Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Die loon van die sonde is die dood. Maar God, wat alleen onsterflik is, sal die ewige lewe aan Sy verlostes skenk. Tot dan is die dood ‘n bewustelose toestand vir alle mense. Wanneer Christus verskyn, wat ons lewe is, sal die herrese regverdiges en die lewende regverdiges verheerlik word en opgeneem word om hulle Here te ontmoet. Die tweede opstanding, die opstanding van die onregverdiges sal duisend jaar later plaasvind.
Die Dood en die Opstanding
Die Filistynse leër het Sunem binnegeruk, laer opgeslaan, en hulle gereed gemaak om Israel aan te val. In ‘n bra pessimistiese bui, het koning Saul Israel se leer daar naby op die berg Gilboa opgestel. In die verlede het die sekerheid van die teenwoordigheid van God, Saul in staat gestel om Israel onverskrokke teen sy vyande te lei. Maar hy het hom van die Here afgekeer, en toe die afvallige koning God probeer raadpleeg, oor die uitslag van die komende geveg, het God geweier om met hom te praat.
Vrees oor wat die môre sou bring, het swaar op Saul gerus. As Samuel maar net daar was. Maar Samuel was dood en kon hom nie meer raad gee nie. Of kon hy?
Nadat hy ‘n medium gevind het wat aan sy vroeëre heksejagte ontkom het, het die groot koning hom verneder om by haar die uitslag van die volgende dag se geveg te vemeem. Sy versoek was: “Bring Samuel vir my.” Gedurende die seance het die medium gesê: “Ek sien ‘n bonatuurlike wese uit die aarde opkom.” Hierdie gees het die ongelukkige koning meegedeel dat Israel nie net die oorlog sou verloor nie, maar dat hy en sy seuns sou sneuwel (kyk 1 Sam. 28).
Die voorspelling het waar geword. Maar was dit werklik die gees van Samuel wat die voorspelling gemaak het? Hoe kon ‘n medium wat deur God veroordeel is, mag hê oor die gees van Samuel – die profeet van God? En waar het Samuel vandaan gekom – waarom het sy gees “uit die aarde” opgekom? Wat het die dood aan Samuel gedoen? As dit nie Samuel se gees was wat met Saul gepraat het nie, wie was dit dan? Laat ons sien wat dieBybel oordie onderwerp van die dood, verkeer met die dode en die opstanding leer.
Onsterflikheid en die Dood
Onsterflikheid is die toestand of hoedanigheid van nie aan die dood onderworpe te wees nie. Die Bybelvertalers het die woord onsterflikheid gebruik om die Griekse woorde athanasia, “sterfloosheid,” en aphtharsia, “onverderflikheid”, weer te gee. Hoe raak hierdie begrip God en die mens?
Onsterflikheid. Die Skrif openbaar dat die ewige God onsterflik is (1 Tim. 1:17). Trouens, God “alleen [besit] onsterflikheid” (1 Tim. 6:16). Hy is ongeskape, selfbestaande, en het geen begin of einde nie (kyk hoofstuk 2 van hierdie boek).
“Nêrens beskryf die Skrif onsterflikheid as ‘n toestand of hoedanigheid wat die mens – of sy ‘siel’ of ‘gees’ -inherent besit nie. Die woorde wat gewoonlik as ‘siel’ en ‘gees’ vertaal word…kom meer as 1 600 maal in die Bybel voor, maar nooit in verband met die woorde ‘onsterflik’ of ‘onsterflikheid’ nie” (kyk hoofstuk 7).1
In teenstelling met God is mense dus sterflik. Die Skrif vergelyk hulle lewe met ” ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn” (Jak. 4:14). Hulle is maar vlees … ” ‘nwind wat weggaan en nie terugkom nie” (Ps. 78:39). Die mens “spruit uit soos ‘n blom en verwelk; ook vlug hy soos ‘n skaduwee en hou nie stand nie” (Job 14:2).
God en die mens verskil baie van mekaar. God is oneindig, die mens is begrens. God is onsterflik, die mens is sterflik. God is ewig, die mens verganklik.
Voorwaardelike Onsterflikheid. Met die Skepping het God “die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword” (Gen. 2:7).
Die skeppingsverslag toon dat die mens sy lewe van God ontvang het (vgl. Hand. 17:25, 28; Kol. 1:16, 17). Die betekenis van hierdie basiese feit is dat onsterflikheid nie in die mens ingebore is nie, maar ‘n gawe van God is.
Toe God Adam en Eva gemaak het, het hy hulle ‘n vrye wil gegee – die vermoë om te kies. Hulle kon gehoorsaam of ongehoorsaam wees en hul voortgesette bestaan het van voortdurende gehoorsaamheid deur die krag van God afgehang. Hul besit van die gawe van onsterflikheid was dus voorwaardelik.
God het die voorwaarde waarop hulle hierdie gawe sou verloor – die eet van “die boom van die kennis van goed en kwaad” – vir hulle duidelik uitgespel. God het hulle gewaarsku: “As jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:17).2
Dood: Die Loon van die Sonde. Die Satan het God se waarskuwing dat ongehoorsaamheid die dood sou veroorsaak, weerspreek en gesê: ” Julle sal gewis nie sterwe nie” (Gen. 3:4). Maar nadat hulle die gebod van God oortree het, het Adam en Eva ontdek dat die loon van die sonde waarlik die dood is (Rom. 6:23). Hul sonde het hulle die vonnis op die hals gehaal: jy sal ” terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Gen. 3:19). Hierdie woorde dui nie op ‘n voortsetting van die lewe nie, maar op die beëindiging daarvan.
Nadat God hierdie vonnis uitgespreek het, het hy die egpaar se toegang tot die boom van die lewe versper sodat hulle nie kon “eet en lewe in ewigheid nie” (Gen. 3:22). Sy handeling het dit duidelik gemaak dat die onsterflikheid wat op die voorwaarde van ongehoorsaambeid belowe is, deur die sonde verbeur is. Hulle het nou sterflik geword, onderhewig aan die dood. En omdat Adam nie kon oordra wat hy nie langer besit het nie, het “die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Rom. 5: 12).
Dit was alleen deur die genade van God dat Adam en Eva nie onmiddellik gesterf het nie. Die Seun van God het aangebied om Sy lewe te gee sodat hulle nog ‘n geleentheid kon kry – ‘n tweede kans. Hy was “die Lam wat geslag is” (Openb. 13:8).
Hoop vir die Mensdom. Hoewel mense sterflik gebore word, moedig die Bybel hulle aan om onsterflikheid na te streef (kyk byvoorbeeld Rom. 2:7). Jesus Christus is die bron van hierdie onsterflikheid: “die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6:23 vgl. 1 Joh. 5:11). Hy het “die dood tot niet gemaak…en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring” (2 Tim. 1:10). “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word (1 Kor. 15:22). Christus het self gesê dat Sy stem die grafte sal laat oopgaan en die dode sal laat opstaan (Joh. 5:28, 29).
As Christus nie gekom het nie, sou die mens se toestand hopeloos gewees het en almal wat gesterf het, sou vir ewig vergaan het. Maar danksy Hom, hoef niemand te vergaan nie. Johannes het gesê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Geloof in Christus verwyder dus nie net die straf vir die sonde nie, maar verseker vir die gelowiges ook die kostelose gawe van onsterflikheid.
Christus het “die onverderflikheid aan die lig gebring deur die evangelie” (2 Tim. 1:10). Paulus verseker ons dat dit die Heilige Skrif is wat in staat is om ons “wys [te] … maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim. 3:15). Diegene wat nie die evangelie aanneem nie, sal nie onsterflikheid ontvang nie.
Die Ontvangs van Onsterflikheid. Die oomblik wanneer die gawe van onsterflikheid gegee sal word, word deur Paulus beskryf: “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Kor. 15:51-54). Dit stel dit baie duidelik dat God nie die gelowige tydens sy dood met onsterflikheid beklee nie, maar met die opstanding, wanneer “die laaste basuin” weerklink. Dan sal “hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word.” Hoewel Johannes daarop wys dat ons die gawe van die ewige lewe ontvang, wanneer ons Jesus as ons persoonlike Verlosser aanneem (1 Joh. 5:11-13), word hierdie gawe eers werklikheid wanneer Christus terugkeer. AIlleen dan sal ons van sterflikheid tot onsterflikheid verander word, van verganklikheid tot onverganklikheid.
Die Aard van die Dood
As die dood die beëindiging van die lewe is, wat sê die Bybel omtrent ‘n mens se toestand in die dood? Waarom is dit noodsaaklik dat Christene hierdie Bybelse leer moet verstaan?
Die Dood Is ‘n Slaap. Die dood is nie algehele uitwissing nie, dit is net ‘n toestand van tydelike bewusteloosheid terwyl die mens op die opstanding wag. Die Bybel verwys herhaaldelik na hierdie tussentydse toestand, as ‘n slaap.
Met verwysing na hul dood, beskryf die Ou Testament Dawid, Salomo en die ander konings van Israel en Juda as ontslape saam met hul voorvaders (1 Kon. 2:10; 11:43; 14:20, 31; 15:8; 2 Kron. 21:1; 26:23; ens.). Job (Job 14:10-12), Dawid (Ps. 13:4), Jeremia (Jer. 51:39, 57), en Daniël (Dan. 12:2) het die dood ‘n slaap genoem.
Die Nuwe Testament gebruik dieselfde beeldspraak. Aangaande Jaïrus se dogtertjie wat dood was, het Christus gesê dat sy slaap (Matt. 9:24; Markus 5:39). Hy het op soortgelyke wyse na die gestorwe Lasarus verwys (Joh. 11:11-14). Matthéüs het geskryf dat “die grafte oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges” na Christus se opstanding (Matt. 27:52) opgestaan het; en in verband met Stefanus se martelaarskap het Lukas geskryf dat hy “ontslaap” het (Hand. 7:60). Sowel Paulus as Petrus het die dood ook ‘nslaap genoem (1 Kor. 15:51,52; 1 Thess. 4:13-17; 2 Pet. 3:4).
Die Bybelse voorstelling van die dood as ‘nslaap, pas gewis by sy aard soos die volgende vergelykings toon:
1. Iemand wat slaap, is bewusteloos. “Die dooies weet glad niks nie” (Pred. 9:5).
2. In die slaap hou die denke op. “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Ps. 146:4).
3. Die slaap bring ‘neinde aan al die bedrywighede van die dag. “Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Pred. 9:10).
4. Die slaap verwyder ons van diegene wat nog wakker is en van hul bedrywighede. “Hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie” (vers 6).
5. Die normale slaap maak die emosies onaktief. “Hul liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn” (vers 6).
6. In die slaap prys ‘nmens die Here nie. “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die Here nie loof nie”(Ps. 115:17).
7. Die slaap veronderstel ‘nontwaking. “Daar kom ‘nuur wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor en sal uitgaan” (Joh. 5:28. 29).3
Die Mens Keer Terug tot Stof. Om te verstaan wat in die dood met ‘n mens gebeur, moet ‘n mens verstaan wat sy aard is. Die Bybel beeld ‘n mens as ‘n organiese eenheid uit (kyk hoofstuk 7 van hierdie boek). Soms word die woord siel gebruik om na die hele wese te verwys en ander kere weer na die gesindhede en emosies. Dit leer egter nie dat die mens uit twee verskillende dele bestaan nie. Liggaam en siel bestaan alleen saam, hulle vorm ‘n onverdeelbare eenheid.
Toe die mens geskape is, het die vereniging van die stof van die aarde (aardse elemente) en die asem van die lewe ‘n lewende wese of siel tot stand gebring. Adam het nie ‘n siel as ‘n aparte entiteit ontvang nie; hy het ‘n lewende siel geword (Gen. 2:7; kyk ook hoofstuk 7 van hierdie boek). Met die dood vind die teenoorgestelde plaas: die stof van die aarde minus die asem van die lewe veroorsaak ‘n dooie mens of ‘ndooie siel sonder bewussyn (Ps. 146:4). Die elemente wat die liggaam gevorm het, keer terug na die aarde waaruit hulle geneem is (Gen. 3:19). Die siel het geen bewuste bestaan buite die liggaam nie, en geen skrif dui aan dat die siel met die dood as ‘nbewuste entiteit oorleef nie. “Diesiel wat sondig, die moet sterwe” (Eseg.18:20).
Die Doderyk. Die Ou Testament noem die plek waarheen mense met die dood gaan sjeol (Hebreeus), en die Nuwe Testament noem dit hades (Grieks). In die Skrif beteken sjeol eenvoudig die graf.4 Die betekenis van hades is soortgelyk aan die van sjeol.5
Al die dode gaan hierheen (Ps. 89:49), sowel die onregverdiges as die gelowiges.
Jakob het gesê: “Treurende sal ek na die doderyk [sjeo1] neerdaal” (Gen. 37:35). Toe die aarde “sy mond” oopgemaak het om die goddelose Korag en sy groep te verswelg, het hul “lewendig na die doderyk [sjeol] afgedaal” (Num. 16:30).
Sjeol ontvang die hele persoon met die dood. Toe Christus gesterf het, het Hy in die graf (hades) neergedaal, maar by die opstanding het Sy siel die graf (hades, Hand. 2:27, 31, of sjeol, Ps. 16:10) verlaat. Toe Dawid God gedank het vir sy genesing, het hy getuig dat sy siel “uit die doderyk [sjeol] gered is” (Ps. 30:4).
Die graf is nie ‘n plek van bewussyn nie.6 Aangesien die dood ‘n slaap is, sal die dode in ’n bewustelose toestand in die graf bly tot met die opstanding wanneer die graf (hades) sy dode teruggee (Openb. 20:13).
Die Gees Keer Terug na God. Hoewel die liggaam tot stof terugkeer, keer die gees na God terug. Salomo het gesê dat, met die dood, diestof na “die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Pred. 12:7). Dit geld vir almal, sowel die regverdiges as die goddeloses.
Baie mense het geglo dat hierdie teks toon dat die essens van die persoon na die dood voortduur. Maar in die Bybel verwys nog die Hebreeuse nog die Griekse woord vir gees (ruach en pneuma, onderskeidelik) na ‘n intelligente entiteit wat, afgesien van die liggaam, ‘nbewuste bestaan kan voer. Inteendeel hierdie woorde verwys na die “asem” die vonk van die lewe wat noodsaaklik is vir individuele bestaan, die lewensbeginsel wat lewe aan diere en mense gee (kyk hoofstuk 7 van hierdie boek).
Salomo het geskryf: “Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem [“gees;” ruach];en ‘n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie…. Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug. Wie bespeur dat die asem [ruach] van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem [ruach] van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?” (Pred. 3:19-21). Volgens Salomo is daar dus in die dood geen verskil tussen die gees van mens en dier nie.
Salomo se verklaring dat die gees (ruach) na God terugkeer wat dit gegee het, toon dat wat na God terugkeer eenvoudig die lewensbeginsel is wat Hy ingeblaas het. Daar is geen aanduiding dat die gees of asem ‘n bewuste entiteit afsonderlik van die liggaam is nie. Hierdie ruach kan gelykgestel word met die “asem van die lewe” wat God in die eerste mens ingeblaas het om lewe aan sy lewelose liggaam te bring (vgl. Gen. 2:7).
Harmonie Deur die Hele Skrif. Baie eerlike Christene wat nie die leer van die Bybel oor die dood behoorlik bestudeer het nie, het nie besef dat die dood ‘n slaap is tot met die opstanding nie. Hulle het veronderstel dat verskillende skrifgedeeltes die idee onderskraag dat die gees of siel ‘n bewuste bestaan na die dood het. ‘n Noukeurige studie toon dat die Bybel konsekwent leer dat die dood ‘n einde aan die bewussyn bring.7
Spiritisme. As die dode volkome onbewus is, met wie of wat kommunikeer spiritistiese mediums?
Elke eerlike mens sal erken dat minstens sommige van hierdie verskynsels bedrog is; maar ander kan nie so weggeredeneer word nie. Daar is klaarblyklik een of ander bonatuurlike mag aan spiritisme verbonde. Wat leer die Bybel in hierdie verband?
1. Die grondslag van spiritisme. Die spiritisme het met die Satan se eerste leuen aan Eva ontstaan – “Jullesal gewis nie sterwe nie” (Gen. 3:4). Sy woorde was die eerste preek oor die onsterflikheid van die siel. Tans herhaal allerhande godsdienste die wêreld oor hierdie dwaling onwetend. Vir baie is die Goddelike vonnis: “Die siel wat sondig, die moet sterwe,” (Eseg. 18:20) omgekeer om te sê: “Die siel sal, selfs al sondig hy, vir ewig lewe.”
Hierdie dwaalleer van natuurlike onsterflikheid het aanleiding gegee tot geloof aan bewustheid in die dood. Soos ons gesien het, is hierdie sienings ‘n regstreekse weerspreking van die Bybelse leer oor hierdie onderwerp. Hulle is van die heidense filosofie – veral die van Plato in die tyd van die groot afvalligheid (kyk hoofstuk 12 van hierdie boek) in die Christelike geloof opgeneem. Hierdie geloof het die heersende sienswyse binne die Christendom geword en bly tot vandag toe nog oorheersend.
Die geloof dat die dode in ‘n bewuste toestand is, het baie Christene beweeg om die spiritisme aan te neem. As die dode leef en in die teenwoordigheid van God verkeer, waarom kan hulle nie as dienende geeste na die aarde terugkeer nie? En as hulle kan, waarom nie probeer om met hulle te kommunikeer om raad en voorligting te vra, rampspoed te vermy, of troos in droefheid te ontvang nie?
Deur hierdie redenasie te gebruik, het die Satan en sy engele (Openb. 12:4,9) ‘n kanaal van kommunikasie opgebou waardeur hulle hul bedrog kan voortsit. Deur middele soos spiritistiese seances boots hulle ontslape geliefdes na en bring hulle veronderstelde troos en gerusstelling aan die lewendes. Soms voorspel hulle toekomstige gebeurtenisse wat, as dit juis blyk te wees, geloofwaardigheid aan hulle verleen. Dan neem die gevaarlike ketterye wat hulle verkondig die aura van betroubaarheid aan, selfs al weerspreek hulle die Bybel en die wet van God. Omdat hulle die versperrings teen die bose verwyder het, staan dit die Satan nou vry om mense weg te lok van God na gewisse ondergang.
2. Waarskuwing teen spiritisme. Niemand hoef deur spiritisme mislei te word nie. Die Bybel stel sy aansprake duidelik aan die kaak as vals. Soos ons gesien het, leer die Bybel ons dat die dode niks weet nie en dat hulle bewusteloos in die graf lê.
Die Bybel verbied ook ten strengste enige poging om met die dode of die geesteswêreld in aanraking te tree. Dit sê dat diegene wat beweer dat hulle met die dode kommunikeer, soos spiritistiese mediums tans doen, in werklikheid met die “geeste van duiwels” kommunikeer. Die Here noem hierdie dade ‘n gruwel en eis dat diegene wat hulle pleeg, met die dood gestraf moet word (Lev. 19:31; 20:27; vgl. Deut. 18:10, 11).
Jesaja het die dwaasheid van die spiritisme tereg so uitgedruk: “As hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ‘nvolk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle’n volk wat geen dageraad het nie” (Jes. 8:19, 20). Trouens alleen die leer van die Bybel kan Christene teen hierdie oorweldigende misleiding bewaar.
3. Manifestasies van die spiritisme. Die Bybel noem ‘naantal spiritistiese bedrywighede – vanaf die towenaars van Farao en die towenaars en sterrewiggelaars van Ninevé en Babel tot die hekse en mediums van Israel – en verdoem hulle almal. Een voorbeeld is die seance wat die heks van Endor vir Saul opgetoor het waarmee ons hierdie hoofstuk begin het.
Die Skrif verklaar: “Saul het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie – nie deur drome en nie deur die Urim en nie deur die profete nie” (1 Sam. 28:6). God het dus niks te make gehad met wat by Endor gebeur het nie. Saul is bedrieg deur ‘nduiwel wat die dooie Samuel nageboots het; hy het nooit die ware Samuel gesien nie. Die heks het die gedaante van ‘n ou man gesien terwyl Saul maar net “begryp” of afgelei het dat dit Samuel was (vers 14).
As ons moet glo dat daardie verskynsel waarlik Samuel was, moet ons bereid wees om te glo dat hekse, towenaars, geestesbesweerders, goëlaars, spiritiste of mediums die regverdige dode kan oproep waarheen hulle ook mag gaan as hulle sterwe. Dan moet ons ook aanneem dat die godvresende Samuel in ‘n bewuste toestand in die aarde bestaan het, omdat die ou man “uit die aarde opkom” (vers 13).
Hierdie seance het vir Saul wanhoop gebring en nie hoop nie. Die volgende dag het hy selfmoord gepleeg (1 Sam. 31:4). Tog het die sogenaamde Samuel voorspel dat Saul en sy seuns op daardie dag by hom sou wees (1 Sam. 28:19). As hy gelyk gehad het, moet ons aanneem dat die ongehoorsame Saul en die regverdige Samuel na hul dood bymekaar was. Pleks daarvan moet ons aflei dat ‘n bose engel die bedrieglike gebeurtenisse veroorsaak het wat op hierdie seance plaasgevind het.
4. Die laaste bedrog. In die verlede was die manifestasies van spiritisme tot die gebied van die okkulte beperk, maar meer onlangs het die spiritisme die gedaante van “die Christelike geloof” aangeneem sodat dit die Christenwêreld kan mislei. Deur voor te gee dat dit Christus in die Bybel aanneem, het die spiritisme ‘n uiters gevaarlike vyand vir gelowiges geword. Die invloed is subtiel en misleidend. Deur die invloed van die spiritisme word “dieBybel uitgelê op’n manier wat aanneemlik is vir die onwedergebore hart, terwyl die plegtige en belangrike waarhede daarvan van nil en gener waarde gemaak word. Liefde word beklemtoon as die hoofeienskap van God, maar dit word verlaag tot ‘n soetsappige sentimentalisme en dit onderskei maar min tussen goed en kwaad. Gods geregtigheid, Sy veroordelings van die sonde en die vereistes van Sy heilige wet word bedek. Die mense word geleer om die Dekaloog as ‘n dooie letter te beskou. Strelende, betowerende fabels vang die mense en lei hulle om die Bybel as die grondslag van geloof te verwerp.”8
Deur middel hiervan word reg en verkeerd relatief, en elke mens of situasie of kultuur word die norm vir wat “waarheid” is. In wese word elke mens ‘n god en vervul hy die Satan se belofte: “Julle sal soos God wees” (Gen. 3:5).
Voor ons is “die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Openb. 3:10). Die Satan staan op die punt om vele groot tekens en wonders te gebruik in sy laaste poging om die wêreld te bedrieg. In verband met hierdie meesterlike misleiding, sê Johannes: “Ek het…drie onreine geeste soos paddas sien kom….Dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openb. 16:13, 14; vgl. 13:13, 14).
Alleen diegene wat deur die krag van God bewaar word en hul gees versterk het met die waarhede van die Skrif, wat dit as hul enigste gesag aanvaar, sal in staat wees om te ontkom. Al die ander het geen beskerming nie en sal deur hierdie bedrog weggevoer word.
Die Eerste en die Tweede Dood. Die tweede dood is die finale straf van die onberouvolle sondaars – almal wie se name nie in die boek van die lewe geskryf is nie – wat na afloop van die duisend jaar plaasvind (kyk hoofstuk 26). Uit hierdie dood is daar geen opstanding nie. Met die vernietiging van die Satan en die goddeloses word die sonde uitgeroei en die dood self vernietig (1 Kor. 15:26; Openb. 20:14; 21:8). Christus het die versekering gegee dat “die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade lei nie” (Openb. 2:11).
Op grond van wat die Skrif “die tweede dood” noem, kan ons aanneem dat die eerste dood is wat elke mens – behalwe die wat lewend opgeneem word – ondergaan as gevolg van Adam se oortreding. Dit is “die normale gevolg van die verderwende uitwerking van die sonde op die mens.”9
Die Opstanding
Die opstanding is die “herstel tot die lewe, saam met die volheid van wese en persoonlikheid wat op die dood volg.”10 Omdat die mensdom aan die dood onderhewig is, moet daar ‘n opstanding wees as hulle hul lewe oorkant die graf wil geniet. Dwarsdeur die Ou en die Nuwe Testament het die boodskappers van God, die hoop op ‘n opstanding uitgespreek (Job 14:13, 14; 19:25-29; Ps. 49:16; 73:24; Jes. 26:19; 1 Kor. 15).
Die hoop op die opstanding, waarvoor ons onwrikbare getuienis het, gee ons die moed om te glo dat ons anderkant hierdie huidige wêreld, waarin die dood almal se lot is, ‘n beter toekoms sal geniet.
Christus se Opstanding. Die opstanding van die regverdiges tot onsterflikheid is nou verbonde aan Christus se opstanding omdat dit die herrese Christus is wat die dode uiteindelik sal opwek (Joh. 5:28,29).
1. Die belangrikheid daarvan. Wat sou gebeur het as Christus nie opgewek is nie? Paulus gee ‘n opsomming van die gevolge:
a. Dit sou nutteloos gewees het om die evangelie te verkondig: “As Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof” (1 Kor. 15:14).
b. Daar sou geen vergifnis van sondes gewees het nie: “En as Christus nie opgewek is nie, … dan is julle nog in julle sondes” (vers 17).
c. Dit sou geen doel gedien het om in Jesus te glo nie: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos” (vers 17).
d. Dan sou daar geen algemene opstanding van die dode wees nie: “As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?” (vers 12).
e. Daar sou geen hoop oorkant die graf gewees het nie: “As Christus nie opgewek is nie…dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore (verse 17, 18).11
2. ‘n Liggaamlike opstanding. Die Christus wat uit die graf gekom het, was dieselfde Jesus wat hier in die vlees geleef het. Hy het nou ‘n verheerlikte liggaam gehad, maar dit was steeds ‘n werklike liggaam. Dit was so werklik dat ander nie eens die verskil agtergekom het nie (Lukas 24: 13-27; Joh. 20:14-18).
Jesus het self ontken dat Hy een of ander soort gees of spook is. Hy het aan Sy dissipels gesê: “Kyk na my hande en my voete,…voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie” (Lukas 24:39). Om die fisieke werklikheid van Sy opstanding te bewys, het Hy ook in hul teenwoordigheid geëet (vers 43).
3. Sy uitwerking. Die Opstanding het ‘n fenomenale uitwerking op Christus se dissipels gehad. Dit het ‘n groepie swak en bevreesde manne in kloekmoedige apostels verander wat bereid was om enigiets vir hul Heer te doen (Filip. 3:10, 11; Hand. 4:33). Die sending wat hul as gevolg daarvan onderneem het, het die Romeinse Ryk geskud en die wêreld omgekeer (Hand. 17:6).
“Dit was die gewisheid van Christus se opstanding wat krag en betekenis aan die verkondiging van die evangelie verleen het (vgl. Filip. 3:10, 11). Petrus praat van die ‘opstanding van Jesus Christus uit die dode’ as die oorsaak van ” ‘n lewendehoop’ onder gelowiges (1 Pet. 1 :3). Die apostels het geglo dat hulle georden is om getuies te wees ‘ van Sy opstanding’ (Hand. 1:22), en berus hul leer van die opstanding van Christus op die Messiaanse voorspellings van die Ou Testament (Hand. 2:31). Dit was hul persoonlike kennis van ‘die opstanding van die Here Jesus’ wat ‘hulle groot genade’ gegee het om getuies te wees (Hand. 4:33). Die apostels het die teenstand van die Joodse leiers uitgelok toe hulle ‘in Jesus die opstanding uit die dode verkondig’ (vers 2) …. Toe Hy voor die Sanhedrin gedaag is, het Paulus verklaar dat dit die gevolg was van sy ‘hoop en die opstanding van die dode’ dat hy ‘voordie gereg’ staan (Hand. 23:6; vgl. 24:21). Aan die Romeine het Paulus geskryf dat Jesus Christus ‘verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode’ (Rom. 1:4). In die doop, het hy verduidelik, getuig die Christen van sy geloof in die opstanding van Christus (Rom. 6:4, 5). “12
Die Twee Opstandings. Christus het geleer dat daar twee algemene opstandings sal wees: ‘n “opstanding van die lewe” vir die regverdiges en ‘n “opstanding van die veroordeling” vir die goddeloses (Joh. 5:28,29; Hand. 24:15). Die duisend jaar skei hierdie opstandings (Openb. 20:4, 5).
1. Die opstanding van die lewe. Diegene wat in die eerste opstanding opgewek word, word “salig en heilig” genoem (Openb. 20:6). Hulle sal nie die tweede dood in die poel van vuur na afloop van die duisend jaar deurmaak nie (vers 14). Hierdie opstanding tot die lewe en onsterflikheid (Joh. 5:29; 1 Kor. 15:52,53) vind met die Wederkoms plaas (1 Kor. 15:22, 23; 1 Thess. 4:15-18). Diegene wat dit deurmaak, kan nie meer sterf nie (Lukas 20:36). Hulle is vir altyd met Christus verenig.
Wat sal die aard van die herrese liggaam wees? Soos Christus, sal die herrese heiliges werklike liggame hê. En soos Christus as verheerlikte wese opgestaan het, so sal die regverdiges opstaan. Paulus verklaar dat Christus “ons vernederde liggaam verander, om gelykvormig te word aan Sy verheerlikte liggaam”(Filip. 3:21).” Hy noem die onverheerlikte liggaam die “natuurlike liggaam” en die “geestelike liggaam” onderskeidelik; eersgenoemde is sterflik en verganklik en laasgenoemde onsterflike en onverganklik. Die verandering van sterflikheid tot onsterflikheid geskied oombliklik met die opstanding (kyk 1 Kor. 15:42-54).
2. Die opstanding van die veroordeling. Die goddeloses word in die tweede algemene opstanding aan die einde van die duisend jaar opgewek (kyk hoofstuk 26 van hierdie boek). Hierdie opstanding lei tot die uiteindelike oordeel en veroordeling (Joh. 5:29). Diegene wie se name nie in die boek van die lewe verskyn nie, sal nou opgewek word en “sal in die poel van vuur gewerp” word, wat die tweede dood sal wees (Openb. 20:15, 14).
Hulle kon hierdie tragiese einde vermy het. In onmiskenbare taal beskryf die Skrif God se weg tot ontkoming: “Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ’n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie. Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe?…want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here Here. Bekeer julle dan en lewe” (Esegiël 18:30-32).
Christus belowe dat “die wat oorwin…deur die tweede dood geen skade [sal] lei nie” (Openbaring 2:11). Diegene wat Jesus en Sy verlossing aanneem, sal’n onbeskryflike vreugde beleef met Sy klimktiese terugkeer. In onverwelklike geluk sal hulle die ewigheid in gemeenskap met hul Here en Verlosser deurbring.
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
TERUGVOER
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. “Immortality,” SDA Encyclopedia, hers. uitg., bl. 621.
2. Deur die eeue heen het vooraanstaande Christene van baie gelowe – Luthers, Hervormd, Anglikaans, Baptiste, Kongregasionalisties, Presbiteriaans, Metodiste, ens. – die Bybelleer van voorwaardelike onsterflikheid bevestig. Onder die bekendstes was die volgende: 16de eeu – Martin Luther, William Tyndale, John Frith, George Wishart; 17de eeu – Robert Overton, Samuel Richardson, John Milton, George Wither, John Jackson, John Canne, aartsbiskop John Tillotson, dr. Isaac Barrow; l8de eeu – dr. William Coward, Henry Layton, Joseph N. Scott, M.D., dr. Joseph Priestly, Peter Pecard, aartsdeken Francis Blackburne, biskop William Warburton, Samuel Bourn, dr. William Whiston, dr. John Tottie, prof. Henry Dodwell; 19de eeu -biskop Timothy Kendrick, dr. William Thomson, dr. Edward White, dr. John Thomas, H. H. Dobney; aartsbiskop Richard Whately; deken Henry Alford, James Panton Ham, Charles F. Hudson, dr. Robert W. Dale, deken Frederick W. Farrar, Hermann Olshausen, kanunnik Henry Constable, William Gladstone, Joseph Parker, biskop John J. S. Perowne, sir George G. Stokes, dr. W. A. Brown, dr. J. Agar Beet, dr. R. P. Weymouth, dr. Lyman Abbott, dr. Edward Beecher, dr. Emmanuel Petavel-Olliff, dr. Franz Delitzsch, biskop Charles J. Ellicott, dr. George Dana Boardman, J. H. Pettingell; 20ste eeu – kanunnik William H. M. Hay Aitken, Eric Lewis, dr. William Temple, dr. Gerardus van der Leeuw, dr. Aubrey R. Vine, dr. Martin J. Heinecken, David R. Davies, dr. Basil F. C. Atkinson, dr. Emil Brunner, dr. Reinhold Niebuhr, dr. T. A. Kantonen, dr. D. R. G. Owen. Kyk Questions on Doctrine, bl. 571-609; Froom, The Conditionalist Faith of Our Fathers, (Washington, D.C.: Review and Herald, 1965, 1966), deel 1 en 2.
3. Kyk “Death,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 277, 278.
4. R. L. Harris, “The Meaning of the Word Sheol as Shown by Parallels in Poetic Texts,” Journal of the Evangelical Theological Society, Desember 1961, bl. 129-135; Kyk ook SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 3, bl. 999.
5. Kyk bv. SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 5, bl. 387.
6. Die enigste uitsondering is wanneer sheol figuurlik gebruik word (kyk Eseg. 32:21) of hades in ‘n gelykenis (Lukas 16:23). Sheol kom meer as sestig maal in die Ou Testament voor, maar nêrens verwys dit na ‘n plek waar mense na die dood gestraf word nie. Daardie idee is later aan gehenna (Markus 9:43-48), geheg, en nie aan hades nie. Daar is net een uitsondering (Lukas 16:23). Kyk ook SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 3, bl. 999.
7. Daar is gemeen dat die volgende gedeeltes probleme skep vir hierdie siening van die Skriftelike leer oor die aard van die dood. ‘n Noukeurige ondersoek toon egter dat hulle volledig inpas by die res van die Skrif. a. Ragel se dood. Met verwysing na Ragel se dood sê die Skrif dat haar siel “uitgegaan” het (Gen. 35:18). Hierdie uitdrukking gee maar net te kenne dat sy in haar laaste bewuste oomblikke met haar laaste asem ‘n naam aan haar seun gegee het. Daarom lui die Nuwe Afrikaanse Bybel: “Terwyl sy haar laaste asem uitblaas.” b. Elia en die dooie seun. Toe Elia gebid het dat die siel van die dooie seun van die weduwee van Sarfat moet terugkeer, het God hom geantwoord deur die seun te laat herlewe (1 Kon. 17:21,22). Dit was die gevolg van die vereniging van die lewensbeginsel met die liggaam, waarvan nie een afsonderlik lewend of bewus was nie. c. Moses se verskyning op die berg. Moses se verskyning op die berg van verheerliking is nie ‘n bewys van die bestaan van bewuste geeste of die teenwoordigheid van al die regverdige dooies in die hemel nie. Kort voor hierdie gebeurtenis het Jesus aan Sy dissipels gesê dat sommige van hulle voor hulle dood die Seun van die mens in Sy koninkryk sal sien kom. Hierdie belofte is aan Petrus, Jakobus en Johannes vervul (Matt. 16:28 17:3). Op die berg het Christus hulle ‘n miniatuurvoorstelling van God se koninkryk van die heerlikheid gegee. Daar was Christus, die heerlike Koning, saam met Moses en Elia verteenwoordigers van die twee tipes onderdane van die koninkryk. Moses het die regverdige dode wat met die Wederkoms uit die graf opgewek is, verteenwoordig, en Elia die regverdige lewendes wat in die hemel opgeneem sal word sonder om die dood te smaak (2 Kon. 2:11). Judas verstrek ‘n bewys dat Moses spesiaal opgewek is. Nadat Moses gesterf het en begrawe is (Deut. 34:5, 6), het Migael en die duiwel gestry oor die liggaam van Moses (Judas 9). Die feit dat Moses op die berg verskyn het, bring mens tot die gevolgtrekking dat die duiwel die stryd verloor het en dat Moses uit sy graf opgewek is, wat hom, sover bekend, die eerste een maak wat deur die krag van Christus opgewek is. Hierdie gebeurtenis verskaf geen bewys vir die leer van die onsterflikheid van die siel nie. lnteendeel dit ondersteun die leer van die liggaamlike opstanding. d. Die gelykenis van die ryk man en Lasarus. Christus se verhaal van die ryk man en Lasarus word aangehaal om te bewys dat die dode bewus is (Lukas 16:19-31). Ongelukkig het diegene wat dit so vertolk, nie ingesien dat ons hier met ‘n gelykenis te doen het nie en dat dit belaglik sou wees om dit in alle besonderhede op te neem. Die dooies sou dan hul loon as werklike wesens met liggaamsdele soos oë, tong en vingers ontvang. Al die regverdiges sou op die boesem van Abraham rus en die hemel en die hel sou binne hoorbare afstand van mekaar wees. Albei klasse sou hul loon met die dood ontvang in teenstelling met Christus se leer dat hulle dit met die Wederkoms sal ontvang (Matt. 25:31-41; Openb.22:12). Die verhaal is egter ‘n gelykenis – ‘n metode wat Christus graag in Sy leer gevolg het. Elke gelykenis is bedoel om ‘n les te leer en wat Christus hier geleer het, het niks met die toestand van die dode te make gehad nie. Die les in hierdie gelykenis is hoe belangrik dit is om volgens die Woord van God te lewe. Jesus het getoon dat die ryk man hom met materialisme besig gehou het en nagelaat het om behoeftiges te versorg. Die ewige bestemming word in hierdie lewe beslis en daar is geen tweede geleentheid nie. Die Skrif is die gids tot bekering en verlossing en as ons nie wil ag slaan op die waarskuwings van die Woord van God nie, sal niks ons help nie. Daarom het Christus die gelykenis geëindig met die woorde “Ashulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan” (Lukas 16:31). Christus het eenvoudig elemente van die gebruiklike Joodse storievertellery gebruik waarin die dooies ‘n gesprek voer. (Die begrip van Abraham se boesem en Hades in die gelykenisse was soortgelyk aan Joodse oorleweringe. Kyk “Discourse to the Greeks Concerning Hades,” Josephus’ Complete Works, vertaal deur William Whiston [Grand Rapids: Kregel, 1960], bl. 637.) So vind ons ook in die Bybel ‘n gelykenis waarin die bome gesels (Rig. 9:7-15; vgl. 2 Kon. 14:9). Niemand sal hierdie gelykenis gebruik om te bewys dat bome kan praat nie. Daarom moet ‘n mens nie ‘n betekenis aan die gelykenis van Christus heg wat die talle skriftuurlike bewyse en Christus se persoonlike leer dat die dood ‘n slaap is, sal weerspreek nie. e. Christus se belofte aan die moordenaar. Christus het die moordenaar aan die kruis belowe: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Die Paradys is klaarblyklik sinoniem met die hemel (2 Kor. 12:4; Openb. 2:7). Soos die vertaalde teks lui, sou Christus daardie Vrydag hemel toe gegaan het na die teenwoordigheid van God, en so ook die moordenaar. Tog het Christus op die opstandingsmôre self aan Maria gesê toe sy aan Sy voete neergeval en Hom aanbid het: “Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader en my God en julle God” (Joh. 20:17). Dat Christus oor die naweek in die graf gebly het, blyk duidelik uit die woorde van die engel, “Kom kyk na die plek waar die Here gelê het” (Matt. 28:6). Het Christus Hom weerspreek? Glad nie. Die oplossing tot ‘n begrip van die teks lê in sy leestekens. Die vroeë manuskripte van die Bybel het nie kommas of spasies tussen die woorde gehad nie. Deur leestekens en woordverdelings in te sit, kan mens ‘n aansienlike verskil in die betekenis van die teks bring. Bybelvertalers sit leestekens in so goed as wat hul kan oordeel, maar hul werk is gewis nie geïspireer nie. As die vertalers wat oor die algemeen sulke uitmuntende werk gedoen het, die komma in Lukas 23:43 ná “vandag” gesit het pleks van voor dit, sou hierdie gedeelte nie die leer van die res van die Bybel oor die dood weerspreek nie. Christus se woorde sou dan behoorlik verstaan gewees het as betekenende: “Voorwaar, Ek se vir jou vandag [hierdie dag waarop Ek as ‘n misdadiger sterf], jy sal met My in die Paradys wees.” Ooreenkomstig die Bybelleer het Jesus die misdadiger belowe dat hy saam met Hom in die Paradys sou wees – ‘n belofte wat vervul sal word met die opstanding van die regverdiges by Sy Wederkoms. f. Om heen te gaan en by Christus te wees. ”Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins,” het Paulus gesê. “Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Filip. 1:21,23). Het Paulus verwag om dadelik na sy dood na die hemel te gaan? Paulus het baie geskryf oor die onderwerp van om saam met Christus te wees. In ‘n ander brief het hy geskryf omtrent diegene “wat in Jesus ontslaap het.” Met die Wederkoms, het hy gesê, sal die regverdige dode opgewek word en saam met die regverdige lewendes “in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:14, 17). Teen hierdie agtergrond sien ons dat Paulus in sy brief aan die Filippense, nie in besonderhede ingaan op wat met die dood gebeur nie. Hy gee eenvoudig sy verlange te kenne om sy huidige beproewende bestaan te verlaat en by Christus te wees, sonder dat hy enige verwysing of verduideliking verstrek in verband met die tydperk tussen die dood en die opstanding. Sy hoop berus op die beloofde persoonlike verhouding met Jesus deur alle ewigheid. Vir diegene wat sterf, is daar nie ‘n lang tydperk tussen die tyd wanneer hulle hul oë in die dood sluit en wanneer hulle hul met die opstanding oopmaak nie. Omdat die dode nie bewus is nie en daarom geen begrip het van die tydsverloop nie, sal die opstandingsmore vir hulle voel of dit maar ‘n oomblik na hul dood is. Vir die Christen is die dood voordelig: geen versoekings, beproewinge en droefheid nie en met die opstanding die gawe van’n heerlike onsterflikheid.
8. White, Die Groot Stryd, hist. 33, par. 17.
9. “Death,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 278; vgl. Questions on Doctrine, bl. 524.
10. “Resurrection,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 935.
11. Questions on Doctrine, bl. 67, 68. 12. “Resurrection,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 936.