19. Is die 10 Gebooie nog van toepassing?

Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.

DOWNLOAD

Inleiding:

Die groot beginsels van die wet van God is in die Tien Gebooie beliggaam en in die lewe van Christus uitgeleef. Hulle is ‘n uitdrukking van die liefde, wil en oogmerke van God aangaande menslike gedrag en verhoudinge en is op alle mense in elke eeu bindend. Hierdie gebooie maak die grond­slag uit van God se verbond met Sy volk en is die maatstaf waarvolgens God oordeel. Met behulp van die Heilige Gees wys hulle sonde uit en wek hulle die besef van ‘n behoefte aan ‘n Verlosser. Verlossing is geheel en al uit genade en nie weens werke nie, maar sy vrugte is gehoorsaamheid aan die Gebooie. Hierdie gehoorsaamheid ontwikkel ‘n Christelike karakter en gee aanleiding tot ‘n gevoel van welsyn. Dit is ‘n bewys van ons liefde vir die Here en ons belangstelling in ons medemens. Geloofsgehoorsaamheid demonstreer die krag van Christus om lewens te vernuwe en dus versterk dit die Christelike getuienis.

Die Wet van God

Alle oë was op die berg gerig. ‘n Digte wolk het sy kruin bedek en, terwyl dit al donkerder geword en afwaarts gerol het totdat die hele berg in geheimsinnigheid gehul was. Blitse het uit die donkerte geflits en die donder het oor en oor weergalm. “En die hele berg Sinai het gerook, omdat die Here in ‘n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe…. Die basuin [het] sterker en sterker geword” (Exod. 19:18, 19). So magtig was hierdie grootse openbaring van die teen­woordigheid van God dat die hele Israel ge­sidder het.

Skielik het die donder en die trompetge­skal bedaar, en’n ontsagwekkende stilte het neergedaal. Toe spreek God uit die digte duisternis wat Hom daar op die berg omhul het. In Sy innige liefde vir Sy volk het Hy die Tien Gebooie uitgeroep. Soos Moses gesê het: “Die Here het gekom van Sinai. .. en gekom van heilige tienduisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle. Ja, Hy het die stamme lief. Al sy heiliges-hulle is in u hand; en hulle was gelaer by u voet; elkeen ontvang iets van u uitsprake.” (Deut. 33:2, 3).

Toe Hy die wet by Sinai gegee het, het God Hom nie net as die gedugte opperste gesag van die heelal geopenbaar nie. Hy het Hom ook onthul as die Verlosser van Sy volk (Exod. 20:2). Dit is omdat Hy die Verlosser is dat Hy nie net Israel nie, maar die ganse mensdom (Pred. 12:13) gebied het om die tien bondige, omvattende en gesaghebbende beginsels te gehoorsaam omdat dit die plig van die mens teenoor God en sy medemens is.

En God het gesê:

“Jymag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jymag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

“Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en a1 jou werk doen; maar die sewendedag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy geen werk doen nie jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig.

“Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.

“Jymag nie doodslaan nie.

“Jy mag nie egbreek nie.

“Jymag nie steel nie.

“Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

“Jymag nie jou naastese huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” (Exod.20:3-17).

Die Aard van die Wet

As ‘n weergawe van die karakter van God is die wet van Tien Gebooie sedelik, geestelik en omvattend, en bevat hulle universele beginsels.

 ‘n Weergawe van die Karakter van die Wetgewer.Die Skrif sien die hoedanig­hede van God in Sy wet. Soos God, is “die wet van God…volmaak” en “die getuienis van die Here is gewis” (Ps. 19:8, 9). “Dusis die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed” (Rom. 7:12). “Alu ge­booie is waarheid. Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het” (Ps. 119:151, 152). Waarlik, “al u ge­booie is geregtigheid” (Ps. 119: 172).

‘n Sedewet. Die Tien Gebooie stel God se gedragspatroon vir die mensdom. Hulle omskryf ons verhouding met ons Skepper en Verlosser en ons plig teenoor ons mede­mens. Die Skrif noem die oortreding van die wet van God sonde (1 Joh. 3:4).

‘n Geestelike Wet. “Die wet [is] gees­telik” (Rom. 7:14). Daarom kan alleen diegene wat geestelik is en die vrugte van die Gees dra, dit gehoorsaam (Joh. 15:4; Gal. 5:22, 23). Dit is die Gees van God wat ons in staat stel om Sy wil te doen (Hand. 1:8; Ps. 51:13, 14). Deur in Christus te bly, ontvang ons die krag wat ons nodig het om vrugte tot Sy heerlikheid te dra (Joh. 15:5).

Die wette van mense dek net uiterlike dade. Maar die Tien Gebooie “is baie wyd” (Ps. 119:96), raak ons diepste gedagtes, be­geertes en emosies, soos jaloesie, nyd, wel­lus en ambisie. In die Bergrede het Jesus hierdie geestelike dimensie van die wet be­klemtoon en aan die lig gebring dat oor­treding in die hart begin (Matt. 5:21, 22, 27, 28; Markus 7:21-23).

‘n Positiewe Wet. Die Tien Gebooie is meer as net ‘n kort reeks verbiedinge. Dit bevat verreikende beginsels. Dit beperk hom nie tot die dinge wat ons nie moet doen nie, maar stel ook die dinge wat ons moet doen. Ons moet ons nie net weerhou van bose dade en gedagtes nie; ons moet leer om ons Godgegewe talente en gawes ten goede te gebruik. Elke negatiewe gebod bevat dus ook ‘n positiewe dimen­sie.

Byvoorbeeld, die sesde gebod, “Jy mag nie doodslaan nie,” het sy positiewe sy, naamlik, “Jy moet die lewe bevorder”. “Dit is die wil van God dat Sy volgelinge trag om die welsyn en geluk van elkeen te bevorder wat binne hul invloedsfeer be­weeg. In ‘n grondige sin berus die sending­opdrag – die goeie tyding van verlossing en die ewige lewe in Jesus Christus – op die positiewe beginsel wat in die sesde gebod vervat word.”1

Die wet van Tien Gebooie moet nie “soseer uit die verbiedende oogpunt gesien word nie as uit die oogpunt van genade. Sy verbiedinge is die gewisse waarborg van geluk in gehoorsaamheid. As dit in Chris­tus ontvang word, bewerkstellig dit die reinheid van karakter in ons wat deur alle ewigheid vreugde sal bring. Vir die ge­hoorsames is dit ‘n beskermende muur. Ons sien daarin die goedheid van God wat, deur die onskendbare beginsels van geregtigheid aan die mens te openbaar, trag om hulle te beskerm teen die euwels wat uit oortredinge spruit.”2

‘n Eenvoudige Wet. Die Tien Gebooie is grondig in hul eenvoudige omvattend­heid. Hulle is so bondig dat selfs ‘n kind hulle maklik van buite kan leer, en tog so verreikend dat hulle elke moontlike sonde dek.

“Daar skuil niks geheimsinnigs in die wet van God nie. Die groot waarhede wat dit beliggaam, is binne almal se begrip. Die swakste intellek kan hierdie reëls verstaan; die onkundigste kan sy lewe daarvolgens reël en sy karakter ontwikkel. “3

‘n Wet van Beginsels. Die Tien Gebooie is ‘n opsomming van al die regte beginsels – hulle geld altyd vir alle mense. Die Skrif sê: “Vrees God en hou Sy gebooie, want dit geld vir alle mense” (Pred. 12:13).

Die Tien Gebooie bestaan uit twee dele, soos aangedui deur die twee kliptafels waarop God dit geskryf het. (Deut. 4:13). Die eerste vier gebooie stel ons plig teen­oor ons Skepper en Verlosser, en die laaste ses ons plig teenoor andere.4

Hierdie tweevoudige verdeling spruit uit die twee groot fundamentele beginsels van liefde waarvolgens die koninkryk van God werk: “Jymoet die Here jou God liefhê uit jou hele hart, uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself” (Lukas 10:27 vgl. Deut. 6:4, 5; Lev. 19:18). Diegene wat volgens hierdie beginsels leef, sal in vol­kome ooreenstemming met die Tien Gebooie lewe, want die gebooie druk hierdie beginsels in breë besonderhede uit.

Die eerste gebod vereis die alleen aanbid­ding van die enige, ware God. Die tweede belet afgodery.5 Die derde verbied oneer­biedigheid en meineed wat by ‘n beroep op die Naam van God betrokke kan wees. Die vierde vereis die eerbiediging van die Sab­bat en identifiseer die ware God as die Skepper van die hemel en aarde.

Die vyfde gebod verwag van kinders om onderdanig aan hulle ouers te wees wat deur God aangestel is om Sy geopen­baarde wil aan komende geslagte oor te dra (kyk Deut. 4:6-9; 6:1-7). Die sesde be­skerm die lewe as iets heiligs. Die sewende vereis kuisheid en beskerm die huwe­liksverhouding. Die agste beskerm eien­dom. Die neënde beskerm die waarheid en verbied valse getuienis. Die tiende steek na die wortel van alle menseverhoudinge deur te belet dat wat aan ander behoort, begeer word.6

‘n Enige Wet. DieTien Gebooie geniet die sonderlinge onderskeiding dat hulle die enigste woorde is wat God hoorbaar teen­oor ‘n ganse nasie gespreek het (Deut. 5:22). Hy het hierdie wet nie aan vergeet­agtige mense toevertrou nie, maar die ge­booie met Sy vinger op twee kliptafels geskryf wat in die ark van die tabernakel bewaar moes word (Exod. 31:18; Deut. 10:2). Om Israel te help om die gebooie toe te pas, het God aan hulle bykomende wette gegee wat hul verhouding teenoor Hom en teenoor mekaar in besonderhede uiteensit. Party van hierdie bykomende wette is op die burgerlike aangeleenthede van Israel toegespits (landswette); ander het die sere­monies van die tempeldienste gereël (sere­moniewette). God het hierdie bykomende wette deur middel van ‘n tussenganger aan die mense bekendgestel, naamlik Moses, wat hulle in die “wetboek” neer­geskryf en “aan die kant van die verbonds­ark” neergesit het (Deut. 31:25, 26) – nie in die ark soos in die geval van God se hoogste openbaring, die Tien Gebooie nie. Hierdie bykomende wette het bekend ge­staan as “die wetboek van Moses” (Josua 8: 31; Neh. 8:1; 2 Kron. 25:4), of eenvoudig die “wet van Moses” (2 Kon. 23:25; 2 Kron. 23:18).

‘n Genoeglike Wet. Die wet van God is ‘n besieling. Die Psalmdigter se: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” “Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.” Hy verklaar selfs: “Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging” (Ps. 119:97, 127, 143). Vir diegene wat God liefhet, is “sy gebooie … nie swaar nie” (1 Joh. 5:3). Dit is die oortreders wat die wet as ‘n swaar las beskou, want die sondige mens “onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7).

Die Doel van die Wet

God het die wet gegee om mense oor­vloediglik te seën en hulle tot ‘n reddende verhouding met Homself te voer. Let op die volgende spesifieke doelstellings:

­ Dit Openbaar God se Wil vir die Mens­dom. As ‘n beskrywing van die karakter en liefde van God openbaar die Tien Ge­booie Sy wil en doel vir die mens. Hulle vereis volkome gehoorsaamheid, “want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig ge­word” (Jak. 2:10). Gehoorsaamheid aan die wet as lewensreël is noodsaaklik vir ons heil. Christus het self gesê: “As jy die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matt. 19:17). Hierdie gehoorsaamheid is alleen moontlik deur die krag wat die in­wonende Heilige Gees voorsien.

Dit Vorm die Grondslag van God se Ver­bond. Moses het die Tien Gebooie saam met ander verduidelikende wette neer­geskryf in die boek wat genoem is, die Boek van die Verbond (Exod. 20:1-24:8).8 Later het Hy die Tien Gebooie “die tafels van die verbond” genoem, wat toon hoe belangrik hulle is as grondslag van die ewige verbond (Deut. 9:9; vgl. 4:13). Om meer besonderhede oor die verbonde, kyk hoofstuk 7 van hierdie boek).

Dit Dien as die Maatstaf in die Oordeel. Soos God, is Sy “gebooie … geregtigheid” (Ps. 119:172). Die wet is daarom die maat­staf van geregtigheid. Ons sal almal vol­gens hierdie regverdige beginsels geoordeel word, en nie volgens ons gewete nie. “VreesGod en hou Sy gebooie,” ver­klaar die Skrif, “want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die ver­borge dinge, goed of sleg” (Pred. 12:13, 14; vgl. Jak. 2:12).

Mense se gewetens verskil. Party se gewete is “swak,”terwyl ander s’n “be­soedel” is. Party is “gebrandmerk in hul eie gewete” (1 Kor. 8:7, 12; Titus 1:15; Heb. 10:22; 1 Tim. 4:2). Soos ‘n horlosie moet hulle, hoe goed hulle ook al mag werk, vol­gens een of ander noukeurige standaard gestel word om van waarde te wees. Ons gewetens sê vir ons dat ons die regte ding moet doen, maar sê nie vir ons wat die regte ding is nie. Alleen ‘n gewete wat op God se groot standaard – Sy wet – inge­stel is, kan ons van sonde bewaar.9

Dit Wys Sonde Uit. Sonder die Tien Ge­booie kan mense die heiligheid van God en hulle eie skuld of behoefte aan bekering nie duidelik insien nie.

Wanneer hulle nie besef dat hulle die wet van God oortree nie, is hulle nie bewus van hulle verlore toestand of van hoe nodig hulle die versoenende bloed van Christus het nie.

Om mense te help om hulle eie toestand te besef, dien die wet as ‘n spieël (kyk Jak. 1:23-25). Diegene wat daarin “kyk” sien hul eie karaktergebreke in teenstelling met die regverdige karakter van God. Die sedewet toon dus dat die hele wêreld voor God skuldig staan (Rom. 3:19), sodat elk­een aan Hom rekenskap moet gee.

“Deurdie wet is die kennis van sonde” (Rom. 3:20), “want die sonde is wette­loosheid” (1 Joh. 3:4). Trouens, Paulus het gesê: “Ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie” (Rom. 7:7). Deur sondaars van hul sonde te oortuig, help dit hulle om te besef dat hulle gedoem is onder die oordeel van God se toom en dat hulle die ewige dood as straf in die gesig staar. Dit bring hulle onder die besef van hul volslae hulpeloosheid.

Dit Dien as Middel tot Bekering. Die wet van God is die werktuig wat deur die Heilige Gees gebruik word om ons tot bekering te bring: “Die wet van die Here is volmaak, dit verkwik die siel” (Ps. 19:8). Wanneer ons van ons eie aard bewus word en besef dat ons sondaars is, dat ons son­der hoop in die dodesel sit, besef ons ons behoefte aan ‘n Verlosser. Dan kry die goeie tyding van die evangelie waarlik betekenis. Die wet verwys ons dus na Chris­tus, die enigste wat ons kan help om aan ons wanhopige toestand te ontkom.10 Dit is in hierdie lig dat Paulus na sowel die sedewet as die seremoniewet verwys het as “die tugmeester” om ons na Christus te lei sodat ons “geregverdig kan word uit die geloof” (Gal. 3:24).11

Hoewel die wet ons sonde aan die kaak stel, kan dit ons nooit red nie. Net soos ons water nodig het om ‘n vuil gesig mee te rei­nig, moet ons, nadat ons ons behoefte in die spieël van God se sedewet ontdek het, na die bron reik wat ” ‘n geopende fontein” is “teen sonde en onreinheid” (Sag. 13:1) en gereinig word deur “die bloed van die Lam” (Openb. 7:14). Ons moet na Christus opsien, “en soos Christus aan [ons] ge­openbaar is aan ‘die kruis van Golgota waar Hy onder die las van die sondes van die hele wêreld gesterf het, toon die Heilige Gees [ons] God se gesindheid teen­oor almal wat hulle bekeer van hul ongeregtighede.”12 Dan word ons siel met hoop vervul, en in die geloof  reik ons uit na ons Heiland, wat die gawe van die ewige lewe aan ons gee (Joh. 3:16).

Dit Bring die Ware Vryheid. Christus het gesê dat “elkeen wat die sonde doen ‘n dienskneg van die sonde is” (Joh. 8:34). Wanneer ons die wet van God oortree, is ons nie vry nie; maar gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie verseker ons van ware vryheid. Om binne die grense van die wet van God te lewe, beteken vryheid van sonde. Dit beteken ook vryheid van alles wat die sonde vergesel – die voort­durende kommer, die kwetsing van die gewete en ‘n toenemende skuldgevoel en selfverwyt wat die lewenslus uitmergel. Die Psalmdigter verklaar “[ek wil] in die ruimte wandel, want ek soek u bevele” (Ps. 119:45). Jakobus verwys na die Tien Ge­booie as “die koninklike wet,” “die vol­maakte wet van die vryheid” (Jak. 2:8; 1:25).

Om ons in staat te stel om hierdie vry­heid te ontvang, nooi Jesus ons uit om met ons sondelas na Hom toe te kom. In die plek daarvan bied Hy ons Sy juk aan wat sag is (Matt. 11:29,30). ’n Juk is ‘n werktuig van diens. Deur die las te verdeel, maak die juk dit makliker om take uit te voer. Christus bied aan om saam met ons in die juk te trek. Die juk self is die wet; “die groot liefdeswet wat in Eden geopenbaar en op Sinai afgekondig is. In die nuwe verbond word dit op die hart geskryf en span dit die menslike arbeider in die wil van God in.”13 Wanneer ons saam met Christus in die juk trek, trek Hy die swaarste en maak Hy ge­hoorsaamheid ‘n lus. Hy stel ons in staat om te slaag in wat eers onmoontlik was. So word die wet, wat in ons hart geskryf word, ‘n lus en vreug. Ons is vry omdat ons wildoen wat Hy beveel.

As die wet sonder Christus se reddende krag voorgehou word, is daar geen vry­heid van die sonde nie. Maar God se red­dende genade, wat die wet nie uitskakel nie, gee die krag wat van die sonde bevry, want “waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Kor. 3:17).

Dit Beteuel die Kwaad en Bring See­ninge. Misdadigheid, geweld, onsede­likheid en goddeloosheid het toegeneem en soos ‘n vloedgolf oor die wêreld getrek, omdat die mensdom die Tien Gebooie veronagsaam.

 Waar hierdie wet aanvaar word, hou dit die sonde teë, bevorder dit regverdige optrede en word dit ‘n middel tot die vestiging van geregtigheid. Nasies wat sy beginsels in hulle wette opgeneem het, het groot seëninge belewe. Daarenteen lei die verwaarlosing van sy beginsels tot ‘n geleidelike verderf.

In die dae van die Ou Testament het God nasies en individue dikwels ooreenkom­stig hul gehoorsaamheid aan die wet, ge­seën. “Geregtigheid verhoog ‘n volk,” verklaar die Skrif, en “deur geregtigheid word die troon bevestig” (Spr. 14:34; 16:12). Diegene wat geweier het om die ge­booie van God te gehoorsaam, is deur rampe getref (Ps. 89:31,32,33). “Die vloek van die Here is in die huis van die god­delose, maar Hy seën die woning van die regverdiges” (Spr. 3:33; vgl. Lev. 26; Deut. 28). Dieselfde algemene beginsel geld van­dag.14  

Die Ewigdurendheid van die Wet

Aangesien die Tien Gebooie die karakter van God weerkaats, geld Sy beginsels nie net tydelik of vir omstandighede nie, maar is hulle absoluut, onveranderlik en vir altyd geldig vir die mens. Deur die eeue heen het Christene die ewigdurendheid van God streng gehandhaaf en volgehou dat dit vir altyd geldig is.15

Die Wet Voor Sinai. Die wet het bestaan lank voordat God die Tien Gebooie aan Is­rael gegee het. As dit nie so was nie, sou daar geen sonde voor Sinai kon gewees het nie, “want die sonde is wetteloosheid” (1 Joh. 3:4). Dat Lucifer en sy engele gesondig het, getuig van die teenwoordigheid van die wet selfs voor die Skepping (2 Pet. 2:4).

Toe God Adam en Eva na Sy beeld ge­maak het, het Hy die sedelike beginsels van die wet in ‘hulle gees ingeplant, sodat hulle van nature Sy wil kon doen. Deur hul oortreding het sonde die mens oorval (Rom. 5:12).

Later het God van Abraham gesê dat “Abraham na my stem geluister en my or­dening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het” (Gen. 26:5). En Moses het die wette en insettinge van God voor Sinai verkondig (Exod. 16; 18:16). ‘n On­dersoek na die boek Genesis toon dat die Tien Gebooie lank voor Sinai bekend was. Volgens daardie boek was dit duidelik dat mense voordat God die Tien Gebooie gegee het, besef het dat die dade wat dit verbied, verkeerd was.16  Hierdie al­gemene begrip van die sedewet toon dat God die mens moet bekend gemaak het met die inhoud van die Tien Gebooie.

Die Wet by Sinai. In die lang tydperk van slawerny in Egipte, ‘n nasie wat die ware God nie geken het nie (Exod. 5:2), het die Israeliete te midde van afgodery en ver­dorwenheid gelewe. Gevolglik het hulle hul begrip van die heiligheid, reinheid en sedelike beginsels van God in ‘n groot mate afgesterf. Hul status as slawe het dit vir hulle moeilik gemaak om te aanbid.

In antwoord op hul wanhoopskrete om hulp het God aan Sy verbond met Ab­raham gedink en besluit om Sy volk uit die “ystersmeltoond” (Deut. 4:20) te verlos deur hulle na die land te bring waar “hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar” (Ps. 105:45).

Ná hul bevryding het Hy hulle na die berg Sinai gelei en hulle die sedewet gegee wat die grondslag van Sy heerskappy vorm, en die seremoniewette wat hulle die verlossingsplan deur die soenoffer van die Verlosser sou leer. By Sinai dus, het God die wet regstreeks in eenvoudige, dui­delike taal gegee “weens oortredinge” (Gal. 3:19), “sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word” (Rom. 7:13). Alleen deur die sedewet van God in duidelike fokus te stel, kon die Israeliete bewus word van hulle oortredinge, hul hulpeloosheid ontdek en hulle behoefte aan verlossing besef.

Die Wet Voor die Wederkoms van Chris­tus. Die Bybel toon dat die wet van God deur die Satan aangeval word en dat sy stryd daarteen net voor die Wederkoms sy hoogtepunt.sou bereik. Die profesie toon dat die Satan die oorgrote meerderheid mense sou mislei om God ongehoorsaam tewees (Openb. 12:9). Deur middel van die “dier” se mag sal hy die aandag van die wêreld op die dier vestig pleks van op God (Openb. 13:3; om meer oor hierdie profesieë, kyk hoofstuk 12 van hierdie boek).

1. Die wet aangeval. Daniël 7 stel dieself­de mag voor as ‘n klein horinkie. Hierdie hoofstuk vermeld vier groot diere wat sedert die tyd van Christus deur Bybel­kommentators uitgeken is as die vier wê- reldmoondhede, Babel, die Meders en Perse, Griekeland en Rome. Die tien ho­rings van die vierde dier stel die verdeling van die Romeinse Ryk ten tyde van sy on­dergang voor (476 n.C.).17

Daniël se gesig spits hom toe op die klein horinkie, ‘n verskriklike, godslasterlike moondheid wat onder die tien horings ontstaan het, en die opkoms van  ‘n ontsag­wekkende mag ná die verbrokkeling van die Romeinse Ryk. Hierdie mag sou pro­beer om die wet van God te verander (Dan. 7:25) en sou voortduur totdat Christus weer kom (kyk hoofstuk 19 van hierdie boek). Hierdie aanval is op sigself al  ‘n  bewys van die wet se voortdurende rol in die verlossingsplan. Die gesig eindig deur die volk van God te verseker dat hierdie mag nie daarin sal slaag omdie wet tot niet te doen nie omdat die klein horinkie in die oordeel vemietig sal word (Dan. 7:11, 12, 26-28).

2. Die heiliges verdedig die wet. Gehoor­saamheid is ‘n kenmerk van die heiliges wat die Wederkoms afwag. In die laaste botsing staan hulle saam in die handha­wing van Gods wet. Die Skrif beskryf hulle in die volgende woorde: Hulle “wat die ge­booievan God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openb. 12:17; 14:12) en geduldig wag op die wederkoms van Christus.

Ter voorbereiding vir die Wederkoms verkondig hierdie mense die evangelie en doen hulle ‘n beroep op ander om die Here as Skepper te aanbid (Openb. 14:6, 7). Diegene wat God in liefde aanbid, sal Hom gehoorsaam; soos Johannes gesê het: “Dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie be­waar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh.5:3).

3. Die oordele van God en die wet. God se oordeel in die gedaante van die sewe laaste plae oor die ongehoorsames kom uit die tempel van “die tent van die getuienis in die hemel” (Openb. 15:5). Israel was goed bekend met die sinsnede die tent van die Getuienis: dit het gedui op die tabema­kel wat Moses gebou het (Num. 1:50, 53; 17:8; 18:2). Dit is so genoem omdat die tabernakel “die ark van die Getuienis” (Exod. 26:34), met die “tweetafels van die Getuienis” (Exod. 31: 18) daarin gehuisves het. Die Tien Gebooie is dus die “ge­tuienis” – die getuienis van die Goddelike wil aan die mensdom (Exod. 34:28, 29).

Maar Openbaring 15:5 verwys na die “tempel van die tent van die getuienis in die hemel.” Moses s’n was bloot ‘n weer­gawe van die hemelse tempel (Exod. 25:8, 40; vgl. Heb. 8:1-5); die groot oorspronk­like wet van die Tien Gebooie word daar bewaar. Dat die laaste oordele intiem ver­band hou met die oortreding van die wet van God is bykomende getuienis van die ewigdurendheid van die Tien Gebooie.

Die boek Openbaring beskryf ook die opening van die hemelse tempel wat die “verbondsark” sigbaar maak (Openb. 11:19). Die woord verbondsark het die ark van die aardse heiligdom beskryf waarin die twee kliptafels met die “woorde”van die “verbond” bewaar is (Exod. 34:27; vgl. Num. 10:33; Deut. 9:9). Die verbondsark in die hemelse heiligdom is die oorspronk­like ark wat die woorde van die ewige ver­bond bevat – die oorspronklike Tien Gebooie. Dit is duidelik dat die tydsbe­rekening van God se laaste oordele oor die wêreld (Openb. 11:18) verband hou met die opening van hierdie hemelse tempel met sy fokus op die ark met die Tien Ge­booie – trouens ‘n gepaste beeld van die verheffing van die wet van God as maat­staf in die oordeel.

Die Wet en die Evangelie.

Verlossing is ‘n gawe wat uit genade deur die geloof kom, nie deur werke van die wet nie (Efe. 2:8). “Niedade van die wet, geen poging hoe prysenswaardig ookal, en geen goeie werke – of hulle nou weinig of baie is, opofferend of nie – kan die sondaar enigsins regverdig nie {Titus 3:5; Rom. 3:20)”. 8

Deur die hele Skrif heers daar volkome harmonie tussen die wet en die evangelie waarin elk die ander onderskraag.

Die Wet en die Evangelie Voor Sinai. Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle ont­dek wat skuldgevoelens, vrees en nood is (Gen. 3 :10). God het op hul behoefte ge­reageer – nie deur die wet wat hulle ver­doem het nietig te verklaar nie; maar pleks daarvan, deur aan hulle die evangelie te verkondig wat hulle tot gemeenskap met Hom en gehoorsaamheid aan Hom sou te­rugbring.

Hierdie evangelie het bestaan uit ‘n be­lofte van bevryding deur ‘n Verlosser, die saad van die vrou wat eendag oor die Bose sal triomfeer (Gen. 3:15). Die offerstelsel wat God vir hulle ingestel het, het hulle ‘n belangrike feit aangaande die versoening geleer: dat vergifnis alleen deur bloedver­gieting verkry kan word -deur die dood van die Verlosser. Deur te glo dat die offer van ‘ n dier die Heiland se soendood na­mens hulle simboliseer, het hulle vergifnis van sonde ontvang.19  Hulle is deur genade gered.

Die belofte van die evangelie was die middelpunt van God se ewige genadever­bond wat aan die mensdom gebied is (Gen. 12:1-3; 15:4, 5; 17:1-9). Dit was nou ver­bonde aan die gehoorsaamheid aan die wet van God (Gen. 18:18, 19; 26:4, 5). Die waarborg van die verbond van God was die Seun van God, die brandpunt van die evangelie – “die Lam wat geslag is” “van die grondlegging van die wêreld af” (Openb. 13:8). Die genade van God het dus in werking getree toe Adam en Eva geson­dig het. Dawid het gesê: “Die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees … vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen (Ps. 103:17, 18).

Die Wet en die Evangelie by Sinai. Daar is ‘n noue verwantskap tussen die Tien Ge­booie en die evangelie. Die handves tot die wet verwys byvoorbeeld na God as die Verlosser (Exod. 20:1). En ná die afkondi­ging van die Tien Gebooie het God die Is­raeliete beveel om ‘n altaar op te rig en offerandes te bring wat Sy reddende ge­nade sou openbaar.

Op die berg Sinai het God aan Moses ‘n groot gedeelte van die seremoniewet in verband met die oprigting van die heilig­dom gegee. God sou in die heiligdom onder Sy volk woon en by hulle wees om Sy seëninge en vergifnis van sondes aan hulle te gee (Exod. 24:9-31: 18). Hierdie uit­breiding van die eenvoudige offerstelsel wat voor Sinai bestaan het, het Christus se middelaarswerk vir die verlossing van sondaars en die regverdiging van die gesag en heiligheid van die wet van God voorafgeskadu.

God se woning was in die Allerheiligste van die aardse heiligdom oor die versoen­deksel van die ark waarin die Tien Gebooie bewaar is. Elke aspek van die dienste by die heiligdom het die Heiland versinne­beeld. Die bloeiende offers het na Sy soen­dood verwys wat die mensdom sou verlos van die oordeel van die wet (kyk hoof­stukke 4 en 9).

Hoewel die Tien Gebooie binne-in die ark gesit is, is die seremoniewette saam met die siviele regulasies wat God gegee het in die “wetboek” neergeskryf en langs­aan die verbondsark geplaas as ” ‘n ge­tuienis teen” die volk (Deut. 31 :36). Telkens as hulle gesondig het, het hierdie “getuienis” hul dade veroordeel en voor­siening gemaak vir ‘n uitvoerige vereiste om met God versoen te word. Vanaf Sinai tot met die dood van Christus het oor­treders van die Tien Gebooie hoop, vergif­nis en reiniging gevind deur geloof in die evangelie wat deur die heiligdomsdienste van die seremoniewette uitgebeeld is.

Die Wet en die Evangelie Ná die Kruis. Soos baie Christene al opgemerk het, gee die Bybel te kenne dat hoewel die dood van Christus die seremoniewette afgeskaf het, dit die voortdurende geldigheid van die sedewet bevestig het.20 Let op die bewyse:

1. Die seremoniewet. Met Sy dood het Christus die profetiese simboliek van die offerstelsel vervul. Die skadu is deur die werklikheid vervang en die seremonie­wette was uitgedien. Eeue vroeër het Da­niël voorspel dat die dood van die Messias “slagoffer en spysoffer [sou) laat ophou” (Dan. 9:27; kyk hoofstuk 4 van hierdie boek). Toe Jesus gesterf het, het die voor­hangsel van die tempel bonatuurlik van bo tot onder in twee geskeur (Matt. 27:51), wat die einde van die geestelike betekenis van die tempeldienste aangedui het. Hoewel die seremoniewet voor die dood van Christus ‘n noodsaaklike rol vervul het, het dit baie tekortkominge gehad omdat dit net ” ‘n skaduwee…van die toekomstige weldade” was (Heb. 10:1). Dit het ‘n tydelike doel gedien en is die volk van God opgelê tot op die  “tyd van herstelling” (Heb. 9:10; vgl. Gal. 3:19) ­tot op die tyd toe Christus as die ware Lam van God gesterf het. Met die dood van Christus is die juris­diksie van die seremoniewet beëindig. Sy soendood het vergifnis vir alle sondes voorsien. Hierdie daad het “die skuldbrief teen ons wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim … deur dit aan die kruis te nael” (Kol. 2:14; vgl. Deut. 31:26). Toe was dit nie meer nodig om die uitvoerige seremonies uit te voer wat geensins in staat was om sonde weg te neem of die gewete te reinig (Heb. 10:4; 9:9, 14), nie. Daar was nou geen beslommer­nisse meer oor die seremoniewette met hul ingewikkelde vereistes in verband met spys- en drankoffers, die viering van ver­skillende feeste (die Pasga, Pinkster, ens.), nuwemane of seremoniële sabbatte (Kol. 2:16; vgl. Heb. 9:10) wat slegs ‘n “skadu­wee is van toekomstige dinge” (Kol. 2:17) nie.21 Met die dood van Jesus was dit vir ge­lowiges nie meer nodig om hulle met ska­duwees – weerkaatsings van die werklikheid in Christus – te bemoei nie. Nou kon hulle die Heiland self regstreeks nader, want die “werklikheid is Christus” (Kol. 2:17, NAB). Soos die Jode dit vertolk het, het die sere­moniewette ‘n skeidsmuur tussen hulle en ander nasies geword. Dit het ‘n groot struikelblok geword in die pad van hul sending om die wêreld met die heerlikheid van God te verlig.  Christus se dood het “die wet van gebooie wat in insettinge be­staan,” “die middelmuur van skeiding af­gebreek” tussen Jode en nie-Jode om sodoende “een liggaam van gelowiges tot stand te bring wat in een liggaam versoen [is] deur die kruis,” (Efe. 2:14-16).

2. Die Tien Gebooie en die kruis. Hoewel Christus se dood die gesag van die sere­moniewet beëindig het, het dit die Tien Ge­booie bekragtig. Christus het die vloek van die wet verwyder en gelowiges sodoende van sy veroordeling bevry. Hierdie daad van Hom het egter nie beteken dat die wet afgeskaf is en ons vry laat om sy beginsels te oortree nie. Die oorvloedige getuienis van die Skrifte in verband met die ewig­durendheid van die wet weerlê so ‘n sie­ning.

Calvyn het tereg verklaar “ons moet ons nie verbeel dat die koms van Christus ons bevry het van die gesag van die wet nie; want dit is die ewige reël van ‘ntoegewyde en heilige lewe en moet daarom so onver­anderlik wees soos die geregtigheid van God.”22 Paulus het die verband tussen gehoor­saamheid en die reddende genade van die evangelie uiteengesit. In ‘n  beroep op gelo­wiges tot ‘n  heilige lewe het hy hulle uitgedaag: Stel “julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:13, 14). Christene on­derhou dus nie die wet om verlossing te kry nie – diegene wat dit probeer, sal net vind dat hulle dieper aan die sonde ver­slaaf raak. “Solank as wat ‘n mens onder die wet verkeer, verkeer hy ook onder die heerskappy van die sonde, want die wet kan ‘n mens nie red van of die veroorde­ling of die mag van die sonde nie. Want diegene wat onder genade verkeer, word nie net bevry van veroordeling (Rom. 8:1) nie, maar ontvang ook die krag om te oor­win (Rom. 6:4). Dus sal die sonde nie langer oor hulle heers nie.”23

“Christus,” het Paulus bygevoeg, “isdie einde van die wet tot geregtigheid vir elk­een wat glo” (Rom. 10:4). Elkeen wat dus in Christus glo, besef dat hy die einde van die wet is as ‘n wyse om geregtigheid te verkry. Ons is van nature sondaars, maar in Christus is ons geregverdig deur Sy toegerekende geregtigheid.24

Om egter onder die genade te wees, gee gelowiges nie die reg om “in die sonde [te] bly” “dat die genade meer kan word” nie (Rom. 6:1). Inteendeel verskaf dit krag wat gehoorsaamheid en oorwinning oor die sonde moontlik maak. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees (Rom. 8:1).

Christus se dood het die wet groot ge­maak en sy universele gesag bevestig. As die Tien Gebooie verander kon geword het, sou dit vir Hom nie nodig gewees het om te sterf nie. Omdat die wet egter abso­luut en onskendbaar is, het dit ‘n dood gekos om vir die sonde te boet. Aan hier­die vereiste het Christus ten volle deur Sy dood aan die kruis voldoen, waardeur die ewige lewe beskikbaar gestel is aan almal wat Sy heerlike offer aanvaar.

Gehoorsaamheid aan die Wet

Die mens kan nie deur sy goeie dade ver­lossing verdien nie. Gehoorsaamheid is die vrug van verlossing in Christus. Deur Sy uitnemende genade, wat veral aan die kruis bewys is, het God Sy volk van die straf en die vloek van die sonde bevry. Hoewel hulle sondaars was, het Christus Sy lewe gegee om hulle.van die gawe van die ewige lewe te voorsien. God se oor­vloedige liefde wek by die berouvolle son­daar ‘n reaksie wat sig openbaar in liefdevolle gehoorsaamheid deur die krag van die genade wat so oorvloediglik bestee word. Gelowiges wat besef dat Christus die wet hoog ag en die seëninge van ge­hoorsaamheid begryp, sal kragtig gemo­tiveer wees om ‘nChristelike lewe te lei.

Christus en die Wet. Christus het die hoogste agting vir die wet van die Tien Ge­booie gehad. As die groot “EKIS” het Hy self die Vader se sedewet van Sinai afge­kondig (Joh. 8:58; Exod. 3:14; kyk hoofstuk 4 van hierdie boek). Deel van Sy sending op aarde was om “die onderwysing groot en heerlik te maak” (Jes. 42:21). ‘nPassasie uit die Psalms, wat die Nuwe Testament op Christus toepas, verklaar Sy houding teen­oor die wet: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen; u wet is binne-in my ingewande” (Ps. 40:9; vgl. Heb. 10:5 en 7).

Sy evangelie het ‘ngeloof tot gevolg gehad wat die geldigheid van die Tien Ge­booie gewis bevestig het. Soos Paulus gesê het: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel ons bevestig die wet” (Rom. 3:31).

Christus het dus nie net gekom om die mens te verlos nie, maar om die gesag en heiligheid van die wet van God te bekrag­tig, deur sy grootsheid en heerlikheid aan die volk voor te hou en aan hulle ‘n voor­beeld te stel van hoe om dit te bejeën. As Sy volgelinge word Christene gevra om die wet van God in hul lewens groot te maak. Nadat Hy self ‘nlewe van liefde­volle gehoorsaamheid gelei het, het Chris­tus dit beklemtoon dat Sy volgelinge die gebooie moet onderhou. Toe Hy uitgevra is oor die vereiste vir die ewige lewe, het Hy geantwoord: “As jy die lewe wil in­gaan, onderhou die gebooie” (Matt. 19:17). Hy het ook gewaarsku teen die skending van hierdie beginsel: “Nieelkeen wat vir my sê: Here, Here! sal ingaan in die ko­ninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Wetsoortreders sal dus toegang geweier word (Matt. 7:21-23).

Christus het self die wet vervul, nie deur dit tot niet te maak nie maar deur ‘nge­hoorsame lewe. “Voorwaar,” het Hy gesê “voordat die hemele en aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie” (Matt. 5:18). Christus het dit sterk beklem­toon dat die groot doel van die wet van God altyd in gedagte gehou moet word: om jou God lief te hê met jou hele hart en jou hele siel en met jou hele verstand en jou naaste soos jouself (Matt. 22:37, 39). Hy wou egter nie hê dat Sy volgelinge mekaar moet liefhê soos die wêreld liefde vertolk nie – selfsugtig of sentimenteel. Om die liefde waarna Hy verwys het, te ver­duidelik, het Christus ” ‘n nuwe gebod” gegee (Joh. 13:34). Hierdie nuwe gebod moes nie die plek van die Tien Gebooie in­neem nie, maar moes gelowiges ” ‘n voor­beeld gee van wat ware onselfsugtige liefde is, ‘n liefde soos die aarde nog nooit tevore belewe het nie. Dit is in hierdie sin dat Sy gebod as nuut bestempel kan word. Dit het hulle beveel om nie eenvoudig me­kaar lief te hê nie, maar ‘dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het’ (Joh. 15:12). Streng gesproke het ons hier ‘n bykomende bewys van hoe Christus Sy Vader se wette verhef het.25

Gehoorsaamheid bring so ‘n liefde aan die lig. Jesus het gesê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh. 14:15). “Asjulle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Joh. 15:10). Dit beteken ook dat as ons God se kinders liefhet, ons ook God liefhet en “Sy gebooie bewaar” (1 Joh. 2:3).

Alleen deur in Christus te bly, kan ons opregte gehoorsaamheid lewer. “Netsoos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie,” het Hy gesê, “so julle ook nie as julle nie in My bly nie…wie in My bly en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:4, 5). Om in Christus te kan bly, moet ons saam met Hom gekruisig word en ondervind wat Paulus bely het “ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20). Aan diegene wat hierdie belewenis het, kan Christus Sy nuwe ver­bondsbelofte vervul: “Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle sal vir My ‘n volk wees” (Heb. 8:10).

Die Seëninge van Gehoorsaamheid. Ge­hoorsaamheid ontwikkel ‘n Christelike ka­rakter en kweek ‘n gevoel van welsyn, sodat die gelowiges soos “pasgebore babas” kan grootword en na die beeld van Christus verander kan word (kyk 1 Pet. 2:2; 2 Kor. 3:18). Hierdie verandering van son­daar tot kind van God lewer oortuigende getuienis van die krag van Christus.

Die Skrif spreek ‘n “seën” uit oor almal “wat in die wet van die Here wandel” (Ps. 119:1), wie se “behae is in die wet van die Here” en “sy wet dag en nag” oordink (Ps. 1 :2). Die seëninge op gehoorsaamheid is talryk: (1) insig en wysheid (Ps 119:98, 99);

(2) vrede (Ps. 119:165; Jes. 48:18); (3) gereg­tigheid (Deut. 6:25; Jes. 48:18); (4) ‘n ruim en kuis lewe (Spr. 7:1-5); (5) kennis van die waarheid (Joh. 7:17); (6) beskerming teen siekte (Exod. 15:26); (7) langlewendheid (Spr. 3:1,2; 4:10, 22); en (8) die versekering dat ‘n mens se gebede verhoor sal word (1 Joh. 3:22; vgl. Ps. 66:18).

In ‘n uitnodiging aan ons tot gehoor­saamheid, belowe God oorvloedige seë­ninge (Lev. 26:3-10; Deut. 28:1-12), As ons positief reageer, word ons Sy “eiendom” – ” ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk” (Exod. 19:5,6; vgl. 1 Pet. 2:5, 9), “bo al die nasies van die aarde,” “die kop en nie die stert nie” (Deut. 28:1, 13)

Videos en Klankbane:

Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Vrae:

Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.

TERUGVOER

Addisionele hulpbronne:

Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Verwysings:

1. Holbrook, “What God’s Law Means to Me,” Adventist Review, 15 Jan. 1987, bl. 16.

2.  White, Selected Messages, deel, bl. 235.

3.  Ibid., bl. 218.

4.  Vgl. The Westminster Confession of Faith, 1647 n.C., hfst. XIX, in Philip Schiff, The Creeds of Christendom, dee13, bl. 640-644.

5.  Kyk Taylor G. Bunch, The Ten Commandments, (Washington, D.C.: Review and Herald, 1944), bl. 35-36.

6.  “Ten Commandments” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 1106.

7.  “Die wet van Moses” kan ook ‘n verwysing wees na ‘n afdeling van die Ou Testament wat “die Penta­teug” genoem word – die eerste vyf boeke van die Bybel (Lukas 24:44; Hand. 28:23).

8.  Ingesluit in die boek van die verbond was sekere siviele en seremoniële regulasies. Die siviele voorskrifte was nie ‘n toevoeging tot dié van die Tien Gebooie nie, maar bloot spesifieke toepassings van sy breë beginsels. Die seremoniële insettinge simboliseer die evangelie deur die genademiddel aan sondaars te voorsien. Dit is dus die Tien Gebooie wat die verbond beheers. Vgl. Jer. 7:21-23; Francis D. Nichol, Answers to Objections, (Wash­ington D.C.: Review and Herald, 1952), bl. 62-68.

9.  Arnold V. Walle Kampf, “Is Conscience a Safe Guide?” Review and Herald, 11 April 1983, bl. 6.

10.  Party mense het Paulus se verklaring, “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” vertolk as sou dit beteken dat dit die doel van die wet is om ons tot ‘n punt te lei waar ons ons sondigheid kan besef en na Christus kan kom om vergifnis en om deur geloof Sy geregtigheid te ontvang. (Hierdie gebruik van die woord “einde” [Grieks], telos] kom ook voor in 1 Thess. 1:5; Jak. 5:11 en 1 Pet. 1:9.) Kyk ook aanteke­ning 23.

11.  Vergelyk SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 6, bl. 961; White, Selected Messages, deel 1, bl. 233. Die seremoniewet was ook ‘n tugmeester om die individu langs verskillende weë na Christus te bring. Die heilig­domdienste met hul offerandes het sondaars se aandag gevestig op die vergifnis van sonde wat die bloed. van die komende Lam van God, Jesus Christus, sou voorsien, sodat hulle die genade van die evangelie kon ver­staan. Die doel was om ‘n liefde vir die wet van God te kweek, terwyl die offerandes ‘n dramatiese uitbeel­ding van die liefde van God in Christus moes wees.

12.  Ibid., bl. 213.

13.  White, Die Koning van die Eeue, hfst. 34, par. 7.

14.  Vgl. White, Opvoeding, bl. 173-184.

15.  Die historiese geloofsbelydenisse wat sy geldigheid handhaaf is “TheWaldensean Catechism” c. 1500 n.C; Luther se Klein Kategismus 1529 n.c.; die Anglikaanse Kategismus, 1549 en 1662 n.c.; die Skotse Geloofs­belydenis, 1560 n.c. (hervormd); die Heidelbergse Kategismus, 1563 n.c. (hervormd); die Tweede Helvetiese Belydenis, 1566 n.c. (hervormd); die Thirty-Nine Articles of Religion, 1571 n.c. (Anglikaanse Kerk); die For­mula of Concord, 1576 n.c. (Luthers); die Irish Articles of Faith, 1615 n.c. (lerse Episkopaalse Kerk); die West­minster Confession of Faith, 1647 n.C.; die Westminster Shorter Catechism 1647 n.C.; die Confession of the Waldenses, 1655 n.C.; die Savoy Declaration 1658 n.C. (Kongregasionalisties); die Confession of the Society of Friends, 1675 n.C. (Kwakers); die Philadelphia Confession, 1688 n.C. (Baptis); die Twenty-Five Articles of Reli­gion, 1784 n.C. (Metodis); die New Hampshire Conference, 1833 n.C. (Baptis); die Longer Catechism of the Or­thodox; Catholic, Eastern Church, 1839 n.C. (Grieks-Russiese Kerk), soos aangehaal in The Creeds of Christendom, uitg. Philip Schaff, hers. deur David S. Schaff (Grand Rapids: Baker Bookhouse, 1983), dele 1-3.

16.  Vir verwysings na die eerste en die tweede gebod, kyk Gen. 35: 1-4; die vierde, Gen. 2:1-3; die vyfde, Gen. 18:29; die sesde, Gen. 4:8-11; die sewende, Gen. 39:7-9; 19:1-10; die agste, Gen. 44:8; die negende, Gen. 12:11-20; 20:1-10; en die tiende, Gen. 27.

17.  Froom, Prophetic Faith of Our Fathers, deel l, bl. 456, 894; deel2, bl. 528, 784; deel 3, bl. 252, 744; deel 4, bl. 392,846.

18. Questions on Doctrine, bl. 142.

19.  Kain en Abel was volkome bewus van die offerstelsel (Gen. 4:3-5; Heb. 11:4). Dit is heel waarskynlik dat Adam en Eva hul eerste klere (Gen. 3:21) verkry het van die velle van die diere wat gooffer is om versoening vir hulle sondes te bewerkstellig.

20.  Kyk bv. die volgende historiese geloofsbelydenisse: The Westminster Confession of Faith, die Irish Ar­ticles of Religion; die Savoy Declaration, die Philadelphia Confession en die Methodist Articles of Religion.

21. Vgl. The SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 6, bl. 204; White, Patriarge en Profete, bl. 365.

22. Calvyn, Commenting on a Harmony of the Evangelists, vert. deur William Pringle (Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans, 1949), deel l, bl. 277.

23. The SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 6, bl. 541, 542.

24. Andere het Christus as die einde van die wet vertolk al sou dit beteken dat Christus die doel of mikpunt van die wet is (vgl. Gal. 3:24), of die vervulling van die wet (vgl. Matt. 5: 17). Die siening dat Christus die beëindiging van die wet as ‘n middel tot verlossing is (vgl. Rom. 6:14) skyn egter beter te pas in die samehang van Romeine 10:4. “Paulus tref hier ‘n teenstelling tussen God se weg tot geregtigheid deur die geloof en die mens se poging om geregtigheid deur die wet te kry. Die boodskap van die evangelie is dat Christus die einde van die wet is as ‘n wyse tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (The SDA Bible Commentary hers. uitg., deel 6, bl. 595). VII. White, Selected Messages, deel l, bl. 394. 25. Nichol, Answers to Objections, bl. 100, 101.