Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Daar is een God: Vader, Seun en Heilige Gees, ‘n eenheid van drie mede-ewige Wesens. God is onsterflik, almagtig, alwetend, en bo alles, alomteenwoordig. Hy is perkeloos en bo menslike begrip, en tog bekend deur Sy selfopenbaring. Hy is ewig waardig om aanbid en gedien te word deur Sy ganse skepping. (Gen. 1:26; Deut. 6:4; Matt. 28:19; 2 Kor. 13:13; Efe.4:4-6; 1Pet. 1:2; 1Tim. 01:17; Openb. 14:7; 1 Joh. 5:7 )
Die Godheid
Op Golgota het byna almal Jesus verwerp. Net enkeles het besef wie Jesus werklik was – onder hulle die sterwende misdadiger (Lukas 23:42), en die Romeinse soldaat wat gesê het: “Waarlik, Hy was die Seun van God”(Markus 15:39).
Toe Johannes geskryf het: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:11), het hy nie net aan die skare om die kruis gedink nie, of selfs nie net aan Israel nie, maar aan elke geslag wat nog geleef het. Met die uitsondering van ‘n handjievol, het die hele mensdom, soos daardie luidrugtige skare op Golgota, versuim om in Jesus hul God en Verlosser te eien. Hierdie versuim, die mensdom se grootste en mees tragies, toon dat die mens se kennis van God gans en al ontoereikend is.
Kennis van God
Die talle teorieë waarmee gepoog word om God te verklaar, en die talle argumente vir en teen Sy bestaan, wys maar dat die mens se wysheid nie kan deurdring tot die Godheid nie. Om jou net op menslike wysheid te verlaat om kennis van God op te doen, is soos om ‘n vergrootglas te neem om die sterrebeelde te bestudeer. Daarom is die wysheid van God vir so baie ‘n “verborge wysheid” (l Kor. 2:7). Vir hulle is God ‘n raaisel. Paulus het geskryf: “Niemand van die heersers van hierdie wêreld [het dit] geken … nie – want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie” (1 Kor.2:8).
Een van die mees basiese gebooie van die Skrif is om “God met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” lief te hê (Matt. 22:37; vgl. Deut. 6:5). Ons kan nie iemand liefhê wat ons glad nie ken nie, en tog kan ons nie die dieptes van God deur navorsing ontdek nie (Job 11:7). Hoe kan ons dan die Skepper leer ken en liefhê?
God is Kenbaar. Omdat God van die mens se probleem weet, het Hy Sy hand in Sy liefde en barmhartigheid deur middel van die Bybel na ons uitgestrek. Dit toon dat die Christelike geloof “nie ‘n verhaal van die mens se soektog na God is nie; dit is die produk van God se openbaring van Homself en Sy doeleindes aan die mens.”l Die doel met hierdie selfopenbaring was om die kloof tussen ‘n opstandige wêreld en ‘n sorgsame God te oorbrug.
Die manifestasie van God se grootste liefde was Sy hoogste openbaring, Jesus Christus, Sy Seun. Deur Jesus kan ons die Vader ken. Soos Johannes gesê het: “Ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken” (1 Joh. 5:20).
En Jesus het gesê: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Joh. 17:3).
Dit is goeie nuus. Hoewel dit onmoontlik is om God volkome te ken, verskaf die Skrif ons praktiese kennis van Hom wat vir ons genoeg is om ‘n reddende verhouding met Hom te kan aanknoop.
Om Kennis van God op te Doen. In teenstelling met ander kennis is die kennis van God net soseer ‘n saak van die hart as van die verstand. Dit betrek die hele wese, nie net die intellek nie. Daar moet ‘n ontvanklikheid vir die Heilige Gees wees en ‘n gewilligheid om die wil van God te doen (Joh. 7:17; vgl. Matt. 11:27). Jesus het gesê: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8).
Ongelowiges kan God daarom nie verstaan nie. Paulus het uitgeroep: “Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red” (1 Kor. 1:20, 21).
Die wyse waarop ons God deur die Bybel leer ken, verskil van alle ander metodes om kennis op te doen. Ons kan onsself nie bo God verhef en Hom as ‘n onderwerp behandel wat ontleed en bereken kan word nie. In ons soeke na ‘n kennis van God moet ons ons onderwerp aan die gesag van Sy selfopenbaring – die Bybel. Aangesien die Bybel sy eie vertolker is, moet ons ons onderwerp aan die beginsels en metodes wat dit voorsien. Sonder hierdie Bybelse riglyne kan ons God nie ken nie.
Waarom het so vele in Jesus se tyd nie daarin geslaag om God se selfopenbaring in Jesus te herken nie? Omdat hulle geweier het om hulle te onderwerp aan die leiding van die Heilige Gees deur die Skrifte, het hulle God se boodskap verkeerd vertolk en hul Verlosser gekruisig. Hul probleem was nie een van intellek nie. Dit was hul geslote hart wat die gees verduister het en tot hul ewige verdoemenis gelei het.
Die Bestaan van God
Daar is twee hoofbronne van getuienis vir die bestaan van God. Dit is die natuur en die Skrifte.
Die Getuienis van die Skepping. Elke mens kan God leer ken uit die natuur en uit menslike ondervinding. Dawid het geskryf: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Ps. 19:2). Johannes het verklaar dat die openbaring van God, met insluiting van die natuur, elke mens verlig (Joh. 1:9). En Paulus verklaar: “Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word” (Rom. 1:20).
Menslike gedrag gee ook blyke van die bestaan van God. In die Atheners se aanbidding van die “onbekende God” het Paulus blyke van geloof in God gesien. Daarom het hy gesê: “Hom dan wat julIe vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle” (Hand. 17:23). Paulus het ook gesê dat die gedrag van nie-Christene die getuienis van “hul gewete” aan die lig bring en toon dat die wet van God “in hul harte” geskryf is (Rom. 2:14, 15). Die intuïsie dat God bestaan, tref ‘n mens ook aan onder diegene wat geen toegang tot die Bybel het nie. Hierdie algemene openbaring van God het aanleiding gegee tot ‘n aantal klassieke rasionele argumente vir die bestaan van God.2
Getuienis uit die Skrif. Die Bybel bewys nie dat God bestaan nie. Hy veronderstel dit. In die eerste teksvers lui dit: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape (Gen. 1:1). Die Bybel noem God die Skepper, die Onderhouer en Heerser van die ganse skepping. God gee so ‘n magtige openbaring deur die skepping dat daar geen verskoning vir ateïsme is nie – iets wat die gevolg is van die onderdrukking van die Goddelike waarheid, of van ‘n gees wat weier om die getuienis van die bestaan van God te erken (Ps. 14:2; Rom. 1:18-22, 28).
Daar is genoeg getuienis van God se bestaan om enigeen te oortuig wat opreg probeer om die waarheid omtrent Hom te wete te kom. Tog is geloof ‘n voorvereiste, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb.11:6). Geloof in God is egter nie blind nie. Dit berus op voldoende getuienis wat in sowel God se openbarings deur die Skrifte as deur die natuur te vinde is.
Die God van die Skrifte
Die Bybel openbaar God se wesenlike hoedanighede deur Sy name, handelinge en beskrywings.
Die Name van God. Toe die Skrifte ontstaan het, was name belangrik – soos hulle nog in die Middel-Ooste en die Oriënt is. Daar word geglo dat die naam die ware natuur en identiteit van die draer weergee. Hoe belangrik God Sy name ag – wat Sy natuur en hoedanighede openbaar – blyk duidelik uit Sy gebod: “Jymag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie” (Exod. 20:7). Dawid het gesing: “Ek wil … die Naam van die Here, die Allerhoogste, psalmsing” (Ps. 7:18). “Sy Naam is heilig en vreeslik” (Ps. 111:9). “Laat hulle die Naam van die Here loof! Want sy Naam alleen is hoog” (Ps. 148:13).
Die Hebreeuse name EI en Elohim (God) openbaar God se almag. Hulle beskryf God as die sterke en magtige, die God van die skepping (Gen. 1:1; Exod. 20:2; Dan. 9:4). Eljon (“Allerhoogste”) en EI Eljon (die “Allerhoogste God”) toon ons Sy verhewe status (Gen. 14:18-20; Jes. 14:14). Adonai (Here) beeld God uit as die Almagtige Heerser (Jes. 6:1; Ps. 35:23). Hierdie name beklemtoon die majesteit en verhewe natuur van God.
Ander name openbaar die gewilligheid van God om ‘n verhouding met Sy kinders aan te gaan. Shaddai (“Almagtige”) en EI Shaddai (“God Almagtig”) beskryf die Almagtige God, die bron van seën en troos (Exod. 6:3; Ps. 91:1). Die naam Jahweh3 wat as Jehova of HERE vertaal word, beklemtoon God se verbondstrou en genade (Exod. 15:2,3; Hos. 12:6,7). In Exodus 3:14 beskryf Jahweh Homself as “Ekis wat Ek is,” of “Ek sal wees wat Ek sal wees”, waarmee Hy Sy onveranderlike houding teenoor Sy volk aandui. By geleentheid het God Homself selfs meer intiem geopenbaar as “Vader” (Deut. 32:6; Jes. 63:16; Jer. 31:9; Mal. 2:10), en noem Hy Israel “Myeersgebore seun” (Exod. 4:22; vgl. Deut. 32:19).
Afgesien van Vader het die Nieu-Testamentiese name vir God – soortgelyke betekenisse as die in die Ou Testament. In die Nuwe Testament gebruik Jesus Vader om ons in ‘n intieme en persoonlike verhouding met God te bring (Matt. 6:9; Markus 14:36; vgl. Rom. 8:15; Gal. 4:6).
God se Handelinge. Die skrywers van die Bybel bestee meer tyd aan die beskrywing van die handelinge van God as aan Sy wese. Hy word voorgestel as die Skepper (Gen. 1:1; Ps. 24:1, 2), Onderhouer van die wêreld (Heb. 1 :3) en as Redder en Verlosser (Deut. 5:6; 2 Kor. 5:19), wat die las van die mensdom se eindbestemming dra. Hy maak planne (Jes. 46:11), voorspellings (Jes. 46:10), en beloftes (Deut. 15:6; 2 Pet. 3:9). Hy vergewe sondes (Exod. 34:7), en is daarom ons aanbidding waardig (Openb.14;6, 7). In die laaste instansie openbaar die Skrifte God as Heerser, “die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God” (1 Tim. 1:17). Sy handelinge bevestig dat Hy ‘n persoonlike God is.
God se Eienskappe. Die skrywers van die Bybel verskaf bykomende inligting oor die wese van God deur getuienisse oor Sy Goddelike eienskappe.
God se verborge eienskappe is die aspekte van Sy Goddelikheid wat nie aan skepsele verstrek word nie. God is die Ewige, want Hy het “lewe in Homself” (Joh. 5;26). Hy is onafhanklik in wil (Efe. 1:5), en in krag (Ps. 115:3). Hy is alwetend (Job 37:16; Ps. 139:1-18; 147:5; 1 Joh. 3:20), omdat Hy, as die Alfa en die Omega (Openb. 1:8), van die begin af die einde ken (Jes.46:9-11).
God is alomteenwoordig (Ps. 139:7-12; Heb. 4:13), wat alle ruimte betrek. Tog is Hy in elke deel van die ruimte ten volle teenwoordig. Hy is ewig (Ps. 90:2; Openb. 1:8), wat alle perke van tyd oortref, en tog is Hy elke oomblik ten volle teenwoordig.
God is almagtig. Niks is vir Hom onmoontlik nie en dit verseker ons dat Hy enigiets kan doen wat Hy Hom voorneem (Dan. 4:17, 25, 35; Matt. 19:26; Openb. 19:6). Hy is onveranderlik omdat Hy volmaak is. Hy verklaar: “Ek, die Here, het nie verander nie” (Mal. 3:6; kyk Ps. 33:11; Jak.1:17). Omdat hierdie eienskappe God as’t ware omskrywe, is hulle onmeedeelbaar.
God se meedeelbare hoedanighede kom uit Sy liefdevolle besorgdheid oor die mensdom. Hulle is onder andere liefde (Rom. 5:8), genade (Rom. 3:24), barmhartigheid (Ps. 145:9), lankmoedigheid, (2 Pet. 3:15), heiligheid (Ps. 99:9), regverdigheid (Esra 9:15; Joh. 17:25), reg (Openb. 22:12) en waarheid (1 Joh. 5:20). Hierdie gawes kom alleen saam met die Gewer self.
Die Soewereiniteit van God
Die Skrif leer duidelik dat God soewerein is. “Na sy wil handel Hy…en daar is niemand wat sy hand kan afslaan…nie” (Dan. 4:35). “U het a1les geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (Openb. 4:11}. “Alles wat die Here behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde” (Ps. 135:6). Daarom kon Salomo sê: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil (Spr. 21:1). Bewus van die soewereiniteit van die Here, het Paulus geskryf: “Ek sal weer na julle terugkom as God wil (Hand. 18:21; kyk Rom. 15:32), terwyl Jakobus vermaan het: “In plaas dat julle sê: As die Here wil” (Jak. 4:15).
Uitverkiesing en die Vryheid van die Mens. Die Bybel toon God se algehele beheer oor die wêreld. Hy het mense “verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun” (Rom. 8:29), om aangeneem te word as Sy kinders en om die erfenis te ontvang (Efe. 1:4,5, 11). Wat beduie hierdie soewereiniteit vir die vryheid van die mens?
Die werkwoord verordineer beteken “om vooraf te bepaal.” Party mense lei hiervan af dat God sommige mense willekeurig uitverkies vir verlossing en ander vir die oordeel, ongeag hul eie keuse. ‘n Studie van die konteks van hierdie gedeeltes toon egter dat Paulus nie na ‘n wispelturige God verwys deur wie enigeen uitgesluit word nie.
Die beduidenis van hierdie tekste is inklusief. Die Bybel verklaar duidelik dat God “wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom”(1 Tim. 2:4). Hy “wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Daar is geen aanduidings dat God besluit het dat sommige mense verlore moet gaan nie; so ‘n dekreet sou Golgota verloën, waar Jesus vir almal gesterf het. Die elkeen in die teksvers: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16) beteken dat enigeen gered kan word.
“Dat die mens se vrye wil die bepalende faktor is, blyk uit die feit dat God gedurig die gevolge van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan ons voorhou en by die sondaar aandring om gehoorsaamheid en die lewe te kies (Deut. 30:19; Josua 24:15; Jes. 1:16, 20; Openb. 22:17); en uit die feit dat dit vir die gelowige moontlik is om, nadat hy eens genade ontvang het, weer afvallig te word en verlore te gaan (1 Kor. 9:27; Gal. 5:4; Heb. 6:4-6; 10:29) ….
“Godken van die begin af die keuse wat elke individu sal maak, maar Sy voorkennis beteken nie dat Hy bepaal het wat daardie keuse sal wees nie….Bybelse uitverkiesing bestaan uit die werkdadige doel van God dat elkeen wat verkies om in Christus te glo, gered sal word Joh. 1:12; Efe.1:4-10).”4
Wat bedoel die Skrif dan as hy sê dat God Jakob liefgehad het maar Esau gehaat het (Rom. 9:13) en dat Hy Farao se hart verhard het (v 17, 18; vgl. v. 15, 16; Exod. 9:16; 4:21)? Die samehang van hierdie gedeeltes toon dat dit by Paulus hier om sending gegaan het, en nie om verlossing nie. Verlossing is vir almal beskikbaar – maar God kies sekere mense uit vir besondere take. Verlossing was vir Jakob en Esau ewe beskikbaar, maar God het Jakob, en nie Esau nie, gekies om die stamlyn te wees deur wie Hy die boodskap van verlossing aan die wêreld sou bekend maak. God oefen soewereiniteit uit in Sy sendingstrategie.
As die Skrif sê dat God Farao se hart verhard het, dig dit bloot aan Hom toe wat Hy toelaat, en bedoel dit nie dat Hy dit so bestem het nie. Farao se negatiewe reaksie op God se beroep illustreer in werklikheid God se agting vir sy vryheid van keuse.
Voorkennis en die Mens se Vryheid. Party mense glo dat God mense bejeen sonder om te weet wat hul keuses is totdat hulle dit gemaak het; dat God sekere toekomsgebeurtenisse weet, soos die Wederkoms, die duisend jaar en die herstel van die aarde, maar dat Hy nie weet wie gered sal word nie. Hulle voel dat God se dinamiese verhouding met die mensdom in gevaar sou verkeer as Hy geweet het van alles wat sou plaasvind van ewigheid tot ewigheid. Party beweer dat Hy verveeld sou raak as Hy alles van die begin tot die einde geweet het.
Maar God se kennis van wat mense gaan doen, verydel net so min hul keuse as wat ‘n geskiedkundige se kennis van wat mense in die verlede gedoen het indruis op hul dade. Net soos ‘n kamera ‘n toneel afneem, maar dit nie verander nie, kyk voorkennis die toekoms in sonder om dit te verander. Die voorkennis van God tas nooit die mens se vryheid aan nie.
Die Goddelike Dinamiek
Is daar net een God? Wat van Christus en die Heilige Gees?
Die Eenheid van God. In teenstelling met die heidense nasies om hom, het Israel geglo daar is net een God (Deut. 4:35; 6:4; Jes. 45:5; Sag. 14:9). Die Nuwe Testament plaas dieselfde nadruk op die eenheid van God (Markus 12:29-32; Joh. 17:3; 1 Kor. 8:4-6; Efe. 4:4-6; 1 Tim. 2:5). Hierdie monoteïstiese klem weerspreek nie die Christelike begrip van die Drie-enige God nie – Vader, Seun en Heilige Gees; dit bevestig eerder dat daar geen panteon van verskeie gode is nie.
Die Pluraliteit van die Godheid. Hoewel die Ou Testament nie uitdruklik leer dat God drie-enig is nie, dui dit tog op ‘n pluraliteit in die Godheid. Soms gebruik God meervoudige voornaamwoorde soos: “Laat Ons mense maak na ons beeld” (Gen. 1:26); “Nou het die mens geword soos een van Ons” (Gen. 3:22); “Kom, laat Ons neerdaal” (Gen. 11:7). Soms word die Engel van die Here met God vereenselwig. Toe die Engel van die Here aan Moses verskyn het, het Hy gesê: “Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob” (Exod. 3:6).
Etlike verwysings onderskei tussen die Gees van God en God. In die skeppingsverhaal het “die Gees van God … gesweef op die waters” (Gen. 1:2). Soms verwys die teks nie net na die Gees nie, maar sluit dit in derde wese in in die verlossingstaak van God: “Nou het die Here Here my [die Seun van God] met sy Gees gestuur” (Jes. 48:16); “Ek het my Gees op Hom [die Messias] gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring” (Jes.42:1).
Die Verhouding Binne die Godheid. Die verskyning van Christus op die aarde gee ons ‘n veel duideliker insig in die Drie-enige God. Die Evangelie van Johannes openbaar dat die Godheid uit God die Vader (kyk hoofstuk 3 van hierdie boek), God die Seun (hoofstuk 4) en God die Gees (hoofstuk 5), bestaan,’n eenheid van drie saambestaande wesens met ‘n unieke en raaiselagtige verhouding.
1. ‘n Liefdevolle Verhouding. Toe Christus uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Markus 15:34) het Hy die vervreemding van Sy Vader gevoel wat deur die sonde veroorsaak is. Dit was sonde wat die mens se oorspronklike verhouding met God verbreek het (Gen. 3:6-10; Jes. 59:2). In Sy laaste ure het Jesus, die Een wat geen sonde geken het nie, vir ons sonde geword. Deur ons sonde, ons plek te neem, het Hy die skeiding van God ervaar wat ons lot was – en het Hy as gevolg daarvan gesterf.
Sondaars sal nooit begryp wat Jesus se dood die Godheid gekos het nie. Van ewigheid af was Hy met Sy Vader en die Gees. Hulle het geleef in ‘n ewige saambestaan van volkome onselfsugtigheid en liefde vir mekaar. Om so lank saam te wees getuig van die volmaakte, absolute liefde wat binne die Godheid geheers het. “God is liefde” (1 Joh. 4:8) beteken dat elk so innig vir die ander geleef het dat hulle algehele vervulling en geluk geken het.
Die liefde word in 1 Korintiërs 13 omskryf. ‘n Mens sou kon wonder hoe die hoedanighede van lydsaamheid en geduld binne die Godheid kan geld met sy volkome liefdevolle verhouding. Geduld was al nodig toe daar met die opstandige engele gehandel moes word, en later met die weerbarstige mensdom.
Daar is geen kloof tussen die wesens van die Drie-enige God nie. Al drie is Goddelik, tog deel hulle hierdie Goddelike kragte en hoedanighede. Onder menslike instellings berus die finale gesag by een persoon – sy dit ‘npresident, ‘n koning of ‘n eerste minister. In die Godheid berus die hoogste gesag in al drie lede.
Hoewel die Godheid nie een persoon is nie, is God een in doel, in gedagte en in natuur. Hierdie eenwees wis nie die afsonderlike persoonlikhede van die Vader, die Seun en die Heilige Gees uit nie. Ook vernietig die afsonderlikheid van persoonlikhede nie die monoteïstiese stelling van die Skrif uit dat die Vader, Seun en Heilige Gees een God is nie.
2. ‘n Funksionerende Verhouding. Binne die Godheid bestaan daar ‘n ordening van funksie. God dupliseer werk nie onnodig nie. Orde is die vernaamste wet in die hemel, en God werk op ordelike wyse. Hierdie ordelikheid spruit uit, en bewaar, die eenheid van die Godheid. Dit wil voorkom asof die Vader as bron ageer, die Seun as middelaar en die Gees as aktiveerder of toepasser.
Die vleeswording illustreer hierdie funksionerende verhouding van die drie wesens van die Godheid pragtig. Die Vader het Sy Seun gegee, Christus het Homself gegee, en die Gees het aan Jesus geboorte verwek (Joh. 3:16; Matt. 1:18, 20). Die getuienis van die engel aan Maria dui duidelik op die handelinge van al drie in die verborgenheid van God wat mens geword het. “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Lukas 1:35).
Elke lid van die Godheid was teenwoordig met die doop van Christus: die Vader het aangemoedig (Matt. 3:17), Christus het Homself oorgegee om gedoop te word as ons voorbeeld (Matt. 3:13-15) en die Gees het Hom aan Jesus gegee om Hom met krag toe te rus (Lukas 3:21, 22).
Teen die einde van Sy aardse lewe het Jesus belowe om die Heilige Gees as raadgewer of helper te stuur (Joh. 14:16). Ure later, toe Hy aan die kruis gehang het, het Jesus tot die Vader uitgeroep: “MyGod, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). In hierdie klimaktiese oomblikke van die verlossingsgeskiedenis was die Vader, die Seun en die Heilige Gees almal deel van die prentjie.
Tans reik die Vader en Seun na ons deur middel van die Heilige Gees. Jesus het gesê: “As die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig” (Joh. 15:26). Die Vader en die Seun stuur die Gees om Christus aan elkeen te openbaar. Die groot begeerte van die Drie-eenheid is om God en ‘n kennis van Christus aan elke mens te bring (Joh. 17:3), en om Jesus ‘nteenwoordige werklikheid te maak (Matt. 28:20; vgl. Heb. 13:5). Gelowiges is uitverkies om verlos te word, sê Petrus, “volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprinkeling met die bloed van Jesus Christus” (1 Pet. 1:2).
Die apostoliese seënbede sluit al drie persone van die Godheid in. “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!” (2 Kor. 13:13). Christus staan bo-aan die lys. God se verkeer met die mensdom was en is nog altyd deur Jesus Christus – die God wat mens geword het. Hoewel al drie lede van die Drie-eenheid saam werk om te verlos, het net Jesus as mens gelewe, as mens gesterwe en ons Verlosser geword (Joh. 6:47; Matt. 1:21; Hand. 4:12). Omdat God egter “in Christus die wêreld met Homself versoen het” (2 Kor. 5:19), kan God ook ons Verlosser genoem word (vgl. Titus 3:4), want Hy het ons verlos deur Christus die Verlosser (Efe. 5:23; Fil. 3:20; vgl. Titus 3:6).
In die ordening van funksie voer verskillende lede van die Godheid besondere take uit vir die redding van die mens. Die taak van die Heilige Gees voeg niks by tot die toereikendheid van die offer wat Christus aan die kruis gebring het nie. Deur die Heilige Gees word die objektiewe versoening wat aan die kruis bewerkstellig is, subjektief toegepas as die Christus van die versoening in die hart tuisgebring word. Daarom praat Paulus van “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid” (Kol. 1:27).
Fokus op Verlossing
Die vroeë kerk het mense in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gedoop (Matt. 28: 19). Omdat dit egter deur Jesus was dat God se liefde en doel geopenbaar is, lê die Bybel die klem op Hom. Hy is die hoop wat in die offerandes en feeste van die Ou Testament versinnebeeld is. Hy is die Een wat die middelpunt van die Evangelies beklee. Hy is die Goeie Tyding wat deur die dissipels in redes en geskrifte verkondig is – die Salige Hoop. Die Ou Testament sien vooruit na Sy koms; die Nuwe Testament berig Sy koms na die aarde en sien vooruit na Sy wederkoms.
Christus, die Middelaar tussen God en ons, verenig ons dus met die Godheid. Jesus is “die weg, die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6). Die goeie tyding berus in ‘n Persoon en nie bloot in ‘n gebruik nie.
Dit gaan om ‘n verhouding, nie net reëls nie – want die Christelike leer is Christus. Ons vind Hom in die kern, inhoud en konteks vir alle waarheid en lewe. As ons na die kruis kyk, sien ons in die hart van God. Op daardie folterwerktuig het Hy Sy liefde vir ons uitgestort. Deur Christus vul die liefde van die Godheid ons seer en verlangende harte. Jesus het daar gehang as die gawe van God en as ons plaasvervanger. Op Golgota het God na die aarde se diepste laagtes gedaal om ons te bereik; maar dit is die hoogste punt waartoe ons kan styg. Wanneer ons na Golgota gaan, het ons so hoog gestyg as wat ons tot God kan reik.
Aan die kruis het die Drie-eenheid volkome onselfsugtigheid geopenbaar. Daar was ons volledigste openbaring van God. Christus het mens geword om vir die mensdom te sterwe. Hy het selfopoffering belangriker geag as selfbestaan. Daar het Christus ons”geregtigheid en heiligmaking en verlossing” geword (1 Kor. 1:30). Watter waarde of betekenis ons ook mag hê of ooit sal hê, spruit uit Sy offer aan die kruis. Die enige ware God is die God van die kruis. Christus het aan die heelal die ondeurgrondelike liefde en reddende krag van God onthul; Hy het ‘n Drie-enige God onthul wat bereid was om die foltering van skeiding deur te staan weens Sy onvoorwaardelike liefde vir ‘n opstandige planeet. Van hierdie kruis af verkondig God Sy liefdevolle uitnodiging tot ons: Word versoen, “en die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julIe sinne bewaar in Christus Jesus (Fil.4:7).
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
Verwysings:
1. Gordon R. Lewis, Decide for Yourself: A Theological Workbook (Downers Grove, IL: Intervarsity Press, 1978), bl. 15.
2. Hulle is die kosmologiese, teleologiese, ontologiese, antropologiese en godsdienstige argumente. Kyk bv. T.H. Jemison, Christian Beliefs (Mountain View, CA: Pacific Press, 1959), bl. 72; Richard Rice, The Reign of God (Berrien Springs, MI: Andrews University Press, 1985), bl. 53-56. Hierdie argumente bewys nie dat God bestaan nie maar toon dat daar ‘n sterk moontlikheid is dat Hy wel bestaan. In die laaste instansie berus geloof op die bestaan van God egter in die geloof.
3. Jahweh is ‘n veronderstelde weergawe van die Jode se heilige Naam van God in die Ou Testament (Exod. 3:14, 15; 6:3). Die oorspronklike Hebreeus bevat net die vier medeklinkers JHWH. Mettertyd het die Jode uit vrees dat hulle die Naam van God ydellik sou gebruik, geweier om hierdie naam hardop te lees. Pleks daarvan het hulle, waar JHWH ook al voorgekom het, die woord Adonai gelees. In die sewende of agtste eeu n.c., toe klinkers by die Hebreeuse woorde gevoeg is, het die Masorete die klinkers van Adonai by die konsonante van JHWH gevoeg. Hierdie kombinasie het die woord Jehova tot stand gebring. Die meeste Bybelvertalings gebruik die woord HERE in die plek daarvan. (Kyk Siegfried H. Horn, Seventh-day Adventist Bible Dictionary, Don F. Neufeld, red., hersiene uitg. [Washington, D.C.: Review and Herald, 1979], bl. 1192, 1193). 4. “Predestination,” Seventh-day Adventist Encyclopedia, Don F. Neufeld, red., hersiene uitg., (Washington, D.C.: Review and Herald, 1976), bl. 1144.