek (Matt. 1:18-20). Die Heilige Gees het gekom om die plan te voleindig en te verwesenlik.
Die Heilige Gees se intieme betrokkenheid by die skepping blyk uit Sy teenwoordigheid tydens die skepping (Gen. 1:2). Die ontstaan en voortsetting van die lewe hang van Sy werking af. Sy onttrekking beteken die dood. Die Bybel verklaar: “As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer” (Job 34:14, 15; vgl. 33:4). Ons kan die afskynsel van die Gees se skeppingswerk in Sy herskeppende invloed sien in elke mens wat sy hart vir God oopstel. God sit Sy werk in individue deur die Skeppende Gees voort. Met die geboorte, skepping en herskepping bring die Gees God se voornemens dus tot vervulling.
Die Beloofde Gees
Ons was bestem om wonings vir die Heilige Gees te wees (kyk 1 Kor. 3:16). Adam en Eva se sonde het hulle van sowel die Tuin as die inwonende Gees geskei. Daardie skeiding duur voort. Die gruwelike goddeloosheid voor die sondvloed het God laat verklaar: ”My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie” (Gen. 6:3).
In die dae van die Ou Testament het die Gees sekere mense toegerus om besondere take te vervul (Num. 24:2; Rig. 6:34; 1 Sam. 10:6). Soms is Hy “in” mense (Exod. 31:3; Jes. 63:11). Ongetwyfeld was ware gelowiges bewus van Sy teenwoordigheid, maar die profesieë het ‘nuitstorting van die Heilige Gees “op alle vlees” voorspel (Joel 2:28) – ‘n tyd wanneer ‘n groter manifestasie van die Gees ‘n nuwe tydvak sou inlui.
Terwyl die wêreld in die hande van die indringer verkeer het, moes die uitstorting van die Gees wag. Voordat die Gees op alle vlees uitgestort kon word, moes Christus eers Sy aardse bediening uitvoer en die soenoffer volbring. Johannes die Doper het, in ‘n aanduiding dat Christus se bediening ‘n bediening van die Gees sou wees, verklaar: “Ek doop julle wel met water,” maar “Hysal julle doop met die Heilige Gees” (Matt. 3:11). Die Evangelies bring egter nie aan die lig dat Jesus met die Heilige Gees gedoop het nie. Enkele ure voor Sy dood het Jesus die dissipels belowe: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid” (Joh. 14:16, 17). Is hierdie beloofde doop met die Gees aan die kruis vervul? Geen duif het op die Vrydag van die kruisiging sy verskyning gemaak nie – net duisternis en weerlig.
Eers na Sy opstanding het Jesus die Gees op Sy dissipels geblaas (Joh. 20:22). Hy het gesê: “Kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 24:49). Hierdie krag sou ontvang word “wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en sou die gelowiges sodoende Sy getuies tot aan die eindes van die aarde maak (Hand. 1:8).
Johannes het geskryf: “Die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie” (Joh. 7:39). Die Vader se aanvaarding van Jesus se offer was die voorvereiste vir die uitstorting van die Heilige Gees.
Die nuwe eeu het eers aangebreek toe ons triomfantlike Heer op die hemelse troon gesit het. Eers toe kon Hy die Heilige Gees in al Sy volheid stuur. “Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is, “het Petrus verklaar, het Hy die “Heilige Gees uitgestort” (Hand. 2:33), op Sy dissipels wat hierdie gebeurtenis met verlange afgewag het en “almal eendragtig volhard [het] in gebed en smeking” (Hand. 1:5, 14). Met Pinkster, vyftig dae na Golgota, het die nuwe eeu met al die krag van die Gees se teenwoordigheid aangebreek. “En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle [die dissipels] gesit het. … En hulle is almal vervul met die Heilige Gees” (Hand. 2:2-4).
Die sendings van sowel Jesus as die Heilige Gees was heeltemal onderling afhanklik van mekaar. Die volheid van die Heilige Gees kon nie gegee word voordat Jesus Sy sending volbring het nie. Op Sy beurt is Jesus deur die Heilige Gees verwek (Matt. 1:8-21), deur die Gees gedoop (Markus 1:9, 10), deur die Gees gelei (Lukas 4:1); Hy het wonderwerke deur die Gees verrig (Matt. 12:24-32). Hy het Hom deur die Gees op Golgota geoffer (Heb. 9:14, 15), en is deels deur die Gees opgewek uit die dood (Rom. 8:11).
Jesus was die eerste mens wat die volheid van die Heilige Gees ondervind het. Die verbysterende waarheid is dat ons Heer gewillig is om Sy Gees uit te stort op almal wat ernstig na Hom verlang.
Die Sending van die Heilige Gees
Die aand voor Christus se dood het Sy woorde oor sy ophandesynde vertrek Sy dissipels hewig ontstel. Hy het hulle egter dadelik gerusgestel dat hulle die Heilige Gees as Sy persoonlike verteenwoordiger sou ontvang. Hulle sou nie as wese agtergelaat word nie (Joh. 14:18).
Die Oorsprong van die Sending. Die Nuwe Testament openbaar die Heilige Gees op ‘n besondere wyse. Hy word die “Gees van Jesus” genoem (Hand. 16:7, nuwer vertalings), “Gees van sy Seun” (Gal. 4:6), “Gees van God” (Rom. 8:9), die “Gees van Christus” (Rom. 8:9; 1 Pet. 1:11) en die “Gees van Jesus Christus” (Filip. 1:19). Wie het die Heilige Gees se sending bepaal – Jesus Christus of God die Vader?
Toe Jesus die oorsprong van die Heilige Gees se sending na ‘n verlore gaande wêreld bekend gemaak het, het Hy twee bronne genoem. In die eerste plek het Hy na die Vader verwys: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee” (Joh. 14:16; vgl. 15:26, “van die Vader”). Die doop met die Heilige Gees het Hy “die belofte van die Vader” genoem (Hand. 1:4). In die tweede plek het Christus na Homself verwys: “Ek sal Hom [die Gees] na julle stuur” (Joh. 16:7). Die Heilige Gees kom dus uit sowel die Vader as die Seun.
Sy Sending na die Wêreld. Ons kan Christus alleen deur die invloed van die Heilige Gees as Here erken. Paulus het verklaar: “Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor. 12:3).
Ons word die versekering gegee dat Christus, “die waaragtige lig,” “elke mens” deur die Heilige Gees “verlig” (Joh. 1:9). Sy sending is dat Hy “die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh. 16:8).
In die eerste plek bring die Heilige Gees ons tot ‘n diepe oortuiging van sonde, veral die sonde dat ons Christus nie aanneem nie (Joh. 16:9). Tweedens dring die Gees by ons aan om die geregtigheid van Jesus aan te neem. Derdens waarsku die Gees ons van oordeel, ‘n kragtige instrument om die deur sondeverduisterde gees op te wek tot ‘n besef van hoe noodsaaklik berou en bekering is.
As ons tot bekering kom, kan ons weer gebore word deur die doop met water en die Heilige Gees (Joh. 3:5). Dan betree ons ‘n nuwe lewe, want ons het die woning van die Gees van Christus geword.
Sy Sending vir Gelowiges. Die meeste Bybelse verwysings na die Heilige Gees hou verband met Sy verhouding met die kinders van God. Sy heiligmakende invloed lei tot gehoorsaamheid (1 Pet. 1:2), maar niemand kan Sy inwonende teenwoordigheid aanhou geniet sonder om aan sekere voorwaardes te voldoen nie. Petrus het verklaar dat God die Gees gegee het aan diegene wat Hom gedurig gehoorsaam (Hand. 5:32).1 Gelowiges word daarom gewaarsku om die Gees nie te bedroef, te weerstaan en uit te blus nie (Hand. 7:51; Efe. 4:30; 1 Thess. 5:19). Wat doen die Gees vir gelowiges?
1. Hy help gelowiges. Toe Christus die Heilige Gees belowe het, het Hy Hom droef, te weerstaan en uit te blus nie (Hand. 7:51; Efe. 4:30; 1 Thess. 5:19). Wat doen die Gees vir gelowiges?
1. Hy help gelowiges. Toe Christus die Heilige Gees belowe het, het Hy Hom ” ‘n ander Parakletos” genoem (Joh. 14:16). Hierdie Griekse woord is al vertaal as “Helper,” ”Trooster,” “Raadgewer,” en dit kan ook “Voorspraak,” “Middelaar” of “Pleitbesorger” beteken.
Die enigste ander Parakletos wat in die Skrif genoem word, is Christus self. Hy is ons Pleitbesorger of Middelaar voor die Vader. “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Joh. 2:1).
As Voorspraak, Middelaar en Helper stel Christus ons saak aan die Vader en openbaar Hy God aan ons. Net so lei die Gees ons na Christus en openbaar Hy Christus se genade aan ons. Dit is die rede waarom die Gees die “Gees van genade” genoem word (Heb. 10:29). Een van Sy belangrikste bydraes is die aanwending van Christus se reddende genade aan mense (sien 1 Kor. 15:10; 2 Kor. 9:14; Jak. 4:5, 6).
2. Hy bring die waarheid van Christus. Christus het die Heilige Gees die “Gees van die waarheid” genoem (Joh. 14:17; 15:26; 16:13). Onder Sy take is om “julle[te] herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 14:26), en “jullein die hele waarheid [te] lei” Joh. 16:13). Sy boodskap getuig van Jesus Christus (Joh. 15:26). “Hy sal nie uit Homself spreek nie; maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek,” sê Christus, ” en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” Goh. 16:13, 14).
3. Hy bring die teenwoordigheid van Christus. Hy bring nie net die boodskap aangaande Christus nie, Hy bring die teenwoordigheid van Christus self. Jesus het gesê: “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster [Heilige Gees, Joh. 14:16, 17] nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur” (Joh. 16: 7). Omdat die mens Jesus met Sy mensheid gekortwiek is, kon Hy nie alomteenwoordig wees nie, vandaar dat dit voordelig was dat Hy sou weggaan. Deur die Gees kon Hy tegelykertyd oral wees. Jesus het gesê: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid.” Hy het die versekering gegee dat die Gees “byjulle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Joh.14:17, 18). “Die Heilige Geesis die verteenwoordiger van Christus, maar sonder die menslike persoonlikheid en onafhanklik daarvan.”2
Toe Christus vlees geword het, het die Heilige Gees die teenwoordigheid van Christus na ‘n persoon gebring – Maria. Met Pinkster het die Gees die triomfantlike Christus na die wêreld gebring. Christus se beloftes -“Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb. 13:5) en “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20) word deur die Gees verwesenlik. Om hierdie rede gee die Nuwe Testament die Gees ‘n titel wat nooit van Hom in die Ou Testament gebruik is nie -“die Gees van Jesus” (Filip. 1:19).
Net soos dit deur die Gees is dat sowel die Vader as die Seun by gelowiges hul woonplek maak Joh. 14:23), is al manier waarop gelowiges in Christus kan bly deur die Gees.
4. Hy rig die werksaamheid van die kerk. Aangesien die Heilige Gees die teenwoordigheid van Christus self bring, is Hy die ware Plaasvervanger van Christus op aarde. As die sentrale inwonende gesag insake geloof en leerstellings, kom die wyses waarop Hy die kerk rig volkome ooreen met die Bybel. “Die uitstaande kenmerk van die Protestantisme – waarsonder daar geen Protestantisme sou gewees het nie – is dat die Heilige Gees die ware plaasvervanger of opvolger van Christus op aarde is. Om jou op organisasie, of leiers, of die wysheid van mense te verlaat, is om die mens in die plek van God te Stel.”3
Die Heilige Gees was nou betrokke by die administrasie van die apostoliese kerk. Met die keuse van sendelinge het die kerk Sy leiding deur gebed en vas ontvang (Hand.13:1-4). Die mense wat gekies is, was bekend vir hul ontvanklikheid vir die Gees se leiding. Die boek Handelinge beskryf hulle as “vervul met die Heilige Gees” (Hand. 13:9, vgl. 52). Hul optrede was onder Sy beheer (Hand. 16:6, 7). Paulus het die kerk se ouderlinge daaraan herinner dat hulle deur die Heilige Gees in hul poste aangestel is (Hand. 20:28).
Die Heilige Gees het ‘n belangrike rol gespeel in die beslegting van ernstige geskille wat die eenheid van die kerk bedreig het. Die Skrif berig die besluite van die eerste kerkraad inderdaad met die woorde: “Die Heilige Gees en ons het besluit” (Hand. 15:28).
5. Hy rus die kerk toe met besondere gawes. Die Heilige Gees het besondere gawes aan die kinders van God uitgedeel. In die tyd van die Ou Testament het “die Gees van die Here” oor individue gekom en hulle met ekstra krag toegerus om Israel te rig en te verlos (Rig. 3:10; 6:34; 11:29; ens.) en met die vermoë om te profeteer (Num. 11:17, 25, 26; 2 Sam. 23:2). Die Gees het op Saul en Dawid gekom toe hulle as konings oor die volk van God gesalf is (1 Sam. 10:6, 10; 16:13). Aan sommige mense het die vervulling met die Gees besondere kunstalent besorg (Exod. 28:3; 31:3; 35:30-35).
Ook in die vroeë kerk was dit deur die Heilige Gees dat Christus Sy gawes aan die kerk uitgedeel het. Die Gees het hierdie gawes na goeddunke aan gelowiges uitgedeel, sodat die hele gemeente daarby gebaat het (Hand. 2:38; 1 Kor. 12:7-11). Hy het die nodige krag voorsien om die evangelie tot aan die uiteindes van die aarde te verkondig (Hand. 1:8; kyk hoofstuk 16 van hierdie boek).
6. Hy vul die harte van gelowiges. Paulus se vraag aan die dissipels te Efese: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” (Hand. 19:2), is ‘n vraag van die uiterste belang vir elke gelowige.
Toe hulle ontkennend antwoord, het Paulus daardie dissipels die hande opgelê en het hulle die doop van die Heilige Gees ontvang (Hand. 19:6).
Hierdie voorval toon dat die oortuiging van sonde wat deur die Heilige Gees teweeggebring word en die vervulling van die lewe met die Gees twee afsonderlike ervarings is.
Jesus het vertel hoe noodsaaklik dit is om uit water en die Gees gebore te word (Joh. 3:5). Kort voor Sy hemelvaart het Hy beveel dat nuwe gelowiges gedoop moet word “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (Matt. 28:19). Ooreenkomstig hierdie bevel het Petrus verklaar dat “die gawe van die Heilige Gees” met die doop ontvang moet word (Hand. 2:38). En Paulus bevestig die noodsaaklikheid van die doop van die Heilige Gees (kyk hoofstuk 14 van hierdie boek), met ‘n dringende beroep op gelowiges: “Word met die Gees vervul” (Efe. 5:18).
Die vervulling met die Heilige Gees, wat ons na die beeltenis van God vernuwe, sit die heiligmaking voort wat met die wedergeboorte begin het. God het ons in Sy genade gered “deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser” (Titus 3:5, 6).
”Dit is die afwesigheid van die Gees wat die evangeliebediening so kragteloos maak. Geleerdheid, talent, welsprekendheid, elke natuurlike of aangeleerde gawe kan besit word; maar sonder die teenwoordigheid van die Gees van God sal geen hart ontroer word nie, geen sondaar vir Christus gewen word nie. As hulle daarenteen aan Christus verbonde is, as hulle die gawes van die Gees besit, sal die armsaligste en mees onkundige van Sy dissipels oor ‘n krag beskik wat harte sal aanraak. God maak hulle kanale vir die uitvloeiing van die hoogste invloed van die heelal.”
Die Gees is onontbeerlik. Al die veranderinge wat Jesus Christus in ons teweegbring, geskied deur die bediening van die Gees. As gelowiges moet ons altyd daarvan bewus wees dat ons sonder die Gees tot niks in staat is nie (Joh. 15:5).
Tans vestig die Heilige Gees ons aandag op die grootste liefdesgawe wat God in Sy Seun aanbied. Hy pleit dat ons nie Sy beroepe moet weerstaan nie, maar dat ons die enigste wyse waarop ons met ons liefdevolle, barmhartige Vader versoen kan word, moet aanneem.
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. Kyk Arnold V. Wallenkampf, New by the Spirit (Mountain View, CA: Pacific Press, 1978), big. 49, 50.
2. White, Die Koning van die Eeue, hfst. 73, par. 24.
3. Le Roy E. Froom, The Coming of the Comforter, hers. uitg. (Washington, D.C.: Review and Herald, 1949), b}. 66,67.
4. White, Testimonies for the Church (Mountain View, CA: Pacific Press, 1948), deel 8, bl. 21, 22.