Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Die huwelik is deur God in Eden ingestel en deur Jesus bevestig as ‘n lewenslange vereniging tussen man en vrou in ‘n liefdevolle kameraadskap. Vir die Christen is die huwelik ‘n toewyding aan sowel God as aan die gade, en behoort dit net aangegaan te word tussen persone wat dieselfde geloof aanhang. Wedersydse liefde, eerbied, respek, en verantwoordelikheid is die raamwerk van hierdie verhouding wat die liefde, heiligheid, intiemheid en ewigdurendheid van die verhouding tussen Christus en Sy kerk moet uitbeeld. Wat egskeiding betref, het Jesus geleer dat iemand wat van sy gade skei, behalwe op grond van ontug, en met ‘n ander trou, egbreuk pleeg. Hoewel sommige gesinsverhoudinge moontlik nie aan die ideaal voldoen nie, kan gades wat hulle volkome in Christus aan mekaar wy, onder die leiding van die Gees en met die sorg van die kerk ‘n liefdevolle eenheid ondervind. God seen die gesin en wil he sy lede moet mekaar aanmoedig tot volkome volwassenheid. Ouers moet hulle kinders so grootmaak dat hulle die Here liefhet en gehoorsaam. Deur voorbeeld en onderrig moet hulle hul leer dat Christus ‘n liefdevolle Tugmeester is, vol deernis en sorg, wat wil hê dat hulle lede van Sy liggaam, die gesin van God, moet word. Hegter gesinsbande is een van die kentekens van die laaste evangelieboodskap.
Die Huwelik en die Gesin
Die huis is ‘n belangrike omgewing vir die herstel van die beeltenis van God in manne en vroue. Binne die gesin kan vader, moeder en kinders hulle ten volle uitleef en aan mekaar se behoeftes vir samehorigheid, liefde en innigheid voldoen. Hier word identiteit bevestig en gevoelens van eiewaarde gekweek. Die huis is ook die plek waar die beginsels van ware Christelikheid deur die genade van God uitgeleef en sy waardes van die een geslag na die ander oorgedra word.
Die gesin kan die milieu vir groot geluk wees. Dit kan ook die toneel van verskriklike hartseer wees. Eensgesindheid in die gesinslewe demonstreer die beginsels van die Christelike geloof wat waarlik uitgeleef word en die aard van God openbaar. Ongelukkig kom hierdie eienskappe maar alte selde in hedendaagse gesinne tot uiting. Pleks daarvan is baie gesinne ‘n demonstrasie van die gedagtes en die bedoelinge van menslike selfsug rusie, verset, naywer, woede, bandeloosheid en selfs wreedheid. Tog was hierdie eienskappe nie deel van God se oorspronklike plan nie. Jesus het gesê: “Van die begin af was dit nie so nie” (Matt. 19:8).
Van die Begin Af
Die Sabbat en die huwelik is twee van God se oorspronklike geskenke aan die mensdom. Hulle doel was om, ongeag van tyd, plaas en kultuur, die vreugde van rus en saamhorigheid te voorsien. Die daarstelling van hierdie twee voorregte was die kroon op God se Skepping van die aarde. Hulle was die laaste, die beste van die baie goeie gawes wat Hy met die Skepping aan die mens gegee het. Met die daarstelling van die Sabbat het God aan die mens ‘n tyd van rus en vernuwing, ‘n tyd van gemeenskap met Hom gegee. Met die totstandbrenging van die eerste gesin, het Hy die basiese maatskaplike eenheid vir die mensdom bepaal en hulle ‘n saamhorigheidsgevoel en die geleentheid gegee om ewewigtige persone in die diens van God en ander te word.
Man en Vrou na die Beeld van God. Genesis 1 :26, 27 beskryf hoe God die mense gemaak het wat die aarde moes bewoon: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis … en God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Die teks maak dit duidelik dat dit nie ‘ngeval was dat die man na die beeld van God geskape is en die vrou na die beeld van die man nie.1 Inteendeel, albei is na die beeld van God geskape.
Net soos Vader, Seun en Heilige Gees God is, maak die man en die vrou saam die “mens.” En soos die Godheid het hulle nie dieselfde funksie nie ondanks hulle een is. Hulle is gelyk wat wese en waarde betref, maar nie identies van persoon nie (vgl. Joh. 10:30; 1 Kor. 11:3). Hulle fisieke samestellings vul mekaar aan, hul funksies ondersteun mekaar.
Albei geslagte is goed (Gen. 1:31), en so ook hulle verskillende rolle. Die gesin en die huis is op die seksuele verskil gebaseer. God sou die lewe op aarde kon vermenigvuldig het sonder om man en vrou te skep, soos blyk uit die aseksuele voortplanting van sommige vorme van dierelewe. Maar God het “twee individue, identies in die algemene gestalte en hoedanighede gemaak, maar elkeen met iets in homself wat die ander nie het nie en wat die ander aanvul.”2 “‘n Wêreld wat uit lede van net een seks bestaan het, sou onvolledig gewees het. Ware vervulling kan alleen plaasvind in ‘nsamelewing waarin sowel mans as vrouens aanwesig is. Gelykheid is nie ter sprake nie, want albei is noodsaaklik.
Op die eerste dag het Adam, die eersgeborene en daarom die hoof van die menseras,3 sy uniekheid besef -daar was niemand anders soos hy nie. “Maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie” (Gen. 2:20). God was simpatiek teenoor hierdie tekortkoming, want Hy het gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘nhulp maak wat by hom pas” (Gen. 2:18).
Die Hebreeuse woord neged wat hier vertaal word as “wat by hom pas” is ‘nnaamwoord wat verwant is aan die voorsetsel wat beteken om “voor, teenoor, ooreenkomstig, tot” iemand of iets te staan. In hierdie geval moes die persoon wat voor Adam staan, hom aanvul en as sy teendeel by hom aanpas. Daarom het God “‘n diepe slaap op die mens laat val” en “eenvan sy ribbebene geneem” (Gen. 2:21) en sy ega gevorm.4
Toe Adam wakker word, herken hy dadelik die intieme verhouding wat hierdie bepaalde skeppingsdaad moontlik gemaak het. Hy het uitgeroep: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem” (Gen. 2:23, vgl. 1 Kor. 11:8).
Die Huwelik. Uit die andersheid van man en vrou het God orde en eenheid geskep. Daardie eerste Vrydag het hy die eerste huwelik voltrek en hierdie twee, wat ‘ntoonbeeld van Sy beeltenis was, een gemaak. En sedertdien was die huwelik steeds die grondslag van die gesin, die grondslag van die samelewing self.
Die Skrif beeld die huwelik uit as ‘n beslissende handeling van sowel skeuring as vereniging: ‘n man sal “sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Gen. 2:24).
1. Verlating. Dit is van die grootste belang vir die huweliksverhouding dat die vorige primêre verhoudinge verbreek word. Die huweliksverhouding moet die van ouer en kind vervang. In hierdie geval laat die “verlating,” van ‘n mens se verhouding met jou ouers toe dat jy die ander een kan “aankleef”. Sonder hierdie proses sou die huwelik geen vaste grondslag hê nie.
2. Aanklewing. Die Hebreeuse woord wat as aankleef vertaal word, spruit uit ‘n woord wat beteken “om aan te kleef, om vas te heg, om aan te sluit, om vas te hou.” As naamwoord kan dit selfs vir sweis en soldeer gebruik word (Jes. 41:7). Die intiemheid en krag van hierdie verbinding illustreer die aard van die huweliksband. Enige poging om hierdie vereniging van mense wat so nou saaamgebind is, te ontbind, sal mense seermaak. Dat hierdie menslike band baie heg is, word ook beklemtoon deur die feit dat dieselfde werkwoord gebruik word om die band tussen God en Sy volk uit te beeld: “Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en by sy Naam sweer” (Deut. 10:20).
3. ‘n Verbond sluit. In dieSkrif word hierdie gelofte, hierdie onderneming waardeur egpare saamgebind word, as ‘n “verbond” beskryf, ‘n woord wat gebruik word vir die plegtigste en bindendste ooreenkoms wat in die woord van God bekend is (Mal. 2:14; Spr. 2:16, 17). Die verhouding tussen man en vrou moet geskoei word op God se ewige verbond met Sy volk, die kerk (Efe. 5:21-33). Hul toewyding aan mekaar moet net so getrou en blywend wees as die wat die verbond van God kenmerk (Ps. 89:35; Klaagl. 3:23).
God en die egpaar se familie, vriende en gemeenskap is getuies van die verbond wat hulle met mekaar aangaan. Daardie verbond word in die hemel bekragtig. “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Matt. 19:6). Die Christenegpaar verstaan dat hulle, deur met mekaar te trou, ‘n verbond aangegaan het om getrou aan mekaar te bly solank as wat hulle albei lewe.5
4. Om een vlees te word. Die verlating en die verbond om mekaar aan te kleef, gee aanleiding tot ‘n vereniging wat ‘n verborgenheid is. Hier is ‘n eenheid in sy volste betekenis – die egpaar wandel saam, staan saam, en deel ‘n diepe intiemheid. Aanvanklik verwys hierdie eenheid na die liggaamlike vereniging van die huwelik. Maar dit strek ook verder na die intieme band van gees en emosies wat hierdie fisieke sy van die verhouding onderskraag
a. Om saam te wandel. In verband met Sy verhouding met Sy volk, vra God: “Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (Amos 3:3). Daardie vraag is ook gepas vir diegene wat een vlees wi! word. God het die Israeliete beveel om nie met die omliggende nasies te ondertrou nie, “want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien” (Deut. 7:4; vgl. Jos. 23:11-13). Toe die Israeliete hierdie bevele veronagsaam het, het hulle hul rampspoedige gevolge op die hals gehaal (Rig. 14-16; 1 Kon. 11:1-10; Esra 9; 10).
Paulus het hierdie beginsel met bree trekke herhaal: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God” (2 Kor. 6:14-16; vgl. verse 17, 18).
Die Skrif stel dit duidelik dat gelowiges alleen met ander gelowiges moet trou. Maar die beginsel strek selfs verder as dit. Ware eenheid vereis ook ‘n ooreenkoms wat betref dinge wat ‘n mens glo en doen. Verskille in godsdienstige gebruike lei tot verskille in lewenswyse wat ernstigespanning en skeuringe in die huwelik kan veroorsaak. Om hierdie eenheid waarna die Skrif verwys te bewerkstellig, moet mense dus aileen met ander binne hul eie gemeenskap trou.6
b. Om saam te staan. Om een vlees te kan word, moet twee mense heeltemal lojaal teenoor mekaar wees. As ‘n mens trou, waag jy alles en aanvaar jy alles wat saam met jou huweliksmaat kom. Mense wat trou, verkondig hul bereidwilligheid om hul maat se aanspreeklikheid te deel en om in aile sake getrou aan mekaar se sy te staan. Die huwelik verkies ‘n aktiewe toegewyde lewe wat nie tou opgooi nie.
“Twee mense deel alles wat hulle het, nie net hulle liggame nie, nie net hul stoflike besittings nie, maar ook hul gedagtes en gevoelens, hul vreugde en smart, hul verwagtinge en vrese, hul suksesse en mislukkings. Om een vlees te word, beteken dat twee mense volkome een word in liggaam, siel en gees maar dat hulle tog twee verskillende persoonlikhede bly.”7
c. lntimiteit. Om een vlees te word, bring ‘n seksuele vereniging mee: “Die mens het sy vrou, Eva, beken en sy het swanger geword” (Gen. 4:1). In hul drang om verenig te word, ‘n drang wat mans en vroue sedert die dae van Adam en Eva geken het, herhaal elke egpaar die eerste liefdesverhaal. Die intieme seksuele daad is die naaste wat hulle aan ‘n fisieke vereniging kan kom, dit verteenwoordig ook die innigheid wat ‘n egpaar emosioneel en geestelik kan ondervind. In Christen egpaar se liefde moet gekenmerk word deur hartlikheid, vreugde en genot (Spr. 5:18, 19).
“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet” (Heb. 13:4). “Die Skrif verklaar duidelik dat die heuglike seksuele uiting van die liefde tussen man en vrou die plan van God is. Dit is, soos die skrywer van die Hebreërs beklemtoon, onbesmet, nie sondig nie, nie besoedel nie dit is ‘n geleentheid van groot eer in die huwelik, die allerheiligste waar man en vrou privaat byeenkom om hul liefde vir mekaar te vier. Dit is ‘n geleentheid wat bedoel is om sowel heilig as intens genotvol te wees.”8
5. Bybelse liefde. Die huweliksliefde is ‘n onvoorwaardelike, liefdevolle en intieme toewyding aan mekaar wat wedersydse toename in die beeld van God in alle aspekte van die persoon in die hand werk: fisiek, emosioneel, intellektueel en geestelik. Verskillende soorte liefde is in die huwelik werksaam; dit het sy romantiese, hartstogtelike oomblikke; sy hoogs sentimentele oomblikke, sy tye van rustige samesyn; van kameraadskap en ‘n gevoel van saamhorigheid. Maar dit is die agape liefde wat in die Nuwe Testament beskryf word – die onselfsugtige, elk-vir-die-ander-liefde – wat die grondslag vorm van die ware, blywende huweliksliefde.
Jesus het die hoogste vorm van hierdie soort liefde aan die dag gelê toe Hy sowel die skuld as die gevolge van ons sondes op Hom geneem en na die kruis gegaan het u omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad het tot die einde toe” (Joh. 13:1). Hy het ons liefgehad ondanks die gevolge wat ons sondes vir Hom ingehou het. Dit was en is die onvoorwaardelike agape-liefde van Jesus Christus.
Paulus beskryf die liefde soos volg die liefde is lankmoedig en vriendelik; “die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Kor. 13:4-8).
In ‘n kommentaar oor hierdie skrifgedeelte het Ed Wheat geskryf: “Agape-liefde is by die ewige kragbron ingeprop en kan steeds funksioneer wanneer enige ander soort liefde faal. … Dit bemin, kom wat wil. Dit maak nie saak hoe onbeminlik die ander persoon is nie, agape kan aanhou vloei. Agape is so onvoorwaardelik soos God se liefde vir ons. Dit is ‘n gesindheid wat op ‘nopsetlike keuse van die wil berus.”9
6. Individuele geestelike verantwoordelikheid. Al het huweliksmaats hulle in ‘n verbond met mekaar verenig, moet elkeen individueel die verantwoordelikheid dra vir die keuse wat hy of sy maak (2 Kor. 5:10). As iemand hierdie verantwoordelikheid op hom neem, beteken dit dat hy nooit die ander een sal blameer vir wat hy self aangevang het nie. Hulle moet ook die verantwoordelikheid vir hul eie geestelike opwassing aanvaar; want niemand kan hom op ‘n ander se geestelike krag verlaat nie. Tog kan elkeen se verhouding met God as ‘n bron van krag en bemoediging vir die ander dien.
Die Sondeval se Uitwerking op die Huwelik
Die sonde het die beeltenis van God in die huwelik in dieselfde mate as in die mens geskend. Eie belang het ingedring waar volkome liefde en eenheid eens geheers het. Selfsug is die vernaamste motief van almal wat nie deur die liefde van Christus gedwing word nie. In teenstelling met die beginsels van oorgawe, diensvaardigheid en die milddadigheid wat die evangelie kenmerk, is dit die gemenedeler van alle Christelike tekortkominge.
Deur hul ongehoorsaamheid het Adam en Eva die doel oortree waarvoor hul geskape is. Voordat hulle gesondig het, het hulle in openlike onskuld voor God gewandel. Daarna het hulle, pleks van Hom blymoedig te verwelkom, uit vrees vir Hom weggekruip en die waarheid omtrent hulself vir Hom probeer verberg en die verantwoordelikheid vir hul dade probeer afskuif. Vervul met ‘n diepe skuldgevoel wat hulle net nie kon wegredeneer nie, kon hulle God en die heilige engele nie in die oë kyk nie. Sedertdien is hierdie ontwykende en selfverdedigende ontkenning steeds die algemene kenmerk van die mens se verhouding met God.
Die vrees wat hulle laat wegkruip het, het nie net Adam en Eva se verhouding met God bederf nie, maar ook met mekaar. Toe God hul ondervra het, het albei probeer om hulself ten koste van die ander te verdedig. Hul beskuldiginge het getoon hoe ernstig die liefdevolle verhouding wat God met die Skepping tot stand gebring het, bederf is.
Ná die sondeval het God aan die vrou gesê: “Na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers” (Gen. 3:16). Sy bedoeling was dat hierdie beginsel, wat nie die basiese gelykheid van die man en die vrou verander het nie, tot voordeel sou dien van sowel die eerste egpaar as die egpare wat op hulle sou volg. Ongelukkig is hierdie beginsel misbruik. Sedertdien het oorheersing deur krag, manipulasie en die afbreking van die individualiteit die huwelik deur die eeue gekenmerk. Egoïsme het die aanvaarding en waardering van mekaar laat skipbreuk ly.
Die wese van die Christelikheid is die selfverloënende eenstemmigheid wat die huwelik vóór die sondeval gekenmerk het en wat deur laasgenoemde vemietig is. Die toegeneentheid van man en vrou moet bydra tot mekaar se geluk. Elkeen moet die ander probeer gelukkig maak. Hulle moet saamsmelt as een en tog moet nie een van hulle sy/haar individualiteit daardeur inboet nie. 11
Afwykings van God se Ideaal
Veelwywery. Die gebruik dat ‘n huweliksmaat etlike gades aanhou, is strydig met die eenheid wat God met die eerste huwelik in Eden tot stand gebring het. Met veelwywery word alle ander nie versaak nie. Hoewel die Skrif plurale huwelike in die tyd van die patriarge as ‘n kulturele werklikheid beskryf het, toon die beskrywing duidelik dat daardie huwelike nie aan die Goddelike ideaal voldoen het nie. Die verskillende individue in daardie huwelike het in ‘n magstryd, bittere wrewel en vervreemding gewikkel geraak (kyk Gen. 16; vgl. 29:16 – 30:24, et a1), waardeur die kinders as emosionele wapens gebruik is om ander lede van die gesin te benadeel.
Monogame huwelike gee die egpare ‘n gevoel van saamhorigheid wat hul intimiteit en eenheid versterk. Hulle besef dat hul verhouding enig is en dat geen ander kan deel in wat hulle doen nie. Die monogame verhouding gee die duidelikste weergawe van die verhouding tussen Christus en Sy kerk en tussen die individu en God.12
Ontug en Owerspel. Deesdae is daar maar min respek vir blywende verhoudinge waarin albei huweliksmaats tot die dood toe seksueel aan mekaar getrou bly. Die Skrif beskou enige seksuele verhouding buite die huwelik egter as sonde. Die sewende gebod bly onveranderd van krag: “Jymag nie egbreek nie” (Exod. 20:14). Hier word geen melding van uitsonderinge gemaak nie. Hierdie gebod is ‘n beginsel wat die huweliksverhouding jaloers beskerm.
Die volle betekenis van die Bybelse siening van ontug en owerspel bots lynreg met die hedendaagse verdraagsaamheid van so ‘n handeling deur “volwassenes wat daartoe toestem.” Baie gedeeltes in sowel die Ou as die Nuwe Testament verdoem sulke gebruike (Lev. 20:10-12; Spr. 6:24-32; 7:6-27; 1 Kor. 6:9, 13, 18; Gal. 5:19; Efe. 5:3; 1 Thess. 4:3; ens.).
Sodanige verhoudings kan verreikende en langdurige gevolge hê. Hulle bedrieg die wettige seksuele maat en kan hom of haar fisiek, emosioneel, finansieel, wetlik en maatskaplik benadeel. Hulle skaad die groter gesin en as daar kinders betrokke is, word hulle veral benadeel. Hierdie verhoudinge kan die oordra van veneriese siektes en die geboorte van buite-egtelike kinders veroorsaak. Boonop vernietig die wolk van leuens en oneerlikheid wat met sulke verhoudinge gepaard gaan, die vertroue so erg dat dit miskien nooit herstel kan word nie. Selfs afgesien van die Bybelse vermaninge teen hierdie vorme van onsedelikheid, behoort die reeks ongelukkige gevolge wat dit afgee as genoegsame waarskuwing daarteen te dien.
Onrein Gedagtes. Sonde is nie net ‘n uiterlike daad nie, dit is ook ‘n kwessie van die hart wat tot diep in die gedagtepatrone indring. As die fonteine besoedel is, is dit onwaarskynlik dat die riviere skoon sal wees. Jesus het geweet dat die innerlike bron van die gees die gedrag van die mens motiveer, “want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal” (Matt. 15:19). In hierdie trant het Hy die ontroue daad nagespeur na die gedagtes en die emosies: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gese is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matt. 5:27,28).
‘n Hele bedryf het ontwikkel om munt te slaan uit die perversie van die verbeelding. Die sinlike rolprente en boeke wat dit uitgee, het geen plek in die Christelike lewe nie. Nie alleen moedig hulle onwettige verhoudinge aan nie, maar hulle verlaag mans en vrouens tot blote seksuele voorwerpe wat die ware betekenis van die seksualiteit verdraai en die beeld van God verdoesel. Van Christene word verwag om rein gedagtes te bedink en rein lewens te lei omdat hulle hulle voorberei om in alle ewigheid in ‘n rein samelewing te woon.
Bloedskande. Party ouers oortree die grense wat ‘n gesonde liefdesbetuiging aan hul kinders afbaken en raak fisiek en emosioneel intiem met hulle. Dit gebeur dikwels as die normale verhouding tussen man en vrou verwaarloos is en een van die kinders uitgesoek word om die rol van die huweliksmaat te vervul. Hierdie oortreding van grense kan ook tussen broers en susters of ander familielede voorkom.
Bloedskande word in die Ou Testament verbied (Lev. 18:6-29; Deut. 27:20-23) en in die Nuwe veroordeel (1 Kor. 5:1-5). Hierdie misbruik skaad die kind se ontwikkelende seksualiteit en kweek in hom of haar ‘n onverdiende las van skande en skuldgevoelens wat hy of sy moontlik later in die huwelik kan oordra. As ouers hierdie grense oortree, skaad hulle die kind se ontwikkelende gevoel van vertroue wat so noodsaaklik vir geloofin God is.
Egskeiding. ‘n Uitspraak van Jesus som die Bybelse leer oor egskeiding op: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Matt. 19:6; Markus 10:7-9). Die huwelik is heilig omdat God dit geheilig het. Uiteindelik is dit God wat man en vrou saambind, nie blote woorde van mense of die seksdaad nie. Dus is dit Hy wat hul vereniging verseël het. Die Christelike begrip van egskeiding en hertroue moet dus op ‘n skriftuurlike grondslag berus.
Jesus se verklaring stel die skriftuurlike beginsel wat die Christelike standpunt oor egskeiding onderskraag, duidelik: God se bedoeling is dat die huwelik nie ontbind moet word nie. Toe die Fariseërs Hom gevra het of onaanpasbaarheid in die huwelik genoeg rede vir egskeiding is, het Hy die Edense model vir die huwelik as ‘n permanente vereniging herbevestig. Toe hulle Hom uitgevra het oor Moses se wette oor egskeiding, het Hy geantwoord: “OmdatMoses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie” (Matt. 19:8). Hy het verder gegaan en bepaal dat die enigste wettige rede vir egskeiding seksuele ontrouheid is (Matt. 5:32; 19:9).
Sy antwoord aan die Fariseërs maak dit duidelik dat Jesus ‘n veel dieper begrip van getrouheid gehad het as hulle. Volgens wat Hy gesê het en volgens die huweliksbeginsels in sowel die Ou as die Nuwe Testament kan dit bevestig word dat dit die doel van God is dat diegene wat trou, die beeld van God in ‘n blywende vereniging moet weergee.
Selfs die ontrouheid van een maat maak dit nog nie nodig dat die huwelik op ‘negskeiding moet uitloop nie. Die weg van die kruis vra om innige berou en vergifnis, die oorwinning oor bitterheid. Selfs in die geval van owerspel moet die veronregte ega deur vergifnis en dieversoenende krag van God probeer om God se oorspronklike plan met die Skepping te handhaaf. “Bybels gesproke hoef owerspel nie verwoestender op die huwelik in te werk as enige ander sonde nie….As u gereed is om te vergewe en om van u negatiewe houdings af te sien,sal God meer as bereid wees om u te genees en u liefde vir mekaar te hernieu.”13
Hoewel die Goddelike doel met die huwelik die van ‘n liefdevolle en blywende vereniging is wat voortduur tot met die dood van een ega, word ‘nskeiding van tafel en bed soms nodig weens die wanoptrede soos liggaamlike aanranding aan ‘n eggenote of ‘n kind. “In sommige siviele jurisdiksies kan ‘n skeiding alleen deur volle egskeiding verkry word, wat in sulke omstandighede nie veroordeel sal word nie. Maar so ‘n skeiding waarby ‘ontrouheid aan die huweliksgelofte’ nie betrokke is nie, gee nie een van die partye die skriftuurlike reg om te hertrou nie, tensy die ander party intussen hertrou het of owerspel of ontug gepleeg het of deur die dood verwyder is nie.” 14
Omdat die huwelik ‘n heilige instelling is, het die kerk ‘nunieke en plegtige verantwoordelikheid om ‘n egskeiding te voorkom en indien dit gebeur, die wonde wat dit veroorsaak sover moontlik genees.
Homoseksualiteit. God het man en vrou geskape om van mekaar te verskil en mekaar tog aan te vul. En toe Hy dit gedoen het, het Hy hulle so gemaak dat hul seksuele gevoelens teenoor iemand van die teenoorgestelde geslag opgewek word. Die verskil in geslag en die onderlinge aangetrokkenheid wat deel van die mens se wese is, bepaal dat twee mense van die teenoorgestelde geslag verenig ten einde ‘n eenheidsverhouding te vorm.
In sommige gevalle het die sonde selfs hierdie basiese oriëntasie aangetas en ‘n verskynsel teweeggebring wat al inversie genoem is. In sulke gevalle skyn dit of die aantrekking tot die teenoorgestelde geslag omgekeer word met die gevolg dat mense van dieselfde geslag tot mekaar aangetrokke voel.
Die Skrif veroordeel homoseksuele gebruike in krasse negatiewe taal (Gen. 19:410; vlg. Judas 7, 8; Lev. 18:22; 20:13; Rom. 1:26-28; 1 Tim. 1:8-10). Sulke gebruike veroorsaak ‘n ernstige verwringing van die beeld van God by mans en vrouens.
“Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23) en daarom sal Christene diegene wat deur hierdie verwringing geteister word, probeer rehabiliteer. Hulle sal die houding inslaan wat Christus bewys het teenoor die vrou wat in owerspel betrap is: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh. 8:11). Nie net mense met homoseksuele neiginge nie, maar alle mense wat vasgevang sit in gedragspatrone of – verhoudinge wat vrees, skande en skuld veroorsaak, het die simpatieke oor van ‘n opgeleide en ervare Christelike raadgewer nodig. Geen gedrag is te verregaande om deur God se helende genade bereik te word nie.15
Die Gesin
Nadat God Adam en Eva geskape het, het Hy hulle heerskappy oor die wêreld gegee (Gen. 1:26; 2:15). Hulle was die eerste gesin, die eerste kerk en die begin van die samelewing. Die samelewing berus dus op die huwelik en die gesin. Omdat hulle die enigste mense was wat die aarde bewoon het, het God hulle beveel: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Gen. 1:28).
Soos die wêreld se bevolkingstatistiek aandui, roep ‘nonbevolkte aarde nie meer uit om vervul en onderwerp te word nie. Maar Christenegpare wat besluit om kinders in die wêreld te bring, het steeds die verpligting om die kinders in die tug en vermaning van die Here op te voed. Voordat ‘n egpaar so ‘n besluit neem, moet hulle aan God se ideaal vir die gesin dink.
Ouers
1. Die vader. Die Skrif het aan die eggenoot en vader die verantwoordelikheid opgedra om hoof en priester van dip gesin te wees (Kol. 3:18-21; 1 Pet. 3:1-8). Hy word ‘n simbool van Christus, die hoof van die kerk. “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief” (Efe. 5:2328).
Omdat Christus die kerk lei, moet man en vrou “albei toegee, maar die Woord van God gee voorkeur aan die oordeel van die man” waar dit nie ‘n gewetensaak is nie.16 Terselfdertyd is dit sy verantwoordelikheid om haar individualiteit met die hoogste respek te behandel.
Soos Christus sagmoedige heerskappy aan die dag gelê het en as ‘n dienskneg na die kruis gegaan het, moet die man met selfopoffering voorgaan. “Die heerskappy van Christus is een van wysheid en liefde, en as mans hul verpligtinge teenoor hul vrouens nakom, sal hulle hul gesag met dieselfde tederheid uitoefen as Christus jeens die kerk. As die Gees van Christus die man beheers, sal die onderwerping van die vrou alleen tot rus en voordeel dien, want hy sal alleen van haar vereis wat ten goede sal strek en op dieselfde wyse as wat Christus onderdanigheid van die kerk verwag….Laat die mans die woorde van Christus bestudeer, nie om vas te stel hoe volkome die vrou se onderwerping moet wees nie, maar hoe hy die gesindheid van Christus kan ontwikkel, en gelouter, veredel en geskik om heer van sy huishouding te wees.”17
As priester van die gesin sal die vader, net soos Abraham, sy gesin aan die begin van die dag om hom skaar en hul aan die sorg van die Here toevertrou. In die aand sal hy hulle voorgaan om Hom te prys en te dank vir die seëninge wat ontvang is. Hierdie huisaltaar sal die band wees wat hulle saamvoeg – die tyd wanneer God voorrang in die gesin geniet.18
Die wyse vader sal tyd aan sy kinders bestee. ‘n Kind kan baie by sy vader leer, soos respek en liefde vir hul moeder, liefde vir God, die noodsaaklikheid van gebed, liefde vir ander mense, hoe om te werk, beskeidenheid, liefde vir die natuur en die dinge wat God gemaak het. As die vader egter nooit tuis is nie, word die kind van hierdie voorreg en vreugde beroof.
2. Die moeder. Moederskap is die naaste ding op aarde aan vennootskap met God. “Die koning op sy troon het geen edeler taak as wat die moeder het nie. Die moeder is koningin van haar huishouding. Dit is in haar mag om haar kinders se karakters te vorm sodat hulle geskik kan wees vir die hoër, onsterflike lewe. ‘n Engel kon nie om ‘n edeler sending gevra het nie, want deur hierdie taak te verrig, verrig sy diens vir God…. Laat haar die waarde van haar taak besef en die volle wapenrusting van God aantrek sodat sy die versoeking kan weerstaan om aan die norme van die wêreld toe te gee. Haar taak is vir tyd en vir ewigheid.”19
Iemand in die gesin moet uiteindelik die verantwoordelikheid dra vir die karakter van die kinders. Kinders grootmaak kan nie lukraak geskied of aan ander oorgelaat word nie, want niemand voel teenoor ‘n kind soos sy ouers voel nie. God het die moeder geskape met die vermoë om die kind in haar eie liggaam te dra, aan die bors te voed en te vertroetel en te liefkoos. Behalwe in die geval van versagtende omstandighede soos die swaar geldelike laste wat ‘n alleenstaande ouer moet dra,20 het die moeder, as sy dit so wil aanvaar, die unieke voorreg om heeldag by haar kinders te wees; sy kan die voorreg geniet om saam met die Skepper te arbei in die vorming van hul karakters vir die ewigheid.
“Eenlid van die gesin moet die gesin as ‘n loopbaan beskou….Om die loopbaan te aanvaar om moeder en eggenote te wees, is ‘n heerlike, seldsame lewenstaak in die twintigste eeu, en ‘n hoogs uitdagende onderneming. ‘n Verkwiste poging? ‘n Ondankbare taak? ‘n Gewone slaaf? Nee, ‘n hoogs opwindende moontlikheid om die gety te keer, om die menseras te red, om die geskiedenis te verander, om iets te doen wat in steeds wyer kringe gevoel en gehoor sal word.
In Ou-Testamentiese tye het mens se naam ‘n bondige beskrywing bevat van die persoon wat dit gedra het. Eva het haar naam ná die sondeval ontvang (Gen 3:20). Omdat sy die moeder van alle mense sou word, is haar naam (Hebreeus chawwah) wat afgelei is van die woord vir “lewe” (Hebreeus chay). Dis ‘n weergawe van die buitengewone ereposisie wat sy in die geskiedenis van die menseras beklee.
Net soos voortplanting nie die enigste en eksklusiewe reg van of Adam of Eva was nie, geld dit ook nie vir ouerskap nie. Laasgenoemde moes ook ‘n gedeelde verantwoordelikheid wees en so moet dit nou wees, nie net in die baar van die kinders nie, maar ook in hulle grootmaak. Elke ouer het sekere verantwoordelikhede en hulle moet nagekom word, asof dit vir die Here is. “Kyk, seuns is ‘n erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is In beloning” (Ps. 127:3).
Kinders
1. ‘n Voorvereiste. Benewens hul toewyding aan die Here en aan hul huweliksmaats, beklee ouers teenoor niemand anders ‘n hoër verantwoordelikheid as teenoor die kinders wat hulle in die wêreld gebring het nie. Hulle moet die belange van hul kinders bo hul eie belange en gerief stel; die kinders het nie verkies om in die wêreld te kom nie, en hulle moet die beste kans moontlik in die lewe gegee word. Omdat prenatale invloede ‘n mens se geestelike, verstandelike en fisieke gesondheid beïnvloed, moet aan die kind se welsyn voorrang gegee word, selfs voor geboorte.22
2. Liefde. ‘n Ouer se liefde moet onvoorwaardelik en selfopofferend wees. Hoewel dit miskien nooit volkome gewaardeer sal word nie, het kinders dit nodig om ‘n goeie selfbeeld en emosionele gesondheid dwarsdeur die lewe te geniet. Kinders wat liefde moet werf of wat voel dat hulle verwerp en onbelangrik is, sal probeer om hul ouers se liefde te verkry deur onwenslike gedrag wat ingewortel en gewoontevormend word.23
Kinders wat in hul ouers se liefde veilig voel, sal ander liefhê. Hulle kan geleer word om sowel te gee as om te ontvang en dat daar ‘n rede is vir ‘n bestaan buite hulleself. Namate kinders opwas, kan hulle leer om God te verheerlik.
3. Toewyding. Christelike ouers moet hul kinders so vroeg moontlik in die lewe aan die diens van God wy. Sewendedag-Adventiste gemeentes maak voorsiening vir so ‘n wyding met die eenvoudige seremonie waarin ouers hul kinders in die teenwoordigheid van die gemeente in gebed aan God wy, soos Josef en Maria die kindjie Jesus in die tempel aan die Here gewy het (Lukas 2:22-39). Op hierdie wyse begin die lewe as deel van ‘n uitgebreide geestelike gesin. Lede van die gemeente neem deel aan die maatskaplike en geestelike ontwikkelingvan die kindjie as ‘n kind van God en ‘n lid van die liggaam van Christus.
In hierdie diens wy die ouers hulself ook aan die opvoeding van die kindjie in die weë van die Here sodat die beeld van God in die kind gevorm kan word. Om dit te bereik, bring die ouers hul kinders gereeld na die Sabbatskool en die erediens sodat die kindertjies vroeg in die lewe deel van die liggaam van Christus kan word. En wanneer die kind skoolgaande ouderdom bereik, sal die ouers en die kind alles moontlik doen om hom of haar ‘n Christelike opvoeding te laat kry wat die kind se liefde vir die Here selfs verder sal voed.
4. Konsekwentheid. Die geestelike opvoeding wat die ouers gee, is ‘nvoortdurende proses wat elke fase van die kind se lewe betrek. “Jymoet dit [die Here se gebooie] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe” (Deut. 6:7-9; 11:18 ff).
Die kind word beïnvloed deur die hele atmosfeer van die huis. Ouers kan nie deur die huisaltaar alleen ‘n geestelike atmosfeer skep nie. Dit moet deur hulle voortdurende vertroue in Jesus tot stand gebring word. Dit moet in hul lewenswyse, kleredrag en selfs die huisversiersels tot uiting kom. Om God as ‘n liefdevolle ouer te ken, is lewensnoodsaaklik vir die kind se Christelike groei.
5. Gehoorsaamheid. “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spr. 22:6). Wat behels hierdie opvoeding? Tug bestaan uit veel meer as straf. Straf handel gewoonlik oor die verlede, maar dissipline kyk na die toekoms. Dissipline is ‘n proses waarin die kind as vakleerling vir die ouer dien, vir afrigting, leiding en voorbeeld. Dit beteken dat belangrike beginsels soos lojaliteit, waarheid, regverdigheid, bestendigheid, geduld, orde, genade, vrygewigheid en werk ingeskerp word.
As kinders vroeg leer om hul ouers onwrikbaar te gehoorsaam, word gesag vir hulle geen probleem in die lewe nie. Dit is egter ook belangrik watter soort gehoorsaamheid geleer moet word. Ware gehoorsaamheid is nie maar net die gevolg van wat vereis word nie, maar is iets wat uit die hart kom. Die geheim van hierdie soort gehoorsaamheid skuil in die wedergeboorte.
”Die persoon wat probeer om die gebooie te bewaar eenvoudig omdat hy verplig voel – omdat dit van hom vereis word – sal nooit die vreugde van gehoorsaamheid geniet nie. Hy is net nie gehoorsaam nie…. Ware gehoorsaamheid is die uitwerking van ‘n inwendige beginsel. Dit spruit uit liefde vir geregtigheid, liefde vir die wet van God. Die wese van alle geregtigheid is getrouheid aan ons Heiland. Dit sal maak dat ons reg doen omdat dit reg is, omdat God in geregtigheid behae het.”24
6. Sosiale omgang en taalontwikkeling. Dit is binne die gesin dat kinders leer om sosiaal as lede van die menseras om te gaan met al die verantwoordelikhede en voorregte wat dit behels. Sosiale omgang is die proses waardeur kinders die basiese vermoë leer om in die samelewing te funksioneer. Taal met al sy nuanses vir kommunikasie is een van die eerste vaardighede wat hulle leer. Die taal wat in die huis gebruik word, moet noukeurig gemonitor word sodat dit die karakter van God openbaar. Die kind moet dikwels blymoedige en spontane liefdesuitinge onder gesinslede hoor, asook lof vir God.
7. Geslagsidentiteit. Dit is in die huis, deur gesonde interaksie tussen die manlike en vroulike geslagte, wat die basis van ‘n gesin vorm, dat kinders leer om as manlike of vroulike lid in die samlewing te funksioneer. Ouers moet hulle die skoonheid van hul ontwikkelende seksualiteit deur korrekte en gepaste voorligting leer. Dit is ook hul verantwoordelikheid om die kinders teen seksuele misbruik te beskerm.
8. Die leer van waardes. ‘n Basiese sosiale funksie van die huis is om voorsiening te maak vir die assimilasie van die waardes wat die gesin koester. Die gesin se waardes en godsdienstige begrippe kom nie altyd ooreen nie. Ouers kan beweer dat hulle in sekere godsdienstige beginsels glo, maar die waardes wat hul voor die kind uitleef, strook nie noodwendig met daardie beginsels nie. Dit is noodsaaklik dat ouers konsekwent moet wees.
Die Breër Familiekring. Die huwelik is, soos God dit beoog het, eksklusief. Die familie is nie. In ‘n hoogs mobiele samelewing kom ‘n mens selde nog die breër familiekring teë – grootouers, broers en susters en neefs en niggies – wat almal na aan mekaar woon. Die kerklike gesin kan diegene wat ver van hul familie af woon, of nie sulke familielede het nie, help om ‘n gevoel van saamhorigheid en eiewaarde te ontdek. Ook hier kan eenlopende ouers ‘n aangename plek vind waarin hulle hul kinders met liefde en tedere sorg kan grootmaak. En die kerk kan die geskikte voorbeelde stel van die rolle wat moontlik tuis ontbreek.
Deur te leer om ou mense in die gemeente lief te hê, kan kinders respek aankweek. En die bejaardes kan die genot hê om kindertjies te vertroetel en te geniet. “En ook tot die ouderdom en die grysheid toe – o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag” (Ps. 71:18).
God het besondere agting vir die bejaardes, want Hy verklaar: “Grysheid is ‘n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid” (Spr. 16:31), “en totop die ouderdom toe is Ek dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ek het dit gedoen, en Ek sal julle opneem, en Ek sal dra en red” (Jes. 46:4).
In die kerk kan eenlopendes ‘n besondere plekkie vind om bemin en gekoester te word en ook om hul liefde en lewenskragte te deel. Deur sy bediening kan hulle tot ‘n besef van God se sorg vir hulle kom: “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid” (Jer. 31:3).
Dit is deel van “reine godsdiens” om besondere sorg te bestee aan diegene wat in nood verkeer (Jak. 1:27; Exod. 22:22; Deut. 24:17; 26:12; Spr. 23:10; Jes. 1:17). Die kerklike gesin het ‘n besondere geleentheid om ‘n hawe, ‘n skuiling en ‘n plek te voorsien waar diegene wat nie ‘n gesin het nie, kan tuis voel; dit kan elke lid in die besondere eenheid wikkel en insluit – die soort eenheid wat Christus graag as die kenteken van die Christendom self sal wil sien (Joh. 17:20-23).
Die Kenteking
Aangesien die gesin die siel self van die kerk en die samelewing is, sal die Christelike gesin self die werktuig wees om lidmate vir die Here te wen en te behou. Die heel laaste verse van die Ou Testament is ‘n profesie van wat net voor die wederkoms van die Here sal gebeur: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders” (Mal. 4:5, 6). Hoewel baie invloede vandag probeer om die gesin uitmekaar te skeur, doen God ‘n beroep om hereniging, ‘n nuwe samebinding, ‘n kentering en ‘n herstel. En die gesinne wat antwoord op Sy roepstem, sal ‘n krag aan die dag lê wat die ware Christelikheid sal openbaar. Gemeentes wat uit sulke families bestaan, sal groei; hul jongmense sal nie uitwyk nie; en hulle sal aan die die wêreld ‘n duidelike beeld van God toon.
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
TERUGVOER
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. Cf. White, Opvoeding, bl.20.
2. A. W. Spalding, Makers of the Home, (Mountain View, CA: Pacific Press, 1928), bl. 58.
3. Dat Adam vir die planeet verantwoordelik was, blyk uit die feit dat God hom vir die sonde verantwoordelik gehou het ondanks hy nie die oortreding geïnisieer het nie (Gen. 3:9 ff). Ook die Nuwe Testament wat die twee “Adams” vergelyk, hou die eerste Adam verantwoordelik vir die koms van die sonde en die dood (Rom. 5:12 ff;1 Kor. 15:22; vgl. White, Die Groot Stryd, hfst. 40, par. 33-35).
4. “God het self aan Adam ‘n gesellin gegee. Hy het ‘n ‘hulp’ voorsien ‘wat by hom pas’ – wat met hom ooreenstem – een wat geskik was om sy gesellin te wees en wat in liefde en meegevoel met hom een kon wees. Eva is uit ‘n rib gehou wat die Here uit Adam se sy gehaal het, en dit beteken dat sy hom nie as ‘n hoof moes beheers nie, en dat hy haar nie as minderwaardige onder sy voete moes vertrap nie, maar dat sy as gelyke aan sy sy moes staan en hy haar moes bemin en beskerm” (White, Patriarge en Profete, bl. 46).
5. Om meer van die verbondsaspekte van die huwelik, kyk “Marriage as a Covenant” in Covenant and Marriage: Partnership and Commitment (Leader’s Notebook) (Nashville: Family Ministry Department, Sunday School Board of the Southern Baptist Convention, 1987), bl. 51-60.
6. Kyk SDA Church Manual, bl. 150, 151; F. M. Wilcox, “Marrying Unbelievers,” Review and Herald, 2 Julie 1914, bl. 9, 10; G. B. Thompson, “Marrying Unbelievers: ‘Can Two Walk Together, Except They Be Agreed?'” Review and Herald, 31 Julie 1941, bl. 2, 12-14; F. M. Wilcox, “The Marriage Relationship, Following the Divine Order.” Review and Herald, 4 Mei 1944, bl. 1-4; White, Testimonies, deel 4, bl. 503-508.
7. Walter Trobisch, I Married You (New York, N.Y.: Harper and Row, 1971), bl. 18.
8. Ed Wheat, Love Life for Every Married Couple (Grand Rapids: Zondervan, 1980), N. 72.
9. Ibid., bl. 62.
10. White, Patriarge en Profete bl. 58, 59.
11. Bv. Kyk White, Die Helende Hand, bl. 361; White, Dink aan Jou Skepper (S. A. Uniekonferensie van Sewendedag-Adventiste 1976) bl. 451.
12. Kyk ook White, Patriarge en Profete bl. 145, 208, 337, 338; White, Spiritual Gifts, deel 3, bl. 104,105; deel 4a, bl. 86.
13. Wheat, Love Life for Every Married Couple, bl. 202. Kyk ook “The Divorce Court or the Cross”, in Roy Hession, Forgotten Factors …An Aid to Deeper Repentance of the Forgotten Factors of Sexual Misbehavior (Fort Washington, PA: Christian Literature Crusade, 1976) Wheat, “How to Save Your Marriage Alone,” in Love Life; en Gary Chapman, Hope for the Separated: Wounded Marriages Can Be Healed, (Chicago: Moody Press, 1982).
14. SDA Church Manual bl. 175.
15. Kyk Hession, Forgotten Factors. Om oortreders te help om berou te hê en vergifnis in ‘n liefdevolle God te vind, gee hierdie uitmuntende boek ‘n noukeurige uiteensetting van die diepere faktore van seksuele onsedelikheid.
16. White, Testimonies deel l, bl. 307. Sy het ook geskryf: “Ons vrouens moet onthou dat God ons onderhorig aan die man gemaak het. Hy is die hoof en ons oordeel en sienswyses en redenasies moet, indien moontlik, met syne ooreenkom. Indien nie, gee die Woord van God voorkeur aan die man waar dit nie ‘n gewetensaak is nie. Ons moet toegee aan die hoof” (E. G. White, brief 5,1861).
17. E. G. White, manuskrip 17, 1891. Kyk ook Larry Christenson, The Christian Family (Minneapolis, MN: Bethany Fellowship, 1970).
18. Vir idees hoe om ‘n dinamiese huisaltaar te geniet, kyk John en Millie Youngberg, Heart Tuning: A Guide to Better Family Worship (Washington, D.C.: Review and Herald, 1985); Christenson, The Christian Family bl. 157-197.
19. White, Adventist Home, bl. 231, 232.
20. Ouers wat verplig is om ‘n kind onder ‘n ander se sorg te plaas, moet iemand kies wat dieselfde waardes as hulle huldig, sodat daar volle samewer:king kan wees om die kind in die liefde en vermaning van die Here groot te maak. Die ouers moet ook goed let op die ander kinders met wie hul kind sal moet omgaan. Wil hulle hê hul kind moet soos daardie kinders wees? Kinders leer so vinnig en so onuitwisbaar dat alle aspekte van kindersorg noulettend ondersoek moet word.
21. Edith Schaefer, What Is a Family? (Old Tappan, N. J. : Fleming H. Revell Co., 1975), bl. 47.
22. Kyk White, Die Koning van die Eeue, hfst. 56, par. 3-6. White, The Adventist Home, bl. 255-259.
23. Kyk Gary Smalley en John Trent, The Blessing (Nashville: Thomas Nelson Pub. 1986). Die skrywers gee ‘n noukeurige beskrywing van hoe die betoning of weerhouding van onvoorwaardelike liefde deur ouers die sleutel is tot die emosionele en psigologiese welsyn van die ontwikkelende kind.
24. White, Die Gelykenisse van Christus, bl. 97.