Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
God die Ewige Vader is die Skepper, Bron, Onderhouer en Heerser van die ganse skepping. Hy is regverdig en heilig, genadig en barmhartig, lankmoedig en oorvloedig in onfeilbare liefde en trou. Die hoedanighede en kragte wat in die Seun en in die Heilige Gees kenbaar is, is ook openbarings van die Vader (Gen. 1:1; Openb. 4:11; 1 Kor. 15:28; Joh. 3:16; 1 Joh. 4:8; 1 Tim. 1:17; Ex. 34:6,7; Joh. 14:9.)
God die Vader
Die groot oordeelsdag breek aan. Vurige trone met vlammende wiele kom op hulle plek. Die Oue van dae gaan sit. Hy is majestueus in Sy heerlikheid as Hy op die regstoel plaas neem. Sy ontsagwekkende teenwoordigheid deurtrek die hofsaal met sy ontsaglike gehoor. Ontelbare getuies staan voor Hom. Die hof is in sitting, die boeke word oopgeslaan en die geskiedenis van menselewens word ondersoek (Dan. 7:9,10).
Die ganse heelal het op hierdie oomblik gewag. God die Vader sal Sy geregtigheid teen alle goddeloosheid laat geld. Die vonnis word gevel: “Aan die heiliges van die Allerhoogste [is] reg verskaf” (Dan. 7:22). Vreugdevolle lofsange weergalm deur die hemel. Die karakter van God word in al sy heerlikheid gesien, en Sy wonderbare Naam word deur die ganse heelal geregverdig.
Beskouinge oor die Vader
Daar is baie wanbegrippe oor God die Vader. Baie is bewus van Christus se sending na die aarde ter wille van die mensdom, en van die Heilige Gees se rol in die individu, maar wat het die Vader met ons te doen? Staan Hy, in teenstelling met die genadige Seun en die Gees, afsydig van ons wêreld, die afwesige Landheer, die onbeweegbare Eerste Oorsaak?
Of is Hy, soos party van Hom dink, die “Ou–Testamentiese God” – ‘n God van toorn, wat gekenmerk word deur die leuse “oog vir oog en tand vir tand” (Matt. 5:38; vgl. Ex. 21:24); ‘n streng God wat volmaaktheid eis – of Ek … ! ‘n God wat in skrille kontras staan met die Nuwe Testament se uitbeelding van ‘n liefdevolle God wat voorstel dat ‘n mens die ander wang draai en die tweede myl saamloop (Matt. 5:39-41)?
God die Vader in die Ou Testament
Die eenheid van die Ou en die Nuwe Testament, en hul gemeenskaplike verlossingsplan word aan die lig gebring deur die feit dat dieselfde God in albei Testamente vir die verlossing van Sy kinders spreek en handel. ”Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Heb. 1:1, 2). Hoewel die Ou Testament verwys na die Persone van die Godheid, tref Hy nie onderskeid tussen Hulle nie. Die Nuwe Testament maak dit egter duidelik dat Christus, God die Seun, die daadwerklike uitvoerder van die Skepping was(Joh.l:1-3,14; Kol.l:16) en dat Hy die God was wat Israel uit Egipte gelei het (1 Kor. l0:1-4; Ex. 3:14; Joh. 8:58). Wat die Nuwe Testament oor die rol van Christus in die Skepping en in die Eksodus aan die hand doen, dui aan dat selfs die Ou Testament dikwels te kenne gee dat God die Vader deur middel van die Seun optree. “God in Christus [het] die wêreld met Homself versoen” (2 Kor. 5:19). Die Ou Testament beskryf die Vader soos volg:
‘n Genadige God. Geen sondige mens het God ooit gesien nie (Ex. 33:20). Ons het geen foto van Sy voorkoms nie. Sy natuur word gedemonstreer deur Sy genadedade en deur die woordbeeld wat Hy voor Moses uitgeroep het: “Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag” (Ex. 34:6, 7; vgl. Heb. 10:26, 27). Tog vergewe die genade nie blindelings nie, maar word dit deur die beginsel van geregtigheid bepaal. Wie Sy genade verwerp, maai die straf vir ongeregtigheid.
By Sinai het God die verlange uitgespreek om Israel se vriend te wees, om hulle te vergesel. Aan Moses het Hy gesê: “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon” (Ex. 25:8). Omdat dit God se aardse woning was, het hierdie heiligdom die middelpunt van Israel se godsdienstige belewenis geword.
‘n Verbondsgod Omdat Hy graag blywende verhoudings tot stand wou bring, het God plegtige verbonde aangegaan met mense soos Noag (Gen. 9:1-17) en Abraham (Gen. 12:1-3; Gen. 12:7; Gen. 13:14-17;Gen. 15:1, Gen. 15: 5, Gen. 15: 6; Gen. 17:1-8; Gen. 22:15-18; kyk hoofstuk 7 van hierdie boek). Hierdie verbonde openbaar ‘n persoonlike, liefdevolle God wat belangstel in Sy kinders se behoeftes. Aan Noag het Hy die versekering van gereëlde seisoene gegee (Gen. 8:22) en dat daar nooit weer ‘n wêreldvloed sou wees nie (Gen. 9:11); aan Abraham het Hy talryke nakomelinge belowe (Gen. 15:5-7) en ‘n land waarin hy en sy afstammelinge kon woon (Gen. 15:18; Gen. 17:8).
‘n Verlossende God. As God van die eksodus het Hy ‘n volk uit slawerny tot vryheid gelei. Hierdie groot verlossingsdaad vorm die agtergrond tot die hele Ou Testament en is ‘n voorbeeld van Sy verlange om ons Verlosser te wees. God staan nie afsydig op ‘n afstand sonder enige belangstelling nie, maar is diep by ons aangeleenthede betrokke.
Veral die psalms was besiel met die diepte van God se liefdevolle betrokkenheid: “As ek die hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Ps. 8:4, 5). “Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte. Die Here is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil my skild en die horing van my heil, my rotsvesting” (Ps. 18: 2, 3). “Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag… nie”(Ps. 22:25).
God ‘n Toevlug. Dawid het God gesien as Een in wie hy toevlug kon vind – baie soos die ses vrystede van Israel, waar onskuldige vlugtelinge asiel kon vind. Die dikwels herhaalde tema van “toevlug” in die psalms beeld so wel Christus as die Vader uit. Die Godheid was ‘n toevlug. “Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op “ ‘n rots” (Ps. 27:5). “God is vir ons ‘n toevlug en sterkte as hulp in benoudhede is Hy in hoe mate beproef” (Ps. 46:2). “Rondom Jerusalem is berge; so is die Here rondom sy volk van nou af tot in ewigheid” (Ps. 125:2).
Die psalmdigter beskryf sy verlange na meer van sy God: “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, 0 God! My siel dors na God, na die lewende God” (Ps. 42:2, 3). Uit eie ondervinding het Dawid getuig: “Werp jou sorg op die Here, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Ps. 55:23). “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julIe hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons” (Ps. 62:9) ” ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Ps. 86:15).
‘n Vergewende God. Na Dawid se owerspel en moord het hy ernstig gebid: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.” “Verwerp my nie van u God die Vader se aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Ps. 51:3, 13). Hy het vertroosting gevind deur die sekerheid dat God uiters genadig is. “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Ps. 103:11-14).
‘n God van Goedertierenheid. God is Een “wat aan die verdruktes reg doen, wat aan die hongeriges brood gee. Die Here maak die gevangenes los. Die Here open die oë van die blindes; die Here rig die wat geboë is, op; die Here het die regverdiges lief. Die Here behoed die vreemdelinge; Hy rig wees en weduwee weer op” (Ps. 146:7-9). Watter wonderbare beeld word nie in die Psalms van God gegee nie!
‘n Getroue God. Ondanks die grootheid van God het Israel die meeste van die tyd van Hom afgedwaal (Lev. 26, Deut. 28). God word vergelyk met ‘n eggenoot wat sy vrou liefhet. Die boek Hosea gee ‘n roerende uitbeelding van God se getrouheid in die aangesig van flagrante ontrouheid en verwerping. God se aanhoudende vergifnis toon Sy onvoorwaardelike liefde.
Hoewel God toegelaat het dat Israel deur diep water gaan as gevolg van sy ontrouheid – waardeur Hy Israel wou help om van sy wee te verander – het Hy hom steeds met Sy genade omring. Hy het hom verseker: “Jy is my kneg; jou het Ek uitverkies en jou nie verwerp nie. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand” (Jes. 41:9, 10). Ondanks hul ontrouheid het Hy tederlik belowe: “Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen My gehandel het; … As hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid, sal Ek dink aan my verbond met Jakob … met Isak…met Abraham” (Lev. 26:40-42; vgl. Jer.3:12).
God herinner Sy volk aan Sy wil om te verlos: ”Jy sal deur My nie vergeet word nie. Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos” (Jes. 44:21, 22). Geen wonder Hy kon sê nie: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie” (Jes. 45:22).
‘n God van Verlossing en Wraak. Die Ou Testamentiese uitbeelding van God as ‘n God van wraak moet in die samehang van die vernietiging van Sy getroue volgelinge deur die goddelose gesien word. Deur die tema van “die dag van die Here” openbaar die profete God se optrede ten behoewe van Sy kinders aan die einde van die tyd. Dit is ‘n dag van verlossing vir Sy volk, maar ‘n dag van wraak teen die vyande, wat vernietig sal word. “Sêaan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos” (Jes. 35:4).
‘n Vader-God. In ‘n toespraak aan Israel het Moses na God verwys as hul Vader wat hulle verlos het: “Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie?” (Deut. 32:6). Deur verlossing het God Israel boonop as Sy kind aangeneem. Jesaja het geskryf: “Here, U is ons Vader” (Jes. 64:8; vgl. 63:16). Deur Maleagi het God beaam: “Ek [is] die Vader” (Mal. 1:6). Elders bring Maleagi God se Vaderskap in verband met Sy rol as Skepper: “Hetons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie?” (Mal. 2:10). God is ons Vader deur sowel die Skepping as verlossing. Watter heerlike waarheid!
God die Vader in die Nuwe Testament
Die God van die Ou Testament verskil nie van die God van die Nuwe Testament nie. God die Vader word voorgestel as die Een wat alles begin het, die Vader van alle ware gelowiges, en in ‘ n sonderlinge sin die Vader van Jesus Christus.
Die Vader van die Ganse Skepping. Paulus identifiseer die Vader as afsonderlik van Jesus Christus: “Tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, … en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Kor. 8:6; vgl. Heb. 12:9; Joh. 1:17). Hy getuig: “[Ek] buig …my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efe. 3:14, 15).
Die Vader van Alle Gelowiges. In die Nuwe Testament bestaan hierdie vader-kind verhouding nie tussen God en die volk van Israel nie, maar tussen God en die individuele gelowige. Jesus verskaf die riglyne vir hierdie verhouding (Matt. 5:45; 6:6-15), wat tot stand kom as die gelowige Jesus Christus aanneem (Joh. 1:12, 13).
Deur die verlossing wat Jesus bewerkstellig het, word gelowiges aangeneem as kinders van God. Die Heilige Gees werk hierdie verhouding in die hand. Christus het gekom om “die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!” (Gal. 4:5, 6; vgl. Rom. 8:15, 16).
Jesus Openbaar die Vader. Jesus, God die Seun, het die grondigste openbaring van God die Vader gegee toe Hy, as God se selfopenbaring, vlees geword het (Joh. 1:1, 14). Johannes sê: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun…die het Hom verklaar” (Joh. 1:18). Jesus het gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal” (Joh. 6:38); “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:9). Om Jesus te ken, is om die Vader te ken.
Die brief aan die Hebreers beklemtoon die belangrikheid van hierdie persoonlike openbaring: “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese” (Heb. 1:1-3).
1. ‘n God wat gee.Jesus het Sy Vader as ‘n gewende God voorgestel. Ons sien hoe Hy gee met die Skepping, te Betlehem en op Golgota.
Met die skepping het Vader en Seun saamgewerk. God het aan ons die lewe geskenk ondanks Hy geweet het dat dit tot die dood van Sy Seun sou lei.
Te Betlehem het Hy Homself gegee toe Hy Sy Seun gegee het. Watter pyn moet die Vader nie verduur het toe Sy Seun hierdie besoedelde wêreld binnegekom het nie! Dink net die Vader se gewaarwordings toe Hy sien hoe Sy Seun die liefde en aanbidding van engele verruil vir die haat van sondaars; die heerlikheid en saligheid van die hemel vir die weg van die dood.
Maar dit is Golgota wat die diepste insig in die Vader gee. Die heilige Vader het die pyn van skeiding van Sy Seun -in lewe en in dood -hewiger verduur as wat enige mens ooit sou kon. En Hy het net so met Christus gely. Watter groter getuienis van die Vader kan ooit gegee word? Die kruis openbaar – soos niks anders kan nie – die waarheid aangaande die Vader.
2. ‘n God van liefde. Jesus se gunsteling tema was die tederheid en oorvloedige liefde van God. “Julle moet jul vyande liefhê,” het Hy gesê, “seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matt. 5:44, 45). “En julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is” (Lukas 6:35,36).
Toe Jesus gebuk het om die voete van Sy verraaier te was (Joh. 13:5, 10-14), het Hy die groot liefde van die Vader gedemonstreer. As ons sien hoe Christus die hongeres voed (Markus 6:39-44; 8:1-9), die dowes genees (Markus 9:17-29), spraak aan die stommes teruggee (Markus 7:32-37), die oë van die blindes open (Markus 8:22-26), die verlamdes laat loop (Lukas 5:18-26), die melaatses genees (Lukas 5:12, 13), die dooies opwek (Markus 5:35-43; Joh. 11:1-45), sondaars vergewe (Joh. 8:3-11), en duiwels uitdryf (Matt. 15:22-28; 17:14-21), sien ons die Vader Hom tussen mense begewe, Sy lewe aan hulle gee, hulle vry maak, hoop gee, en aan hulle ‘n komende hernieude aarde voorhou. Christus het geweet dat ‘n openbaring van die kosbare liefde van Sy Vader die sleutel was om mense tot bekering te bring (Rom. 2:4).
Drie van Christus se gelykenisse beeld God se liefdevolle sorg vir die verlore mensdom uit. (Lukas 15). Die gelykenis van die verlore skaap leer ons dat verlossing deur die inisiatief van God kom, en nie omdat ons na Hom soek nie. Net soos ‘n herder sy skape liefhet en sy lewe waag as een vermis word, so, in nog groter mate, lê God Sy brandende liefde vir elke verlorene aan die dag.
Hierdie gelykenis het ook kosmiese betekenis – die verlore skaap stel ons opstandige wêreld voor, wat maar net ‘n atoom in die ontsaglike heelal is. God se kosbare gawe van Sy Seun om ons planeet weer in die stal terug te kry, toon dat ons sondige wêreld vir Hom net so kosbaar is as die res van Sy Skepping.
Die gelykenis van die verlore muntstuk beklemtoon die ontsaglike waarde wat God aan ons as sondaars heg. En die gelykenis van die verlore seun openbaar die ontsaglike liefde van die Vader, wat berouvolle kinders tuis verwelkom. As daar vreugde in die hemel is oor een sondaar wat hom bekeer (Lukas 15:7), verbeel u die vreugde wat oor die heelal sal heers wanneer die Here weer kom.
Die Nuwe Testament stel die Vaders e intieme betrokkenheid by Sy Seun se wederkoms baie duidelik. Met die Wederkoms sal die goddeloses tot die berge en rotse roep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam” (Openb. 6:16). Jesus het gesê: “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom” (Matt.16:27), en “U [sal] die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God [die Vader] en kom op die wolke van die hemel” (Matt. 26:64).
Die Vader wag met verlange na die Wederkoms wanneer die verlostes eindelik na hul ewige tuiste gebring sal word. Dan sal Sy sending van “sy eniggebore Seun in die wêreld…sodat ons deur Hom kan lewe” (1 Joh. 4:9) duidelik nie vergeefs gewees het nie. Alleen onpeilbare, onselfsugtige liefde kan verklaar waarom, terwyl ons nog sondaars was, ons “met God versoen is deur die dood van sy Seun” (Rom.5:10). Hoe kan ons sulke liefde versmaai en versuim om Hom as ons Vader te erken?
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE