Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Ons is geroepe om ‘n godvresende volk te wees wat ooreenkomstig die hemelse beginsels dink, voel en handel. Om die Gees in staat te stel om die karakter van ons Here in ons te kweek, moet ons alleen deelneem aan die dinge wat Christelike reinheid, gesondheid en vreugde in ons lewens sal wek. Dit beteken dat ons vermaak en ontspanning aan die hoogste norme van Christelike smaak en skoonheid moet voldoen. Terwyl kulturele verskille erken moet word, moet ons kleredrag eenvoudig, beskeie en netjies wees, wat gepas is vir diegene wie se ware skoonheid nie in uiterlike versiering bestaan nie, maar in die onverderflike sieraad van ‘n sagmoedige en rustige gees. Dit beteken ook dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is, en dat ons dit met insig moet versorg. Benewens toereikende oefening en rus, moet ons ook die gesondste dieet moontlik volg en ons weerhou van die onrein voedselsoorte wat in die Skrifte genoem word. Aangesien alkoholiese drank, tabak en die onverantwoordelike gebruik van dwelmstowwe nadelig vir ons liggame is, moet ons ons ook daarvan weerhou. Pleks daarvan moet ons ons besig hou met alles wat ons gedagtes en liggaam onder die tug van Christus bring; Hy verlang dat ons gesond, gelukkig en goed sal wees.
Christelike Gedrag
Christelike gedrag – die lewenswyse van ‘n volgeling van God ontstaan as ‘n dankbare reaksie op God se heerlike verlossing deur Christus. Paulus doen ‘n beroep op alle Christene: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer -dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1, 2). Daarom sal Christene gewilliglik hul verstandelike, fisieke en geestelike vermoëns beskerm en ontwikkel sodat hulle hul Skepper en Verlosser kan verheerlik.
Christus het gebid: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Joh. 17:15, 16). Hoe kan ‘n Christen sowel in die wêreld wees en afsonderlik daarvan lewe? In watter opsigte moet die Christelike lewenswyse van die van die wêreld verskil?
Christene moet ‘n ander lewenswyse aanneem, nie net om anders te wees nie, maar omdat God hulle geroep het om volgens beginsels te lewe. Die lewenswyse waartoe Hy hulle geroep het, stel hulle in staat om hul volle potensiaal as Sy skepping te bereik en hulle doeltreffend in Sy diens te maak. Om anders te wees, bevorder ook hul sending: om die wêreld te dien – om sout daarin te wees, lig daarvoor te wees. Wat is sout sonder smaak werd, of lig wat nie van duisternis verskil nie?
Christus is ons voorbeeld. Hy het so terdeë in die wêreld gelewe dat mense Hom ” ‘n vraat en ‘n wynsuiper” genoem het (Matt. 11:19), hoewel Hy dit nie was nie. Hy het die beginsels van God so konsekwent uitgeleef dat niemand kon bewys dat Hy aan sonde skuldig was nie (Joh. 8:46).
Gedrag en Verlossing
Wanneer ons vasstel wat behoorlike gedrag is, moet ons twee uiterstes vermy. Die eerste is om te glo dat die reëls en toepassing van beginsels ‘n middel tot verlossing word. Paulus som hierdie uiterste op met die volgende woorde: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).
Die teenoorgestelde uiterste is om te glo dat aangesien ‘n mens nie deur werke gered word nie, hulle daarom nie saak maak nie – dat dit nie saak maak wat ‘n mens doen nie. Paulus het ook oor hierdie uiterste gemaan: “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie” (Gal. 5:13). As elke lidmaat sy of haar eie gewete sal volg, “is daar geen onderlinge dissipline onder mede-Christene ooreenkomstig Mattheüs 18 en Galasiërs 6:1, 2 nie. Dan word die kerk nie die liggaam van Christus, waarbinne daar onderlinge sorg en liefde is nie, maar ‘n versameling van uiteenlopende individue wat elkeen sy of haar eie gang gaan sonder om verantwoordelikheid vir ‘n medemens te aanvaar of om jou oor hom te bekommer.”1
Hoewel ons gedrag en geestelikheid nou aan mekaar verbonde is, kan ons nooit ons verlossing deur die regte gedrag verdien nie. Trouens die Christelike gedrag is ‘n natuurlike uitvloeisel van verlossing en berus op wat Christus reeds vir ons op Golgota bewerkstellig het.
Tempels van die Heilige Gees
Nie net die kerk nie, maar ook die individuele Christen is ‘n tempel vir die inwoning van die Heilige Gees: “Weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” (1 Kor.6:19).
Christene volg dus goeie gesondheidsgewoontes om die beheersentrum van hul liggaamstempels, die gees, die woonplek van die Gees van Christus, te beskerm. Om hierdie rede het Sewendedag-Adventiste – al die afgelope 100 jaar – klem gelê op die noodsaaklikheid van goeie gesondheidsgewoontes.2 En hierdie klem was nie tevergeefs nie: Onlangse navorsing het aan die lig gebring dat Adventiste ‘n geringer kans as die algemene bevolking staan, om byna enige van die vernaamste siektes op te doen.3
As Christene is ons met sowel die geestelike as die fisieke aspekte van die lewe van mense gemoeid. Jesus, ons toonbeeld, het “elke siekte en elke kwaal onder die volk genees” (Matt. 4:23).
Die Bybel sien die mens as ‘n eenheid (hfst. 7). Die skeiding van die geestelike en die materiële is vreemd aan die Bybel.4 Daarom hou God se beroep om heiligheid sowel die fisieke as geestelike aspek van gesondheid in. Susannah Wesley, moeder van die stigter van die Metodisme, het hierdie beginsel raak opgesom: “Wat ook al jou rede verswak, die gevoeligheid van jou gewete skaad, jou begrip van God benewel, die krag en gesag van jou gees oor jou liggaam verminder dit is wat verkeerd is. Hoe onskuldig dit ook op sigself mag voorkom.”5
Die wette van God waaronder die gesondheidswette, is nie willekeurig nie, maar is deur ons Skepper gegee met die doel om ons in staat te stel om die lewe in sy oorvloedigheid te geniet. Die Satan, die vyand, wil ons beroof van ons gesondheid, ons vreugde, ons gemoedsrus en wil ons uiteindelik vernietig (kyk Joh. 10:10).
God se Seëninge vir Volkome Gesondheid
Die bereiking van hierdie gesondheid hang af van die beoefening van enkele eenvoudige, maar doeltreffende Godgegewe beginsels. Party daarvan is voor-die-handliggend en vir die meeste mense geredelik aanvaarbaar. Ander, soos die regte dieet, is moeiliker om aan te neem omdat dit gewoontes en gesindhede insluit wat diep in ons lewenswyse ingewortel is. Om hierdie rede sal ons meer ruimte wy aan die beginsels wat of misverstaan, weerspreek of verwerp word.6
Die Seën van Oefening. Gereelde oefening is die eenvoudige formule vir verhoogde lewenslus, liggaamlike fiksheid, verligting van spanning, ‘n gesonder huid, meer selfvertroue, doeltreffende gewigsbeheer, verbeterde spysvertering en gereeldheid en minder terneergedruktheid en gevaar van hartkwale en kanker. Oefening is nie maar net ‘n opsie nie, dit is noodsaaklik om die optimale gesondheid te handhaaf -sowel fisiek as geestelik.7
Nuttige bedrywigheid bevorder voorspoed; niksdoen en traagheid neig tot teenspoed (Spr. 6:6-13; 14:23). God het bedrywigheid vir die eerste man en vrou voorgeskryf – om hul tuinverblyf in die ope lug te versorg (Gen. 2:5, 15; 3:19). Christus het self ‘n voorbeeld van fisieke bedrywigheid gestel. Die grootste deel van Sy lewe het Hy aan handearbeid as timmerman deurgebring en gedurende Sy bediening het Hy die paaie van Palestina te voet bewandel.8
Die Seën van Sonskyn. Lig is noodsaaklik vir die lewe (Gen. 1:3). Dit voorsien die krag vir die proses wat die voedingstowwe en energie vir ons liggaam produseer en suurstof vrystel wat ons nodig het om te kan lewe. Sonlig bevorder gesondheid en genesing.
Die Seën van Water. Die menslike liggaam bestaan uit 75 persent water, maar hierdie onontbeerlike vloeistof raak gedurig verlore deur uitaseming, sweet en afvalprodukte. As mens ses tot agt glase suiwer water per dag drink, help jy om jou doeltreffend, gelukkig en gesond te hou. Nog ‘n belangrike funksie van water, is sy gebruik vir sindelikheid en ontspanning.
Die Seën van Vars Lug. ’n Omgewing van onsuiwer lug binne of buite die huis, maak dat die bloed minder suurstof bevat as wat nodig is vir die optimale funksie vir elke sel. Dit neig om ‘nmens minder oplettend te maak en traer te laat reageer. Dit is daarom noodsaaklik om alles in jou vermoë te doen om daagliks ruim vars lug te geniet.
Die Seën van ‘n Matige, Dwelmstofvrye, Stimulansvrye Leefwyse. Dwelmmiddels het ons samelewing deurtrek omdat hulle stimuleer en verligting gee van spanning en pyn. Die Christen staan te midde van verleidelike uitnodigings om dwelmmiddels te gebruik. Selfs baie gewilde dranke wat onskuldig voorkom, bevat dwelmstowwe: koffie, tee en koladranke bevat kafeïne,9 en vrugtegeurde wyn bevat alkohol. Navorsing het getoon dat die matiger dwelmstowwe neig om geleidelik tot sterker breinaantastende dwelmstowwe te lei. Die verstandige Christen sal hom onthou van al wat skadelik is en alleen wat goed is matig gebruik.
1. Tabak. Tabak in enige vorm is ‘n gifstof wat langsaam werk, maar ‘n nadelige uitwerking het op die fisieke, verstandelike en morele vermoëns. Aanvanklik is sy uitwerking skaars merkbaar. Aanvanklik prikkel dit die senuwees, dan verlam dit hulle en eindelik verswak en benewel dit die brein.
Mense wat tabak gebruik, pleeg langsaam selfmoord,10 en oortree dus die sesde gebod: “Jy mag nie doodslaan nie”(Exod. 20:13).
2. Alkoholiese drank. Alkohol is een van die dwelmstowwe wat die meeste op aarde gebruik word. Dit het ontelbare mense se lewe verwoes. Nie alleen skaad dit diegene wat dit gebruik nie, maar dit eis sy tol in die breë samelewing – deur gebroke gesinne, noodlottige ongelukke en armoede.
Aangesien God alleen deur ons brein met ons kan kommunikeer, is dit goed om te onthou dat alkohol elke funksie daarvan nadelig aantas. Namate die alkoholvlak in die gestel toeneem, ondervind die drinker progressiewe gebrek aan koördinasie, verwarring, disoriëntasie, bedwelming, geheueverlies, koma en die dood. Mense wat gereeld alkoholiese drank gebruik, ondervind uiteindelik verlies aan geheue, oordeelsvermoë en die vermoë om te leer.11
Verhale in die Bybel oor die gebruik van alkoholiese drank kan moontlik die indruk gee, dat God die gebruik daarvan goedgekeur het. Die Skrif gee egter te kenne dat God se kinders deelgeneem het aan sosiale praktyke soos egskeiding, veelwywery en slawemy – gebruike wat God gewis nie goedgekeur het nie. By die vertolking van sodanige skriftuurplase, help dit om te onthou dat God nie noodwendig alles goedkeur wat Hy toelaat nie.
Jesus se antwoord op die vraag waarom Moses egskeiding toegelaat het, dui op hierdie beginsel van vertolking. Hy het gesê: “OmdatMoses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie” (Matt. 19:8).12 Eden is die Goddelike model waartoe die evangelie ons wil herstel. Net soos in die geval van hierdie gebruike, was die gebruik van alkohol nie deel van God se oorspronklike plan nie.13
3. Ander dwelmstowwe. Daar is baie ander skadelike bedwelmende stowwe waardeur die Satan menselewens verwoes.14 Ware Christene wat die oë op Christus vestig, sal God gedurig met hul liggaam verheerlik in die besef dat hulle Sy kosbare besitting is, wat duur met Sy bloed gekoop is.
Die Seën van Rus. Behoorlike rus is noodsaaklik vir liggaamlike en geestelike gesondheid. In Sy barmhartigheid het Christus ons in Sy uitnodiging aan Sy moeë dissipels leiding gegee: Komjulle self in die eensaamheid na ‘n verlate plek en rus ‘n bietjie” (Markus 6:31). Rustye verskaf die broodnodige stilte vir gemeenskap met God: “Laat staan en weet dat ek God is” (Ps. 46:11). God het ons behoefte aan rus beklemtoon deur die sewende dag van die week opsy te sit as ‘n rusdag (Exod. 20:10).
Rus is meer as om net te slaap of om jou gewone werk te staak. Dit gaan om die wyse waarop ons ons vrye tyd gebruik. Moegheid word nie altyd veroorsaak deur spanning of harde of lange ure van werk nie: die gees kan uitgeput word deur oordrewe prikkeling deur die media, siekte of verskillende persoonlike probleme.
Ontspanning is in die waarste sin van die woord herskeppend. Dit versterk, bou op en verkwik gees en liggaam, en berei gelowiges sodoende om hul take met nuwe lewenskrag aan te pak. Om die lewe ten volste te kan benuttig, moet Christene alleen die vorms van ontspanning en vermaak geniet wat hul band met Christus sal versterk en die gesondheid vir hulle sal verbeter.
Die Skrif bepaal die volgende beginsel wat Christene sal help om op goeie ontspanning te besluit: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld” (1 Joh. 2:15, 16).
1. Rolprente, televisie, radio en video’s. Hierdie media kan van groot opvoedkundige waarde wees. Hulle het “die hele atmosfeer van ons hedendaagse wêreld verander en het ons binne maklike toegang tot die lewe, gedagte, en bedrywighede van die hele aardbol gebring.”15 Die Christen sal onthou dat televisie en video’s ‘n groter invloed op die lewe van ‘n individu uitoefen as enige enkele ander faktor.
Ongelukkig bring video en televisie met sy haas ononderbroke teatrale voorstellings invloede in die huis wat nie gesond of opbouend is nie. As ons die programme nie streng keur nie, “sal hulle ons huise met goedkoop en ongure vermaak vul.”16 Die toegewyde Christen sal hom weerhou van ongesonde, gewelddadige, sensuele rolprente en televisieprogramme.
Visuele en oudio media is nie inherent boos nie. Dieselfde kanale wat die dieptes van menseverdorwenheid uitbeeld, is ook beskikbaar vir die verkondiging van die evangelie van verlossing. Daar word ook baie ander goeie programme uitgesaai.
Mense kan egter ook selfs die goeie programme gebruik om die verantwoordelikhede van die lewe te ontduik. Christene sal nie net vaste beginsels wil volg om te bepaal wat hulle wil sien nie, maar sal ook perke stel aan die tyd wat hulle daaraan deurbring, sodat sosiale verhoudinge en die verantwoordelikhede van die lewe nie daaronder sal ly nie. As ons nie onderskeid kan tref of nie die vermoë het om ons media te beheers nie, is dit beter om liewer daarvan ontslae te raak as om toe te laat dat dit ons lewe oorheers en die gees besoedel of om te veel van ons tyd in beslag te neem (kyk Matt. 5:29,30).
‘n Belangrike Bybelbeginsel met betrekking tot ons bepeinsing van Christus lui: “Terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor. 3:18). Betragting bring verandering. Maar Christene moet steeds in gedagte hou, dat hierdie beginsel ook in die negatiewe geld. Rolprente bied ‘n grafiese uitbeelding van die sondes en misdade van die mens moord, owerspel, rowery en ander verdorwende dade en dra by tot die huidige sedelike verval.
Paulus se raad in Filippense 4:8 spel ‘n beginsel uit wat ons help om die soort vermaak uit te ken wat van waarde is: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
2. Lees en musiek. Dieselfde hoë standaarde geld vir die Christen se leesgewoontes en musiek. Musiek is ‘n gawe van God om reine, edele en verhewe gedagtes te bevorder. Goeie musiek verhoog dus die edelste karakterhoedanighede.
Verderwende musiek, daarenteen, “vernietig die ritme van die siel en breek sedelikheid af.” Die volgelinge van Christus sal dus “enige deuntjie wat op die aard van jazz, rock of verbasterde vorms wat daaraan verwant is, of enige taal wat verspotte en ligsinnig gedagtes weergee”17 vermy. Die Christen luister nie na musiek met suggestiewe woorde of wysies nie (Rom. 13:11-14; 1 Pet. 2:11).18
Lees bied veel wat waardevol is. Daar is ‘n rykdom van goeie leesstof wat die gees verbreed en ontwikkel. Tog is daar ook ‘n “stortvloed van bose lektuur, dikwels aantreklik aangebied, maar wat verwoestend op die gees en die sedes inwerk. Verhale van wilde avonture en van losse sedes, of dit waarheid of fiksie is,” is vir gelowiges ongeskik omdat hulle ‘n weersin kweek vir ‘n edele, eerlike en kuise lewenswyse en die ontwikkeling van eenheid met Christus teenwerk.19
3. Ongeskikte bedrywighede. Adventiste leer ook dat dobbel, kaartspel, die bywoning van skouburge en dans vermy moet word (1 Joh. 2:15-17). Hulle bevraagteken die besteding van tyd om gewelddadige sportbedrywighede te aanskou (Filip 4:8). Enige bedrywigheid wat ons verhouding met ons Here verswak en maak dat ons ons ewige belange uit die oog verloor, help die Satan om ‘n houvas op ons siel te kry.
Christene sal liewer aan gesonde vorme van tydverdryf deelneem wat die fisieke, verstandelike en geestelike natuur waarlik sal verkwik.
Die Seën van Gesonde Voedsel. Aan die eerste egpaar het die Skepper die ideale dieet voorgeskryf: “Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees” (Gen. 1:29). Na die sondeval het God “die plante van die veld” by hul dieet gevoeg (Gen. 3:18).
Die hedendaagse gesondheidsprobleme sentreer grotendeels op ontaardende siektes wat regstreeks aan die dieet en lewenswyse te wyte is. Die dieet wat God beoog het, bestaan uit graansoorte, vrugte, neute en groente en bied die regte voedingsbestanddele om die hoogste gesondheid te verseker.
1. Die oorspronklike dieet. Die Bybel veroordeel nie die eet van rein diere nie. Maar God se oorspronklike dieet vir die mens, het nie vleis ingesluit nie omdat Hy nie beoog het dat diere doodgemaak moes word nie en omdat ‘newewigtige vegetariese dieet die beste vir die gesondheid is – ‘n feit wat al meer deur die wetenskap bevestig word.20 Die gesondheid van mense wat diereprodukte eet waarin bakterieë of virusse is wat siekte kan oordra, kan daaronder ly.21 Daar word bereken dat daar jaarliks in die Verenigde State alleen miljoene is wat aan pluimveevoedselvergiftiging ly omdat die inspeksie nie kontaminasie deur salmonella en ander mikro-organismes aan die lig bring nie.22
Etlike deskundiges voel dat “kontaminasie deur bakterieë ‘n veel groter risiko inhou as chemiese additiewe en bewaarmiddels in voedsel” en verwag dat die voorkoms van siektes wat deur hierdie bakterieë veroorsaak word, sal toeneem.23
Bowendien toon navorsing van die afgelope jare dat die toenemende gebruik van vleis ‘n toename kan veroorsaak in aterosklerose, kanker, nierkwale, osteoporose, en triginose veroorsaak, wat die lewensverwagting kan verminder.24
Die dieet wat God in die tuin van Eden ingestel het – die vegetariese dieet – is die ideaal, maar soms is die ideaal nie binne die bereik nie. In sulke omstandighede in enige gegewe situasie of omgewing, sal diegene wat die optimale gesondheid wil geniet, die beste beskikbare voedsel eet.
2. Rein en onrein vleissoorte. Eers ná die sondvloed het God vleis as voedsel toegelaat. Omdat al die plantegroei vernietig was, het God aan Noag en sy gesin toestemming verleen om vleiskos te eet met dien verstande dat hul nie die bloed in die vleis mog eet nie (Gen. 9:3-5).
Nog ‘n bepaling van die Skrif toon dat God aan Noag en sy gesin opdrag gegee het om alleen die diere te eet wat God as rein bestempel het. Dit was omdat Noag en sy gesin die rein diere vir sowel voedsel as offers nodig gehad het (Gen. 8:20) dat God Noag gelas het om sewe paar van elke rein dier in teenstelling met net een paar van elke soort onrein diersaam, met hom in die ark te neem (Gen. 7:2, 3). Levitikus 11 en Deuteronomium 14 verstrek uitgebreide uiteensettings van rein en onrein voed.sels.25
Uit hul aard lewer onrein diere nie die beste voedsel nie. Baie van hulle is aasdiere of roofdiere – van die leeu en die vark tot die aasvoël en die visse wat op die bodem beweeg. Weens hul gewoontes is hulle meer geneig om siektedraers te wees.
Navorsing het aan die lig gebring dat “benewens die matige hoeveelhede cholesterol wat in sowel varkvleis as skulpvisse voorkom, albei ‘n aantal toksines en kontaminante bevat wat met menslike vergifting gepaard gaan.
Deur hulle van onrein voedselsoorte te onthou, het die volk van God hul dankbaarheid betoon vir hul bevryding uit die verdorwe onrein wêreld om hulle (Lev. 20:24-26; Deut. 14:2). Om enigiets onreins in te neem in die liggaamstempel waar God se Gees teenwoordig is, is nie God se ideaal nie.
Die Nuwe Testament het nie die onderskeid tussen rein en onrein voedselsoorte afgeskaf nie. Party mense glo dat omdat hierdie wette oor die dieet in Levitikus genoem word, hulle bloot seremonieël en ritualisties van aard was en daarom nie langer geldig vir Christene is nie. En tog dateer die onderskeid tussen rein en onrein diere uit Noag se tyd – lank voor Israel bestaan het. Hierdie gesondheidsbeginsels, hierdie dieetkundige wette, hou ‘nvoortdurende verpligting in.27
3. Gereeldheid, eenvoud en ewewig. Suksesvolle dieetkundige hervorming is progressief en moet intelligent benader word. Uiteindelik moet ons leer om voed.selsoorte met ‘n hoe vet-en/of suikerinhoud uit te skakel en/of spaarsaam te gebruik.
Daarby moet ons die kos wat ons eet so eenvoudig en natuurlik moontlik berei, en vir optimale gesondheid moet ons met gereelde tussenposes eet. Komplekse, prikkelende diete is nie die gesondste nie. Baie geurmiddels en speserye irriteer die spysverteringskanaal,28 en gereelde gebruik daarvan gaan gepaard met etlike gesondheidsprobleme.29
Die Seën van Christelike Kleredrag. God het die eerste klere vir Adam en Eva voorsien en weet dat ons vandag geskikte klere nodig het (Matt. 6:25-33). Ons moet ons klere volgens die beginsels van eenvoud, beskeidenheid, doenlikheid, gesondheid en aantreklikheid kies.
1. Eenvoud. Soos op alle ander gebiede van ons lewe, raak Christelike eenvoud ook ons kleredrag. “Die Christelike getuienis vereis eenvoud.
“Die manier waarop ons aantrek, toon aan die wêreld wie en wat ons is nie as ‘nwetlike vereiste wat ons uit die Viktoriaanse tydperk oorgeërf het nie, maar as ‘n uitdrukking van ons liefde vir Jesus.”30
2. Hoë morele standaard. Christene sal nie die skoonheid van hul karakters bederf met modes wat “die begeerlikheid van die vlees” (1 Joh. 2:16) sal opwek nie. Omdat hulle teenoor ander wil getuig, sal hul ingetoë aantrek en handel, en nie die dele van die liggaam beklemtoon wat wellus opwek nie. Beskeidenheid bevorder morele gesondheid. Die Christen se doel is om God te verheerlik en nie homself nie.
3. Prakties en ekonomies. Omdat hulle rentmeesters is van die geld wat God aan hulle toevertrou het, sal Christene spaarsaam te werk gaan, en”goud of pêrels of kosbare klere” (1 Tim. 2:9) vermy. Om spaarsaam te lewe beteken egter nie dat ons nou juis die goedkoopste klere moet koop nie. Dikwels is artikels van hoër gehalte op die langer duur meer ekonomies.
4. Gesond. Dit is nie net die dieet wat ‘n mens se gesondheid beïnvloed nie. Christene sal kleredrag vermy wat die liggaam nie behoorlik beskerm nie of wat te nou pas of wat dit op ander maniere so aantas dat dit die gesondheid benadeel.
5. Gekenmerk deur bevalligheid en natuurlike skoonheid. Christene ken die waarskuwing teen “die grootsheid van die lewe” (1 Joh. 2:16). Met verwysing na die lelies het Christus gesê: “Selfs Salomo in al sy heerlikheid [was] nie beklee … soos een van hulle nie” (Matt. 6:29). Daardeur het Hy geïllustreer dat die hemelse begrip van skoonheid gekenmerk word deur grasie, eenvoud, reinheid en natuurlike skoonheid. Wêreldse vertoon, soos die wisselende modes aandui, het in die oë van God geen waarde nie (1 Tim. 2:9).
Christene trek ongelowiges nie deur soos die wêreld te lyk en te handel nie, maar deur ‘n aantreklike en verkwiklike andersheid aan die dag te lê. Petrus het gesê dat ongelowige gades “deur die wandel van vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.” Pleks van uiterlike opsmukking het hy gewaarsku, laat gelowiges hul toespits op die ontwikkeling van lidie verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van’n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar is voor God” (1 Pet. 3:1-4). Die skrif leer ons:
a. Die karakter die ware skoonheid openbaar. Sowel Petrus as Paulus het die basiese beginsel neergelê om Christelike mans en vroue in verband met optooiing as riglyn te dien: “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie” (1 Pet. 3:3). “So moet ook die vroue hulle versier met behoorlike kleding gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke” (1 Tim. 2:9, 10).
b. Eenvoud met hervorming en herlewing gepaard gaan. Toe Jakob sy gesin aangesê het om hulle aan God te wy, het hulle “al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore” verwyder en Jakob het hulle begrawe (Gen. 35:2, 4).31
Na Israel se afvalligheid by die goue kalf het God hulle beveel: “Haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met julle moet doen.” Berouvol het hulle “hulleself beroof van hulle versiersels” (Exod. 33:5, 6). Paulus verklaar duidelik dat die Skrif hierdie afvalligheid vermeld “as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:11).
c. Goeie rentmeesterskap selfopoffering vereis. Terwyl ‘n groot deel van die wêreld honger ly, stel materialisme Christene in versoekings wat wissel van duur klere, motors, en juwele tot weelderige huise. Eenvoud in lewenswyse en voorkoms, stel Christene in ‘n skrille kontras teen die gierigheid, materialisme, en oordrewe vertoon van die heidense twintigste eeuse samelewing, waar die fokus op materiële waardes val pleks van op mensewaardes.
Met die oog op hierdie leer van die Skrif en die beginsels wat hier uiteengesit is, glo ons dat Christene hulle nie met juwele moet versier nie. Hiermee verstaan ons dat die dra van ringe, oorkrabbetjies, halssnoere, armbande en swierige dasspelde en mansjetknopies – en enige ander soort juwele wat hoofsaaklik op vertoon toegespits is – onnodig is en nie strook met die eevoud wat die Skrif vir versierings voorskryf nie.
Die Bybel assosieer uitspattige skoonheidsmiddels met paganisme en afvalligheid (2 Kon. 9:30; Jer. 4:30). Wat skoonheidsmiddels betref, glo ons dus dat Christene hulle by ‘n natuurlike en gesonde voorkoms moet hou. As ons die Heiland verhoog in ons spraak, handel en kleredrag, word ons soos magnete wat mense na Hom toe trek.33
Christelike Standaarde
In al sy manifestasies is die Christelike lewenswyse ‘ n antwoord op verlossing deur Christus. Die Christen wil God vereer en lewe soos Christus verlang. Al beskou sommige die Christelike lewenswyse as ‘n lys moenies, moet ons dit eerder as ‘n reeks positiewe beginsels sien, wat aktief is in die raamwerk van die verlossing. Jesus het beklemtoon dat Hy gekom het sodat ons die oorvloedige lewe mag hê. Wat is die beginsels wat ons na die oorvloedige lewe lei? As die Heilige Gees die lewe van iemand betrek, vind ‘n gewisse verandering plaas wat sigbaar is vir almal wat met daardie mens omgaan (Joh. 3:8). Die Gees bring nie net ‘n aanvanklike verandering in die lewe teweeg nie; sy uitwerking is progressief. Die vrug van die gees is liefde (Gal. 5:22,23). Die kragtigste argument vir die geldigheid van die Christendom is ‘n liefdevolle en minsame Christen.
Lewe in die Gesindheid van Christus. “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Filip. 2:5). In alle omstandighede, gunstig of ongunstig, moet ons probeer om ooreenkomstig die wil en gesindheid van Christus te lewe en om dit te verstaan (1 Kor.2:16).
Ellen White het die aandag gevestig op die pragtige resultate van ‘n lewe wat hierdie verhouding met Christus aangeknoop het: “Alle ware opregtheid kom uit die hart. Christus se werke het uit Sy hart gekom. En as ons instem, sal Hy Hom so met ons gedagtes en strewe vereenselwig, ons hart en gees so met Sy wil laat saamsmelt, dat ons, as ons Hom gehoorsaam, maar net ons eie impulse sal uitvoer. Die wil, gelouter en geheilig, sal sy hoogste behae in Sy diens vind. As ons God ken soos dit ons voorreg is om Hom te ken, sal ons lewe een van voortdurende gehoorsaamheid wees. Deur ‘n begrip van die karakter van Christus, deur gemeenskap met God, sal die sonde vir ons verwerplik word.”34
‘n Lewe tot Lof en Verheerliking van God. God het soveel vir ons gedoen. Een manier waarop ons ons dankbaarheid kan betuig, is deur om Hom te prys.
Die Psalms lê groot nadruk op hierdie aspek van die geestelike lewe: “So het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien. Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. So sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef. Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe” (Ps. 63:3-6).
So ‘n gesindheid van lofbetuiging sal die Christen help om sy ander lewensaangeleenthede in behoorlike perspektief te hou. Deur ons gekruisigde Heiland te aanskou, wat ons van die straf vrygekoop het, en ons verlos van die mag van die sonde, word ons gemotiveer om net te “doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Joh. 3:22; vgl. Efe. 5:10). Christene “moet nie meer vir hulself lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Kor. 5:15). Elke ware Christen stel God eerste in alles wat hy doen, in alles wat hy dink, in alles wat hy praat en in alles wat hy begeer. Hy het geen ander gode voor sy Verlosser nie (1 Kor. 10:31).
‘n Voorbeeldige Lewe. Paulus het gesê: “Wees geen oorsaak van struikeling” vir enige een nie (1 Kor. 10:32). “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê” (Hand. 24:16). As ons voorbeeld ander tot sonde verlei, word ons struikelblokke vir diegene vir wie Christus gesterf het. “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6).
‘n Lewe van Diens. Een groot rede waarom Christene voorbeeldig lewe, is om verlore manne en vroue te red. Soos Paulus gesê het: “Net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar die van baie, sodat hulle gered kan word” (1 Kor. 10:33; vgl. Matt. 20:28).
Vereistes en Riglyne
Weens die uitwerking van ‘n mens se lewenswyse op sy geestelike belewenis en sy getuienis, het ons as kerkorganisasie sekere norme en minimumvereistes vir lidmaatskap gestel. Onder hierdie norme is die vermyding van tabak, alkoholiese drank, geesverstorende chemikalieë en onrein vleis. Daar moet ook blyke wees van ‘n groeiende Christelike belewenis in sake wat kleredrag en die benuttiging van vrye tyd betref. Hierdie minimale standaarde omvat nie God se hele ideaal vir die gelowige nie. Hulle is net die eerste stappe in die ontwikkeling van ‘n toenemende, stralende Christelike belewenis. Hierdie norme verskaf ook die grondslag wat noodsaaklik is vir eenheid binne die gemeenskap van die gelowiges.
Die ontwikkeling van Christelike gedrag volgens die aard van God is progressief, en vereis ‘n lewenslange eenheid met Christus. ‘n Heilige lewe is niks minder nie as om daagliks die wil aan die beheer van Christus oor te gee en om daagliks ooreen komstig Sy leer te leef soos Hy dit aan ons in Bybelstudie en gebed openbaar. Omdat ons teen verskillende koerse opwas, is dit noodsaaklik dat ons nie ‘ n oordeel oor ons swakker broers en susters fel nie (Rom. 14:1; 15:1).
Christene wat een met Christus is, het maar net een ideaal: om hul bes te doen om die hemelse Vader te vereer wat hulle van so ‘n ryke plan vir hul verlossing voorsien het. “Ofjulle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God” (1 Kor. 10:31).
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
TERUGVOER
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. L. A. King, “Legalism or Permissiveness: An Inescapable Dilemma?” The Christian Century, 16 Apri11980, bl. 436.
2. Vir die ontwikkeling van die Bybelse grondslag van ‘n gesonde lewe in die SDA-Kerk, kyk Damsteegt, Foundations of the Seventh-day Adventist Message and Mission, bl. 221-240; Damsteegt, “Health Reforms and the Bible in Early Sabbatarian Adventism,” Adventist Heritage, Winter 1978, bl. 13-21.
3. Kyk Lewis R. Walton, Jo Ellen Walton, John A. Scharffenberg, How You Can Live Six Extra Years (Santa Barbara, CA: Woodbridge Press, 1981), bl. 4; D. C. Nieman en H. J. Stanton, “The Adventist Lifestyle A Better Way to Live,” Vibrant Life, Maart/Apri11988, bl. 14-18.
4. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible (Grand Rapids, MI: Zondervan Publishers, 1975), deel l, bl. 884.
5. C. B. Haynes, “Church Standards – Nr. 5”, Review and Herald, 30 Oktober 1941, bl. 7.
6. Vir ‘n voller uiteensetting van hierdie eenvoudige gesondheidsreëls kyk V. W. Foster, New Start, (Santa Barbara, CA: Woodbridge Press, 1988).
7. Kyk bv. Kenneth H. Cooper, Aerobics Program for Total Well Being, (New York: M. Evans 1982); Physical Fitness Education Syllabus (Loma Linda, CA: Department of Health Science, School of Health, Loma Linda-Universiteit, 1976-1977); John Dignam, “Walking Into Shape,” Signs of the Times, Julie 1987, bl. 16; B. E. Baldwin, “Exercise,” Journal of Health and Healing 11, no. 4 (1987): 20-23; Jeanne Wiesseman, Physical Fitness, Abundant Living Health Service, deel 5 (Loma Linda, CA: School of Health, Loma Linda-Universiteit, s.j. bl. 21,37,38,45. Kyk ook Dianne-Jo Moore, “Walk Your Tensions Away,” Your Life and Health, no. 4 (1984): 12, 13.
8. Onder die verskillende vorms van oefening is stap een van die beste. Kyk J. A. Scharffenberg, “Adventist Responsibility in Exercise”, (ongepubliseerde manuskrip); White, Testimonies, deel 3, bl. 78; White, “Temperance,” Health Reformer, Apri11872, bl.122; Dignam ”Walking Into Shape,” bl. 16, 17.
9. Daar is ook bevind dat kafeïne bydra tot verhoogde bloedcholesterol, hoë bloeddruk, verhoogde maagsapafskeiding, peptiese sere. Dit is ook verbind met hartkwale, suikersiekte en kanker van die dikderm, blaas en die pankreas. As dit baie gedurende ‘n swangerskap gebruik word, verhoog dit die risiko van geboortegebreke en babas wat by geboorte ondergewig is. Kyk Robert O’Brien en Sidney Cohen, “Caffeine,” Encyclopedia of Drug Abuse (New York: Facts on File, 1984), bl. 50, 51; Marjorie V. Baldwin, “Caffeine on Trial,” Life and Health, Oktober 1973, bl. 10-13; E. D. Gorham, L. F. Garland, F. C. Garland, et al, “Coffee and Pancreatic Cancer in a Rural California County,” Western Journal of Medicine, Jan. 1988, bl. 48-53; B. K. Jacobsen, en D. S. Theile, “The Tromso” Heart Study: Is Coffee Drinking an Indicator of a Lifestyle With High Risk for Ischemic Heart Disease?” Acta Medica Scandinavica 222, no. 3 (1987), 215-221; J. D. Curb, D. M. Reed, J. A. Kautz en K. Yano, “Coffee, Caffeine and Serum Cholestrol in Japanese Living in Hawaii,” American Journal of Epidemiology, April 1986, bl. 648-655. Strawwe koffiedrinkers is ook “minder aktief in godsdiens” (B. S. Victor, M. Lubetsky en J. F. Greden, “Somatic Manifestations of Caffeinism,” Journal o f Clinical Psychiatry, Mei 1981, bl. 186). Vir die kafeïne-inhoud van verskillende dranke, kyk “The latest Caffeine Scoreboard,” FDA Consumer, Maart 1984, bl. 14-16; Bosley, “Caffeine: Is it so harmless?” Ministry, Augustus 1986, bl. 28; Winston J. Craig en Thuy T. Nguyen, “Caffeine and Thea bromine Levels in Cocoa and Carob Products,” Journal of Food Science, Januarie-Februarie 1984, bl. 302, 303, 305.
10. In verband met die omloopstelsel verhoog tabak die risiko van hartaanvalle, hoë bloeddruk en periferale bloedvatsiekte soos Buerger se siekte, as gevolg waarvan vingers en tone afgesit moet word. Wat die asemhalingstelsel betref, veroorsaak tabak meer sterfgevalle as gevolg van longkanker, chroniese brongitis en emfiseem. Dit verlam die trilhaartjies in die lugpyp wat die long en lugpype van onsuiwerhede reinig, en dit hou verband met die kanker van die larinks, mond, esofagus, blaas, nier en pankreas. Dit hou ook verband met die toename van duodenale ulkusse en sterftes weens komplikasies wat uit ulkusse spruit. Kyk bv. Smoking and Health: A Report of the Surgeon General, (Washington DC: U.S. Department of Health, Education and Welfare, 1979).
11. Kyk bv. Galen C. Bosley, ”The Effects of Small Quantities of Alcohol,” Ministry, Mei 1986, bl. 24-27. Onder sosiale drinkers laat alkohol die frontale lobbe, die middelpunt van sedelike oordeelsvermoë, krimp (L.A. Cala, B. Jones, P. Burns et al, “Results of Computerized Tomography, Psychometric Testing and Dietary Studies in Social Drinkers, with Emphasis on Reversibility After Abstinence,” Medical Journal of Australia, 17 Sept. 1983, bl. 264-269). Vgl. Bosley, “Why a Health Message,” Adventist Review 30 Julie 1987, bl. 15. Psigologiese toetse op sosiale drinkers het aan die lig gebring dat hul verstandelike vermoëns en intellektuele prestasies merkbaar belemmer is (D. A. Parker, E. S. Parker, J. A. Brody en R. Schoenberg, “Alcohol Use and Cognitive Loss Among Employed Men and Women.” American Journal of Public Health, Mei 1983, bl. 521-526). Namate meer alkohol ingeneem word, neem kerkbywoning af (A. M. Eward, R. Wolfe, P. Moll en E. Harburg, “Psycho-social and Behavioral Factors Differentiating Past Drinkers and Lifelong Abstainers,” American Journal of Public Health, Jan. 1986, bl. 69).
12. Kyk hoofstuk 15, voetnoot 8 om ‘n bespreking van wyn by die Nagmaal.
13. In die Ou Testament is die woord wat gewoonlik vir wyn gebruik word jajin. Hierdie woord verwys na druiwesap in al sy stadiums vanaf die ongegiste tot die gegiste, hoewel dit dikwels gebruik word vir beleë wyn wat alkohol bevat. Die gewone woord vir ongegiste wyn is tiros. Dit word dikwels vertaal as “nuwe wyn,” wat vars geparste druiwesap is. Beide terme word in die Septuaginta – die Griekse vertaling van die Ou Testament, LXX – as oinos vertaal. Oinos is die woord wat meesal in die Nuwe Testament vir wyn gebruik word en verwys na sowel gegiste as ongegiste wyn, na gelang van die sinsverband. (Vir die Ou Testament kyk Robert P. Teachout, “The Use of ‘Wine’ in the Old Testament” (Th.D.-verhandeling, 1979, beskikbaar deur University Micro Films Int., Ann Arbor, MI); Lael O. Caesar, ”The Meaning of Yayin” (ongepubliseerde M.A.-tesis, Andrews-Universiteit, Berrien Springs, MI, 1986; William Patton Bible Wines (Oklahoma City, OK: Sane Press, s.j.), bl. 54-64. Die uitdrukking “sterk drank” (sjekar in Hebreeus) dui op ‘n soet drank wat gewoonlik gegis is en van ander produkte as druiwe gemaak is. Dit sluit produkte in soos bier (van gars, giers ofkoring), en dadel – of palmwyn. Die uitdrukking verwys nie na gestookte drank nie omdat stook onder die Israeliete onbekend was (Patton, bl. 57, 58, 62). Gegiste wyn. Die Skrif veroordeel alkoholiese wyn omdat dit geweld, ellende en verwoesting veroorsaak (Spr. 4:17; 23:29,35). Dit maak dat godsdienstige leiers onderdrukkers word (Jes. 56:10-12) en is met die verdraaiing van die geregtigheid onder die leiers van Israel geassosieer (Jes. 28:7) asook van Koning Belsasar (Dan. 5:1-30). Ongegiste wyn. Die Bybel verwys gunstig na ongegiste wyn of sap en beveel dit as ‘n groot seën aan. Dit moes as ‘n offer aan God gewy word (Num. 18:12, 13; Neh. 10:37-39; 13:12, 13). Dit is een van die seëninge van God (Gen. 27:28, “mos”; Deut. 7:13; 11:14; Spr. 3:10; Jes. 65:8; Joël 3:18), “wat God en die mense vrolik maak” (Rig. 9:13) en simboliseer geestelike seëninge (Jes. 55:1, 2; Spr. 9:2, 3). Dit is ook ‘n gesonde drank, (1 Tim. 5:23).[Die Afrikaanse Bybel gebruik hier “mos”(OAB) en “wyn”(NAB). Die Hebreeuse woord dui egter op vars, ongegisle druiwesap. -Vertaler.]
14. Kyk bv. Drug Enforcement Administration, Drugs of Abuse, 3de Uitg. (Washington, DC: United States Department of Justice, s.p; Dan Sperling, “Drug Roundup”, Adventist Review, 9 April 1987, bl. 12,13.
15. SDA Church Manual bl. 147.
16. Ibid.
17. Ibid., bl.148, Vir voorbeelde van die ontaarding in veel van die moderne musiek en vermaak, kyk Tipper Gore, Raising PG Kids in an X-rated Society, (Nashville, TN: Abingdon Press, 1987).
18. “Nog ‘n vorm van vermaak wat ‘n bose invloed het, is sosiale danse. ‘Dans as vermaak soos dit tans gedoen word, is ‘n skool van verdorwenheid, ‘n vreeslike vloek op die samelewing.’ Dink aan Jou Skepper, bl. 399 (kyk ook bl. 192). (Kyk 2 Kor. 6:15-18; 1 Joh. 2:15-17; Jak. 4:4; 2 Tim. 2:19-22; Efe. 5:8-11; Kol. 3:5-10. )” Met die oog op hierdie aanleidings tot die sonde sou dit Christene loon om nie “diegekommersialiseerde vermake te ondersteun en mee te doen aan die wêreld se traak-my-nie-agtige plesiersieke menigtes wat meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God is [2 Tim. 3:4].’ “(SDA Church Manual, bl. 148).
19. Ibid., bl. 146, 147.
20. In verband met die toereikendheid van ‘n vegetariese dieet kyk S. Havala, J. Dwyer, “Position of the American Dietetic Association: Vegetarian Diets -Technical Support Paper,” Journal of the American Dietetic Assn., Maart 1988, bl. 352-355; Terry D. Shultz, Winston J. Craig, et ai, “Vegetarianism and Health” in Nutrition Update, deel 2, 1985, bl. 131-141; U. D. Register en L. M. Sonnenberg, ”The Vegetarian Diet,” Journal of the American Dietetic Assn., Maart 1973, bl. 253-261.
21. Kyk Committee on the Scientific Basis of the Nation’s Meat and Poultry Inspection Program, Meat and Poultry Inspection (Washington, DC: National Academy Press, 1985), bl. 21-42; John A. Scharffenberg, Problems With Meat (Santa Barbara, CA: Woodbridge Press, 1979), bl. 32-35.
22. Kyk bv. Committee on Meat and Poultry Inspection, Meat and Poultry Inspection, bl. 68-123; Robert M. Andrews, “Meat Inspector: ‘Eat at Own Risk,’ ” Washingtonse Post, 16 Mei 1987.
23. Frank Young, Commissioner of the Food and Drug Administration, en Sanford Miller, direkteur van die FDA se Center for Food Safety and Applied Nutrition, soos aangehaal deur Carole Sugarman, “Rising Fears over Food Safety”, Washingtonse Post, 23 Julie 1986. Vgl. White, Counsels on Diet and Foods (Washington, DC: Review and Herald, 1946) bl. 384, 385.
24. Scharffenberg Problems With Meat, bl. 12-58.
25. Kyk Shey, “Clean and Unclean Meats” (ongepubliseerde manuskrip, Biblical Research Institute, Wêreldkonferensie van SDA).
26. Winston J. Craig, “Pork and Shellfish – How Safe Are They?” Health and Healing 12, No.1 (1988): 10-12.
27. Die Nuwe Testament se besorgdheid oor heiligheid strook met die van die Ou Testament. Daar word sowel geestelik as liggaamlik in mense se welsyn belang gestel (Matt. 4:23; 1 Thess. 5:23; 1 Pet. 1:15, 16). Markus se verklaring dat Jesus “al die voedsel rein” genoem het (Markus 7:19) beteken nie dat hy die onderskeid tussen rein en onrein kossoorte uitgeskakel het nie. Die bespreking tussen Jesus en die Fariseërs en skrifgeleerdes het niks te make gehad met die soort kos nie, maar met die wyse waarop die dissipels geëet het. Die geskil het gegaan oor die vraag of die rituele was van hande voor ete nodig was (Markus 7:2-5). Jesus het eintlik gesê dat dit nie die kos is wat met ongewaste hande geëet word wat onrein maak nie, maar die goddelose dinge uit die hart (Markus 7:20-23), omdat die kos “nie ingaan in sy hart nie, maar in sy maag en dit gaan in die heimlikheid uit.” Jesus het dus verklaar dat alle kos wat met ongewaste hande geëet word “rein”is (Markus 7:19). Die Griekse woord vir kos (bromata) wat hier gebruik word, is die algemene benaming vir voedsel en sluit alle soorte voedsel vir menslike gebruik in; dit verwys nie net na vleiskos nie. Petrus se gesig van die diere wat in Handelinge 10 opgeteken staan, leer nie dat onrein diere geskik geword het om te eet nie, inteendeel dit het geleer dat die heidene nie onrein is nie en dat Hy met hulle kon omgaan sonder om besoedel te word. Petrus het die visioen self so verstaan en verduidelik “julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie” (Hand. 10:28). In sy briewe aan die Romeine in Korinthiërs (Rom. 14, 1 Kor. 8:4-13; 10:25-28) het Paulus gehandel oor wat die algemene gebruik in die heidense wêreld om voedsel aan afgode te wy vir Christene beteken. Die kwessie waaroor die vroeë Christene moes besluit, was of die eet van voedsel wat aan afgode gewy is, op aanbidding neergekom het. Diegene wat sterk in hulle geloof was, het nie geglo dat dit so was nie en hulle kon dus alle eetbare dinge eet wat aan afgode gewy was. Diegene wat nie so ‘n sterk geloof gehad het nie, het net groente geëet wat nie aan afgode gewy was nie. Paulus het verklaar dat niemand diegene moet verag wat groente eet nie of diegene veroordeel wat “alles eet” wat geskik is vir voedsel nie (Rom. 14:2). Paulus het gewaarsku teen toekomstige ketterye waarvolgens gelowiges verbied sou word om die twee dinge te nuttig wat God met die Skepping aan die mens gegee het – die huwelik en voedsel. Dit het alle voedsel ingesluit wat God vir menslike gebruik geskape het. Paulus se woorde hier moet nie vertolk word dat onrein voedsel deur God geskape is “om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken” nie (1 Tim. 4:3).
28. Peper, speserye, mosterd, suurtjies en soortgelyke stowwe skaad die maag. Eers irriteer hulle die maagvoering. Dan breek hulle die slymlaag af, en vemietig sy weerstand. Die irritering van die maag tas die brein aan wat op sy beurt die temperament beïnvloed en die mens iesegrimmig maak. Vgl. M. A. Schneider et al, “The Effect of Spice Ingestion on the Stomach,” American Journal of Gastroenterology 26, (1956): 722, soos aangehaal in “Physiological Effects of Spices and Condiments,” (Loma Linda, CA: Department of Nutrition, School of Health, Loma Linda-Universiteit [afgerol]). White, Counsels on Diet and Foods, bl. 339-345.
29. Kruie en speserye kan ook ontsteking van die esofagus veroorsaak en die slymvlies van die dun-en die dikderm vernietig. Hulle irriteer die niere en kan bydra tot hipertensie. Party bevat karsinogene. Kyk Kenneth I. Burke en Ann Burke “How Nice Is Spice?” Adventist Review, 8 Jan. 1987, bl. 14,15; Department of Nutrition, “Spices and Condiments”; Marjorie V. Baldwin en Bernell E. Baldwin, “Spices – Recipe for Trouble,” Wildwood Echoes, Winter 1978-1979, bl. 8-11.
30. William G. Johnsson, “On Behalf of Simplicity,” Adventist Review, 20 Maart 1986, bl. 4.
31. SDA Bible Commentary, deel 1, bl. 417.
32. Kyk Year-End Meeting Actions of the North American Division of Seventh-day Adventists (1986), bl. 23-25.
33. Die gebruik van skoonheidsmiddels is nie heeltemal onskadelik nie. Party van die chemikalieë wat in die voorbereiding daarvan gebruik word, kan deur die huid opgeneem word en in die bloedstroom beland, na gelang van die chemiese bestanddeel en die gevoeligheid van die persoon, kan dit die gesondheid benadeel. Kyk N. Shafer, R. W. Shafer, “Potential Carcinogenic Effect of Hair Dyes,” New York State Journal of Medicine, Maart 1976, bl. 394-396; Samuel J. Taub, “Cosmetic Allergies: What Goes on Under Your Makeup?” Eye, Ear, Nose and Throat April 1976, bl. 131,132; S. J. Taub, “Contaminated Cosmetics and Cause of Eye Infections,” Eye, Ear, Nose and Throat, Februarie 1975, bl. 81,82; vgl. White, “Words to Christian Mothers,” Review and Herald, 17 Oktober 1871.
34. White, Die Koning van die Eeue, hfst. 73, par. 22.