28. Gaan die Aarde vir altyd voortbestaan?

Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.

DOWNLOAD

Inleiding:

Op die nuwe aarde, waar geregtigheid woon, sal God  ewige verblyf vir die verlostes en ‘n volmaakte omgewing vir ‘n ewige lewe, liefde, geluk en die opdoen van kenniis in Sy teenwoordigheid voorsien. Want hier sal God self onder Sy kinders woon, en lyding en die dood sal iets van die ver­lede wees.  Die groot stryd sal beëindig wees, en daar sal geen sonde meer wees nie. Alle dinge, lewend en leweloos, sal verklaar dat God liefde is; en Hy sal tot in ewigheid re­geer. Amen.

Die Nuwe Aarde

Nadat hy by die dood omgedraai het, het ‘n seun verlig gesê: “Myhuis is die hemel, maar ek verlang nie huis toe nie.” Net soos hy, is daar baie mense wat voel dat die hemel verkieslik bo “dieander plek” is, maar dat hy maar swak afsteek by wat ons hier op aarde geniet. As die indrukke wat baie mense oor die hiernamaals koester, waar was, sou hierdie gevoel verstaanbaar gewees het. Uit die beskrywings en aan­duidings van die Skrifte is die dinge wat God tans vir die geluk van die verlostes berei, egter soveel uitnemender as die lewe wat ons nou geniet, dat weinig sou aarsel om hierdie wêreld vir die nuwe te verruil.

Die Aard van die Nuwe Aarde

‘n Tasbare Werklikheid. Die eerste twee hoofstukke van die Bybel vertel ons hoe God ‘n volmaakte wêreld geskep het as verblyf vir die mense wat Hy gemaak het. Ook die laaste twee hoofstukke vertel hoe God ‘n volmaakte verblyf vir die mens maak – maar hierdie keer is dit ‘n her­skepping, ‘n herstel van die aarde na die verwoesting wat die sonde veroorsaak het.

Die Bybel vertel ons oor en oor dat hier­die ewige verblyf vir die verlostes ‘n werk­like plek sal wees, ‘n plek wat werklike mense met liggaam en brein sal kan sien, hoor, aanraak, proe, ruik, beproef, meet, verbeeld, beproef en ten volle ervaar. Dit is op die nuwe aarde dat God hierdie ware hemel sal inrig.

In sy Tweede Sendbrief, hoofstuk 3, gee Petrus ‘n kort opsomming van die skrif­tuurlike agtergrond van hierdie begrip. Hy noem die wêreld voor die sondvloed “die toenmalige wêreld” wat met water oor­stroom is en vergaan het. Die tweede wê­reld is die “teenswoordige” wat deur vuur gereinig sal word om plek te maak vir die derde wereld, ” ‘n nuwe aarde waarin ge­regtigheid woon” (2 Pet. 3:6, 7, 13).1 Die “‘derde” wêreld sal net so werklik soos die eerste twee wees.

Deurlopendheid en Verskil. Die woorde “nuweaarde” spreek van sowel ‘n deurlo­pendheid as ‘n verskil vergeleke met die huidige aarde.2 Petrus en Johannes ver­wag dat die ou aarde deur vuur van al sy besoedeling gereinig en daarna vernuwe sal word (2 Pet. 3:10-13; Openb. 21:1).3 Die nuwe aarde is dus in die eerste plek hierdie aarde, en nie een of ander vreemde plek nie. Hoewel dit vernuwe sal wees, sal dit steeds ‘n bekende plek wees – ons tuiste. Dit is mooi! Dit is egter nuut in die sin dat God elke letsel wat die sonde veroorsaak het, sal verwyder.

Die NuweJerusalem

Die Nuwe Jerusalem is die hoofstad van hierdie nuwe aarde. In Hebreeus beteken Jerusalem “stad van vrede.” Die aardse Jerusalem het selde sy naam eer aange­doen, maar die naam Nuwe Jerusalem sal die werklikheid volkome weergee.

‘n Skakel. In ‘n sekere opsig skakel hier­die stad die hemel met die nuwe aarde. In die eerste plek beteken die woord hemel die “lugruim.” Die Skrif gebruik dit om te verwys na (1) die atmosferiese hemele (Gen. 1:20), (2) die sterrehemel (Gen. 1:14­-17), en (3) die “derde hemel,” waar die Paradys geleë is (2 Kor. 12:2-4). Uit hierdie verbintenis tussen die “hemel” en die Paradys het dit sinoniem met Paradys ge­word, die plek waar God se troon en wo­ning is. Gevolglik noem die Skrif God se gebied en heerskappy en die mense wat Sy heerskappy gewilliglik aanvaar, by uitbreiding, die “koninkryk van die hemele.”

God beantwoord die versoek in die Onse Vader, “Laat u konkinkryk kom laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde,” bo alle verwagtinge wanneer Hy die Nuwe Jerusalem op die aarde vestig (Openb. 21:1, 2). Hy herstel nie net die aarde nie, Hy veredel dit. Dit word bo sy huidige sondige status verhef en word die hoofstad van die heelal.

Beskrywing. Johannes gebruik roman­tiese taal om die skoonheid van die Nuwe Jerusalem te beskryf: Die stad is “soos’n bruid wat vir haar man versier is” (Openb. 21:2). Sy beskrywing van die fisieke hoeda­nighede van die stad, beeld sy werklikheid vir ons uit.

1. Sy lig. Die eerste spesifieke hoedanig­heid wat Johannes opgemerk het toe hy die “bruid…die vrou van die Lam” aanskou, was die “lig”(Openb. 21:9, 11). Die heer­likheid van God verlig die stad en maak die lig van die son en maan onnodig (Openb. 21:23,24). Geen donker gangetjies sal die Nuwe Jerusalem bederf nie, want die mure en strate is deurskynend en “nag sal daar nie meer wees nie” (Openb. 21:25). “Hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig” (Openb. 22:5).

2. Sy konstruksie. God het net die beste boustowwe gebruik om hierdie stad te bou. Die muur is van jaspis, “kristal­helder” (Openb. 21:11, 18). Die fondament is met twaalf verskillende edelstene ver­sier: jaspis, saftier, chalcedoon, smarag, sardoniks, sardius, chrisoliet, beril, topaas, chrisopraas, hiasint en ametis (Openb. 21:19, 20).

Hierdie edelstene is egter nie die primêre boumateriaal nie. God het die stad – sy geboue en strate – hoofsaaklik van goud gemaak (Openb. 21:18, 21), en die kosbare metaal net so kwistig gebruik as wat ons nou beton gebruik. Hierdie goud is fyner as enige wat ons ken, want Johannes noem dit “suiwer goud soos suiwer glas” (Openb.21:18).

Twaalf poorte, wat elkeen uit ‘n enkele pêrel bestaan, verleen toegang tot die stad. “Pêrels is die produk van lyding: ‘n klein irriterende stukkie stof beland in die oes­ter se skulp en namate die diertjie ly, ver­ander dit daardie irriteermiddel in ‘n glansende juweel. Die poorte is pêrels. U toegang, my toegang, het God teen per­kelose persoonlike lyding voorsien toe Hy in Christus alle dinge met Hom versoen het.”4 Net so betekenisvol as die lys bou­stowwe waaruit die stad gebou is, is die feit dat die engel wat die stad aan Johan­nes getoon het, sy muur gemeet het. Dat dit gemeet kon word, dat dit hoogte en lengte en dikte het, bring die werklikheid van die stad by die moderne, data-georiën­teerde denkwyse tuis.

3. Sy voedsel-en watervoorraad. Uit die troon van God in die middel van die stad vloei ” ‘n suiwer rivier van die water van die lewe” (Openb. 22:1). Soos ‘n baniaan­boom met sy veelvuldige stamme groei die boom van die lewe aan “weerskante van die rivier”. Sy twaalf vrugte bevat die lewenselement waarsonder die mensdom moes klaarkom vandat Adam en Eva die Eden moes verlaat – die teenmiddel vir veroudering, oorwerk en gewone uitput­ting (Openb. 22:2; Gen. 3:22). Diegene wat die vrugte van hierdie boom eet, het nie ‘n nag nodig om te rus nie (vgl. Openb. 21:25), want op die nuwe aarde sal hul nooit moeg voel nie.

Ons Ewige Verblyf

Die Bybel maak dit duidelik dat die ver­lostes uiteindelik die aarde sal beërwe (Matt. 5:5; Ps. 37:9, 29; 115:16). Jesus het belowe om “wonings” in Sy Vader se huis vir Sy volgelinge te berei (Joh. 14:1-3), Soos ons gesien het, plaas die Skrif die Vader se troon en die hemelse hoofkwartier in die Nuwe Jerusalem wat na hierdie aarde sal neerdaal (Openb, 21:2,3,5).

Stadsverblyf. Die Nuwe Jerusalem is die stad waarna Abraham uitgesien het (Heb. 11:10). Binne daardie ontsaglike stad berei Christus “wonings” (Joh. 14:2) – werklike verblyfplekke.

Landelike Wonings. Die verlostes sal egter nie binne die muur van die Nuwe Jerusalem ingesluit wees nie. Hulle sal die aarde beërwe. Vanuit hul stadshuise sal die verlostes die platteland binnegaan en hulle droomhuise ontwerp en bou, oeste plant en dit oes en eet (Jes. 65:21).

Tuis by God en Christus. Op die nuwe aarde word die belofte wat Jesus aan Sy dissipels gemaak het, vir ewig vervul. “Sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:3). Die doel van Christus se menswor­ding, “God met ons,” sal eindelik ver­wesenlik word. “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openb. 21:3). Hier het die verlostes die voorreg om in die teenwoordigheid van die Vader en die Seun te lewe en met hulle gemeenskap te hê.

Lewe op die Nuwe Aarde

Hoe sal die lewe op die nuwe aarde wees?

Sal Saam met God en Christus Regeer. God sal die verlostes by die aangeleent­hede van Sy koninkryk betrek “dietroon van God en van die Lam sal daarin wees, en Sy diensknegte sal Hom dien…en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid” (Openb. 22:3-5; vgl. 5:10).

Ons weet nie in watter mate hulle sal re­geer nie. Ons kan egter met veiligheid aan­neem dat die verlostes as Christus se ambassadeurs in die heelal sal dien om te getuig van hul ondervinding van die liefde van God dat dit ‘n belangrike deel van hul rol in die koninkryk sal wees. Om God te verheerlik sal hul hoogste genot wees.

Bedrywighede op die Nuwe Aarde. Die lewe op die nuwe aarde sal tot in ewigheid  ‘n uitdaging aan die mees ambisieuse bied. Glimpe van die kategorieë van bedrywig­hede wat daar vir die verlostes beskikbaar sal wees, laat ons reikhalsend daarna vooruit sien, maar begin nog nie eers om al die moontlikhede vir ons uit te spel nie.

Ons het reeds die Bybelse beloftes gesien dat die verlostes “huise [sal] bou en be­woon” (kyk Jes. 65:21). Dit behels die ontwerp, konstruksie en meubilering, en die moontlikheid om te verander of te her­bou. En die woord “bewoon” dui op  ‘nhele spektrum van bedrywighede in ver­band met die gewone alledaagse lewe.

Die onderliggende motief van die hele bestaan op die nuwe aarde is die herstel van wat God oorspronklik met Sy Skep­ping beoog het. In Eden het God aan die eerste mensepaar ‘n tuin gegee “om dit te bewerk en te bewaak” (Gen. 2:15). Indien, soos Jesaja gesê het, hulle wingerde op die nuwe aarde sal plant, waarom nie ook boorde en saailande nie? Indien, soos die Openbaring te kenne gee, hulle harpe sal bespeel, waarom nie ook trompette en ander instrumente nie? Per slot van sake, God het self die skeppingsdrang aan die mens gegee en hom in ‘n wêreld van per­kelose moontlikhede geplaas (Gen. 1:28-­31).

Sosiale Lewe op die Nuwe Aarde. ‘n Be­langrike aspek van ons ewige vreugde sal ons verhoudinge met andere wees.

1. Vriende en familie. Sal ons ons vriende en familie herken nadat ons verheerlik en in Jesus se beeld verander is? Na Christus se opstanding het Sy dissipels Hom mak­lik herken. Maria het Sy stem herken (Joh. 20:11-16), Thomas het Sy liggaamlike voor­koms herken (Joh. 20:27, 28), en die dissi­pels van Emmaüs Sy maniere (Lukas 24:30, 31, 35). In die koninkryk van die hemele behou Abraham, Isak en Jakob steeds hulle individuele name en identiteit (Matt. 8:11). Ons kan met veiligheid aanneem dat ons op die nuwe aarde ons verhoudinge sal voortsit met diegene wat ons nou ken en liefhet.

Trouens, dit is die verhoudinge wat ons daar sal geniet – en dit nie net met ons familie en huidige vriende nie – wat ons na die hemel laat verlang. Sy baie materi­ële voordele”sal soos niks wees in verge­lyking met die ewige waardes van verhoudinge met God die Vader; met ons Heiland; met die Heilige Gees; met engele; met die heiliges van elke stam en taal en nasie en volk; en met ons gesinne….Geen verpletterde persoonlikhede, gebroke huiskringe, of onderbreekte gemeenskap nie. Onverstoorde en gesonde verhou­dinge sal universeel wees. Liggaamlike en geestelike integrasie sal van die hemel en die ewigheid die volmaakte vervulling maak.”5 “Die liefde en medelyde wat God in die siel ingeskape het, sal daar volle uit­drukking vind. Die reine gemeenskap met heilige wesens, die eenstemmige sosiale lewe saam met die geseënde engele en die getroues van alle eeue… – al hierdie dinge sal bydra tot die geluk van die ver­lostes”.6

2. Huwelike? Sekere tydgenote van Christus het die geval genoem van ‘n vrou aan wie sewe mans een na die ander ont­val het. Hulle wou van Hom weet wie se vrou sy na die opstanding sal wees. Dit kos nie veel verbeelding om te sien watter ein­delose komplikasie dit sou afgee as die huweliksverhouding op aarde in die hemel moes vernuwe word nie. Christus se antwoord toon die wysheid van God. “In die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel” (Matt. 22:30).

Sal die verlostes dan daar die voordele wat nou met die huwelik geassosieer word, moet verbeur? Op die nuwe aarde sal die verlostes niks wat goed is verbeur nie! God het belowe “Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie” (Ps. 84:12). As dit in hierdie lewe waar is, hoeveel te meer sal dit nie vir die vol­gende geld nie?

Die kern van die huwelik is liefde. Die hoogtepunt van vreugde is die uit­drukking van liefde. Die Skrif sê: “God is liefde,” en “versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regter­hand vir ewig” (1 Joh. 4:8; Ps. 16:11). Op die nuwe aarde sal niemand ‘n gebrek aan vreugde of geluk of plesier hê nie. Nie­mand sal daar eensaam, verlate of onbe­mind voel nie.

Ons kan daarvan seker wees dat die lief­devolle Skepper wat die huwelik ingestel het om vreugde in die huidige wêreld te bring, iets selfs beter in die volgende sal hê – iets wat soveel uitnemender as die huwelik is as wat Sy nuwe wêreld beter as die huidige een sal wees.

Intellektuele Lewe op die Nuwe Aarde

Geestelike herstel. “Die blare van die boom [van die lewe] is tot genesing van die nasies” (Openb. 22:2). Die genesing waar­na die Openbaring verwys, is meer as “ge­sond maak”; dit beteken “herstel”, omdat niemand daar sal siek word nie (Jes. 33:24 en 20). Namate die verlostes van die boom van die lewe eet, sal hulle die fisieke en geestelike verdwerging wat deur eeue van sonde veroorsaak is, ontgroei; hulle sal in die beeld van God herstel word.

Perkelose Potensiaal. Die ewigheid hou die belofte van perkelose intellektuele einders in. Op die nuwe aarde sal “onsterflike verstande met nimmer-eindigende vreugde die wonders van die Skepping en die verborgenheid van verlossende liefde oorpeins. Daar sal geen wrede, ver­leidende vyande wees om die mense te lei om God te vergeet nie. Alle vermoëns sal vermeerder. Die verkryging van kennis sal nie die verstand of die energie uitput nie. Daar sal die heerlikste ondernemings voortgesit word, die hoogste ideale bereik en die hoogste ambisies vervul word. En nog sal daar nuwe hoogtes wees om te be­reik, nuwe wonders om te bewonder, nuwe waarhede om te verstaan en nuwe voorwerpe om die vermoëns van liggaam, siel en verstand besig te hou.”7

Geestelike Ondernemings op die Nuwe Aarde. Sonder Christus sou die ewige lewe sin­loos gewees het. Deur al die ewigheid sal die verlostes steeds meer na Jesus honger en dors – na ’n dieper begrip van Sy liefde en werk, na meer gemeenskap met Hom, na meer tyd om aan sondelose wêrelde te getuig van Sy weergalose liefde, na ‘n ka­rakter wat al meer soos Syne is. Die verlos­tes sal vir en saam met Christus lewe.

Hulle sal vir ewig ten volle tevrede in Hom rus!

Christus het self gelewe om te dien (Matt. 20:28), en Hy het van Sy volgelinge vereis om dieselfde soort lewe te lei. Om nou saam met Hom te werk, is al klaar ‘n beloning. En die verhouding wat dit kweek, bied boonop die groter seën en voorreg om op die nuwe aarde saam met Hom te werk. Daar, met groot vreugde en bevrediging sal “sydiensknegte…Hom dien” (Openb. 22:3).

Hoewel die verlostes die geleentheid sal hê om God se natuurskatkis te ondersoek, sal die gewildste wetenskap die weten­skap van die kruis wees. Omdat die intel­lekte dan verskerp sal word soos God bedoel het dat hulle moet wees, en in die afwesigheid van die blindheid van die sonde, sal hulle instaat wees om geestelike waarheid in so ‘n mate te begryp as wat hier alleen begeer kan word. Die verlos­sing – ‘n onderwerp wat ‘n diepte, ‘n hoogte en ‘n breedte bevat wat alle ver­beelding te bowe gaan – sal in alle ewig­heid hul lied en hul studie wees. Deur hierdie studie sal die verlostes steeds wyer kringende vistas van die waarheid ervaar soos dit in Jesus is.

Week na week sal die verlostes vir die Sabbatsdiens byeenkom: “En elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here” (Jes. 66:23).

Daar Sal Nie Meer…Wees Nie

Alle Kwaad Uitgeroei. Van die opbeu­rendste beloftes omtrent die nuwe aarde gaan om dinge wat nie daar sal wees nie. “Daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openb. 21:4).

Al hierdie euwels sal vir ewig verdwyn, want God sal elke vorm van sonde, die oorsaak van alle kwaad, uitroei. Die Skrif noem die boom van die lewe as deel van die nuwe aarde, maar geen melding word êrens gemaak van die boom van die ken­nis van goed en kwaad nie, wat nog ‘n bron van versoeking was. In daardie heerlike land sal die Christen nooit meer hoef te stry teen die wêreld, die vlees of die dui­wel nie.

Die waarborg dat die nuwe aarde “nuut” sal bly ondanks die instroming van immi­grante van die met sonde besoedelde planeet is die feit dat God die “vrees­agtiges … en die ongelowiges en gruwe­likes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars” daar sal uitsluit (Openb. 21:8; 22:15). Hy moet – want enige sonde wat daar binnekom, sal dit bederf.

“Elke spoor van die vloek word uit­gewis … daar sal net een herinnering aan die sonde wees: ons Verlosser sal altyd die tekens van Sy kruisiging dra. Op Sy hoof, aan Sy sy en aan Sy hande en voete is die tekens van die wrede werk van die sonde. Waar die profeet Christus in Sy heerlikheid aanskou, sê hy, ‘glans soos sonlig is daar, ligstrale aan sy sy; en daar is die omhulsel van sy krag’ (Hab. 3:4) … deur die ewigheid heen sal die wonde van Golgota Sy lof en Sy mag verkondig.”8

Aan die Vorige Dinge Sal Nie Gedink Word Nie. Op die nuwe aarde, sê Jesaja, sal “aan die vorige dinge… nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie” (Jes. 65:17). As dit in sy sinsverband gelees word, word dit egter duidelik dat dit die moeilikhede van die ou lewe is wat die ver­lostes sal vergeet (kyk Jes. 65:16). Hulle sal nie die goeie dinge wat God gedoen het, die oorvloedige genade waardeur Hy hulle gered het, vergeet nie, anders sou die hele sondestryd tevergeefs gewees het. Die heiliges se persoonlike ondervinding van Christus se reddende genade, maak die kern uit van hul getuienis deur die ewig­heid.

Boonop maak die geskiedenis van die sonde ‘n belangrike element uit van die sekerheid dat “die benoudheid sal nie twee maal opkom nie” (Nab. 1:9). Herin­neringe aan die droewige gevolge wat die sonde veroorsaak het, sal as ‘n ewige af­skrikmiddel dien vir enigeen wat ooit weer in die versoeking mag kom om die pad van selfvernietiging te kies. Hoewel die gebeurtenisse van die verlede egter ‘n belangrike doel dien, neem die hemelse at­mosfeer die pyn uit hierdie verskriklike herinneringe. Die belofte is dat hul herin­neringe nie weer selfverwyt, teleurstel­ling, droefheid of woede by die verlostes, sal opwek nie.

Waarde van Geloof in ‘nNuwe Skep­ping

Geloof in die leer van die nuwe aarde hou ‘n aantal baie praktiese voordele vir die Christen in.   

Dit Wek Aansporing tot Lydsaamheid. Christus het “vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra…die skande verag” (Heb. 12:2). Paulus het nuwe moed geskep uit die bepeinsing van toekomstige heerlikheid: “Daarom gee ons nie moed op nie … want ons ligte ver­drukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor. 4:16, 17).

Dit Wek Vreugde en die Versekering van ‘n Beloning. Christus het self gesê: “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele” (Matt. 5:12). Paulus herbe­vestig: “As iemand se werk bly staan… sal hy loon ontvang” (1 Kor.3:14).

Dit Gee Krag Teen Versoeking. Moses was in staat om hom af te keer van “die genot van die sonde” en “dieskatte van Egipte” omdat hy “uitgesien [het] na die beloning” (Heb. 11:26).

Dit Gee ‘n Voorsmaak van die Hemel. Die Christen se loon is nie net in die toekoms nie. Christus kom self deur die Heilige Gees na die Christen en woon in hom as ‘n “onderpand” of deposito as waarborg vir toekomstige seëninge (2 Kor. 1:22; 5:5; Efe. 1:14). Christus sê: “Asie­mand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe” (Openb. 3:20). “En wanneer Christus kom, bring Hy altyd die hemel saam met Hom.” Om met Hom gemeenskap te hou “is die hemel in die hart; dit is die begin van die heerlikheid; dit is die verwagte verlossing.”9

Dit Lei tot Groter Doeltreffendheid. Party mense dink dat Christene so hemel­gerig is dat hulle geen aardse nut het nie. Dit is egter juis die geloof in die hierna­maals wat aan Christene ‘n soliede basis verleen waarvandaan hulle die wêreld kan beïnvloed. Soos C. S. Lewis gesê het: “Asu die geskiedenis volg, sal u sien dat die Christene wat die meeste vir die huidige wêreld gedoen het, juis diegene was wat die meeste aan die volgende gedink het …. Dit is vandat Christene hoofsaaklik opgehou het om aan die ander wêreld te dink, dat hulle so ondoeltreffend in die huidige wêreld geword het. Mik na die hemel en die aarde sal vir jou bygevoeg word; mik na die aarde en jy sal nie kry nie.”10

“Die verstandige mens sal meer sorg aan die hou van ‘n marmerbeeld bestee as aan die bou van ‘n sneeuman.”l1 Die Christen wat beoog om vir ewig te lewe, sal sy lewe natuurlik met meer sorg bou (en sodoende ‘n meer opbouende bydrae tot die same­lewing lewer) as die mens wat dink dat hy nutteloos is en maar net gebore is om weg­gegooi te word.

Die “bepeinsing van hemelse temas, wat die Heilige Gees bevorder, besit ‘n gewel­dige assimilerende krag. Daardeur word die siel verhef en veredel. Sy gesigsveld word versterk en verbreed en die betrek­like proporsies en waarde van sienlike en onsienlike dinge word duideliker be­gryp.”12

Dit Openbaar die Natuur van God. Die wêreld soos ons dit nou sien, gee ‘n baie verwronge voorstelling van sowel die na­tuur van God as van Sy oorspronklike plan vir hierdie planeet. Die sonde het die aarde se ekostelsels so verrinneweer dat baie mense skaars meer ‘n verband kan sien tussen hierdie wêreld en die paradys wat in Genesis 1 en 2 beskryf word. Nou word die lewe gekenmerk deur ‘n voortdurende oorlewingstryd. Selfs die lewe van die gelowige wat te kampe het met die wêreld, die vlees en die duiwel, gee God se oor­spronklike plan nie noukeurig weer nie. In wat God vir die verlostes beplan het -‘n wêreld gevrywaar van die Satan se in­vloed, ’n wêreld waarin God se doel alleen geld, gee ons ‘n juister voorstelling van Sy aard.

Dit Trek Ons tot God Aan. In die laaste instansie beskrywe die Bybel die nuwe aarde met die doel om die ongodsdienstige mens na Christus te trek. Een persoon wat gehoor het dat “die aarde wat in sy para­dysskoonheid herstel sal word, wat net so werklik is as die ‘huidige aarde,’ die finale verblyf van die heiliges sal wees,” waar hulle “vry sal wees van hulle droefheid, pyn en die dood, en mekaar van aangesig tot aangesig sal sien en ken,” het heftig be­swaar gemaak.

“Maar dit kan nie waar wees nie”, het hy gesê, “dit pas mos so in die wêreld se kraam; dit is net wat die goddeloses sal wil hê.”

Baie “skyn te dink dat die godsdiens met…sy finale loon iets moet wees waar­voor die wêreld geen sin het nie; die gevolg is dat as daar van geluk gepraat word waarna die hart van die mens in sy sondige toestand waarlik sal verlang, dink hulle dit kan nie deel van die ware godsdiens wees nie.”13 Niks kan verder van die waarheid wees nie.

God se doel met die bekendmaking van wat Hy bereid is om vir diegene te doen wat Hom liefhet, is om individue se aan­dag weg te trek van hul beheptheid met hierdie wêreld – om hulle te help om die waarde van die volgende te besef en om ‘n kykie te kry in die lieflike dinge wat die Vader se liefdevolle hart berei het.

Vir Altyd Nuut

In hierdie ou wêreld word dikwels gesê dat “aan alle goeie dinge ‘n einde kom.” Die beste van die goeie tyding in verband met die nuwe aarde is dat daar nooit ‘n end aan sal kom nie. Dan sal daardie woorde van die “Hallelujakoor” bewaarheid word: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Kyk Openb. 11:15; vgl. Dan. 2:44; en 7:27). En, sê die Skrif, alle skepsels sal saamsing in die loflied: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heer­likheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openb. 5:13).

“Die groot stryd is beëindig. Sonde en sondaars bestaan nie meer nie. Die ganse heelal is skoon. Een pols van eensgesind­heid en blydskap klop deur die groot skep­ping. Van Hom wat almal geskape het, vloei lewe en lig en blydskap deur die onbeperkte ruimtes. Van die kleinste atoom tot die grootste wêreld, alle dinge,  lewendig en leweloos in hulle volmaakte skoonheid en vreugde, verklaar dat God liefde ­is.”14 

Videos en Klankbane:

Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Vrae:

Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.

TERUGVOER

Addisionele hulpbronne:

Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Verwysings:

1.  Kyk James White, “The New Earth. The Dominion Lost in Adam Restored Through Christ, ” Review and Herald, 22 Maart 1877, bl. 92, 93.

2.  Die woord “nuwe” word vertaal van twee Griekse woorde wat in die Nuwe Testament gebruik word. Neos “druk die idee uit van nuutheid in verband met tyd, en kan vertaal word as ‘nuut,’ ‘onlangs’, ‘jonk.’ Dit is die teenoorgestelde van archaios oud, , ‘oorspronklik, , ‘antiek'”. Kainos duiweer op “nuutheid wat betref vorm of gehalte en kan vertaal word as ‘nuut,’ ‘vars,’ ‘anders van aard.’ Dit staan weer teenoor palaios, ‘oud,’ ‘afge­leef, ‘ , ‘geskonde’ Kainos is die woord wat gebruik word om die ‘nuwe aarde’ te beskryf” (“New Earth” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 792).

3. Ibid.

4. Richard W. Coffen, “New Life, New Heaven, New Earth,” These Times, Sept. 1969, bl. 7.

5. Neal C. Wilson, “God’s Family Reunited,” Adventist Review, 8 0kt. 1981, bl. 23.

6. White, Groot Stryd, hfst. 42, par. 44.

7. Ibid.

8. Ibid, hfst. 42, par. 33,34.

9. “Clusters of Eachol,” Review and Herald, 14 November 1854, bl. 111, 112.

10. C. S. Lewis, Mere Christianity, (Westwood, NJ: Barbour and Co., 1952), bl. 113.

11. Fagal, Heaven Is for You, bl. 37.

12. “Clusters of Eschol,”bl. 111, 112.

13. Uriah Smith, “The Popular Hope, and Ours,” Review and Herald, 7 Februarie 1854, bl. 20.

14. White, Groot Stryd, hfst. 42, par. 49.