Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
God die ewige Seun het in Jesus Christus vlees geword. Deur Hom is alle dinge geskape, is die natuur van God geopenbaar, die verlossing van die mensdom bewerkstellig en word die wêreld geoordeel. Hy wat ewig ware God was, het ook waarlik mens geword, Jesus die Christus. Hy is deur die Heilige Gees verwek en uit die maagd Maria gebore. Hy het soos ‘n mens geleef en versoeking verduur, maar Hy het die geregtigheid en liefde van God volkome uitgeleef. Deur Sy wonderwerke het Hy God se krag gedemonstreer en is Hy geopenbaar as God se beloofde Messias. Hy het vrywillig gely en vir ons sondes en in ons plek aan die kruis gesterf, is uit die dood uit opgewek en het opgevaar om in die hemelse heiligdom vir ons op te tree. Hy sal in heerlikheid terugkeer vir die finale verlossing van Sy kinders en die herstel van alle dinge (Joh. 1:1-3; Joh. 1:14; Kol. 1:15-19; Joh. 10:30; Joh. 14:9; Rom. 6:23; 2 Kor. 5:17-19; Joh. 5:22; Luk. 1:35; Fili. 2:5-11; Heb. 2:9- 18; 1 Kor. 15:3,4; Heb. 8:1,2; Joh. 14:1-3)
God die Seun
Die woestyn het ‘n nagmerrie van adders geword. Slange het onder die kombuisgoed geseil, om tentpenne gekrul. Hulle het tussen die kinders se speelgoed geskuil en in die kooie gelê en wag. Hul giftande het diep ingedring en gif ingespuit.
Die woestyn, wat eens Israel se skuilplek was, het nou sy begraafplaas geword. Honderde was sterwend. In hul groot nood het paniekbevange ouers hulle na Moses se tent gehaas om hulp te soek. “Moses het vir die volk gebid.”
God se antwoord? Vorm ‘n slang en lig dit hoog op – en almal wat daarna kyk, sal lewe. “Toe het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly” (Num. 21:9).
Die slang was altyd die Satan se simbool (Gen. 3; Openb. 12), en het die sonde voorgestel. Die laer het in die hande van die Satan beland. God se geneesmiddel? Om nie te kyk na ‘n lam wat op die offeraltaar lê nie, maar na ‘n koperslang.
Dit was ’n vreemde simbool vir Christus. Net soos die beeld van ‘n slang op ‘n paal gesit is, sou Jesus, wat “in die gelykheid van die sondige vlees” gestuur is (Rom. 8:3), op die skandelike kruis gehef word (Joh. 3:14,15). Hy het sonde geword deur op Hom al die sondes van elkeen wat ooit geleef het of sou leef, te neem. “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21). Deur na Christus op te sien, kan die verlore mensdom lewe vind.
Hoe kon die vleeswording vir die mens redding besorg? Watter uitwerking het dit op die Seun gehad? Hoe kon God ‘nmens word, en waarom was dit nodig?
Die Vleeswording: Voorspellings en Vervulling
God se plan om diegene te red wat van Sy alwyse raad afgedwaal het (Joh. 3:16; 1 Joh. 4:9) gee ‘n oortuigende demonstrasie van Sy liefde. Volgens hierdie plan sou Christus “wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld” as die offer vir die sonde, die hoop vir die mens wees (1 Pet. 1:20). Hy sou ons terugvoer na God en verlossing van die sonde bring deur die werke van die duiwel te vemietig (1 Pet. 3:18; Matt. 1:21; 1 Joh. 3:8).
Die sonde het Adam en Eva van die bron van die lewe afgesny en behoort tot hul onmiddellike dood te gelei het. Maar ooreenkomstig die plan wat voor die grondlegging van die wêreld gereed was (1Pet. 1:20,21), die “raad van vrede” (Sag. 6:13), het God die Seun tussen hulle en die geregtigheid van God getree, die kloof oorbrug en die dood teruggehou. Selfs voor die kruis, dus, het Sy genade sondaars aan die lewe gehou en hulle van verlossing verseker. Om ons egter volkome as seuns en dogters van God te herstel, moes Hy ‘n mens word.
Onmiddellik nadat Adam en Eva gesondig het, het God hulle hoop gegee deur te belowe om ‘n bonatuurlike vyandskap tussen die slang en die vrou te bring, tussen sy saad en hare. In hierdie kriptiese verklaring in Gen. 3:15 stel die slang en sy nakomelinge die Satan en sy volgelinge voor; die vrou en haar saad versinnebeeld die kinders van God en die Verlosser van die wêreld. Dit was die eerste belofte dat die stryd tussen goed en kwaad op ‘n oorwinning vir die Seun van God sou uitloop.
Dit sou egter ‘n pynlike oorwinning wees: “Hy [die Verlosser] sal jou die kop vermorsel, en jy [die Satan] sal hom in die hakskeen byt” (Gen. 3:15). Niemand sou ongedeerd daarvan afkom nie.
Van daardie oomblik af het die mens vooruitgesien na die komende Verlosser. Die Ou Testament ontvou die soektog. Profesieë het voorspel dat wanneer die Beloofde sou kom, die wêreld bewyse sou hê om Sy identiteit te bevestig.
‘n Profetiese Dramatisering van die Verlossing
Nadat die sonde ingetree het, het God die offerande van diere ingestel om die sending van die komende Heiland te illustreer (kyk Gen. 4:4). Hierdie simboliese stelsel het die wyse gedramatiseer waarop God die Seun die sonde sou uitwis.
As gevolg van die sonde – die oortreding van die wet van God – het die mens die dood in die gesig gestaar (Gen. 2:17; Gen. 3:19; 1 Joh. 3:4; Rom. 6:23). Die wet van God het die lewe van die sondaar geëis. Maar in Sy perkelose liefde het God Sy Seun gegee, “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Watter onbegryplike neerbuigendheid! God die ewige Seun boet self plaasvervangend vir die ongeregtigheid, sodat Hy ons vergifnis kan skenk en ons kan versoen met die Godheid.
Na Israel se uittog uit Egipte is die offerandes in ‘n tabernakel gebring as deel van ‘n verbondsverhouding tussen God en Sy volk. Die dienste van die heiligdom, wat Moses volgens ‘n hemelse patroon het, is ingestel om die verlossingsplan te illustreer (Ex. 25:8,9; Ex. 25:40; Heb. 8:1-5).
Om vergifnis te kry, het die berouvolle sondaar ‘n dier sonder gebrek gebring om te offer – ‘n voorstelling van die sondelose Verlosser. Die sondaar het dan sy hand op die dier gesit en sy sonde bely (Lev. 1:3,4). Hierdie daad het die sonde van die skuldige sondaar simbolies op die onskuldige slagoffer oorgedra en so daardeur die plaasvervangende aard van die offer uitgebeeld.
Aangesien daar “sonder bloedvergieting…geen vergifnis plaasvind nie” (Heb. 9:22), moes die sondaar die dier doodmaak om sodoende die dodelike aard van die sonde tuis te bring. ‘ n Droewe manier om hoop uit te druk, maar die sondaar se enigste wyse om sy geloof te kenne te gee.
Na die priesterlike bediening (Lev. 4-7) het die sondaar vergifnis van sondes ontvang deur sy geloof in die plaasvervangende dood van die komende Verlosser, wat deur die offerdier voorgestel is (vgl. Lev. 4:26; Lev. 4:31; Lev. 4:35). Die Nuwe Testament eien Jesus Christus, die Seun van God, as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). Deur Sy kosbare bloed, “soosvan ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:19), het Hy vir die mens verlossing bewerkstellig van die uiteindelike straf vir die sonde.
Voorspellings Aangaande ‘n Verlosser. God belowe dat die Verlosser – Messias die Gesalfde – van Abraham sou afstam: “In jou nageslag sal die nasies van die aarde geseën word” (Gen. 22:18; vgl. Gen. 12:3).
Jesaja het In geprofeteer dat die Verlosser as ‘n manlike kind sou kom en dat Hy sowel menslik as Goddelik sou wees: “Want kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jes. 9:5). Die Verlosser sou die troon van Dawid bestyg en ‘n ewige heerskappy oprig (Jes. 9:6). Hy sou in Betlehem gebore word (Miga 5:1).
Die geboorte van hierdie Godmens sou bonatuurlik wees. In ‘ n weergawe van Jesaja 7:14 verklaar die Nuwe Testament: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons” (Matt. 1:23).
Die Heiland se sending word in hierdie woorde uitgedruk: “Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here”(Jes. 61:1,2; vgl. Luk. 4:18,19).
Verbasend genoeg sou die Messias verwerp word. Hy sou aangesien word vir “ ‘n wortel uit droë grond.” “Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie….Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid….Ons het Hom nie geag nie” (Jes. 53:2,3).
‘n Intieme vriend sou Hom (Ps. 41:10) vir dertig silwerstukke verraai (Sag. 11:12). Tydens Sy verhoor sou daar op Hom gespuug word en Hy sou geslaan word (Jes. 50:6). Diegene wat Hom sou teregstel sou lootjies werp om Sy klere (Ps. 22:19). Nie een van Sy beendere sou gebreek word nie (Ps. 34:21), maar Sy sy sou deurboor word (Sag. 12:10). In Sy lyding sou Hy nie weerstand bied nie, maar “soos” ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders…het [Hy] sy mond nie oopgemaak nie” (Jes. 53:7).
Die onskuldige Heiland sou bittere lyding moes deurmaak ter wille van sondaars. “Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem en ons smarte…gedra….Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat ons vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom….Maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom….Hy [is] afgesny uit die land van die lewendes…. Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom” (Jes. 53:4-8).
Die Verlosser Uitgeken. Alleen Jesus Christus het hierdie profesieë vervul. Die Skrifte spoor Sy geslagsregister terug na Abraham (Matt. 1:1), en Paulus bevestig dat die belofte aan Abraham en sy saad vervul is in Jesus Christus (Gal. 3:16). Die Messiaanse titel “Seun van Dawid” is dikwels op Hom toegepas (Matt. 21:9). Hy is uitgeken as die beloofde Messias wat die troon van Dawid sou beklee (Hand. 2:29,30).
Jesus se geboorte was ‘n wonderwerk. Die maagd Maria “is swanger bevind uit die Heilige Gees” (Matt. 1:18-23). ‘n Romeinse dekreet het haar na Betlehem, die voorspelde geboorteplek, gebring (Luk. 2:4-7).
Een van Jesus se name was Emmanuel, of “God Met Ons,” wat ‘n aanduiding is van Sy Godmens-natuur en ook getoon het hoe God Hom met die mensdom vereenselwig (Matt. 1:23). Sy gewone naam, Jesus, was ‘n aanduiding van Sy sending van verlossing: “En jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21).
Jesus het Sy sending vereenselwig met die van die Messias, soos dit in Jesaja 61:1, 2 voorspel is: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul” (Luk. 4:17-21).
Hoewel Hy ‘n groot indruk op Sy volk gemaak het, is Sy boodskap oor die algemeen tog verwerp (Joh. 1:11; Luk. 23:18). Op ‘n paar uitsonderings na is Hy nie as die wêreld se Verlosser erken nie. Pleks van aanvaar te word, is Hy met die dood gedreig (Joh. 5:16; Joh. 7:19; Joh. 11:53).
Teen die einde van Jesus se bediening van drie en ‘n half jaar het Judas Iskariot, ‘n dissipel, Hom verraai (Joh. 13:18; 18:2) vir dertig silwerstukke (Matt. 26:14, 15). Pleks van Hom te verset, het Hy Sy dissipels bestraf omdat hulle Hom wou verdedig (Joh. 18:4-11).
Ondanks Hy Hom aan geen misdaad skuldig gemaak het nie, is Hy minder as vier-en-twintig uur na Sy inhegtenisneming geslaan, bespuug, verhoor, tot die dood veroordeel en gekruisig (Matt. 26:67; Joh. 19:1-16; Luk. 23: 14, 15). Soldate het oor Sy klere gedobbel (Joh. 19:23,24). Met Sy kruisiging is nie een van Sy bene gebreek nie (Joh. 19:32; Joh. 19:33; Joh. 19:36), en nadat Hy dood was, het soldate Sy sy met ‘n spies deurboor (Joh. 19:34; Joh. 19:37).
Christus se volgelinge het Sy dood herken as die enigste offer wat sondaars kon reinig. “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). “Wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur” (Efe. 5:2).
Die Tyd van Sy Bediening en Dood. Die Bybel openbaar dat God Sy Seun in “die volheid van die tyd” (Gal. 4:4) na die aarde gestuur het. Toe Christus Sy bediening begin het, het Hy uitgeroep: “Die tyd is vervul” (Mar. 1:15). Hierdie verwysings na tyd toon dat die Heiland se sending volgens noukeurige profetiese beplanning geskied het.
Meer as vyf eeue tevore het God deur Daniël die presiese tyd van die aanvang van Christus se bediening en die tyd van Sy dood voorspel.1
Teen die einde van die 70 jaar van Israel se ballingskap in Babel het God aan Daniël gesê dat Hy ‘n proeftydperk van 70 weke aan die Jode en die stad Jerusalem toegeken het.
In hierdie tyd moes die Joodse volk deur bekering en voorbereiding vir die koms van die Messias God se doel met hulle vervul.
Daniël skryf ook van “goddeloosheid te voleindig” en “ewige geregtigheid aan te bring” as ‘n kenmerk van hierdie tydperk. Hierdie Messiaanse werksaamhede dui aan dat die Heiland binne hierdie tydperk moes kom (Dan. 9:24).
Volgens Daniël se profesie sou die Messias “sewe sewetalle en twee en sestig sewetalle”, of altesame 69 weke, “van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou” (Dan. 9:25) verskyn. Na die nege-en-sestigste week sou die Messias “uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom” (Dan. 9:26) – ‘n verwysing na Sy plaasvervangende dood. Hy sou in die middel van die sewentigste week sterf, en “slagoffer en spysoffer laat ophou” (Dan. 9:27).
Die sleutel tot ‘n begrip van tydprofesieë lê in die Bybelse beginsel dat ‘n dag in profetiese tyd gelyk staan aan ‘n letterlike sonjaar (Num. 14:34; Eseg. 4:6).2 Volgens hierdie jaar-dag beginsel stel die 70 weke (of 490 profetiese dae) dan 490 letterlike jare voor.
Daniël verklaar dat hierdie tydperk sou begin met “die uitgang van die woord…om Jerusalem te herstel en op te bou” (Dan. 9:25). Hierdie dekreet, wat die Jode volkome outonomie gegee het, is in die sewende jaar van die Persiese koning Artasasta uitgereik en het in die noordelike herfs van 457 v.C. van krag geword (Esra 7:8; Esra 7:12-26; Esra 9:9).3 Volgens die profesie sou “ ‘n Gesalfde” 483 jaar (69) profetiese weke ná die dekreet skyn. Vierhonderd drie en tagtig jaar ná 457 v.C. bring ons by 27 n.C. toe Jesus gedoop is en Sy openbare bediening begin het.4 Gleason Archer, wat hierdie datums van 457 v.C. en 27 n. C. aanvaar, noem dit ” ‘n merkwaardige presiesheid in die vervulling van so ‘n antieke profesie. Alleen God kon die koms van Sy Seun so verbasend presies voorspel het; dit trotseer enige rasionalistiese verklaring.”5
Met Sy doop in die Jordaan is Jesus deur die Heilige Gees gedoop en het Hy God se bevestiging as die Messias” (Hebreeus) of die “Christus” (Grieks) ontvang – albei woorde beteken die “gesalfde” (Luk. 3:21, 22; Hand. 10:38; Joh. 1:42). Jesus se verklaring “dietyd is vervul” (Mar. 1:15) verwys na die vervulling van hierdie tydprofesie.
In die middel van die sewentigste week, in die noordelike lente van 31 n.C. presies 3 ½ jaar nadat Christus gedoop is, het die Messias die offerandestelsel beëindig deur Sy lewe te gee. Die oomblik toe Hy gesterf het, het die voorhangsel in die tempel op bonatuurlike wyse “van bo tot onder” geskeur (Matt. 27:51), waarmee aangedui is dat die tempeldienste almal beëindig is.
Al die offerandes was ‘n vooruitskaduwing van die altoereikende offer van die Messias. Toe Jesus Christus, die ware Lam van God, op Golgota geoffer is as losprys vir ons sondes (l Pet. 1:19), is die skaduwee deur die werklike vervang. Die aardse tempeldienste was nie meer nodig nie.
Op die presiese voorspelde tyd tydens die Pasga het Hy gesterf. “Want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7). Hierdie verbasend noukeurige tydprofesie bied ons een van die sterkste bewyse van die fundamentele historiese waarheid dat Jesus Christus die langverwagte Verlosser van die wêreld is.
Die Opstanding van die Verlosser. Die Bybel het nie net die dood van die Heiland voorspel nie, maar ook Sy opstanding. Dawid het voorspel dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie” (Hand. 2:31; vgl. Ps.16:10). Hoewel Christus ander uit die dood uit opgewek het (Markus 5:35-42; Luk. 7:11-17; Joh. 11), het Sy eie opstanding die krag agter Sy aanspraak as Verlosser van die wêreld gedemonstreer: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” Joh. 11:25,26).
Ná Sy dood het Hy uitgeroep: “Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in aIle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood” (Openb. 1:17, 18).
Die Twee Nature van Jesus Christus
In sy verklaring: “DieWoord het vlees geword en het onder ons gewoon” (Joh. 1:14), stel Johannes ‘n grondige waarheid. Die vleeswording van die Seun van God is ‘n verborgenheid. Die Skrifte noem God se openbaring in die vlees “die verborgenheid van die godsaligheid” (1 Tim. 3:16).
Die Skepper van wêrelde, Hy in wie die volheid van die Godheid was, het ‘n hulpelose baba in ‘n krip geword. Ver bo enige van die engele verhewe, gelyk met die Vader in waardigheid en heerlikheid – en tog het Hy Hom verwerdig om met mensheid beklee te word!
‘n Mens kan jou skaars die betekenis van hierdie heilige verborgenheid inbeeld, en dan alleen deur die hulp van die Heilige Gees in te roep om verlig te word. As ons die vleeswording wil probeer verstaan, is dit goed om te onthou “Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders” (Deut.29:29).
Jesus Christus Is Waarlik God. Watter bewys is daar dat Jesus Christus Goddelik is? Hoe het Hy Homself gesien? Het mense Sy Goddelikheid besef?
1. Sy Goddelike eienskappe. Christus besit Goddelike hoedanighede. Hy is almagtig. Hy het gesê die Vader het Hom “alle mag in hemel en op aarde” gegee (Matt. 28:18; Joh. 17:2).
Hy is alwetend. In Hom, sê Paulus, is “al die skatte van wysheid en kennis verborge” (Kol. 2:3).
Jesus het Sy alomteenwoordigheid bevestig toe Hy gesê het: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20), en “waartwee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde” (Matt. 18:20).
Hoewel Sy Godheid die natuurlike vermoë van alomteenwoordigheid besit, het die vleesgeworde Christus Hom vrywilliglik in hierdie opsig aan bande gelê. Hy het verkies om alomteenwoordig te wees deur die bediening van die Heilige Gees (Joh. 14:16-18).
Hebreërs getuig van Sy onveranderlikheid deur te sê: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8).
Sy selfbestaan het geblyk uit Sy aanspraak dat Hy lewe in Homself het (Joh. 5:26) en Johannes het getuig: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” (Joh. 1:4). Christus se aankondiging: “Ek is die opstanding en die lewe” (Joh. 11:25) het bevestig dat “die oorspronklike, onontleende lewe” in Hom was.6
Heiligheid is deel van Sy natuur. Toe die engel die aankondiging aan Maria gedoen het, het hy gesê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk. 1:35). Duiwels het, toe Christus op die toneel verskyn het, uitgegil: “Houop Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!” (Markus 1 :24).
Hy is liefde. “Hieraan het ons die liefde leer ken,” skryf Johannes, “dat Hy sy lewe vir ons afgelê het” (1 Joh. 3:16).
Hy is ewig. Jesaja het Hom “Ewige Vader” genoem (Jes. 9:5). Miga skryf van Hom: “Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). Paulus dateer Sy bestaan “voor alle dinge” (Kol. 1:17), en Johannes het beaam: “Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie”(Joh. 1:2,3).7
2. Sy Goddelike krag en prerogatiewe. Die werke van God word aan Jesus toegedig. Hy word aangewys as sowel die Skepper (Joh. 1:3; Kol. 1:16) en Onderhouer of Handhawer –“in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:17; Heb.l:3). Hy is in staat om dooies met Sy stem op te wek (Joh. 5:28. 29), en sal die wêreld aan die einde van dae oordeel (Matt. 25:31,32). Hy het sonde vergewe (Matt. 9:6; Markus 2:5-7).
3. Sy Goddelike name. Sy name openbaar Sy Goddelike natuur. Emmanuel beteken “Godmet ons” (Matt. 1:23). Sowel die gelowiges as duiwels het Hom aangespreek as Seun van God (Markus 1:1; Matt. 8:29; vgl. Markus 5:7). Die heilige Ou-Testamentiese naam van God, Jehova of Jahweh word ook op Jesus toegepas. Matthéüs het die woorde van Jesaja 40:3 gebruik: “Berei die weg van die Here,” om die voorbereidingswerk vir Christus se sending uit te beeld (Matt. 3:3). En Johannes het Jesus vereenselwig met die Here van die leërskare wat op Sy troon sit (Jes. 6:1,3; Joh. 12:41).
4. Sy Godheid erken. Johannes het Jesus uitgebeeld as die Goddelike Woord wat “vlees geword het” (Joh. 1:1, 14). Thomas het die herrese Christus aangespreek as “my Here en my God!” (Joh. 20:28). Paulus het na Hom verwys as “Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid” (Rom. 9:5); en die boek Hebreërs spreek hom aan as God en Heer van die skepping (Heb. 1 :8, 10).8
5. Sy persoonlike getuienis. Jesus het self aanspraak op gelykheid met God gemaak. Hy het Homself met “EKIS” geïdentifiseer (Joh. 8:58), die God van die Ou Testament. Hy het God “My Vader” genoem pleks van “ons Vader” (Joh. 20:17). En Sy verklaring “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30) beaam die aanspraak dat Hy “een in wese” met die Vader is, “en dieselfde hoedanighede besit. “9
6. Sy gelykheid met God veronderstel. Sy gelykheid met God die Vader word as vanselfsprekend aanvaar in die doopformulier (Matt. 28:19), die volledige apostoliese seënbede (2 Kor. 13:14), Sy afskeidsrede (Joh. 14-16), en Paulus se uiteensetting van die geestelike gawes (1 Kor. 12:4-6). Die Skrif beskryf Jesus as die “afskynsel van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese”(Heb. 1:3). En toe Jesus gevra is om God die Vader te wys, het Hy geantwoord: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien”(Joh. 14:9).
7. Hy word as God aanbid. Mense het Hom aanbid (Matt. 28:17; vgl. Luk.14:33). “Aldie engele van God moet Hom aanbid” (Heb. 1:6). Paulus het geskryf dat “in die Naam van Jesus sou buig elke knie…en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Filip. 2:10, 11). Etlike seënbedes gee aan Christus die “heerlikheid tot in alle ewigheid” (2 Tim. 4:18; Heb. 13:21; vgl. 2 Pet. 3:18).
8. Sy Goddelike natuur ’n noodsaaklikheid. Christus het die mens met God versoen. Die mens het ‘n volmaakte openbaring van God se natuur nodig gehad om ‘n persoonlike verhouding. met Hom te kan aangaan. Christus het in hierdie behoefte voorsien deur die heerlikheid van God ten toon te stel Joh. 1:14). “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar” Joh.l:18; vgl.17:6). Jesus het getuig: “Hywat My gesien het, het die Vader gesien” Joh. 14:9).
In Sy totale afhanklikheid van die Vader Joh. 5:30) het Christus Goddelike krag gebruik om die liefde van God te demonstreer. Hy het Homself as die liefdevolle Heiland geopenbaar wat deur die Vader gestuur is om te genees, herstel en sondes te vergewe (Luk. 6:19; Joh. 2:11; 5:1-15, 36; 11:41-45; 14:11; 8:3 -11). Hy het egter nooit van ‘n wonderwerk gebruik gemaak om die persoonlike ontberings wat ander mense in soortgelyke omstandighede sou moes deurmaak, vry te spring nie.
Jesus Christus is “een van natuur, een van karakter, een van doel” met God die Vader.10 Hy is waarlik God.
Jesus Christus Is Waarlik Mens. Die Bybel getuig dat Christus, benewens Sy Goddelike natuur ook ‘n menslike natuur het. Dit is van uiterste belang dat hierdie leer aanvaar word. Elkeen wat “bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God,” en elkeen wat dit nie bely nie, “is nie uit God nie” (1 Joh. 4:2, 3). Christus se geboorte, ontwikkeling, hoedanighede en persoonlike belydenis verskaf bewyse van Sy mensheid.
1. Sy geboorte as mens. “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon” Joh. 1:14). Hier beteken “vlees” die menslike natuur, ‘n natuur wat minderwaardig aan Sy hemelse natuur is. Paulus stel dit in eenvoudige taal: “God [het] sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou” (Gal. 4:4; vgl. Gen. 3:15). Christus het “aan die mens gelyk geword” – “in die gedaante van ‘n mens” (Filip. 2:7, 8). Hierdie manifestasie van God in mensgestalte is die “verborgenheid van die godsaligheid” (1 Tim. 3:16).
Christus se geslagsregister verwys na Hom as “die seun van Dawid,” en “die seun van Abraham” (Matt. 1:1). Volgens Sy menslike natuur is Hy “gebore na die vlees uit die geslag van Dawid” (Rom. 1:3; 9:5) en was Hy die “Seun van Maria” (Markus 6:3). Hoewel Hy soos elke ander kind uit ‘n vrou gebore is, was daar tog ‘n groot verskil, ‘n enigheid. Maria was ‘n maagd, en hierdie kind is deur die Heilige Gees verwek (Matt.l:20-23; Luk. 1:31-37}. Deur Sy moeder kon Hy aanspraak op ware mensheid maak.
2. Sy ontwikkeling as mens. Jesus was onderhewig aan die wette van menslike ontwikkeling; “Die Kindjie het gegroei en sterk geword…en vol wysheid” (Luk. 2:40, 52). Op twaalfjarige ouderdom het Hy bewus geword van Sy Goddelike sending (Luk. 2:46-49), Deur al Sy seunsjare was Hy sy ouers onderdanig (Luk. 2:51).
Die pad na die kruis was een van voortdurende groei deur lyding, wat ‘n belangrike rol in Sy ontwikkeling gespeel het. “Hy...het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword” (Heb. 5:8,9; 2:10, 18). Deur al sy ontwikkeling, egter, het Hy nie gesondig nie.
3. Hy is ‘n “mens” genoem. Johannes die Doper en Petrus het na Hom as ” ‘n mens” verwys (Joh. 1:30; Hand. 2:22). Paulus praat van “die genade van een mens, Jesus Christus” (Rom. 5:15). Hy is die “Mens” wat “dieopstanding van die dode” verkry het (1 Kor. 15:21); die “een Middelaar tussen God en die mense, die Mens Jesus Christus” (1 Tim. 2:5). Wanneer Jesus Sy vyande aangespreek het, het Hy na Homself as Mens verwys: “Maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julIe die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het” Joh.8:40).
Jesus het Hom graag “die Seun van die mens” genoem – en dit 77 maal (vgl. Matt. 8:20; 26:2). Die titel “Seun van God” vestig die aandag op Sy verhouding binne die Godheid. Die naam Seun van die mens beklemtoon Sy vereenselwiging met die menseras deur Sy vleeswording.
4. Sy menslike eienskappe. God het die mens “weinig minder as ‘n goddelike wese” gemaak (Ps. 8:6). Die Skrif hou Jesus ook voor as “vir ‘n kort tydjie Minder as die engele gemaak” (Heb. 2:9). Sy menslike natuur is geskape en het nie bomenslike kragte besit nie.
Christus moes waarlik mens wees; dit was deel van Sy sending. Omdat dit ‘n vereiste was dat Hy die wesenlike eienskappe van die mens moet hê, was Hy “vlees en bloed” (Heb. 2:14). “In alle opsigte” is Christus “aan sy broeders gelyk” gemaak (Heb. 2:17). Sy menslike natuur het dieselfde verstandelike en liggaamlike kwesbaarhede as die res van die mensdom gehad: honger, dors, moegheid en angs (Matt. 4:2; Joh. 19:28; 4:6; vgl. Matt. 26:21; 8:24).
In die bediening van Sy medemens het Hy deernis, veroorloofde woede en hartseer aan die dag gelê (Matt. 9:36; Markus 3:5). Soms was Hy ontsteld en bedroef en Hy het selfs geween (Matt. 26:38; Joh. 12:27; 11:33,35; Luk. 19:41). Hy het met “sterk geroep” en met trane gebid, soms so erg dat Sy sweet soos bloed geword het (Heb. 5:7; Luk. 22:44). Sy gebedslewe was een van algehele afhanklikheid van God (Matt. 26:39-44; Markus 1:35; 6:46; Luk. 5:16; 6:12).
Jesus was die dood deelagtig Joh. 19:30, 34). Hy is opgewek, nie as ‘n gees nie, maar met ‘n liggaam (Luk. 24:36-43).
5. Die omvang van Sy vereenselwiging met die menslike natuur. Die Bybel bring aan die lig dat Christus die tweede Adam is. Hy het “in die gelykheid van die sondige vlees” gekom, of van die sondige mens (Rom. 8:3). In watter mate het Hy identies met die sondige mens geword? Die regte begrip van “die gelykheid van die sondige vlees” of die sondige mens is van die uiterste belang. Onjuiste begrippe het tweedrag en stryd deur die hele geskiedenis van die Christelike kerk gebring.
a. Hy was “in die gelykheid Van die sondige vlees.” Die slang wat in die woestyn opgehef is, help ons om Christus se menslike natuur te verstaan. Net soos die koperbeeld in die gelykheid van die giftige slange gemaak is en omhoog gelig is om die volk te genees, so is die Seun van God “in die gelykenis van die sondige vlees” gemaak om die Verlosser van die wêreld te word.
Voor Sy vleeswording was Jesus “in die gestalte van God;” dit wil sê die Goddelike natuur was Syne van die begin af (Joh. 1:1; Filip. 2:6,7). Deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem, het Hy Sy Goddelike prerogatiewe neergelê. Hy het Sy Vader se dienskneg geword (Jes. 42:1) ten einde die Vader se wil te kan doen (Joh. 6:38; Matt. 26:39, 42). Hy het Sy Godheid met menslikheid beklee en is “in die gelykheid van die sondige vlees” of “sondige menslike natuur” gemaak (vgl. Rom. 8:3).11 Dit gee hoegenaamd nie te kenne dat Jesus sondig was of dat Hy Hom aan sondige dade of gedagtes skuldig gemaak het nie. Hoewel Hy in die gedaante van die sondige vlees gemaak is, was Hy sondeloos, en Sy sondeloosheid staan bo verdenking.
b. Hy was die tweede Adam. Die Bybel tref ‘n vergelyking tussen Adam en Christus en noem Adam die “eerste mens” en Christus die “laaste Adam” of “tweede mens” (l Kor. 15:45, 47), Maar Adam het ‘n voorsprong op Christus gehad. Tydens die sondeval het hy in die paradys gewoon. Hy was ‘n volmaakte mens met die volle lewenskrag van liggaam en gees.
Dit was nie die geval met Jesus nie. Toe Hy die menslike natuur op Hom geneem het, het die mensdom reeds 4 000 jaar lank agteruitgegaan as gevolg van sonde op die sondevervloekte aarde. Om dus diegene te kan red wat in die dieptes van verwording verkeer het, het Christus ‘n menslike natuur op Hom geneem wat, vergeleke met Adam se sondelose natuur, in geestelike en liggaamlike kragte afgeneem het hoewel Hy dit gedoen het sonder om te sondig.12
Toe Christus die menslike natuur wat die gevolge van sonde getoon het, op Hom geneem het, was Hy onderhewig aan die krankhede en swakhede wat alle mense ondervind. Sy mensheid was “met swakheid bevange” (Heb. 5:2; Matt. 8:17; Jes. 53:4). Hy was bewus van Sy swakheid. Hy het “gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hom geoffer … wat Hom uit die dood kon red” (Heb. 5:7), waardeur Hy Hom vereenselwig het met die behoeftes en swakhede wat so eie aan die mens is.
“Die mensheid van Christus was dus nie die van Adam nie, dit wil sê, die mensheid wat Adam voor die sondeval besit het; ook nie die gevalle mensheid nie – in elke opsig die mensheid van Adam na die sondeval nie. Dit was nie die Adammens nie, omdat dit die onskuldige swakhede van die gevallene gehad. Dit was nie die van die gevallene nie, want dit het nooit in sedelike onreinheid verval nie. Dit was, dus, letterlik ons mensheid, maar sonder sonde.”13
c. Sy ondervinding met versoekings. Hoe het versoekings Christus geraak? Was dit vir Hom moeilik of maklik om hulle te weerstaan? Die wyse waarop Hy met versoekings te kampe gehad het, toon dat Hy waarlik menslik was.
i. “In alle opsigte versoek soos ons.” Dat Christus “in alle opsigte versoek is net soos ons” (Heb. 4:15), toon dat Hy ‘ndeelgenoot aan die menslike natuur was. Versoeking en die moontlikheid om te sondig was vir Christus ‘n werklikheid. As Hy nie kon gesondig het nie, sou Hy nog menslik nog ons voorbeeld gewees het. Christus het die menslike natuur met al sy struikelblokke op Hom geneem, waaronder die moontlikheid om aan die versoeking toe te gee.
Hoe kon Hy “in alle opsigte” versoek gewees het net soos ons?
Klaarblyklik bedoel “in alle opsigte” nie dat Hy met identiese versoekings te doen gehad het soos ons vandag nie. Hy was nooit in die versoeking omverderflike TV-programme te volg of om die snelheidsperk met ‘nmotor te oorskry nie.
Die basiese kwessie wat by alle versoekings ter sprake kom, is of aan die wil van God voldoen moet word, of nie. In Sy stryd teen versoekings het Jesus altyd getrou aan God gebly. Deur gedurig op krag van Bo te steun, het Hy die hewigste versoekings weerstaan ondanks Hy menslik was.
Christus se sege oor versoekings het Hom in staat gestel om begrip vir ons swakhede te hê. Ons behaal die oorwinning deur van Hom afhanklik te bly. “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor. 10:13).
Ons moet egter besef dat dit per slot van sake ‘nraaisel is wat nie aan sterflinge verduidelik is nie dat Christus in alle opsigte net soos ons versoek kon gewees het en tog sonder sonde.”l4
ii. “Onder versoeking gely”. Dit was vir Christus ‘nlyding om aan versoeking blootgestel te word (Heb. 2:18). Hy is “deur lyde … volmaak” (Heb. 2:10). Omdat Hy self die krag van versoekings ondervind het, kan ons seker wees dat Hy weet hoe om enigeen te help wat versoek word. Hy was een met die mensheid in die verduur van die versoekings waaraan die mensdom onderhewig is.
Hoe kon versoeking Christus lyding besorg? Hoewel Hy “in die gelykenis van sondige vlees” was, was Sy geestelike vermoëns vry van enige smet van sonde. Die gevolg was dat Sy heilige natuur uiters gevoelig was. Enige aanraking met die Bose het Hom pyn besorg. Omdat Hy dus ooreenkomstig Sy heiligheid gely het, het versoeking Hom meer lyding besorg as vir enigiemand anders.15
Hoeveel het Christus gely? Sy ervaring in die woestyn, Getsemane en Golgota toon dat Hy versoekings tot die punt van bloedvergieting weerstaan het (vgl. Heb. 12:4).
Christus het nie net meer gely in verhouding tot Sy heiligheid nie, maar Hy moes teen kragtiger versoekings stry as ons vandag. B. F. Wescott verklaar: “Meegevoel met die sondaar in sy beproewing hang nie af van die belewing van sonde nie, maar van die belewing van die krag van die versoeking tot sonde, wat alleen die sondelose in sy volle hewigheid kan begryp. Hy wat sondig, is die een wat voor die uiterste spanning swig.”16 F. F. Bruce beaam dit deur te verklaar: “Tog het Hy elke soort toets wat die mens maar kon verduur, triomfantelik weerstaan, sonder dat Sy geloof in God enigsins verswak het of dat Sy gehoorsaamheid aan God enigsins verslap het. So ‘n beproewing vereis meer, nie minder nie, as gewone menslike lyding.”17
Christus het ook te doen gekry met die kragtige versoeking wat geen mens nog ooit mee te kampe gehad het nie – die versoeking om Sy Goddelike krag ter wille van Homself in te span. E. G. White verklaar: “Hy is in die hemelse howe vereer en was bekend met absolute krag. Dit was vir Hom net so moeilik om Hom by die menslike vlak te bepaal as wat dit vir die mens is om bo die peil van sy verdorwe natuur uit te styg en deelgenote aan die hemelse aard te word.”18
d. Kon Christus sondig? Christene verskil oor die vraag of Christus kon gesondig het. Ons stem saam met Philip Schaff, wat gesê het: “As Hy [Christus1 uit die staanspoor met absolute onkreukbaarheid bedeel was, of met die onvermoë om te sondig, kon Hy nie waarlik mens gewees het nie, en ook nie ‘n model vir ons om na te volg nie; sy heiligheid sou, pleks van sy eie selfverworwe daad en inherente deug te wees, ‘ntoevallige en uitwendige gawe gewees het, en sy versoekings ‘n onwerklike vertoon.”19 Karl Ullmann voeg by: ”Die geskiedenis van versoekings sou, hoe dit ook al uitgelê mag word, geen betekenis gehad het nie, en die uitdrukking in die brief aan die Hebreërs ‘dat Hy in a1le opsigte versoek is net soos ons.’ sou geen betekenis gehad het nie.”20
6. Die sondeloosheid van Jesus Christus se menslike natuur. Dit spreek vanself dat die Goddelike natuur van Christus sondeloos was. Maar wat van Sy menslike natuur?
Die Bybel verklaar dat Jesus se menslikheid sondeloos was. Sy geboorte was bonatuurlik – Hy is deur die Heilige Gees verwek (Matt. 1:20). As pasgebore baba is Hy as “die Heilige” beskryf (Luk. 1:35). Hy het die aard van die mens in sy sondige toestand aangeneem en die gevolge van die sonde gedra, dog nie die sondigheid nie. Hy was een met die menseras, behalwe in sonde.
Jesus is “in alle opsigte versoek net soos ons, maar sonder sonde,” en “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Heb. 4:15; 7:26). Paulus sê Hy het “geen sonde geken nie” (2 Kor. 5:21). Petrus getuig dat Hy “geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie” (1 Pet. 2:22), en het Hom vergelyk met “ ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:19; vgl. Heb. 9:24). Johannes sê “geen sonde is in Hom nie…Hy [is1 regverdig” (1 Joh. 3:5-7).
Jesus het ons aard met al sy tekortkominge op Hom geneem, maar Hy was vry van die oorerflike verderf, afwykinge en werklike sonde. Hy het Sy teenstanders uitgedaag: “Wie van julle oortuig My van sonde?” (Joh. 8:46). Toe Hy voor Sy kwaaiste toets te staan gekom het, het Hy verklaar: “Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Joh. 14:30). Jesus het geen sondige neigings of begeertes of hartstogte gehad nie. Nie een van die talle versoekings wat op Hom toegesak het, kon Sy trou aan God verbreek nie.
Jesus het nooit ‘n belydenis van sonde gedoen of ‘n offerande gebring nie. Hy het nie gebid “Vader vergewe My” nie, maar eerder “Vader, vergeef hulle” (Luk. 23:34). Jesus het pal getrag om Sy Vader se wil te doen, en nie Sy eie nie, en het Sy afhanklikheid van die Vader gedurig voor oë gehou (vgl. Joh. 5:30).
In teenstelling met die sondige mens, is Jesus se “geestelike natuur” rein en heilig, en “vry van enige smet van sonde. “21 Dit sou ‘n fout wees om te dink Hy is “geheel en al menslik” soos ons is. Hy is die tweede Adam, die enige Seun van God. Ook moet ons nie aan Hom dink as “ ‘n mens met sondige neiginge nie.” Hoewel Sy menslike natuur in alle opsigte versoek is waarin die menslike natuur versoek word, het Hy nooit geswig nie, nooit gesondig nie. Nooit was daar in Hom ‘n neiging tot kwaad nie.22
Waarlik, Jesus is die mens se hoogste, heiligste voorbeeld. Hy was waarlik die volmaakte toonbeeld van ‘n sondelose mens.
7. Die noodsaaklikheid dat Christus die menslike natuur op Hom neem. Die Bybel verstrek verskillende redes waarom Christus die aard van ‘n mens moes gehad het.
a. Om die hoëpriester vir die mens te wees. As Messias moes Jesus die posisie van hoëpriester of middelaar tussen God en die mens beklee (Sag. 6:13; Heb. 4:14; Heb. 4:16). Vir hierdie funksie is die menslike natuur nodig. Christus het aan hierdie vereistes voldoen: (i) Hy kon “saamvoel met die onwetendes en dwalendes” omdat Hy “self ook met swakheid bevange was” (Heb. 5:2). (ii) Hy is ” ‘n barmbartige en getroue hoëpriester” omdat Hy in alle opsigte “aan sy broeders gelyk” was (Heb. 2:17). (iii) “Hykan die help wat versoek word” “deurdat Hy self onder versoeking gely het” (Heb. 2:18). (iv) Hy het meegevoel met ons swakhede omdat Hy “in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Heb. 4:15).
b. Om selfs die mees ontaarde mens te kan red. Om mense te bereik waar hulle is en om selfs die mees hopelose te kan red, het Hy afgedaal tot die status van ‘n dienskneg (Filip. 2:7).
c. Om Sy lewe vir die sondes van die wêreld te gee. Christus se Goddelike natuur kan nie sterf nie. Om te kon sterf, moes Hy dus die menslike natuur deelagtig word. Hy het ‘n mens geword en die straf vir die sonde ondergaan, en dit is die dood (Rom. 6:23; 1 Kor. 15:3). As mens het Hy die dood vir elke mens ondervind (Heb.2:9).
d. Om vir ons ‘n voorbeeld te wees. Om ‘n voorbeeld te stel van hoe mense moet lewe, moes Christus ‘n sondelose lewe lei as mens. As die tweede Adam het Hy die mite dat ‘n mens nie die wet van God kan nakom en die oorwinning oor die sonde behaal nie, aan die kaak gestel. Hy het getoon dat dit vir die mensdom moontlik is om getrou aan die wil van God te wees. Waar die eerste Adam gefaal het, het die tweede Adam die oorwinning oor die sonde en die Satan behaal en sowel ons Verlosser as ons volmaakte voorbeeld geword. In Sy krag kan ons Sy oorwinning deelagtig word Joh. 16:33).
Deur Hom te aanskou, word mense “van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor. 3:18). Laat ons “die oog…vestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof …. Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘ n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie” (Heb. 12:2,3). Waarlik, “Christus [het] ook vir julle gely … en julle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Pet. 2:21; vgl. Joh. 13:15).
Die Vereniging van die Twee Nature
In wese het Jesus twee nature: die Goddelike en die menslike. Hy is die Godmens. Maar let wel dat die vleeswording beteken het dat die ewige Seun van God die menslike natuur aanneem, en dat dit nie die mens Jesus is wat die Godheid aanneem nie. Die beweging is van God na die mens en nie omgekeerd nie.
In Jesus is hierdie twee nature in een persoon saamgesmelt. Let op die volgende Bybelse bewyse:
Christus Is In Vereniging van Twee Nature. Die veelvoudigheid wat met die Drie-enige God geassosieer word, is nie in Christus aanwesig nie. Die Bybel beskryf Jesus as een persoon, en nie twee nie. Etlike tekste verwys na die GoddeIike en menslike natuur, maar praat net van een persoon. Paulus noem die persoon Jesus Christus God se Seun (Goddelike natuur) wat uit ‘ n vrou gebore is (menslike natuur; Gal. 4:4). Dus het Jesus, “wat in die gestaIte van God was,…dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie” (Goddelike natuur), “maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk … [te] word” (menslike natuur; Filip. 2:6, 7).
Christus se tweeledige natuur bestaan nie uit ‘n abstrakte Goddelike krag of invloed wat met Sy mensheid verband hou nie. “Die Woord,” sê Johannes, “het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, , ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” Joh. 1:14). Paulus het geskryf: “God het sy…eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees…[ge]stuur” (Rom. 8:3); “God is geopenbaar in die vlees” (1 Tim. 3:16; 1 Joh. 4:2).
Die Onvermengde Samevoeging van die Twee Nature. Soms beskryf die Bybel die Seun van God in terme van Sy menslike natuur. God het Sy kerk met Sy eie bloed gekoop {Hand. 20:28; vgl. Kol. 1:13, 14). In ander gevalle beskryf dit die Seun van die mens ooreenkomstig Sy Goddelike natuur (vgl. Joh. 3:13; 6:62; Rom. 9:5).
Toe Christus na die wêreld gekom het, is ” ‘n liggaam” vir Hom voorberei (Heb. 10:5). Toe Hy die mensheid aangeneem het, is Sy Goddelikheid met menslikheid beklee. Dit is nie bewerkstellig deur die menslikheid na Goddelikheid te verander of die Goddelikheid in menslikheid nie. Hy het nie Homself verlaat om na ‘n ander natuur oor te gaan nie, maar het die menslikheid in Hom opgeneem. So is die Goddelike en die menslike verenig.
Toe Christus vlees geword het, het Hy nie opgehou om God te wees nie, en is Sy Godheid ook nie na die peil van die menslike verlaag nie. Elke natuur het sy status behou. “In Hom,” verklaar Paulus, “woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Toe Hy gekruisig is, is dit Sy menslike natuur wat gesterf het, nie Sy Goddelike nie, want dit sou onmoontlik gewees het.
Die Noodsaaklikheid van die Vereniging van die twee Nature. ‘n Begrip van die onderlinge verband van Christus se twee nature gee ‘n mens ‘n belangrike insig in Christus se sending en van ons verlossing self.
1. Om die mens met God te versoen. Alleen ‘n Goddelik-menslike Verlosser kon verlossing bewerkstellig. Met Sy vleeswording het Christus, ten einde Sy Goddelike aard aan gelowiges mee te deel, die mensheid in Homself opgeneem. Deur die deug van die bloed van die Godmens kan gelowiges deel hê aan die Goddelike natuur (2 Pet. 1 :4).
Die leer in Jakob se droom, wat ‘n simbool van Christus is, bereik ons waar ons is. Hy het die menslike natuur aangeneem en oorwin, sodat ons deur Sy aard aan te neem, ook kan oorwin. Sy Goddelike arms hou aan die troon van God vas, terwyl Sy mensheid die mensdom omvat en ons met God verbind – die aarde met die hemel.
Die verenigde God-mens natuur maak Christus se soenoffer kragdadig. Die lewe van ‘n sondelose mens of selfs van ‘n engel sou nie vir die sondes van die mensdom kon vergoed nie. Alleen die Goddelikmenslike Skepper kon die mensdom loskoop.
2. Om die Godheid met mensheid te sluier. Christus het Sy Godheid in die kleed van mensheid gehul, en Sy hemelse heerlikheid en majesteit neergelê, sodat sondaars in Sy teenwoordigheid kon verkeer sonder om te sterf. Hoewel Hy steeds God was, het Hy nie soos God voorgekom nie (Filip. 2:6-8).
3. Om ‘n lewe van oorwinning te lei. Christus se mensheid alleen sou nooit die verleidelikheid van die Satan kon verduur het nie. Maar in Hom “woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Ko. l2:9). Hy kon die sonde oorwin omdat Hy Hom geheel en al op die Vader verlaat het (Joh. 5:19,30; 8:28), en “Goddelike krag wat met die mensheid verbind is, het ‘n grenslose oorwinning namens die mens behaal.23
Christus se oorwinningslewe is nie Sy voorreg alleen nie. Hy het van geen krag gebruik gemaak wat nie in die mens se vermoë is nie. Ons kan ook “vervul…word tot al die volheid van God” (Efe. 3:19). Deur Christus se Goddelike krag kan ons toegang verkry tot “alles wat tot die lewe en godsvrug lei.”
Die sleutel tot hierdie ondervinding is geloof in die “grootste en kosbare beloftes” waardeur ons “deelgenote kan word van die Goddelike natuur,” nadat ons “dieverdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Pet. 1:4). Hy bied dieselfde krag waardeur Hy oorwin het, sodat almal getrou kan gehoorsaam en ‘n lewe van oorwinning kan lei.
Christus se gerusstellende belofte is een van oorwinning. “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openb. 3:21).
Die Ampte van Jesus Christus
Die ampte van profeet, priester en koning was enig en het gewoonlik ‘n toewydingsdiens deur salwing vereis (1 Kon. 19:16; Exod. 30:30; 2 Sam. 5:3). Die komende Messias, die Gesalfde – so het die profesieë verklaar – sou al drie hierdie poste beklee. Christus vervul Sy taak as middelaar tussen God en ons deur die ampte van profeet, priester en koning. Christus die Profeet verkondig God se wil vir ons, Christus die Priester verteenwoordig ons by God en omgekeerd, en Christus die Koning oefen God se genadige gesag oor Sy kinders uit.
Christus die Profeet. God het Christus se profetiese amp aan Moses bekend gemaak. ” ‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat ek Hom beveel” (Deut. 18:18). Christus se tydgenote het die vervulling van hierdie voorspelling geëien (Joh. 6:14; 7:40; Hand. 3:22, 23).
Jesus het na Homself as “profeet” verwys (Luk. 13:33). Hy het met profetiese gesag (Matt. 7:29) die beginsels van die koninkryk van God verkondig (Matt. 5-7; 22:36-40), en het die toekoms bekend gemaak (Matt. 24:1-51; Luk. 19:41-44).
Voordat Hy vlees geword het, het Christus die Bybelskrywers met Sy Gees vervul en profesieë aan hulle gegee aangaande Sy lyding en daaropvolgende heerlikheid (1 Pet. 1:11). Na Sy hemelvaart het Hy Hom steeds aan Sy kinders geopenbaar. Die Skrif verklaar dat Hy Sy “getuienis” “die gees van die profesie” -aan Sy getroue oorblyfsel gegee het (Openb. 12:17; 19:10; kyk hoofstuk 17 van hierdie boek).
Christus die Priester. Die. priesterskap van Christus is met ‘n eed van God bevestig: “Die Here het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek” (Ps. 110:4). Christus was nie ‘n afstammeling van Aäron nie. Soos in die geval van Melgisedek, berus Sy reg tot die priesterskap op ‘n aanstelling van God (Heb. 5:6, 10; kyk hoofstuk 7). Sy bemiddelende priesterskap het twee fases gehad: ‘n aardse en ‘n hemelse.
1. Christus se aardse priesterskap. Die priester se taak by die brandofferaltaar het Jesus se aardse bediening versinnebeeld. Jesus het volkome aan die vereistes vir die priestersamp voldoen: Hy was waarlik mens, en Hy is “deur God geroep” en het opgetree “in die dinge wat met betrekking tot God staan” met die besondere taak om “gawes en offers vir die sondes te bring” (Heb. 5:1, 4, 10).
Die priester moes die aanbidders met God versoen deur middel van die offerandestelsel, wat ‘n voorstelling was van die versoening wat vir die sonde voorsien sou word (Lev. 1:4; 4:29, 31, 35; 5:10;16:6; 17:11). So het die voortdurende offerandes aan die brandofferaltaar die beskikbaarheid van voortdurende versoening versinnebeeld.
Hierdie offerandes was nie toereikend nie. Hulle kon die een wat die offers bring nie vervolmaak, die sondes wegneem of ‘n skoon gewete wek nie (Heb. 10:1-4; 9:9). Hulle was maar net ‘n sinnebeeld van goeie dinge wat sou kom (Heb. 10:1; vgl. 9:9,23,24). Die Ou Testament het verklaar dat die Messias self die plek van hierdie diere sou inneem (Ps. 40:7-9; Heb. 10:5-9). Hierdie offerandes het dus die plaasvervangende lyding en soendood van Christus die Verlosser voorspel. Hy, die Lam van God, het vir ons sonde geword, ’n Isak vir ons; Sy bloed reinig ons van alle sonde (2 Kor. 5:21; Gal. 3:13; 1 Joh. 1:7; vgl. 1 Kor. 15:3).
Gedurende Sy aardse bediening was Christus dus sowel priester as offerande. Sy dood aan die kruis was deel van Sy priestersamp. Na Sy offer op Golgota het Sy priesterlike bemiddeling in die hemelse heiligdom gesentreer.
2. Christus se hemelse priesterskap. Die priesterlike bediening wat Christus op aarde begin het, voltooi Hy in die hemel. Sy vernedering op aarde as die lydende dienskneg van God het Hom toegerus om ons Hoëpriester in die hemel te wees (Heb. 2:17, 18; 4:15; 5:2). Die profesie bring aan die lig dat die Messias ‘n priester op die troon van God sou wees (Sag. 6:13). Na Sy opstanding is die vernederde Christus verhef. Nou sit ons Hoëpriester “aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele” en dien Hy in die hemelse heiligdom (Heb. 8:1,2; vgl. 1:3; 9:24).
Christus het Sy middelaarstaak onmiddellik na Sy hemelvaart aanvaar. Die wierookwolk wat in die tempel opstyg is ‘n uitbeelding van Christus se deug, gebede en geregtigheid, wat ons aanbidding vir God aanneemlik maak. Wierook kon alleen geoffer word op kole wat uit die brandofferaltaar geneem is, wat ‘n intieme verband tussen bemiddeling en die soenoffer van die altaar toon. Christus se middelaarswerk berus dus op die toereikendheid van Sy voltooide soenoffer.
Christus se middelaarswerk is ‘n aanmoediging vir Sy kinders. Hy “kan ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Heb. 7:25), Omdat Christus vir Sy kinders intree, het al die Satan se beskuldiginge hul wetsbasis verloor (1 Joh. 2:1; vgl. Sag. 3:1). Paulus vra retories: “Wie is dit wat veroordeel?” Dan gee hy die versekering dat Christus self aan die regterhand van God sit en vir ons intree (Rom. 8:34). Ter bevestiging van Sy rol as Middelaar het Christus gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee” (Joh. 16:23).
Christus die Koning. “Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles” (Ps. 103:19). Dit spreek vanself dat die Seun van God, as een van die Godheid, deel het in hierdie Goddelike heerskappy oor die ganse heelal.
As die Godmens sal Christus Sy koningskap oor almal uitoefen wat Hom as Heer en Verlosser aangeneem het. “U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer” (Ps. 45:7; Heb. 1:8,9).
Die koningskap van Christus is nie sonder stryd gevestig nie, want “die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde [Messias]” (Ps. 2:2). Hulle pogings misluk egter. God sal die Messias met ‘n proklamasie op Sy troon vestig: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg”;”Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer” (Ps. 2:6, 7; Heb.1:5). Die naam van die Koning wat die troon van Dawid sal beklee, is “DlE HERE ONS GEREGTIGHElD” (Jer. 23:5, 6). Sy heerskappy is enig, want Hy sal op die hemelse in die hoedanigheid van sowel priester as koning optree (Sag. 6:13).
Aan Maria het die engel aangekondig dat Jesus die Messiaanse heerser sou wees, met die woorde: “Hysal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:33). Sy koningskap word uitgebeeld deur twee trone, wat twee koninkryke voorstel. Die “troon van genade” (Heb. 4:16) stel die koninkryk van genade voor; die “heerlike troon” (Matt. 25:31), staan vir die koninkryk van die heerlikheid.
1. Die koninkryk van genade. Onmiddellik nadat die eerste mens gesondig het, is die koninkryk van genade in werking gestel. Dit het bestaan uit die belofte van God. Deur die geloof sou mense burgers daarvan word. Dit was egter nog nie ten volle gevestig tot met die dood van Christus nie. Toe Hy aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring,” is aan die vereistes vir die verlossingsplan voldoen en is die nuwe verbond bekragtig (vgl. Heb.9:15-18).
Jesus se aankondiging: ”Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom” (Markus 1:15) was ‘n regstreekse verwysing na die koninkryk van genade wat weldra deur Sy dood tot stand gebring sou word. Hierdie koninkryk, wat op die verlossingstaak gegrond is en nie op die Skepping nie, ontvang sy burgers deur middel van geestelike vernuwing – die wedergeboorte. Jesus het verklaar: “As iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie” (Joh. 3:5; vgl. 3:3). Hy het die groei daarvan vergelyk met die fenomenale groei van ‘n mosterdsaadjie en die uitwerking van suurdeeg op meel (Markus 4:22-31; Matt. 13:33).
Die koninkryk van genade word nie in uiterlike vertoon gesien nie, maar aan die uitwerking wat dit op die gelowiges het. Hierdie koninkryk, het Jesus geleer, “kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle” (Luk. 17:20,21). Dit is nie ‘n koninkryk van hierdie wêreld nie, het Hy gesë, maar ‘n koninkryk van die waarheid. “Ek [is] ‘n koning … Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Joh. 18:37). Paulus noem hierdie koninkryk Christus se koninkryk van “geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” waarheen gelowiges oorgeplaas word (Rom. 14:17; Kol. 1:13).
Die stigting van hierdie koninkryk was ‘n pynlike ondervinding, wat beaam dat daar geen kroon sonder ‘n kruis is nie. Aan die einde van Sy openbare bediening het Jesus, die Messias, die Godmens, na Jerusalem gekom as die regmatige erfgenaam van die troon van Dawid. Op ‘n esel gesetel, soos die Joodse gebruik was vir die intog van ‘n koning (Sag. 9:9), het Hy die massas se spontane, geesdriftige ondersteuning aangeneem. Met Sy triomfantlike intog in die koningstad het ‘n groot menigte hul klere voor hom uitgesprei om ‘n koninklike tapyt te vorm, palmtakke afgekap en geroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 21:8, 9), waardeur Sagaria se profesie vervul is. Nou het Christus Hom aangemeld as die Messiaanse koning.
Sy aanspraak op die troon het egter nie sonder teenstand geskied nie. Sataniese haat teen “die Sondelose” het sy hoogtepunt bereik. Binne die bestek van twaalf uur het die verdedigers van die geloof, die Sanhedrin, Hom heimlik laat arresteer, Hom verhoor en tot die dood veroordeel.
Tydens Sy verhoor het Jesus openlik bevestig dat Hy die Seun van God en Koning van Sy volk is (Luk. 23:3; Joh. 18:33-37). As antwoord op Sy aanspraak is Hy minagtend met ‘n koninklike kleed geklee, en gekroon, nie met ‘n goue kroon nie, maar ‘n doringkroon (Joh. 19:2). Die hulde wat Hom as koning gebring is, was loutere bespotting. Die soldate het Hom geslaan en spottend geroep: “Weesgegroet, Koning van die Jode!” (Joh. 19:3). En toe die Romeinse goewerneur, Pilatus, Hom aan die volk voorgehou het met die woorde: “Daar is julle Koning!” het Sy eie volk Hom byna eenparig verwerp met die kreet: “Neemweg, neem weg, kruisig Hom!” (Joh. 19:14, 15).
Met Sy diepste vernedering – dood aan die kruis – het Christus die koninkryk van genade ingelui. Kort daarna is Sy vernedering met blydskap vervang. Met Sy hemelvaart is Hy in die hemel as Priester en Koning gekroon en het Hy die Vader se troon gedeel (Ps. 2:8, 9; vgl. Heb. 1 :3-5; Filip. 2:9-11; Efe. 1 :20-23). Hierdie plaasneming op die troon het Hom, die Seun van God, geen mag gegee wat Hy nie alreeds besit het nie. Maar nou, as die Middelaar wat God en mens was, het Sy menslike natuur vir die eerste keer deel gehad aan die hemelse heerlikheid en mag.
2. Die koninkryk van heerlikheid. ‘n Voorstelling van die koninkryk van heerlikheid is op die Berg van Verheerliking gegee. Daar het Christus Hom in Sy heerlikheid vertoon. “Syaangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig” (Matt. 17:2). Moses en Elia het die verlostes voorgestel – Moses die wat in Christus gesterf het en opgewek sal word, en Elia die gelowiges wat na die hemel geneem sal word sonder om die dood te smaak met die Wederkoms.
Die koninkryk van heerlikheid sal tydens die wederkoms van Christus met katastrofale gebeurtenisse gevestig word (Matt. 24:27, 30, 31; 25:31, 32). Ná die oordeel, wanneer die Seun van die mens se middelaarswerk in die hemelse heiligdom afgehandel is, sal die “Oue van dae” God die Vader – aan Hom “heerskappy en eer en koningskap” gee (Dan. 7:9, 10, 14). “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Aller-hoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Dan. 7:27).
Die koninkryk van heerlikheid sal uiteindelik op aarde gevestig word aan die einde van die duisend jaar, wanneer die nuwe Jerusalem uit die hemel sal neerdaal (Openb. 20, 21). Deur Jesus Christus as ons Saligmaker aan te neem, kan ons vandag burgers van Sy koninkryk van genade word, en met Sy wederkoms van Sy koninkryk van heerlikheid. Voor ons strek ‘n lewe van perkelose moontlikhede. Die lewe wat Christus aanbied, is nie ‘n lewe vol mislukkings en verpletterde verwagtinge en drome nie, maar een van groei, en ‘n suksesvolle wandeling met die Heiland. Dit is ‘n lewe wat meer en meer opregte liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing aan die dag lê {Gal. 5:22, 23 – die vrugte van die verhouding wat Jesus aanbied aan almal wat hul lewens aan Hom toevertrou. Wie kan so ‘n aanbod weerstaan?
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. Oor die profesie van die 70 weke, sien 70 Weeks, Leviticus and the Nature of Prophecy, red. Frank B. Holbrook (Washington, D.C.: Biblical Research Institute, General Conference of Seventh-day Adventists, 1986), bl. 3-127.
2. Oor die Bybelse grondslae vir die jaar-dag beginsel, kyk William H. Shea, Selected Studies on Prophetic Interpretation (Washington, D.C.: Review and Herald, 1982), bl. 56-93.
3. Die datums van die bewind van Artasasta is deeglik vasgestel deur die Olimpiade-datums, die Ptolemaeuskanon, die Elefantynse Papiri en die Babiloniese Spykerskriftablette.
4. Sien ook C. Mervyn Maxwell, God Cares (Mountain View, CA.: Pacific Press, 1981), deel, bl. 216- 218
5. Gleason L. Archer, Encyclopedia of Bible Difficulties (Grand Rapids, MI.: Zondervan, 1982), bl. 291.
6. White, Die Koning van die Eeue (Sentinel-Uitgewery, Kaapstad) hfst. 58, par. 25.
7. Dat die Skrifte na Jesus verwys as die “eniggeborene” en die “eersgeborene” en verwys na die dag toe Hy verwek is, is nie ‘n ontkenning van Sy Goddelike aard en ewige bestaan nie. Die benaming “eniggebore” (Joh. 1 :14; 1: 18; 3:16; 1 Joh. 4:9) kom van die Griekse woord Monogenes. Die Bybelsegebruik van monogenes dui daarop dat sy betekenisse strek tot “enigste” of “unieke”, wat ‘n besondere verhouding aandui en nie ‘n gebeurtenis op ‘n sekere tydstip nie. Isak word byvoorbeeld Abraham se “eniggebore” seun genoem, hoewel hy nie Abraham se enigste of selfs oudste seun was nie (Gen. 16:16; 21:1-21; 25:1-6). Isak was die unieke seun die enigste van sy soort, wat bestem was om Abraham se opvolger te word. ‘Jesus Christus, die voorbestaande God, die Goddelik skeppende Woord, het met Sy vleeswording in ‘n unieke sin Seun van God geword – die rede waarom Hy as ‘monogenes’ beskryf word, die enigste van sy soort, in baie opsigte van Sy wese en lewe heeltemal uniek. Geen ander kind onder die mense was so ineengeslote in wese, het so ‘n weergalose verhouding met die Godheid gehad, of het so ‘n taak verrig as wat Hy verrig het nie. ‘Monogenes’ beskryf dus die verhouding tussen God die Vader en Jesus Christus die Seun as afsonderlike Wesens van die Godheid. Dit is ‘n verhouding wat Christus se komplekse, Goddelik-menslike persoonlikheid beskryf in verband met die verlossingsbestel.” (Committee on Problems in Bible Translation, Problems in Bible Translation [Washington D.C.: Review and Herald, 1954], bl. 202). Wanneer Christus die “eersgeborene” genoem word (Heb. 1:6; Rom. 8:29; Kol. 1:15, 18;Openb. 1:5), verwys dit ook nie na ‘n tydsgewrig nie. Inteendeel, dit beklemtoon die belangrikheid van voorkeur (vgl. Heb. 12:23). In die Hebreeuse kultuur het die eersgeborene die gesin se voorregte ontvang. As die eersgeborene onder die mense het Jesus dus al die voorregte wat die mens verbeur het, teruggewin. Hy het die nuwe Adam geword, die nuwe “eersgeborene” of hoof van die menseras. Die Bybelse verwysing na die dag toe Jesus verwek is, berus op ‘n soortgelyke begrip as die van die eersgeborene of eniggeborene. Na gelang van die sinsverband verwys die Messiaanse voorspelling “U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer” (Ps. 2:7) na Jesus se vleeswording (Heb. 1:6), opstanding (Hand. 13:33; vgl. v. 30), of die troonbestyging (Heb. 1:3,5).
8. Bykomende aanduidings word in die Griekse grammatikale wette aangetref. (1) Die gebruik van die woord “Here” sonder die bepaalde lidwoord. Die LXX vertaal JHWH met ‘n lidwoordlose kurios. Heel dikwels wanneer ‘n lidwoordlose kurios in die Nuwe Testament voorkom, dui dit op God (bv. Matt. 7:21; 8:2, 6,25). (2) ‘n Enkele lidwoord kwalifiseer twee substantiewe. So word Christus bv. beskryf as God in die sinsnedes soos “die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:13), “diegeregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1). (3) As daar twee substantiewe is en die tweede kom in die genitiewe naamval sonder ‘n lidwoord voor, word die hoedanigheid vir beide substantiewe van die een aan die ander toegeskryf. In dieselfde sin dus dat Rom 1:17,18 praat van die “geregtigheid van God” en “toorn van God”, word Jesus ook beskryf as “Seun van God” (Luk. 1:35).
9. White, ”’The True Sheep Respond to the Voice of the Shepherd,” Signs of the Times, 27 Nov. 1893, bl.
10. White, Patriarge en Profote, bl. 34.
11. Hierdie uitdrukkings is dikwels deur Sewendedag-Adventiste skrywers gebruik om Jesus se vereenselwiging met die mens aan te dui, maar nooit beteken hulle dat Hy enigsins sondig was nie. Deur sy hele geskiededenis was die amptelike houding van die kerk die verdediging van die absolute sondeloosheid van die Here Jesus Christus.
12. Christus het “dieselfde ontvanklikhede, geestelik en liggaamlik” as Sy tydgenote op Hom geneem (White, ” Notes of Travel,” Advent Review and Sabbath Herald, 10 Feb. 1885, bl. 81) – ‘n menslike natuur wat in “liggaamlike mg, geestelike vermoë en sedelike uitnemendheid” afgeneem het – hoewel nie sedelik verdorwe nie, maar geheel en al sondeloos (White, ” ‘In all Points Tempted Like As We Are‘” Signs, 3 Des. 1902, bl. 2; White, Koning van die Eeue, hfst. 4, par. 14.
13. Henry Melvill, in Sermons by Henry Melvill, B.D., red. C.P. Mcilvaine (New York, N.Y.: Stanford & Swords, 1844), bl. 47. Met “innocent infirmities” het hy honger, pyn, droefheid, ens. bedoel. Hy het hierdie sienswyse die “pre-and post-Fall nature of Christ” genoem, lithe orthodox doctrine” (ibid.).
14. White, Brief 8, 1895, in The Seventh-day Adventist Bible Commentary, red. Francis D. Nichol, hers. uitg. (Washington, D.C.: Review and Herald, 1980), deel 5, bl. 1128, 1129; vgl. SDA Bible Commentary, hers. uitg., dee1 7, bl. 426.
15. Vgl. White, “In Gethsemane”, Signs, 9 Des. 1897, bl. 3; White in SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 7, bl. 927.
16. Brooke F. Wescott, The Epistle to the Hebrews (Grand Rapids, MI: Wm. B.Eerdmans, 1950), bl. 59.
17. F. F. Bruce, Commentary on the Epistle to the Hebrews (Grand Rapids, MI.:Wm. B. Eerdmans, 1972), bl. 85, 86.
18. White, “The Temptation of Christ,” The Review and Herald, 1 Apri1 1875 bl. [3].
19. Philip Schaff, The Person of Christ (New York, NY: George H. Doran, 1913), bl. 35, 36.
20. Karl Ullmann, An Apologetic View of the Sinless Character of Jesus, The Biblical Cabinet; or Hermeneutical Exegetical, and Philological Library (Edinburgh, Thomas Clark, 1842), deel 37, bl. 11.
21. White, “In Gethsemane,” Signs, 9 Des. 1897, bl. 3; vgl. White, Die Koning van die Eeue, hist. 27, par. 15-17.
22. White, Brief 8, 1895, in SDA Bible Commentary, deel 5, bl. 1128, 1129. In E. G. White se tyd is die volgende omskrywings van propensity (neiging) gebruik: “Propensity” uit die Latyn propensus, word omskryf as “natural inclination; bias, bent” (Webster’s Collegiate Dictionary, 3de uitg., [Springfield, MA: G. & C. Merriam Co., 1916]); vgl. Nuttall’s Standard Dictionary o fthe English Language (Boston, MA: De Wolfe, Fiske & Co., 1886). Webster se Onverkorte Woordeboek omskryf dit as “thequality or state of being propense leaning toward, in a moral sense]; natural inclination; disposition to do good or evil; bias; bent, tendency” (Webster’s International Dictionary of the English Language [Springfield, MA: G. & C. Merriam & Co., 1890]). Een van E. G. White se gunstelingskrywers, Henry Melvill, het geskryf: “Maar hoewel Hy die menslikheid met die onskuldige swakhede op Hom geneem het, het Hy dit nie met die sondige neiginge gedoen nie. Hier het die Godheid ingegryp. Die Hei1ige Gees het die Maagd oorskadu en, terwyl Hy toegelaat het dat swakheid van haar oorgeneem word, het Hy goddeloosheid verbied; en sodoendeveroorsaakdat daar’n bedroefdeenlydendemensheid opgewekword, maar nietemin een wat vlekkeloos en onbesmet is; ‘n mensheid met trane, maar nie met kladde nie; toeganklik tot smart, maar nie geneig om aanstoot te gee nie; ten nouste betrokke by die ellende wat veroorsaak word, maar ver verwyderd van die oorsaak van die ontstaan” (Melvill, bl. 47). Kyk Tim Poirier, “A Comparison of the Christology of Ellen White and Her Literary Sources” (Ongepubliseerde MS, Ellen G. White Estate, Inc., Wêreldkonferensie van Sewendedag-Adventiste, Washington D.C. 20012).
23. White, “Temptation of Christ, “ Review and Herald, 13 Okt. 1874, bl. [1]; vgl. White in SDA Bible Commentary, deel 7, bl. 907,904; deel 5, bl. 1113.