21. Wat beteken dit om ‘n goeie Rentmeester te wees?

Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.

DOWNLOAD

Inleiding:

Ons is God se rentmeesters aan wie Hy tyd en geleenthede, bekwaamhede en besittings, en die seëninge van die aarde en Sy hulpbronne toevertrou het. Ons is aan Hom verant­woordelik vir die wyse waarop ons hulle gebruik. Ons erken God as eienaar deur getroue diens aan Hom en aan ons medemens te lewer, en deur tiendes en offergawes vir die ver­kondiging van Sy evangelie en die onderhoud en uitbreiding van Sy kerk te gee. Rentmeesterskap is ‘n voorreg wat God aan ons gee om in liefde te groei en om selfsug en hebsug te oorwin. Die rentmeester verheug hom in die seëninge wat andere as gevolg van sy getrouheid ontvang.

Rentmeesterskap

Meer as enigiets anders beteken ‘n Christelike lewe oorgawe – om ons oor te gee en Christus aan te neem. As ons sien hoe Jesus Hom oorgegee het vir ons, roep ons uit: “Wat kan ek vir U doen?”

Sodra ons dan dink dat ons ons volkome toegewy het, ons ten volle oorgegee het, gebeur iets wat toon hoe oppervlakkig ons toewyding is. Namate ons nuwe aspekte van ons lewens ontdek, wat aan God oorgegee moet word, neem ons toewyding toe. Dan vestig Hy ons aandag, baie teder­lik, op ‘n ander aspek waarin ons ons ego moet oorgee. En so gaan die lewe deur ‘n reeks nuwe Christelike toewydings wat dieper en dieper insink in ons wese, ons lewenswyse, en hoe ons handel en reageer.

Wanneer ons alles wat ons is en wat ons het aan God oorgee, aan wie dit in elk geval behoort (1 Kor. 3:21-4:2), neem Hy dit aan maar Hy vertrou dit dan weer aan ons toe sodat ons rentmeesters of opsigters word oor alles wat ons “besit.” Dan word ons neiging om gemaksugtige, selfsugtige lewens te lei verbreek deur ons besef dat ons Here nakend, in die tronk, en ‘n vreem­deling was. En Sy bevel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” maak die werksaam­hede van die kerk -mededeelsaamheid, onderrig, prediking, doop – vir ons kos­baarder. Gedagtig aan Hom probeer ons om getroue rentmeesters te wees.

Wat is Rentmeesterskap?

  “Weet julle nie dat julle liggaam ‘n tem­pel is van die Heilige Gees … en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle lig­gaam en in julle gees wat aan God be­hoort” (1 Kor. 6:19,20). Ons is teen ‘n ontsettende prys vrygekoop. Ons behoort aan God. Maar dit was bloot  ‘n herwinning, want Hy het ons gemaak; ons het van die begin af aan Hom behoort, want “in die begin het God…geskape” (Gen. 1:1). Die Skrif verklaar uitdruklik, “die aarde be­hoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon” (Ps. 24:1).

Met die Skepping het God Sy besittings met die mensdom gedeel, en Hy bly steeds die ware eienaar van die wêreld, sy inwo­ners en die goedere wat dit bevat (Ps. 24:1). Aan die kruis het Hy Sy eie, wat die mens met die sondeval aan die Satan oorgegee het, herwin (1 Kor. 6:19,20). Nou het Hy Sy kinders aangestel as rentmeesters van Sy besittings.

‘n Rentmeester is iemand “aan wie die bestuur van die huishouding of die besit­ting van ‘n ander toevertrou word.” Rent­meesterskap is “dieamp, verpligtinge of diens van ‘n rentmeester.”1 Vir die Christen beteken rentmeesterskap “die mens se verantwoordelikheid vir, en ge­bruik van alles wat deur God aan hom toevertrou is – die lewe, die fisieke wese, tyd, talente en bekwaamhede, stoflike be­sittings, geleenthede wat ander tot diens kan wees, en sy kennis van die waar­heid.”2 Christene dien as bestuurders van die besittings van God en beskou die lewe as ‘n heilige geleentheid, “Omte leer om getroue rentmeesters te wees en daardeur toegerus te word vir die hoër rentmeester­skap van die ewige dinge in die toekoms­tige lewe.”3

 In sy breër dimensies is rentmeesterskap daarom “die wyse en onselfsugtige aan­wending van die lewe.”4

Hoe God se Eienaarskap Erken Kan Word

Die lewe kan in vier basiese gebiede ingedeel word, wat elkeen ‘n gawe van God is. Hy het ons ‘n liggaam, talente, tyd en stoflike besittings gegee. Boonop moet ons sorg dra vir die wêreld rondom ons waaroor ons heerskappy gegee is.

Rentmeesterskap van die Liggaam. Die kinders van God is rentmeesters van hul­self. Ons moet God liefhê met ons hele hart, en met ons hele siel en met al ons krag en met ons hele verstand (Lukas 10:27).

Christene het die voorreg om hul fisieke en geestelike vermoëns so ver moontlik te ontwikkel. Daardeur vereer hulle God en kan hulle hul medemens tot groter seën wees. (Kyk hoofstuk 21.)

Rentmeesterskap van Vermoëns. Elke mens het sekere talente. Een is miskien musikaal, ‘n ander is goed met handewerk soos naaldwerk of motorwerktuigkunde. Ander maak maklik vriende en kom goed met andere oor die weg, terwyl sommige meer neig tot werksaamhede waarby net hulle betrokke is.

Elke talent kan gebruik word om of die besitter of die oorspronklike Gewer te ver­heerlik ‘n Mens kan ‘n talent met ywer tot verheerliking van God vervolmaak, of vir selfsugtige doeleindes gebruik.

Ons moet die gawes wat die Heilige Gees aan elkeen van ons gee, so verbeter dat ons hierdie talente beter kan benut (Matt. 25). Goeie rentmeesters gebruik hierdie gawes mildelik tot groter voordeel van hul Meester.

Rentmeesterskap oor Tyd. As getroue rentmeesters verheerlik ons God deur ‘n verstandige gebruik van ons tyd. “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus” (Kol. 3:23, 24).

Die Here vermaan ons om ons nie te gedra “as onwyse nie, maar as wyse;” en Hy voeg by: “Koopdie tyd uit, omdat die dae boos is” (Efe. 5:15, 16). Soos Jesus moet ons in die dinge van ons Vader wees (Lukas 2:49). Omdat die tyd ‘n gawe van God is, is elke oomblik kosbaar. Dit is gegee om die karakter vir die ewige lewe te ontwikkel. Getroue rentmeesterskap oor ons tyd beteken dat ons dit aanwend om ons Here te ken, ons medemens te help en om die evangelie te verkondig.

Toe God met die skepping aan ons tyd gegee het, het Hy die sewendedag-Sabbat as heilige tyd vir gemeenskap met Hom uitgehou. Maar ses dae is aan die mens­dom gegee vir nuttige werksaamhede.

Rentmeesterskap oor Stoflike Besit­tings. God het aan ons stamouers die ver­antwoordelikheid opgedra om die aarde te onderwerp, oor die diereryk te heers en vir die Tuin van Eden te sorg (Gen. 1:28 en 2:15). Alles is aan hulle gegee nie net om te geniet nie, maar om te bestuur.

Daar was een beperking. Hulle moes nie van die boom van die kennis van goed en kwaad eet nie. Hierdie boom het hulle steeds daaraan herinner dat God die eie­naar is en die finale gesag oor die aarde het. Deur op hierdie voorbehoud ag te slaan, het die aartspaar hul geloof en lojali­teit aan Hom bewys.

Ná die sondeval kon God hulle nie langer aan die boom van die kennis toets nie. Tog was dit nodig dat die mens steeds daaraan herinner word dat God die bron van elke goeie gif en volmaakte gawe is (Jak. 1:17) en dat dit Hy is wat ons die krag gee om rykdom te verwerf (Deut. 8:18). Om ons daaraan te herinner dat Hy die bronvan elke seën is, het God ‘n stelsel van tiendes en offergawes ingestel.

Hierdie stelsel het later die geldelike middele voorsien vir die onderhoud van die priesterdom van die tempel van Israel. Sewendedag-Adventiste het die Levitiese model aangeneem as ‘n gesonde, Bybelse metode vir die finansiering van evange­lieverbreiding oordie hele wêreld. God het bepaal dat die mededeling van die goeie tyding afhanklik moet wees van die po­gings en offergawes van Sy volk. Hy doen ‘n beroep op hulle om onselfsugtige me­dewerkers van Hom te wees, deur tiendes en offergawes aan Hom te gee.

1. Tiendes. Net soos een sewende van ons tyd (die Sabbat) aan God behoort, so be­hoort een tiende van alle stoflike dinge wat ons verwerf aan Hom. Die Skrif leer ons dat die tiende “heilig aan die Here” is en ‘n simbool is van God se eienaarsreg op alles (Lev. 27:30(32). Dit moet as Sy eien­dom aan Hom teruggegee word.

Die tiendestelsel is prysenswaardig in sy eenvoud. Die regverdigheid daarvan blyk uit sy proporsionele vereistes vir ryk en vir arm. In verhouding tot die eiendom wat God aan ons toevertrou het, moet ons ‘n tiende aan Hom terugbesorg.

Wanneer God ‘n tiende van ons vereis (Mal. 3:10), vra Hy ons nie om dankbaar­heid of vrygewigheid nie. Hoewel dank­baarheid deel moet uitmaak van alles wat ons aan God gee, gee ons ‘n tiende omdat God dit beveel. Die tiende behoort aan die Here, en Hy verwag dat ons dit aan Hom sal teruggee.

a. Voorbeelde van tiendeheffing. Tiende­heffing was dwarsdeur die Skrif ‘n aan­vaarde gebruik. Abraham het aan Melgisedek, die priester van die Aller­hoogste God, ” ‘n tiende van alles” gegee (Gen. 14:20). Daardeur het hy Melgisedek se heilige priesterskap erken en getoon dat hy op die hoogte was van hierdie gewyde instelling. Hierdie verbygaande verwy­sing na die gee van tiendes toon dat dit reeds in daardie vroeë stadium ‘ngeves­tigde gebruik was.

Blykbaar het Jakob ook die vereiste van die tiende verstaan. As balling en voort­vlugtige het hy aan die Here belowe: “Van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan” (Gen. 28:22). En na die eksodus, toe Israel as volk gevestig was, het God die tiende heringestel as ‘nheilige vereiste waarvan Israel se voorspoed af­hanklik was (Lev. 27:30-32; Num. 18: 24, 26, 28; Deut. 12:6, 11, 17).

Pleks van hierdie instelling af te skaf, aanvaar die Nuwe Testament sy geldig­heid. Jesus het die gee van tiendes goedge­keur en diegene veroordeel wat die gees daarvan geskend het (Matt. 23:23). Hoewel die seremoniewette wat die offers, wat as simbole van Christus se soendood gereël het, met Sy dood beëindig is, geld dit nie vir die tiende nie.

Omdat Abraham die vader van alle gelo­wiges is, dien hy as model vir Christene wat die tiende gee. Soos Abraham die tiende aan Melgisedek, die priester van die Allerhoogste God, gegee het, so gee Nieu­Testamentiese gelowiges die tiende aan Christus, ons Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (Heb. 5:9, 10; 7:1-22).5

b. Die aanwending van die tiendes. Tien­des is heilig en moet alleen vir gewyde doeleindes aangewend word. Die Here het beveel: “Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die Here; dit is heilig aan die Here…. Wat betref al die tien­des van beeste en kleinvee…die tiende moet aan die Here heilig wees” (Lev. 27:30­32). “Bring die hele tiende na die skat­huis,” het Hy gesê “sodat daar spys in my huis kan wees” (Mal. 3:10).

In Israel is die tiende uitsluitlik vir die Leviete gebruik wat geen erfdeel as stam ontvang het nie en al hul tyd moes bestee aan die reëling van Israel se godsdiens, aan tempelbediening en aan die voorlees aan die volk van die wet van die Here. (Num. 18:21,24).

Ná die Kruisiging, toe daar ‘n einde gekom het aan die rol wat deur God aan die Levitiese priesterdom toegesê is, moes tiendes steeds gebruik word om die be­diening van die kerk van God te onder­steun. Paulus het die onderliggende beginsel geïllustreer deur ‘nvergelyking te tref tussen die Levitiese diens en die pas­ gestigte evangeliebediening. Hy het ver­klaar: “As ons vir julle die geestelike ge­saai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai? As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? … Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, be­paal dat hulle van die evangelie moet lewe” (1 Kor.9:11-14).

Kerklede bring dus vrywillig hulle tien­des na die “skathuis sodat daar spys in my huis kan wees” (Mal. 3:10) – met ander woorde, sodat daar genoeg middele in die kerk van God kan wees om ‘n bestaan vir die bediening te kan verseker en sodat die evangelie verkondig kan word.6, 7

2. Offergawes. Dankbare Christene kan nie hul bydraes tot die kerk tot  ‘n tiende beperk nie. In Israel is die tabernakel, en later die tempel, gebou van “vrywillige of­fergawes” – offergawes wat uit vrywil­lige harte gegee is (Exod. 36:2-7; vgl. 1 Kron. 29:14). En spesiale offergawes het gesorg vir die onderhoud van hierdie plekke van aanbidding (Exod. 30: 12-16; 2 Kon. 12:4, 5; 2 Kron. 24:4-13; Neh. 10:32, 33). Die Israeliete het waarskynlik tussen ‘n kwart en  ‘nderde van hul inkomste vir godsdienstige en welsynsdoeleindes byge­dra. Het hierdie milde bydraes tot ar­moede gely? Inteendeel, God het hulle belowe om hulle te seën vir hulle getrou­heid (Mal. 3:10-12).

Ook vandag vra die Here om milde by­draes namate Hy ons met voorspoed ge­sen het. Offergawes is nodig om kerke te bou, te onderhou en te bedryf en om me­diese sendingwerk te ondemeem waardeur die praktiese betekenis van die evangelie gedemonstreer word.

Moet ons net soveel gee as wat die Is­raeliete gegee het of geld hulle patroon van bydrae nie meer nie? In die Nuwe Testa­ment het Christus die beginsel van ware rentmeesterskap uiteengesit – dat ons gawes aan God in verhouding moet wees met die lig en voorregte wat ons geniet het. Hy het gesê: “Elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis” (Lukas 12:48). Toe Christus Sy volgelinge op ‘n sending uit­gestuur het, het Hy gesê: “Julle het dit ver­niet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Matt. 10:8). Hierdie beginsel geld ook vir mededeelsaamheid met ons geldelike seëninge.

Nêrens herroep die Nuwe Testament die stelsel of verslap hy dit nie. As ons ons voorregte en seëninge vergelyk met die van die Israeliete, sien ons dat ons in Jesus gewis ‘n groter aandeel ontvang het. Ons dankbaarheid sal ooreenkomstiglik in groter vrygewigheid uitgedruk word, sodat die evangelie van die verlossing aan ander ook verkondig kan word.9 Hoe wyer die evangelie verkondig word, hoe meer ondersteuning het hy nodig.

3. Die oorblyfselprinsiep. Die beginsel van rentmeesterskap geld net soseer vir wat ons oorhou as vir wat ons gee. Hoewel die tiende die basiese toets van ons rent­meesterskap van ons stoflike besittings is,10 is die gebruik van wat oorbly ook ‘n toets vir ons.

Hoe ons ons stoflike dinge gebruik, toon hoe lief ons God en ons medemens het. Geld kan ‘n faktor ten goede wees: In ons hande kan dit voedsel vir die hongerige gee, drank vir die dorstige en klere vir die naakte (Matt. 25:34-40). Uit God se oog­punt gesien, het geld hoofsaaklik waarde as dit gebruik word om in die lewensbe­hoeftes te voorsien, om andere tot seën te wees en om Sy werk te finansier.

4. Ontrouheid in tiendes en offergawes. Oor die algemeen is mense onkundig of nalatig aangaande die Goddelike begin­sels van rentmeesterskap. Selfs onder Christene is daar min wat hulle rol as rent­meesters erken. God se reaksie op Israel se ontrouheid toon duidelik hoe Hy die saak bejeën. Toe hulle die tiendes en offergawes tot eie voordeel aangewend het, het Hy hulle gewaarsku dat dit neerkom op dief­stal (Mal. 3:8) en het Hy hul gebrek aan voorspoed aan hul geldelike ontrouheid gewyt: “Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!” (Mal. 3:9).

Die Here het Sy geduld, liefde en genade bewys deur Sy waarskuwing vooraf te gaan met ‘n aanbod van genade: “Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer” (Mal. 3:7). Hy het aangebied om hulle oor­vloedig te seën en het hulle uitgedaag om Sy getrouheid op die proef te stel. “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leerskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprin­kaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie on­vrugbaar wees nie, sê die Here van die leerskare. En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die Here van die leerskare” (Mal. 3:10-12).

Rentmeesterskap oor die Aarde. Die moderne wetenskap het van die aarde een uitgestrekte laboratorium vir navorsing en proefnemings gemaak. Sodanige navor­sing hou baie voordele in, maar die nywer­heidsomwenteling het ook besoedeling aan die lug, water en land veroorsaak. Die tegnologie het in sommige gevalle die na­tuur eerder gemanipuleer as verstandig bestuur.

Ons is rentmeesters van hierdie wêreld en behoort alles moontlik te doen om die lewe op alle vlakke te handhaaf deur die ekologiese ewewig ongestoord te laat. Wanneer Christus weer kom, sal Hy “die verderwers van die aarde…verderf” (Openb. 11:18). Uit hierdie oogpunt be­skou, is Christelike rentmeesters nie net vir hul eie besittings verantwoordelik nie, maar ook vir die wêreld rondom hulle.

Christus as Rentmeester

Behoorlike rentmeesterskap is onself­sugtigheid, dit is die algehele oorgawe van ‘n mens self aan God en aan die naaste­diens. Omdat Christus ons so lief gehad het, het Hy die wrede kruis verduur en selfs die diepere foltering van verwerping in Sy eie Godverlatenheid. Vergeleke met hierdie gawe, wat is daar wat ons kan gee? Hy het gegee, nie wat Hy gehad het nie ­al het Hy alles besit, maar Homself. Dit is rentmeesterskap. Om hierdie grootste gawe te bepeins, is om onsself te vergeet en soos Hy te word. Dit sal ons motiveer om ‘n kerk te word wat omgee, vir diegene binne die gemeenskap van die gelowiges en die daarbuite. Omdat Christus vir die wêreld gesterf het, geld rentmeesterskap in sy wydste betekenis vir die hele wêreld.

Die Seëninge van Rentmeesterskap

God het die rol van rentmeesters ter wille van ons self aan ons toegeken, en nie ter wille van Hom nie.

‘n Persoonlike Seën. Een rede waarom God ons vra om ons hele lewe – tyd, talente, liggaam en besittings – voortdu­rend aan Hom te wy, is om ons eie geeste­like groei en karakterontwikkeling aan te moedig. Terwyl ons altyd onthou dat God alles besit en hoe ewigdurend die liefde is waarmee Hy ons bejeën, word ons dank­baarheid en liefde gevoed.

Getroue rentmeesterskap help ons ook om ons begeerlikheid en selfsug te bowe te kom. Begeerlikheid, een van die mens se grootste vyande, word in die Tien Gebooie verdoem. Jesus het ook daarteen gewaar­sku: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Om op ‘n gereelde grond­slag te gee, help ons om van hebsug en self­sug ontslae te raak.

Rentmeesterskap werk ook die ontwikkeling van spaarsame gewoontes en doeltreffendheid in die hand. Nadat “die vlees met sy hartstogte en begeer­likhede gekruisig” is (Gal. 5:24) sal ons niks ter wille van selfbevrediging aan­wend nie. “As die beginsels van rentmees­terskap die lewe oorheers, word die siel verlig en die doelgerigtheid versterk, word sosiale genietinge van ongesonde aspekte gesnoei, word die sakelewe volgens die maatstaf van die gulde reël gevoer, en word sieleredding die hartstog. So oor­vloedig is die seëninge wat God in ‘n lewe van geloof en getrouheid voorsien.”11

Daar spruit diepe bevrediging en geluk uit die sekerheid dat Hy vir alles wat belê word vir die redding van diegene vir wie die Meester gesterf het, die versekering gee: “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (Matt. 25:40). “Niks is vir ons te kosbaar om vir Jesus te gee nie. As ons die middele wat Hy aan ons sorg toevertrou het, aan Hom teruggee, sal Hy meer in ons hande gee. Elke poging wat ons ter wille van Christus aanwend, sal deur Hom vergoed word, en elke plig wat ons in Sy Naam ver­vul, sal tot ons eie geluk bydra.”12

‘n Seën vir Andere. Ware rentmeesters is ‘n seën vir almal met wie hulle in aan­raking kom. Hulle gee uitvoering aan Paulus se opdrag in verband met rent­meesterskap: “dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n  goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf” (1 Tim. 6:18, 19).

Rentmeesterskap gaan om diens aan ander en om gewillig te wees om enigiets uit te deel wat God genadiglik aan ons ge­skenk het, sodat dit ander kan baat. Dit beteken dat “ons nie langer dink dat die lewe bestaan uit hoeveel geld ons besit, watter titels ons het, watter belangrike mense ons ken, die huis en die buurt waarin ons woon en die posisie en invloed wat ons dink wat ons beklee nie.”13  Die ware lewe is om God te ken, om liefdevol en milddadig te word soos Hy en om te gee wat ons kan na die mate waarin Hy ons voorspoedig gemaak het. Om waarlik in die gees van Christus te gee, is om waarlik te lewe.

‘n Seën vir die Kerk. Dit is vir die kerk onontbeerlik dat die Bybelse plan van rent­meesterskap gevolg word. Om gedurig daaraan deel te neem, is vir sy lede soos oefening – dit lei tot ‘n kragtige kerklig­gaam wat betrokke is by die verspreiding van die seëninge wat Christus aan ons toevertrou het, en om gereed te wees om te reageer op enige behoefte wat daar in die saak van God mag ontstaan. Die kerk sal genoeg middele hê om die bediening te fi­nansier, om God se koninkryk in sy onmid­dellike omgewing uit te brei en om dit uit te dra tot aan die uithoeke van die aarde. Hy sal gewilliglik tyd, talente en middele aan God beskikbaar stel in liefde en dank­baarheid vir sy seëninge.

Met die oog op Christus se versekering dat Hy sal terugkeer wanneer die evangelie van die koninkryk verkondig is “tot ‘n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14), kom die uitnodiging tot almal om saam met Hom rentmeesters en medewer­kers van Hom te word. Dan sal die kerk se getuienis ‘n magtige seën vir die wêreld wees en sy getroue rentmeesters sal hulle verheug as hulle sien hoe die seëninge van die evangelie tot andere gerig word.

Videos en Klankbane:

Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Vrae:

Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.

TERUGVOER

Addisionele hulpbronne:

Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Verwysings:

1. Vertaal uit Webster’s New Universal Unabridged Dictionary 2de uitg., 1979, bl. 1786.

2. SDA Encyclopedia hers. uitg. bl. 1425.

3. Ibid.   

4. Paul G. Smith, Managing God’s Goods (Nashville: Southern Pub. Assn., 1973), bl. 21.

5.  Kyk C. G. Tuland, “Tithing in the New Testament,” Ministry, Okt. 1961, bl. 12.

6.  Bv. in Exodus 27:20 gee die Here spesifieke opdrag dat olyfolie vir die lampe voorsien moes word. Om die olie vir die plek van aanbidding te verskaf sodat dit behoorlik kon funksioneer, was ‘n voortdurende plig­ maar hierdie bedryfskoste het nie uit die tiende gekom nie. Kyk ook White, Counsels on Stewardship (Washing­ton, D.C: Review and Herald, 1940), bl. 102, 103. Sy verklaar dat Bybelonderwysers in skole wat deur die kerk bedryf word, uit die tiende betaal moet word (ibid., bl. 103), maar dat dit nie vir ander “skooldoeleindes,” le­nings aan studente of die onderhoud van kolporteurs gebruik moes word nie (White, Testimonies, deel 9, bl. 248,249; White, Selected Messages, deel 2, bl. 209): Hierdie fases van die werk van God moet uit die offergawes gefinansier word.

7. T. H. Jemison het verskillende praktiese wenke aan die hand gedoen oor hoe die tiende bereken moet word. Hy het geskryf: “Die tiendeheffing op die salaris is maklik om uit te werk. Gewoonlik is daar geen ‘bedryfsuit­gawes’ nie – dit wil sê werklike uitgawes vir die verdienste van inkomste – wat afgetrek moet word nie. Tien persent van die salaris is die tiende…. Om tiendes uit sake inkomste te bereken, is ietwat anders as om dit uit ‘n salaris te doen.’n Groot – of klein­ handelsakeman sal die uitgawes wat nodig was om sy saak te bedryf, aftrek voordat hy die tiende bereken. Dit sluit in die koste van arbeid, hitte, lig, assuransie, huur van perseel, belasting en soortgelyke items. Hierdie af­trekkings sluit natuurlik nie enige van sy persoonlike of gesin se lewenskoste in nie. “Die boer trek sy koste af – lone, kunsmis, herstelwerk, rente, belasting, en dies meer. Die boer moet egter onthou dat plaasprodukte wat die gesin gebruik, hul lewenskoste verminder en dus inkomste is. “Vergelykbare prosedures kan deur die fabrikant, die belegger of die professionele mens gevolg word. Die noukeurige hou van rekeninge wat deesdae in alle sakebedrywighede nodig is, maak dit maklik om die tiende te bereken op die toename of profyt uit die saak. Party sakemanne maak die berekening van hul tiendes deel van hulle gereelde boekhoustelsel. “Soms vind ‘n vrou wie se eggenoot nie ‘n tiendebetaler is nie, dit moeilik om te weet hoe sy teenoor die tien­debetaling moet staan. In party gevalle kan sy ‘n tiende betaal op die geld wat sy vir die huishouding ontvang. In ander gevalle word dit nie toegelaat nie. In sulke gevalle kan sy moontlik net ‘n tiende betaal op die ekstra geldjies wat sy verdien of as ‘n geskenk ontvang. ‘Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig vol­gens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie.’ (2 Kor. 8:12)” (Christian Beliefs, bl. 267).

8.  Party Bybelgeleerdes glo dat Israel ten minste twee tiendes (party dink drie) benewens etlike offergawes gegee het. In verband met die eerste tiende, het die Here gesê: “Ek gee aan die kinders van Levi, al die tiendes in Israel as erfdeel vir hulle diens wat hulle verrig” (Num. 18:21). Wat die tweede tiende egter betref, sê Hy: “Jy moet voor die aangesig van die Here jou God op die plek wat Hy sal uitkies om Sy daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou klein­vee, dat jy kan leer om die Here jou God altyd te vrees”(Deut. 14:23). Twee uit die drie jaar moes die Israeliete hierdie tiende, of sy gelyke in geld, na die heiligdom bring. Daar sou dit gebruik word om die godsdienstige feeste te vier en ook om te voorsien vir die Leviete, vreemdelinge, wese en weduwees. Al om die derde jaar moes die Israeliete die tweede tiende tuis gebruik om die Leviete en die armes te trakteer. Die tweede tiende is dus vir liefdadigheid en gasvryheid gebruik (Deut. 14:27-29; 26:12). Kyk White, Patriarge en Profete, bl. 530; “Tithe,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg. bl. 1127.

9.  Vgl. White, Testimonies, deel 3, bl. 392.

10.Uit ‘n Bybelse oogpunt beskou, is besitting nie eienaarskap nie. Ons gesindheid teenoor die betaal van tiendes toon of ons erken dat ons net bestuurders is en of ons voorgee dat ons die eienaars is.

11.  Froom, “Stewardship in Its Larger Aspects,” Ministry, bl. 20.

12.  White, Testimonies, deel4, bl. 19. 13.  P. G. Smith, bl. 72.