27. Wat is die Millennium?

Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.

DOWNLOAD

Inleiding:

Die millennium is die duisendjarige heerskappy van Christus saam met Sy heiliges in die hemel tussen die eer­ste en die tweede opstanding. Gedurende hierdie tyd sal die dooie goddeloses geoordeel word; die aarde sal totaal ver­woes wees, sonder enige menslike inwoners, maar deur die Satan en sy engele bewoon.. Na afloop daarvan sal Christus met Sy heiliges en die Heilige Stad van die hemel na die aarde neerdaal. Die dooie goddeloses sal dan opgewek word en sal die stad saam met die Satan en sy engele omring; maar vuur wat van God neerdaal, verteer hulle en reinig die aarde. So sal die heelal vir altyd van sonde en sondaars bevry wees.

Die Duisend Jaar en die Einde van Sonde

Daar was nog altyd mense wat in­drukwekkend oor die gruwele van die hel kon praat; en hulle het die mense deur vrees probeer dwing om God te aanbid. Maar watter soort God het hulle uitgebeeld?

Hoe sal God eindelik van die kwade ont­slae raak? Wat sal van die Satan word? Wat sal voorkom dat die sonde weer sy ver­woesting aanrig? Hoe kan ‘n regverdige God ook liefdevol wees?

Gebeurtenisse aan die Begin van die Duisend Jaar

Gedurende die millennium, die duisend­jarige tydperk waarna die twintigste hoof­stuk van Openbaring verwys, sal die Satan se invloed oor die aarde beperk wees, en sal Christus saam met Sy heiliges regeer (Openb.20:1-4).

Die Wederkoms. Openbaring 19 en 20 be­hoort bymekaar: Daar is geen skeiding tussen hierdie hoofstukke nie. Hulle be­skryf die wederkoms van Christus (Openb. 19:11-21) en gaan dan onmiddel­lik voort met die millennium. Die volgorde dui daarop dat die millennium begin wan­neer Christus terugkeer.

In Openbaring word die drie magte wat die nasies van die wêreld sal versamel om die werk van Christus en Sy kinders on­middellik voor die Wederkoms teen te staan, as ‘n draak, ‘n dier en ‘n valse pro­feet voorgestel (Openb. 16:13). Wanneer “die dier en die konings van die aarde hulle leërs versamel” om ten tyde van Sy Wederkoms teen Christus oorlog te maak, word die dier en die valse profeet verdelg (Openb. 19:19, 20). Wat in Openbaring 20, die hoofstuk oor die millennium, volg, handel oor die lot van die derde lid van die duiwelstrio, die draak. Hy word gevange geneem en in die afgrond gegooi waar hy duisend jaar lank bly.1

Soos ons in hoofstuk 24 gesien het, is dit met die Wederkoms van Christus, wan­neer die koninkryke van hierdie wêreld vernietig word, dat God Sy koninkryk van heerlikheid tot stand bring – ‘n koninkryk wat tot in ewigheid sal duur (Dan. 2:44). Dit is dan dat Sy volk hul heerskappy sal begin.

Die Eerste Opstanding. Met die Weder­koms vind die eerste opstanding plaas. Die regverdiges, wat “salig en heilig” is, word opgewek – want “oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer dui­send jaar lank” (Openb. 20:6; kyk hoofstuk 25 van hierdie boek).

Die Regverdiges Gaan Hemel Toe. Na die opstanding van die regverdige dode word hulle en die lewende heiliges opgeneem “die Here tegemoet in die lug” (1 Thess. 4:17). Dan sal Christus die belofte nakom wat Hy gemaak het net voordat Hy die wêreld verlaat het: “Ekgaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julleook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2, 3). Jesus het die plek waar­heen Hy Sy gelowiges sal neem, beskryf as “diehuis van my Vader,” waar daar “baiewonings” is (Joh. 14:2). Jesus verwys hier na die Nuwe Jerusalem, wat nie na die aarde neerdaal tot aan die einde van die millennium nie. Dus, by die Wederkoms, wanneer die regverdiges die Here in die lug tegemoet gaan, is hul bestemming die hemel – nie die aarde wat hul pas verlaat het nie.2

Christus vestig nie nou Sy heer­like koninkryk op die aarde nie; Hy doen dit aan die einde van die duisend jaar.

Christus se Vyande Gedood. Christus het Sy wederkoms vergelyk by wat tydens die sondvloed en die verwoesting van Sodom en Gomorra gebeur het (Matt. 24:37-39; Lukas 17:28-30). Sy vergelyking konstateer twee dinge: eerstens, dat die verwoesting die goddeloses onverhoeds betrap het en tweedens, dat verwoesting gevolg het – die oorstroming het hulle “almal weggevoer” (Matt. 24:39). Die vuur en swawel wat op Sodom neergereën het, het “almal ver­nietig” (Lukas 17:29; kyk ook Matt. 13:38-­40). Met die Wederkoms sal Christus met Sy leërs uit die hemel neerdaal as die ruiter op die wit perd en met die naam “Koning van die konings en Here van die here” en sal Hy die opstandige nasies van die wê­reld neervel. Nadat die dier en die valse profeet vernietig is, sal “die ander” volge­linge van die Satan sterf en sal daar geen oorlewendes wees nie, want hulle “is ge­dood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Openb. 19:21).3

In ’n beskrywing van die toneel, verklaar die Skrif: “Die Here sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie” (Jes. 26:21).

Die Aarde Verwoes. Omdat die regver­diges opstyg om saam met die Here te wees en die goddeloses vernietig word met Sy koms, is die aarde ‘n tyd lank son­der menslike bewoners. Die Skrif dui op so ‘n situasie: “Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie. Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heu­wels het geskud. Ek het gekyk, en daar was geen mens nie” (Jer. 4:23-25). Jeremia se ge­bruik van die uitdrukking wat in Genesis 1:2 voorkom, “woesen leeg”, dui daarop dat die aarde net so chaoties sal word as wat dit aan die begin van die Skepping was.

Die Satan Word Gebind. Die gebeurte­nisse wat nou plaasvind, word voorafge­skadu in die rite van die sondebok op die Versoendag in Israel se tempeldiens. Op die Versoendag het die hoëpriester die hei­ligdom met die reinigende bloed van die Here se bok gereinig. Eers na hierdie ver­soening volkome afgehandel was, het die rite begin waarby Asasel, die bok wat die Satan gesimboliseer het, betrokke was (kyk hoofstuk 23). Deur sy hande op die bok se kop te lê, het die hoëpriester “al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees…op die kop van die bok” gelê (Lev. 16:21). En die sondebok is dan in die woestyn gelos in ‘n “woeste land” (Lev. 16:22).

Net so het Christus in die hemelse heilig­dom die verdienste van Sy voltooide ver­soening vir Sy volk bedien; met Sy terugkeer sal Hy hulle verlos en die ewige lewe aan hulle gee. Wanneer Hy hierdie verlossingswerk in die hemelse heiligdom voltooi het, sal Hy die sonde van Sy volk op die Satan lê by wie die ongeregtigheid ontstaan het. Daar kan geensins beweer word dat die Satan versoening doen virdie sondes van die gelowiges nie – Christus het dit volkome gedoen. Die Satan moet egter die verantwoordelikheid aanvaar vir al die ongeregtigheid wat hy die verlostes gedwing het om te pleeg. En soos ‘n “man wat gereed staan” die sondebok die woeste land ingeneem het, so sal God die Satan na die woeste en onbewoonde aarde verban (sien hoofstuk 23 van hierdie boek).4

Johannes se visioen van die duisend jaar gee ‘n duidelike beskrywing van die ver­banning van die Satan. Hy het gsien dat, “die draak…die ou slang wat die duiwel en die Satan is,” aan die begin van die dui­send jaar gebind en in die “afgrond” ge­werp word (Openb. 20:2, 3). Dit is ‘n simboliese voorstelling van die tydelike beëindiging van die Satan se vervolging en misleiding; “sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaarvoleindig is nie” (Openb. 20:3).

Die woord “afgrond” wat Johannes ge­bruik (Grieks abussos) is ‘n gepaste be­skrywing van die aarde se toestand in hierdie tyd.5 Geteister deur die sewe plae wat die koms van Christus onmiddellik voorafgaan (kyk spesifiek Openb. 16:18­-21) en bestrooi met die liggame van die goddeloses, is die aarde ‘n toneel van vol­slae verwoesting.

Omdat hy tot hierdie aarde beperk is, is die Satan deur ‘n ketting van omstandig­hede “gebind”. Omdat geen lewende mens op aarde oorbly nie, het die Satan niemand om te verlei of te vervolg nie. Hy is gebonde in die sin dat hy niks te doen het nie.

Gebeurtenisse Gedurende die Millennium

Christus in die Hemel Saam met die Verlostes. Met Sy wederkoms neem Christus Sy volgelinge na die hemel, na die wonings wat Hy vir hulle in die Nuwe Jerusalem berei het. Soos Moses en die Israeliete sing die verlostes in hulle innige dankbaarheid ‘n verlossingslied “die lied …van Moses, die dienskneg van God en die lied van die Lam” en sê: “Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regver­dig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!” (Openb. 15:3).

Die Heiliges Regeer Saam met Christus. Dit is gedurende die duisend jaar dat Christus Sy belofte sal vervul om die oor­winnaars “mag oor die nasies [te] gee” (Openb. 2:26). Daniël het gesien dat “diekoningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel” na die vernietiging van Christus se vyande “aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste” gegee word (Dan. 7:27). Diegene wat met die eerste op­standing deur Christus opgewek word, sal duisend jaar saam met Hom regeer (Openb. 20:4).

Maar in watter opsig kan gesê word dat die heiliges regeer as hulle in die hemel is en al die goddeloses is dood? Hul heer­skappy sal bestaan uit ‘n betrokkenheid by ‘n belangrike fase van Christus se heer­skappy.6

Die Oordeel van die Goddeloses. Johan­nes het gesien dat die heiliges gedurende die millennium in ‘n oordeel betrokke sal wees. Hy het “trone gesien en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee” (Openb. 20:4). Dit is die tyd van die oordeel oor die Satan en sy engele wat die Skrif vermeld (2 Pet. 2:4; Judas 6). Dit is die tyd wanneer Paulus se verklaring dat die heiliges die wêreld en selfs die engele sal oordeel (1 Kor. 6:2, 3), sal plaasvind?

Die oordeel van die duisend jaar besluit nie wie gered of verlore moet wees nie. God neem daardie besluit voor die Weder­koms; almal wat nie toe opgewek of veran­der is nie, sal dan vir ewig verlore wees. Die oordeel waaraan die regverdiges deel­neem, het as doel die beantwoording van enige vrae wat die regverdiges moontlik sal vra oor die rede waarom die god­deloses verlore is. God verlang dat diegene aan wie Hy die ewige lewe gegun het, volle vertroue in Sy leierskap moet hê en daarom sal Hy aan hulle sê hoe Sy genade en geregtigheid werk.

Stel u voor u is in die hemel en u vind dat een van u geliefdes wat u werklik verwag het om daar te sien, makeer. So ‘n geval kan dalk daartoe aanleiding gee, dat u die ge­regtigheid van God in twyfel trek – en dit is daardie twyfel wat die grondslag van die sonde self vorm. Om vir altyd enige grond vir sodanige twyfel uit die weg te ruim­en so te verseker dat die sonde nooit weer sal opkom nie – sal God in hierdie oorsig­telike fase van die oordeel gedurende die millennium antwoorde op hierdie vrae verstrek.

In hierdie werk vervul die verlostes ‘n noodsaaklike rol in die stryd tussen goed en kwaad. “Hulle sal tot hul ewige te­vredenheid bevestig hoe ernstig en gedul­dig God vir verlore sondaars omgegee het. Hulle sal sien hoe onverskillig en hardkop­pig sondaars Sy liefde verag en verwerp het. Hulle sal ontdek dat selfs sondaars wat op die oog af redelik voorgekom het in die geheim afskuwelike selfsug gekoester het pleks van die waardestelsel van hul Heer en Verlosser aan te neem.”8

Die Satan se Tyd vir Nadenke. In daardie duisend jaar sal die Satan intens ly. Omdat hy saam met sy engele op ‘n verlate aarde gekluister is, kan hy nie die bedrog wat sy tyd altyd in beslag geneem het, voortsit nie. Hy word nou genoop om die gevolge van sy opstand teen God en Sy wet in oën­skou te neem; hy moet nou nadink oor die rol wat hy gespeel het in die stryd tussen goed en kwaad. Hy kan die toekoms alleen met vrees tegemoet sien weens die ver­skriklike straf wat hy sal moet ondergaan vir al die kwaad wat hy gestig het.

Gebeurtenisse aan die Einde van die Millennium

Aan die einde van die duisend jaar sal “die ander dode” – die goddeloses – op­gewek word. Hierdeur sal die Satan bevry word van die ledigheid wat hom gevange gehou het (Openb. 20:5, 7). Nou verlei hy die goddeloses weereens en lei hulle teen “dielaer van die heiliges en die geliefde stad [die Nuwe Jerusalem]” (Openb. 20:9) wat saam met Christus teen hierdie tyd uit die hemel neergedaal het.9

Christus, die Heiliges en die Stad Daal Neer. Christus daal om twee redes weer saam met die heiliges en die Nuwe Jerusa­lem na die aarde neer. Hy sal die groot stryd beëindig deur die beslissings van die millenniale oordeel uit te voer en Hy sal die aarde reinig en vernuwe, sodat Hy Sy ewige koninkryk daarop kan vestig. Dan, in Sy volste betekenis, sal “die Here… Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:9).

Die Opstanding van die Veroordeling. Nou het die oomblik aangebreek wat die vervulling sal bring van Christus se belofte dat “almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor” (Joh. 5:28). Tydens Sy Wederkoms het Christus die regverdige dode in die eerste opstanding “die opstanding van die lewe” – uit hul grafte gebring. Nou vind die ander opstanding plaas waarvan Jesus gepraat het, “die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:29). Openbaring verwys ook na hierdie opstanding: “Die ander dode het nie herlewe totdat die dui­send jaar voleindig was nie” (Openb. 20:5).

Die Satan se Gevangenskap Eindig. Die opstanding van die goddeloses aan die einde van die duisend jaar, bevry die Satan “vir ‘n kort tydjie” uit sy gevangenskap (Openb. 20:3). In sy laaste poging om die heerskappy van God te beveg, sal hy “uit­gaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is” (Openb. 20:8). Aangesien die goddeloses in dieselfde op­standige gesindheid opgewek word, wat hul besit het toe hulle gesterf het, sal dit vir hom nie moeilik wees nie.

Die Aanval op die Stad. In sy laaste ver­leiding probeer die Satan om die god­deloses met die hoop te besiel om die koninkryk van God met geweld te verower. Hy versamel die nasies van die wêreld en voer hulle aan teen die geliefde stad (Openb. 20:8, 9).10 “Die goddeloses wat hardnekkig geweier het om die stad van God deur die verdienste van Christus se soendood binne te gaan, besluit nou om toegang en beheer deur stryd en beleg te verkry.”11

Die feit dat die goddeloses, onmiddellik nadat God hul weer lewe gee, teen Hom keer en Sy koninkryk omver wil werp, be­vestig die besluit wat Hy oor hulle lot ge­neem het. Op hierdie wyse sal Sy Naam en karakter, wat die Satan probeer beklad het, nou ten volle regverdig bewys wees.12

Die Oordeel van die Groot Wit Troon. Johannes gee te kenne dat wanneer die vy­ande van God die stad omring, en gereed is om dit aan te val, God Sy groot wit troon sal oprig. Wanneer die hele mensdom om hierdie troon vergader – sommige veilig binne die stad, andere buite en verskrik deur die teenwoordigheid van die Regter – sal God die laaste fase van Sy oordeel uitvoer. Dit is die tyd waarna Christus verwys het, toe Hy gesê het “daar sal ge­ween wees en gekners van die tande, wan­neer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe” (Lukas 13:28).

Ten einde die voltrekkende fase van die oordeel uit te voer, sal God Sy boeke oop­maak. “En  ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is volgens hulle werke” (Openb. 20:12). Dan vel God die vonnis van verdoemenis.

Waarom wek God hierdie mense weer op om maar net aan hul bestaan ‘n einde te maak? Gedurende die millennium het die verlostes die geleentheid gehad om die ge­regtigheid van God se behandeling van elke intelligente wese in die heelal, te on­dersoek. Nou sal die verlorenes self – in­sluitende die Satan en sy engele – die geregtigheid van die weë van God erken.

Dit is voor hierdie groot wit troon van die oordeel dat Paulus se woorde vervul sal word: “Want ons sal almal voor die reg­terstoel van Christus gestel word” (Rom. 14:10). Daar sal alle skepsele – sondeloses en sondiges, gereddes en verlorenes – die knie buig en bely dat Jesus Christus die Here is (Filip. 2:10, 11; vgl. Jes. 45:22, 23). Dan sal die kwessie van God se geregtig­heid vir ewig beantwoord wees. Diegene wat die ewige lewe ontvang, sal ‘n on­wrikbarevertroue in Hom hê. Nooit sal die sonde weer die heelal skend of onder sy in­woners verwoesting saai nie.

Die Satan en Sondaars Verdelg. Onmid­dellik nadat hulle gevonnis is, ontvang die Satan, sy engele en sy menslike volgelinge hul straf. Hulle moet die ewige dood sterwe. “Vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind” (Openb. 20:9). Die oppervlakte van die aarde buite die stad, skyn te smelt en word een ontsag­like see van vuur vir “die oordeel en die verderf van die goddelose mense” (2 Pet. 3:7). Die “dag van wraak… jaar van ver­gelding” (Jes. 34:8), het aangebreek waarop Hy Sy ‘vreemde werk’ (Jes. 28:21), die vernietiging van Sy vyande, sal uit­voer. Soos Johannes gesê het: “As dit be­vind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb. 20:15). Die dui­wel en sy trawante ondergaan dieselfde lot (Openb.20:10).

Die samehang van die hele Bybel stel dit duidelik dat hierdie “tweededood” (Openb. 21:8) wat die goddeloses moet on­dergaan hul totale verdelging is. Wat dan van die idee van ‘n ewigbrandende hel? ‘n  Noukeurige studie toon dat die Bybel geen sodanige hel of foltering verkondig nie.

1. Die hel. Volgens die Bybel is die hel “die plek en toestand van straf en vernie­tiging, deur ‘n ewige vuur in die tweede dood van diegene wat God en die aanbod van verlossing in Jesus Christus verwerp het.13

Bybelvertalings gebruik die woord “hel” dikwels om die Hebreeuse woord sjeol en die Griekse hades te vertaal. Hierdie woorde verwys gewoonlik na die graf waar die dode – sowel die regverdiges as die goddeloses – in ‘n bewustelose toe­stand wag op die opstanding (kyk hoof­stuk 25). Omdat vandag se begrip van die hel so wyd verskil van wat hierdie He­breeuse en Griekse woorde bedoel, vermy ‘n aantal moderne vertalings die woord hel en gebruik eenvoudig die Hebreeuse woord “sjeol” en die Griekse woord “hades”.

In teenstelling daarmee beteken die Griekse woord geenna wat in die Nuwe Testament as “hel” vertaal word, ‘n plek van vurige straf vir die onboetvaardige. In die Bybel het “hel” dus nie altyd dieselfde betekenis gehad nie – en die versuim om hierdie onderskeid aan te dui, het dikwels tot veel verwarring gelei.

Geenna is afgelei van die Hebreeuse Ge Hinnom, “Dal van Hinnom” – ‘n kloof aan die suidekant van Jerusalem. Hier het Is­rael die heidense rite om kinders vir Molog te verbrand, uitgevoer (2 Kron. 28:3; 33:1, 6). Jeremia het voorspel dat die Here hier­die vallei weens hierdie sonde ‘n “Moord­dal” sal maak waar die lyke van die Israeliete begrawe sal word totdat daar nie meer plek vir hulle is nie. Die orige lyke sou “voedsel vir die voëls” wees (Jer. 7:32, 33; 19:6; Jes. 30:33). Jeremia se profesie het ongetwyfeld daartoe aanleiding gegee dat Israel Ge Hinnom as ‘n plek van oordeel oor die goddeloses, ‘n plek van afgryse, straf en skande beskou het.14 Latere oorlewe­ringe van die rabbi’s het dit as ‘n plek be­skou om karkasse en vullis te verbrand.

Jesus het die vure van Hinnom as ‘n voorstelling van die helse vuur gebruik (bv. Matt. 5:22; 18:9). Dus het die vure van Hinnom as simbool van die verterende vuur van die laaste oordeel gedien. Hy het verklaar dat dit ‘n ondervinding is wat verder as die dood strek (Lukas 12:5) en dat die hel sowel die hele mens sou ver­nietig (Matt. 10:28).

Wat is die aard van die helse vuur? Brand mense vir ewig in die hel?

2. Die lot van die goddeloses. Volgens die Skrif belowe God die ewige lewe alleen aan die regverdiges. Die loon van die sonde is die dood, nie ‘n ewige lewe in die hel nie (Rom. 6:23).

Die Skrif leer dat die goddeloses “uitge­roei” sal word (Ps. 37:9, 34); dat hulle sal omkom (Ps. 37:20; 68:2). Hulle sal nie vir ewig bewus voortlewe nie, maar sal ver­brand (Mal. 4:1; Matt. 13:30, 40; 2 Pet. 3:10). Hulle sal verdelg word (Ps. 145:20; 2 Thess. 1:9; Heb. 2:14), en dan nie meer wees nie (Ps. 104:35).

3. Die ewige straf. Met verwysing na die straf van die goddeloses gebruik die Nuwe Testament die woord “ewige”. Dis ‘n ver­taling van die Griekse woord aionios, en geld sowel vir God as vir die mens. Ten einde ‘n misverstand te voorkom, moet ons onthou dat aionios ‘n relatiewe be­tekenis het; en sy mening bepaal word deur die voorwerp wat dit bepaal. Wan­neer die Skrif dus aionios (/lewig”) vir God gebruik, beteken dit dat Hy ‘n oneindige bestaan het – want God is onsterflik. Wan­neer die woord egter na die sterflike mens of bederfbare dinge verwys, beteken dit solank as wat die mens lewe of die voorwerp bestaan.

Judas 7 sê byvoorbeeld dat Sodom en Gomorra “die straf van die ewige vuur on­dergaan” het. Tog brand daardie stede nie vandag nog nie. Petrus verklaar dat vuur daardie stede tot as verbrand en tot onder­gang gedoem het (2 Pet. 2:6). Die “ewige” vuur het gebrand totdat daar niks oorgebly het om te verbrand nie en het toe uitgebrand (kyk ook Jer. 17:27; 2 Kron. 36:19).

Net so wanneer Christus die goddeloses tot “die ewige vuur” verdoem (Matt. 25:41), sal daardie vuur wat die god­deloses verbrand “onuitbluslik” wees (Matt. 3:12). Eers wanneer daar niks meer oor is om te verbrand nie, sal dit uit­brand.15

Wanneer Christus van “die ewige straf” gepraat het (Matt. 25:46), het Hy nie ewige strafproses bedoel nie. Hy het bedoel dat, soos die “ewige lewe [wat die regverdiges sal geniet] deur al die eeue heen tot in ewigheid sal voortduur; die straf [wat die goddeloses sal ondergaan] ook ewig sal wees – nie ‘n ewige voortduring van be­wuste lyding nie, maar ‘n straf wat vol­kome en finaal is. Die einde van diegene wat die lyding ondergaan, is die tweede dood. Hierdie dood sal ewig wees, want daar sal en kan geen opstanding op volg nie.”16

Waar die Bybel van “ewige verlossing” (Heb. 9:12) en “ewige oordeel” (Heb. 6:2), praat, verwys dit na die ewige gevolge van die verlossing en die oordeel – nie na ‘n eindelose proses van verlossing en oordeel nie. So ook, waar dit praat van ‘n ewige straf, verwys dit na die gevolge en nie na die proses van daardie straf nie. Die dood wat die goddeloses tref, sal finaal en vir ewig wees.

4. Tot in alle ewigheid gepynig. Die By­belse uitdrukking “tot in alle ewig­heid”(Openb. 14:11; 19:3; 20:10) het ook bygedra tot die afleiding dat die straf­proses vir die Satan en die goddeloses tot in alle ewigheid sal voortduur. Maar soos “ewig” bepaal die voorwerp wat dit be­skryf die betekenis van “vir ewig.” Wan­neer dit na God verwys, is die betekenis absoluut – want God is onsterflik. Wan­neer dit op sterflinge betrekking het, is die betekenis egter beperk.

Die Bybelse beskrywing van God se straf vir Edom bied ‘n goeie voorbeeld van hier­die gebruik. Jesaja verklaar dat God daar­die land in brandende pik sal verander wat “snags of oordag nie uitgeblus [sal] word nie,” en, “vir ewig gaan sy rook op; van geslag tot geslag lê dit woes, vir altyd en ewig trek niemand daardeur nie” (Jes. 34:9, 10). Edom is vernietig, maar dit brand nie meer nie. Die “vir ewig” het geduur totdat die verwoesting volkome was.

Dwarsdeur die Skrif blyk dit dat “vir ewig” sy perke het. Volgens die Ou Testa­ment kon ‘nslaaf sy meester “vir altyd” dien (Exod. 21:6), sou die kind Samuel “vir altyd” in die tabernakel bly (1 Sam. 1 :22), en het Jona gedink hy sou “vir altyd” in die buik van die groot vis verkeer (Jona 2:6). Die Nuwe Testament gebruik die uit­drukking op soortgelyke wyse. Paulus het Filemon byvoorbeeld gevra om Onesimus “vir altyd” te hou (Filemon 15). In al hier­die gevalle beteken die uitdrukking “solank as wat die persoon lewe.”

Psalm 92:8 verklaar dat die goddelose mense “vir ewig” verdelg sal word. En in verband met die groot laaste vuur het Ma­leagi geprofeteer: “Die dag kom, en dit brand soos ‘noond. Dan sal al die verme­teles en almal wat goddeloosheid be­drywe, ‘nstoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leerskare sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie” (Mal. 4:1).

As die goddeloses – die Satan, die bose engele en die onboetvaardige mense ­eens almal deur vuur vernietig is, sowel wortel as tak, sal die dood of hades (kyk hoofstuk 25 van hierdie boek) geen doel meer dien nie. God sal ook hulle vir ewig vernietig (Openb. 20:14).

Die Bybel stel dit baie duidelik dat die straf, die tweede dood, en nie die strafproses nie, ewigdurend is. Uit hierdie straf is daar geen opstanding nie; die gevolge is ewig­durend.

Die aartsbiskop William Temple het gelyk gehad toe hy verklaar het: “Een ding kan ons met sekerheid verklaar: Ewige py­niging kan uitgeskakel word. As die mens nie die Griekse en onbybelse idee van die natuurlike onvernietigbaarheid van die in­dividuele siel ingevoer het en daarna die Nuwe Testament gelees het met [hierdie idee] reeds in gedagte nie, sou hulle daaruit [die Nuwe Testament] ‘ngeloof geput het van nie ‘newige pyniging nie, maar van uitdelging. Dit is die vuur wat aeonian (ewig) genoem word, nie die lewe wat daarin gewerp word nie.”17

As die volledige straf vir die wet van God eers uitgevoer is, is die eise van gereg­tigheid bevredig. Nou kan hemel en aarde die geregtigheid van die Here verkondig.

5. Die strafbeginsel. Die dood is die uit­eindelike straf vir die sonde. As gevolg van hul sonde sal almal wat weier om die ver­lossing wat God aanbied, aan te neem, die ewige dood sterwe. Sommige het egter skreiend gesondig en het ‘nduiwelse behae geskep in die lyding wat hulle ander aangedoen het. Ander het ‘nredelik sede­like, vreedsame lewe gelei en hul skuld is hoofsaaklik dat hulle die verlossing wat Christus voorsien het, verwerp het. Is dit billik dat hulle dieselfde straf moet onder­gaan?

Christus het gesê: “Die dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis” (Lukas 12:47, 48).

Ongetwyfeld sal diegene wat hulle die hewigste teen God verset het, meer ly as diegene wat dit nie gedoen het nie. Ons moet egter hul uiteindelike lyding sien in die lig van die “tweede dood” wat Chris­tus aan die kruis deurgemaak het. Daar het Hy die sondes van die wêreld gedra. En dit was die verskriklike skeiding van Sy Vader wat die sonde meegebring het, wat Hom so gefolter het – ‘n sielsangs wat onbe­skryflik is. So sal dit met verlore sondaars wees. Nie net in hierdie lewe maai hulle wat hulle gesaai het nie, maar ook in hul uiteindelike uitdelging. In die teenwoor­digheid van God sal die skuld wat hulle voel as gevolg van die sondes wat hulle ge­pleeg het, hulle onbeskryflike foltering veroorsaak. En hoe groter die skuld, hoe groter die lyding. Die Satan, wat die vader en opstoker van die ongeregtigheid is, sal die meeste ly.18

Die Reiniging van die Aarde. In ‘n be­skrywing van die dag van die Here wan­neer alle spore van die ongeregtigheid uitgewis sal word, het Petrus verklaar dat “die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal ver­brand” (2 Pet. 3:10).

Die vuur wat die goddeloses vernietig, reinig die aarde van die besoedeling van die sonde. Uit die as van hierdie aarde sal God “‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde” te voorskyn bring, “want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan” (Openb. 21:1). Uit hierdie gereinigde, herskape aarde – die ewige tuiste van die verlostes – sal God droefheid, pyn en die dood vir ewig verban (Openb. 21:4). Eindelik sal die vloek van die sonde verwyder wees (Openb. 22:3).

Met die oog op die komende dag van die Here waarin die sonde en die onboet­vaardige sondaars verdelg sal word, ver­klaar Petrus aan almal: “Hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en gods­vrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas.” Met sy hoop gevestig op die belofte van Christus se wederkoms verklaar hy: “Ons verwag vol­gens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge ver­wag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede (2 Pet. 3:11, 13, 14).

Videos en Klankbane:

Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Vrae:

Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.

TERUGVOER

Addisionele hulpbronne:

Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Verwysings:

1.  Kyk SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 7, bl. 885.

2.  Kyk Questions on Doctrine, bl. 495.

3. “Wanneer die dier en die valse profeet in die poel van vuur gewerp word (Openb. 19:20), word die ander (Openb. 19:21) deur die swaard van Christus gedood. Hulle is die konings, owerstes, die sterkes en ‘almal, vry­mense sowel as slawe’ (Openb. 19:18). Dieselfde klasse word onder die sesde seël genoem, waar hulle probeer wegkruip vir die aangesig van die Lam (Openb. 6:14-17) wanneer die hemele soos ‘n boek toegerol, en al die berge en eilande uit hulle plekke versit word. Klaarblyklik beskryf hierdie gedeeltes dieselfde aardskuddende gebeurtenis, naamlik die wederkoms van Christus. “Hoeveel is betrokke by ‘die ander’ se dood (Openb. 19:21)? Volgens Openb. 13:8 sal daar tydens die weder­koms net twee klasse mense op aarde wees: ‘Al die bewoners van die aarde wat die dier aanbid, ‘almal wie se name in die boek van die lewe geskrywe is nie: Dit is dus duidelik dat wanneer ‘die ander’ deur die swaard van Christus gedood word (Openb. 19:21), daar geen oorlewendes sal wees behalwe diegene wat die dier weerstaan het nie, naamlik diegene wie se name in die boek van die lewe geskrywe is (Openb. 13:8),”(SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 7, bl. 885).

4. Vgl. Questions on Doctrine, bl. 500. Die sondebok is nie die verlosser van die regverdiges nie.

5. Die Septuaginta gebruik hierdie uitdrukking om die Hebreeuse woord tehom, “wêreldvloed” in Genesis 1:2 weer te gee. Dit is ‘n aanduiding dat die toestand van die aarde gedurende die duisend jaar ten minste ge­deeltelik soos die toestand van die aarde met die skepping sal wees, toe dit “woes en leeg [was] en duister­nis…op die wêreldvloed” was. Kyk SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 7, bl. 879.

6. Die feit dat hulle regeer of heerskappy het, beteken nie noodwendig dat daar goddeloses op die aarde lewe nie. In die begin het God heerskappy aan Adam en Eva gegee (Gen. 1:26). Voordat hulle gesondig het, het hulle geregeer oor die deel van die skepping wat God aan hulle toegeken het. God het nie wederstrewige onderdane nodig om te kan regeer me.

7. SDA Bible Commentary, hers. uitg. deel 7, bl. 880.

8.  Maxwell, God Cares (Boise, 10: Pacific Press, 1985), deel 2, bl. 500.

9. Die beskrywing van die Openbaring van die neerdaling van die Nuwe Jerusalem dui nie noodwendig die presiese tyd aan wanneer dit neerdaal nie, want in die vorige hoofstuk sien ons dat die “geliefde stad” deur die leërs van die Satan omsingel word. Die omstandigheid skyn daarop te dui dat die Nuwe Jerusalem voor die venuwing van die aarde moet neergedaal het.

10.  Die name Gog en Magog was met die vyande van Israel geassosieer wat Jerusalem en die volk van God na die ballingskap sou aanval (Eseg. 38:2, 14-16). Etlike Ou-Testamentiese proiesieë is nie vervul nie. Hulle sal hul vervulling in die geestelike Israel vind. Die magtige vyandelike konfederasie wat Esegiël teen Jerusalem voorspel, sal dus vervul word wanneer God toelaat dat die Satan en sy leer van ongereddes teen Sy volk en teen Sy geliefde stad opruk vir die finale botsing van die groot stryd.

11. Questions on Doctrine, bl. 505.

12. Vgl. SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 4, bl. 708.

13. “Hell,” SDA Encyclopedia, hers. uitg., bl. 579.

14. Kyk “Hell,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 475.

15. Vgl. Jeremia se profesie oor die verwoesting van Jerusalem deur onuitbluslike vuur (Jer. 17:27), wat ver­vul is toe Nebukadnesar die stad ingeneem het (2 Kron. 36:19). Die vuur het gebrand totdat die stad verwoes was en het toe doodgegaan.

16. Questions on Doctrine, bl. 539.

17.  William Temple, Christian Faith and Life (New York: Macmillan, 1931), bl. 81.

18.  Vgl. “Hell,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 475.