Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
DOWNLOAD
Inleiding:
Een van die gawes van die Heilige Gees is die profesie. Hierdie gawe is die kenmerk van die oorblyfselkerk en is in die bediening van Ellen G. White gemanifesteer. Omdat sy die boodskapper van die Here is, is haar geskrifte ‘n voortdurende en gesaghebbende bron van waarheid wat troos, leiding, onderrig en vermaning vir die kerk voorsien. Hulle stel dit ook duidelik dat die Bybel die norm is waaraan aIle leer en belewenisse getoets moet word.
Die Profetiese Gawe
Josafat, koning van Juda, was in die nood. Vyandelike troepe het hul kring nouer getrek en die vooruitsig was hopeloos. “En Josafat het … sy aangesig daarop gerig om die Here te soek, en hy het oor die hele Juda ’n vasdag uitgeroep” (2 Kron. 20:3). Die volk het na die tempel begin stroom om die Here om genade en verlossing te smeek.
Toe Josafat voorgegaan het in die diens, het hy hom op God beroep om die omstandighede te verander. Hy het gebid: “Is U nie God in die hemel nie, en is U nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie” (vers 6). Het God dan nie Sy eie in die verlede met besondere guns beskerm nie? Het Hy dan nie hierdie land aan Sy uitverkore volk gegee nie? Daarom het Josafat gesmeek: “Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U”(vers 12).
Terwyl die hele Juda voor die Here gestaan het, het ene Jahasiël opgestaan. Sy boodskap het die vreesbevange volk met moed en leiding besiel. Hy het gesê: “Weesnie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God…. Julle hoef…nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle … die Here sal met julle wees” (verse 15-17). In die oggend het koning Josafat aan sy troepe gesê: “Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees” (vers 20).1
So onwrikbaar het hierdie koning in hierdie onbekende profeet, Jahasiël, geglo dat hy sy voorhoede vervang het met ‘n koor wat tot lof van God en in heilige sieraad gesing het! Terwyl die liedere van lof en geloof deur die lug getrek het, was die Here reeds aan die werk om verwarring te saai onder die leërs wat teen Juda verenig het. Die slagting was so groot dat niemand…vrygeraak [het] nie” (vers 24).
Jahasiël was God se mondstuk vir daardie besondere tydstip.
Profete het ‘n belangrike rol in die dae van die Ou en die Nuwe Testament gespeel. Maar het die profesie opgehou met die afsluiting van die Bybelse kanon? Om die antwoord te vind moet ons die geskiedenis van die profesie nagaan.
Die Profetiese Gawe in Bybelse Tye
Hoewel sonde ‘n einde aan persoonlike kommunikasie tussen God en die mens gemaak het (Jes. 59:2), het God nie opgehou om met die mens gemeenskap te hê nie; pleks daarvan het Hy ander kommunikasiemetodes gebruik. Hy het begin om boodskappe van bemoediging, waarskuwing en bestraffing deur middel van profete te stuur.2
In die Skrifte is ‘n profeet iemand wat kommunikasies van God ontvang en die bedoeling daarvan aan Sy volk oordra.”3 Profete profeteer nie uit eie inisiatief nie, “want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1 :21).
In die Ou Testament is die woord profeet gewoonlik ‘n vertaling van die Hebreeuse woord nabi. Die betekenis word in Exodus 7:1, 2, uiteengesit: “En die Here het aan Moses gesê: “Kyk, ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet [nabi] wees. Jy moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aaron moet met Farao spreek.” Moses se verhouding teenoor Farao was soos die van God teenoor Sy volk. En soos Aäron Moses se woorde aan Farao meegedeel het, so het die profeet God se woorde aan die volk oorgedra. Die woord profeet dui dus op ‘n deur God aangestelde mondstuk vir Hom. Die Griekse gelyke van die Hebreeuse nabi is prophetes, waarvan ons Afrikaansewoord profeet ook afgelei is.
“Siener,” ‘n vertaling van die Hebreeus roeh (Jes. 30:10), of chozeh (2 Sam. 24:11; 2 Kon. 17:13) is nog ‘n benaming vir mense met ‘n profetiese gawe. Die benaminge profeet en siener is nou aan mekaar verbonde. Die Skrif verduidelik: “Vroeër het die mense in Israel só gesê as hulle gaan om God te raadpleeg: Kom, laat ons na die siener gaan. Want die profeet van teenswoordig het hulle vroeër siener genoem” (1 Sam. 9:9). Die benaming siener het die klem gelê op die profeet se ontvangs van ‘n hemelse boodskap. God het die “oë,” of gemoed, van die profete oopgemaak vir die inligting wat Hy wou hê hulle moes aan die volk oordra.
Deur die jare het God Sy wil aan Sy volk bekend gemaak deur persone met die profetiese gawe. “Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7; vgl. Heb. 1:1).
Die Funksies van die Protetiese Gawe in die Nuwe Testament. Die Nuwe Testament verleen ‘n prominente plek aan die profesie onder die gawes van die Heilige Gees en noem dit een keer eerste en twee keer tweede onder die nuttigste bedieninge aan die kerk (kyk Rom. 12:6; 1 Kor. 12:28; Efe. 4:11). Gelowiges word aangemoedig om veral hierdie gawe te begeer (1 Kor. 14:1,39). Die Nuwe Testament noem die volgende funksies wat profete moet vervul:4
1. Hulle het gehelp met die stigting van die kerk. Die kerk is “gebou op die fondament van die apostels en die profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efe. 2:20).
2. Hulle het die leiding geneem in die kerk se sendingondememing. Dit was deur die profete dat die Heilige Gees Paulus en Barnabas afgesonder het vir hul eerste sendingreis (Hand. 13:1, 2) en hulle opdrag gegee het oor waar hulle moes gaan arbei (Hand. 16:6-10).
3. Hulle het die kerk gestig (opgebou). “Hywat profeteer,” sê Paulus, die gemeente.”Profesieë “spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging” (1 Kor. 14:4, 3). Saam met ander gawes het God die profesie aan die kerk gegee “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Efe. 4:12).
4. Hulle het die kerk verenig en beskerm. Profete het gehelp om “die eenheid van die geloof” tot stand te bring, die kerk teen valse leerstellings te beskerm, sodat gelowiges “nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” (Efe. 4:14).
5. Hulle het gewaarsku teen toekomstige moeilikhede. Een Nieu-Testamentiese profeet het teen ‘n komende hongersnood gewaarsku. Gevolglik het die kerk ‘n noodlenigingsprogram georganiseer om diegene te help wat weens die hongersnood nood sou ly (Hand. 11:27-30). Ander profete het gewaarsku dat Paulus in Jerusalem gearresteer en in die gevangenis gesit sou word (Hand. 20:23; 21:4, 10-14).
6. Hulle het die geloof bevestig toe daar geskille was. Op die eerste gemeentelike raad het die Heilige Gees die kerk tot ‘n beslissing oor ‘n twispunt in verband met die verlossing van nie-Joodse Christene gelei. Toe, deur middel van profete, het die Gees die gelowiges in die ware leer herbevestig. Nadat die raad se besluit aan die lidmate bekend gemaak is, het “Judas en Silas, wat self ook profete was,…die broeders met baie woorde bemoedig en versterk” (Hand. 15:32).
Die Profetiese Gawe in die Laaste Dae
Baie Christene glo dat die profetiese gawe na afloop van die apostoliese era tot ‘n einde gekom het. Maar die Bybel toon die kerk se besondere behoefte aan Goddelike leiding gedurende die krisis aan die einde van die tyd; dit getuig van ‘n voortdurende behoefte aan en voorsiening van die profetiese gawe na die Nieu-Testamentiese tyd.
Standhouding van Geestelike Gawes. Daar is geen aanduiding in die Bybel dat God die geestelike gawes wat Hy aan die kerk gegee het, sal onttrek voordat hulle hul taak verrig het nie – ‘n taak wat, volgens Paulus, die kerk “tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” sou bring (Efe. 4:13). Omdat die kerk nog nie hierdie toestand bereik het nie, het hy steeds al die gawes van die Gees nodig. Hierdie gawes, waaronder die profetiese gawe, sal steeds tot voordeel van die kinders van God werksaam wees totdat Christus weer kom. Gevolglik het Paulus gelowiges gewaarsku: “Blus die Gees nie uit nie,” en “Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:19,20), en vermaan het: “Beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer” (1 Kor. 14:1).
Hierdie gawes was nie altyd ten volle werksaam in die Christelike kerk nie.5 Ná die dood van die apostels het profete in baie kringe aansien geniet tot in 300 n.C.6 Die geestelike agteruitgang van die kerk en die gevolglike afvalligheid (kyk hoofstuk 12 van hierdie boek) het aanleiding tot ‘n afname van sowel die teenwoordigheid as die gawes van die Heilige Gees gegee. Terselfdertyd het valse profete vertroue in die profetiese gawe ondermyn?
Die verval van die profetiese gawe in sekere tye van die kerklike geskiedenis het nie beteken dat God die gawe vir goed onttrek het nie. Die Bybel toon dat hierdie gawe, namate die einde nader, aanwesig sal wees om die kerk deur daardie moeilike tyd te rig. Meer nog, dit dui op ‘n toenemende werksaamheid van hierdie gawe.
Die Profetiese Gawe Net Voor die Wederkoms. God het die profetiese gawe aan Johannes die Doper gegee om die koms van Christus aan te kondig. Net so kan ons verwag dat Hy die profetiese gawe weer sal stuur om die Wederkoms te verkondig sodat elkeen die geleentheid sal hê om hom klaar te maak om die Heiland te ontmoet.
Om die waarheid te sê, noem Christus die verskyning van valse profete as een van die tekens dat Sy koms ophande is (Matt. 24:11,24). As daar geen ware profete aan die einde van die tyd sou wees nie, sou Christus gewaarsku het teen enigeen wat op die gawe aanspraak maak. Sy waarskuwing teen valse profete dui daarop dat daar ook egte profete sou wees.
Die profeet Joël het ‘n besondere uitstorting van die profetiese gawe net voor die wederkoms van Christus voorspel. Hy het gesê: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in die dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Joel 2:28:31).
Die eerste Pinkster het met ‘n merkwaardige manifestasie van die Gees gepaard gegaan. Petrus het, met verwysing na Joël se profesie verklaar dat God hierdie seëninge belowe het (Hand. 2:2-21). Ons kan egter die vraag stel of Joël se profesie sy uiteindelike vervulling met Pinkster bereik het en of daar nog ‘n vollediger vervulling voorgelê het. Ons het geen getuienis dat die verskynsels in die son en maan waarna Joël verwys het, die uitstorting van die Gees voorafgegaan of gevolg het nie. Hierdie verskynsels het eers eeue later voorgekom (kyk hoofstuk 24 van hierdie boek).
Pinkster was dus ‘n voorsmaak van die volledige manifestasie van die Gees voor die Wederkoms. Soos Palestina se vroeëreën, wat in die herfs geval het, kort nadat die oeste gesaai is, het die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster die bedeling van die Heilige Gees ingewy. Die volledige en finale vervulling van Joël se profesie kom ooreen met die laat reën, wat in die lente val en die gesaaides tot rypheid bring (Joël 2:23). Net so sal die finale uitgieting van die Gees van God net voor die Wederkoms geskied, na die voorspelde tekens in die son, maan en sterre (vgl. Matt. 24:29; Openb. 6:12-17; Joël 2:31). Soos die laat reën sal hierdie laaste uitstorting van die Gees die oes van die wêreld ryp maak (Matt. 13:30,39), en “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Joël 2:32).
Die Profetiese Gawe in die Oorblyfselkerk. Openbaring 12 noem twee tydperke van groot vervolging. Gedurende die eerste, wat van 538 tot 1798 n.C. gestrek het (Openb. 12:6,14; kyk hoofstuk 12 van hierdie boek), moes getroue gelowiges hewige vervolging deurmaak. Net voor die Wederkoms sal die Satan “haar ander nakomelinge,”die oorblyfselkerk wat weier om ontrou aan Christus te wees, aanval. Die Openbaring beskryf die oorblyfsel as hulle “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openb. 12:17).
Dat die sinsnede “die getuienis van Jesus” op profetiese openbaring dui, blyk duidelik uit latere gesprekke tussen die engel en Johannes.8
Na aan die einde van die boek noem die engel homself ” ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het” (Openb. 19:10), en ” ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete” (Openb. 22:9). Hierdie parallelle uitdrukkings laat duidelik blyk dat dit die profete is wat “die getuienis van Jesus” het.9 Dit verklaar die engel se woorde: “die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Openb. 19:10).
Na aanleiding van hierdie teks het James Moffatt geskryf: ” ‘Want die getuienis van (m.a.w. wat gegee word deur) Jesus is (m.a.w. vorm) die gees van die profesie.’ Dit…omskryf veral die broeders wat die getuienis van Jesus as besitters van die profetiese ingewing het. Die getuienis van Jesus is feitlik dieselfde as die getuienis wat Jesus lewer (xxii, 20). Dit is die selfopenbaring van Jesus (volgens [Openb.] 1:1, wat in die laaste instansie aan God te danke is) wat die Christelike profete besiel.”10
Die uitdrukking Gees van die profesie kan dus verwys na:
(1) die Heilige Gees wat die profeet met ‘n openbaring van God besiel,
(2) die werking van die profetiese gawe en
(3) die medium van die profesie self.
Die profetiese gawe, Jesus se getuienis “aan die kerk deur middel van die profesie,”11 vorm ‘n kenmerkende eienskap van die oorblyfselkerk. Jeremia het die verdwyning van hierdie gawe met wetteloosheid verbind. “Daar is geen onderwysing nie, en haar profete ontvang geen gesig van die Here nie” (Klaagl. 2:9). Die Openbaring toon die besit van hierdie twee as kenmerkende eienskappe van die kerk aan die einde van die tyd; sy lidmate is hulle “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus hou” -die profetiese gawe (Openb. 12:17).
God het die profetiese gawe aan die “kerk” van die Eksodus gegee om Sy volk te organiseer, te rig en te onderrig (Hand. 7:38). “Deur ‘n profeet het die Here Israel uit Egipte laat optrek, en deur ‘n profeet is hulle opgepas” (Hosea 12:14). Dit verbaas daarom nie om die gawe teë te kom onder diegene wat by die laaste eksodus betrokke is nie – die ontkoming uit die sondebesoedelde aarde na die hemelse Kanaän. Hierdie eksodus, wat op die Wederkoms volg, is die laaste en volkome vervulling van Jesaja 11:11: “En in die dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop.”
Hulp in die Laaste Krisis. Die Skrifte leer dat die kinders van God in die laaste dae van die aarde se geskiedenis die volle woede van die sataniese draak sal moet trotseer wanneer hy ‘n laaste poging sal aanwend om hulle te vernietig (Openb. 12:17), “Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het…nie” (Dan. 12:1). Om hulle te help om hierdie hewigste stryd van die eeue te oorleef, het God in Sy goedertierenheid Sy volk die versekering gegee dat hulle nie alleen sal wees nie. Die getuienis van Jesus, die Gees van die profesie, sou hulle veilig na hul einddoel rig – vereniging met hul Heiland tydens die Wederkoms.
Die volgende illustrasie verduidelik die verhouding tussen die Bybel en gevalle van die profetiese gawes sedert Bybelse tye: “Veronderstel ons staan op die punt om ‘n reis te onderneem. Die eienaar van die boot gee ons ‘n boek met aanwysings en sê vir ons dit bevat voorskrifte wat toereikend vir ons hele reis is en dat ons ons bestemde hawe veilig sal bereik as ons daarop ag slaan. Ons maak ons gereed om te vertrek, en slaan die boek oop om te lees wat hy sê. Ons sien die opsteller lê sekere riglyne neer vir ons reis, onderrig ons sover prakties moontlik, en noem die moontlike gebeurlikhede wat mag voorlê; maar hy deel ons ook mee dat die laaste deel van die reis besonder gevaarlik sal wees; dat die aard van die kus gedurig verander weens welsand en storms; ‘maar vir hierdie deel van die reis,’ verklaar hy,’het ek vir jou ‘n loods gegee, wat jou tegemoet sal kom en jou sal voorlig aangaande die omstandighede en gevare wat kan opduik; en jy moet op hom ag slaan.’ Met hierdie aanwysings bereik ons die gevaarlike tye waarteen ons gewaarsku is, en getrou aan die belofte maak die loods sy verskyning. Maar sommige bemanningslede verset hulle teen sy leiding en verklaar: ‘Ons het die oorspronklike aanwysingsboek.’ sê hulle, ‘en dit is vir ons genoeg. Ons hou ons daarby, en daarby alleen; ons het niks met jou uit te waai nie.’ Wie slaan nou ag op daardie oorspronklike aanwysingsboek? Diegene wat die loods verwerp, of diegene wat na hom luister, soos daardie boek hulle beveel? Oordeel gerus”12
Ná-Bybelse Profete en die Bybel
Dit is die profetiese gawe wat die Bybel self gelewer het. In die na-Bybelse tyd moet dit nie die Skrifte vervang of iets daaraan byvoeg nie, omdat die Skriftuurlike kanon nou afgesluit is.
Die profetiese gawe funksioneer aan die einde van die tyd baie soos in die tyd van die apostels. Sy rol is om die Bybel as die grondslag van die geloof en lewenswyse te handhaaf, om sy leer te verduidelik, en om sy beginsels op die daaglikse lewe toe te pas. Dit is betrokke by die totstandkoming en stigting van die kerk, sodat dit sy Goddelik bestemde sending kan volvoer. Die profetiese gawe bestraf, waarsku, rig, en bemoedig sowel individue as die kerk, beskerm hulle teen kettery en verenig hulle op die Bybelse waarhede.
Ná-Bybelse profete funksioneer baie soos die profete Natan, Gad, Asaf, Semaja, Asarja, Eliëser, Ahia, en Obed, Mirjam, Debora, Hulda, Simeon, Johannes die Doper, Agabus, Silas, Anna en Filippus se vier dogters, wat in Bybelse tye geleef het maar wie se getuienisse nooit deel van die Bybel geword het nie. Dieselfde God wat deur die profete gespreek het wie se geskrifte in die Bybel opgeneem is, het hierdie profete en profetesse besiel. Hul boodskappe het nie die reeds aangetekende Goddelike openbaring weerspreek nie.
Toetse vir die Profetiese Gawe. Omdat die Bybel waarsku dat valse profete voor die wederkoms van Christus sal opstaan, moet ons alle aansprake op die profetiese gawe baie noukeurig ondersoek. “Verag die profesieë nie,” het Paulus gesê. “Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad” (1 Thess. 5:20-22; vgl. 1 Joh. 4:1).
Die Bybel skryf etlike riglyne voor waaraan ons kan onderskei tussen die ware profetiese gawe en die valse.
1. Stem die boodskap ooreen met die Bybel? “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie” (Jes.8:20). Hierdie teks gee te kenne dat die boodskappe van enige profeet met die wet van God en met die getuienis deur die hele Bybel moet ooreenstem. ‘n Latere profeet moet nie die vroeëre profete weerspreek nie. Die Heilige Gees weerspreek nooit Sy vorige getuienis nie, want by God is daar “geen verandering of skaduwee van omkering nie” (Jak. 1:17).
2. Word die voorspellings bewaarheid? “Hoe sal ons die woord weet wat die Here nie gespreek het nie? -as die profeet in die Naam van die Here spreek, en wat hy gesê het gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie” (Deut. 18:21, 22; vgl. Jer. 28:9). Hoewel voorspellings moontlik ‘n betreklik geringe deel van die profetiese boodskap mag uitmaak, moet hul noukeurigheid bewys word.
3. Word die menswording van Christus erken? “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie” (1 Joh. 4:2, 3). Hierdie toets vereis meer as maar net ‘n erkenning dat Jesus Christus op aarde geleef het. Die ware profeet moet die Bybelse leer oor Christus se menswording bely – moet in Sy Godheid en vóórbestaan, Sy maagdelike geboorte, ware mensheid, sondelose lewe, soendood, opstanding, hemelvaart, middelaarsbediening en wederkoms glo.
4. Dra die profeet goeie of slegte “vrugte”? Die profesie kom van die Heilige Gees af wat “heilige Manne van God” besiel (2 Pet. 1:21). Ons kan valse profete aan hul vrugte ken. ” ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie,” het Jesus gesê, “en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle aan hul vrugte ken” (Matt. 7:16, 18-20).
Hierdie raad is belangrik in die taksering van ‘n profeet se aanspraak. Eers verwys dit na die profeet se lewe. Dit beteken nie dat die profeet absoluut volmaak moet wees nie – die Skrif verklaar dat Elia ” ‘n mens [was] net soos ons” (Jak. 5:17). Maar die profeet se lewe moet deur die vrugte van die Gees gekenmerk word, nie deur die werke van die vlees nie (Gal. 5:19-23).
In die tweede plek gaan hierdie beginsel om die invloed wat die profeet op andere het. Watter invloed oefen dit uit op diegene wat die boodskappe aanneem? Rus hulle boodskappe die volk van God toe vir hulle sending en verenig dit hulle in hulle geloof (Efe. 4:12-16)? Enigeen wat beweer dat hy die profetiese gawe het, behoort aan hierdie Bybelse toetse onderwerp te word. Voldoen hy of sy aan hierdie norme, kan ons weet dat die Heilige Gees waarlik die profetiese gawe aan daardie persoon gegee het.
Die Gees van Profesie in die Sewendedag-Adventistekerk
Die profetiese gawe was aktief in die bediening van Ellen G. White, een van die stigters van die Sewendedag-Adventistekerk. Sy het ingegewe opdragte verstrek vir die kinders van God wat aan die tyd van die einde lewe. Die wêreld van die vroeë 19de eeu, toe Ellen White God se boodskappe begin aflewer het, was ‘n wêreld vir mans. Haar profetiese roeping is krities bejeen. Omdat sy in die Bybelse toetse geslaag het, het sy 70 jaar lank deur middel van haar geestelike gawe gedien. Van 1844, toe sy 17 jaar oud was, tot in 1915 – die jaar van haar dood – het sy meer as 2 000 gesigte gesien. In daardie selfde tydperk het sy in Amerika, Europa en Australië gewoon en gewerk, leiding gegee, nuwe ondernemings gestig, gepreek en geskryf.
Ellen White het haar nooit ‘n profetes genoem nie, maar sy het nie beswaar gemaak as ander haar een genoem het nie. Sy het verduidelik: “Vroeg in my lewe is ek etlike male gevra: is jy ‘n profeet? Ek het altyd geantwoord: ek is die Here se boodskapper. Ek weet baie het my al ‘n profeet genoem, maar ek het nooit op hierdie titel aanspraak gemaak nie …. Waarom het ek nie daarop aanspraak gemaak dat ek ‘ n profeet is nie? Omdat daar deesdae baie is wat met groot gewag beweer dat hulle profete is en die saak van Christus skaad; en omdat my werk veel meer insluit as wat die woord ‘profeet’ te kenne gee….Om te beweer dat ek ‘n profetes is, is iets wat ek nooit gedoen het nie. As ander my een noem, het ek daar geen beswaar teen nie. Maar my werk behels soveel aspekte dat ek myself nie iets anders as ‘n boodskapper kan noem nie.13
Die Toepassing van Profetiese Toetse. Hoe vergelyk Ellen White se bediening met die Bybelse toets vir ‘n profeet?
1. Ooreenkoms met die Bybel. Onder haar vrugbare literêre produksies, is tienduisende Bybeltekste, wat dikwels met volledige uiteensettings gepaard gaan. Noukeurige ondersoek het getoon dat haar geskrifte konsekwent, noukeurig, en ten volle met die Skrifte ooreenstem.
2. Die noukeurigheid van die voorspellings. Ellen White se geskrifte bevat betreklik min voorspellings. Party is in die proses van vervulling, terwyl ander nog vervul moet word. Maar die wat getoets kan word, is verbasend noukeurig vervul.
Twee gevalle wat haar profetiese insigte demonstreer, volg hier.
a. Die opkoms van die hedendaagse spiritisme. In 1850, toe spiritisme – die beweging wat aanspraak maak op kommunikasie met die geestewêreld – pas ontstaan het, het Ellen White dit as ‘n bedrog van die laaste dae geeëien en voorspel dat dit sal toeneem. Hoewel die beweging destyds beslis anti-Christelik was, het sy voorsien dat hierdie vyandigheid sou verander, en dat dit onder Christene aansienlik sal word.14 Sedertdien het die spiritisme oor die wêreld versprei en miljoene volgelinge gewerf. Sy anti-Christelike houding het verander; trouens, baie noem hulself Christelike spiritiste en beweer dat hulle die ware Christelike geloof het en dat: “Spiritiste is die enigste godsdienstiges wat gebruik gemaak het van die gawes wat Christus belowe het en waardeur hulle die siekes genees en bewys dat daar ‘ n toekomstige, bewuste en progressiewe bestaan is.”15 Hulle beweer selfs dat die spiritisme “jou die kennis van al die groot godsdienstige stelsels gee en jou bowendien meer kennis van die Christelike Bybel gee as al die Kommentare tesame. Die Bybel is ‘n boek van die Spiritisme.”16
b. Noue samewerking tussen Protestante en Rooms-Katolieke. Gedurende Ellen White se leeftyd was daar ‘n kloof tussen die Protestante en Rooms-Katolieke wat samewerking tussen die twee skynbaar onmoontlik gemaak het. Onder die Protestante was daar ‘n sterk teengevoel teen die Katolisisme. Sy het voorspel dat groot veranderinge binne die Protestantisme sal intree wat ‘n afwyking van die Hervormingsgeloof sal meebring. Gevolglik sal verskille tussen Protestante en Katolieke afneem sodat die kloof tussen die twee oorbrug sal word.17
Die jare na haar dood het die ontstaan van die ekumeniesebeweging gelewer; die totstandkoming van die Wêreldraad van Kerke; die Vatikaan II van die Katolieke Kerk en, aan die kant van die Protestante, onkunde aangaande, en selfs openlike verwerping van die Hervorming se siening van profetiese vertolking.18 Hierdie groot veranderinge het die versperrings tussen Protestante en Katolieke verwyder, met toenemende samewerking as gevolg.
3. Die erkenning van Christus se menswording. Ellen White het op groot skaal oor die lewe van Christus uitgewei. Sy rol as Here en Verlosser, Sy soendood aan die kruis en Sy huidige middelaarsbediening oorheers haar geskrifte. Haar boek The Desire of Ages (in Afrikaans vertaal as Die Koning van die Eeue) word as een van die mees geestelike werke wat ooit oor die lewe van Christus geskryf is, gehuldig, terwyl Steps to Christ (Skrede na Christus) die boek wat die wydste versprei is, miljoene tot ‘n innige verhouding met Hom gelei het. In haar werke word Christus uitgebeeld as volledig God en volledig mens. Haar ewewigtige uiteensettings kom volkome ooreen met die Bybelse siening en tref groot voorsorg om nie die een of die ander natuur te veel te beklemtoon nie ’n probleem wat al soveel polemiek deur die Christelike geskiedenis veroorsaak het.
Haar beskrywing van Christus se bediening is hoofsaaklik prakties. Afgesien van watter aspek sy beskryf, is haar oorwegende doel om die leser tot ‘n meer intieme verhouding met die Heiland te lei.
4. Die invloed van haar bediening. Meer as ‘n eeu het verbygegaan sedert Ellen White die profetiese gawe ontvang het. Haar kerk en die lewe van diegene wat op haar raad ag geslaan het, toon die uitwerking van haar lewe en haar boodskappe.
“Hoewel sy nooit ‘n amptelike pos beklee het nie, nie ‘n geordende leraar was nie, en nooit ‘n salaris van die kerk ontyang het tot na die dood van haar eggenoot nie, het haar invloed meer as enige ander faktor behalwe die Bybel beslag aan die Sewendedag-Adventistekerk gegee. “19 Sy was die spoorslag vir die kerk se uitgewerye, skole, mediese sendingwerk, en die wêreldomvattende sendingprogram wat van die Sewendedag-Adventistekerk een van die grootste Protestantse sendingorganisasies met die vinnigste groei gemaak het.
Die materiaal wat sy geskryf het vul meer as 80 boeke, 200 traktate en pamflette en 4 600 tydskrifartikels. Preke, dagboeke, spesiale getuienisse en briewe vul nog ‘n 60 000 bladsye in manuskripvorm.
Die omvang van hierdie materiaal is verbysterend. Ellen White se kundigheid was nie tot enkele noue studievelde beperk nie. Die Here het haar raad gegee oor gesondheid, opvoeding, die gesinslewe, matigheid, evangelisasie, die leesstofbediening, die regte dieet, mediese werk en talle ander gebiede. Moontlik is haar geskrifte op gesondheidsgebied die verbasendste omdat haar insigte, party waarvan meer as ‘n eeu gelede ontvang is, deur die moderne wetenskap bekragtig is.
Haar geskrifte sentreer op Jesus Christus en handhaaf die hoë sedelike en etiese waardes van die Judeo-Christelike tradisie.
Hoewel baie van haar geskrifte tot die Sewendedag-Adventistekerk gerig is, het groot gedeeltes daarvan waardering in groter kringe geniet. Haar gewilde boekie Steps to Christ (Skrede na Christus) is in meer as 100 tale vertaal en meer as 15 miljoen eksemplare daarvan is verkoop. Haar grootste werk is die “Conflict of the Ages” reeks wat uit 5 boekdele bestaan en besonderhede verskaf van die groot stryd tussen Christus en die Satan vanaf die ontstaan van die sonde tot die uitdelging daarvan uit die heelal – ‘n reeks wat baie goed ontvang is.
Haar geskrifte het ‘n diepe indruk op individue gemaak. Onlangs het die Institute of Church Ministry van Andrews-Universiteit ‘n opname gemaak wat die Christelike houding en gedrag van Adventiste wat gereeld haar boeke lees, vergelyk met die wat dit nie doen nie. Hul navorsing onderskraag die uitwerking wat haar geskrifte het op diegene wat dit lees. Die opname het tot die volgende slotsom geraak: “Lesers het ‘n intiemer verhouding met Christus, voel sekerder oor hul verhouding met God en het waarskynliker hul geestelike gawes geïdentifiseer. Hulle is sterker ten gunste daarvan dat geld vir openbare evangelisasie bestee word en dra ook meer by tot plaaslike sendingondernemings. Hulle is meer bereid om te getuig en neem ook aan meer programme vir getuienis en evangelisasie deel. Dit is meer waarskynlik hulle wat die Bybel daagliks bestudeer, wat vir spesifieke mense bid, wat aan groepsoptrede deelneem en wat daagliks die huisaltaar handhaaf. Hulle het ‘n meer positiewe siening van hulle kerk. Hulle bring ook meer bekeerlinge.
Die Gees van Profesie en die Bybel. Die geskrifte van Ellen White vervang nie die Skrif nie. Hulle kan nie op dieselfde vlak geplaas word nie. Die Heilige Skrifte is enig en is die unieke norm waaraan haar en alle ander geskifte beoordeel moet word en waaraan hulle onderhewig is.
1. Die Bybel die opperste maatstaf. Sewendedag-Adventiste is dit ten volle eens met die Hervormingsbeginsel van sola scriptura, die Bybel as sy eie vertolker en die Bybel alleen as die grondslag van alle leerstellings. Die stigters van die kerk het fundamentele leerstukke deur Bybelstudie ontwikkel; hulle het hierdie leerstellings nie deur die gesigte van Ellen White ontvang nie. Haar hoofrol in die ontwikkeling van hierdie leerstellings was om leiding in die begrip van die Bybel te gee en om gevolgtrekkings wat deur Bybelstudie verkry is, te bevestig.”21
Ellen White het self geglo en geleer dat die Bybel die opperste maatstaf vir die kerk is. In haar eerste boek, wat in 1851 uitgegee is, verklaar sy: “Ek wil by u aanbeveel, geagte leser, die Woord van God as die maatstaf van u geloof en lewe. Volgens daardie Woord sal ons geoordeel word.”22 Sy het nooit hieroor van mening verander nie. Baie jare later het sy geskryf: “In Sy Woord het God die kennis wat nodig is vir verlossing aan mense meegedeel. Die Heilige Skrifte moet as ‘n gesaghebbende, onfeilbare openbaring van Sy wil aanvaar word. Hulle is die norm vir karakter, die mededeler van leerstellings en die toets van belewenisse.”23 In 1909, in ‘n laaste boodskap aan die Wêreldsitting van die kerk, het sy die Bybel oopgemaak, dit aan die gemeente voorgehou en gesê: ” ‘Broeders en susters, ek beveel hierdie Boek by julle aan.’ “24
In antwoord op gelowiges wat geglo het dat haar geskrifte bykomend by die Bybel is, het sy geskryf: ” ‘Ek het die kosbare Bybel geneem en dit met etlike Testimonies for the Church, wat vir die kinders van God gegee is, omring…. Julle is nie bekend met die Skrifte nie. As julle julle daarop toegespits het om die Woord van God te bestudeer, met die wil om die Bybelse standaard te bereik en tot Christelike vervolmaking te kom,sou julle nie die Testimonies nodig gehad het nie. Dit is omdat julle nagelaat het om met die ingegewe Boek van God kennis te maak, dat Hy dit nodig gevind het om julle met eenvoudige, regstreekse getuienisse te bereik en julle aandag op die ingegewe woorde te vestig wat julle versuim het om te gehoorsaam, en om by julle aan te dring hoe om julle lewe op sy suiwere en verhewe leer te skoei. ‘ “25
2. ‘n Gids tot die Bybel. Sy het haar werk gesien as ‘n middel om die mense se aandag weer op die Bybel te vestig. “Daar word weinig ag op die Bybel geslaan,” het sy gesê en daarom “het die Here ‘n geringer lig voorsien om manne en vroue na die groter lig te lei.”26 “Die Woord van God,” hetsy geskryf, “is toereikend om die mees benewelde gemoed te verlig en kan verstaan word deur diegene wat dit enigsins wil verstaan. Tog, in weerwil van dit alles, leef sommige wat voorgee dat hulle die Woord van God ondersoek het lynreg in stryd met sy duidelikste leerstellings. Daarom, sodat manne en vroue geen verskoning sal hê nie, gee God duidelike en pertinente getuienisse om hulle terug te voer na die Woord wat hulle versuim het om te volg. “27
3. ‘n Gids tot die begrip van die Bybel. Ellen White het haar geskrifte beskou as ‘n gids tot ‘n duidelike begrip van die Bybel. “Bykomende waarheid word nie na vore gebring nie; maar God het deur middel van die Testimonies die groot waarhede wat reeds verstrek is, vereenvoudig en hulle op Sy eie wyse aan die volk voorgehou om die gees op te wek en daarmee te beïndruk, sodat hulle geen verskoning kan hê nie.” “Die geskrewe getuienisse word nie verstrek om nuwe lig te voorsien nie, maar om die ingegewe waarhede wat reeds geopenbaar is, duidelik op die hart te druk.”28
4. ‘n Gids tot die toepassing van Bybelse beginsels. ‘n Groot deel van haar geskrifte pas die Bybelse raadgewinge op die alledaagse lewe toe. Ellen White het verklaar dat aan haar “opgedra” is “om die algemene beginsels mondelings en skriftelik te verduidelik en om terselfdertyd die gevare, dwalinge en sondes van sommige individue duidelik uit te spel sodat almal gewaarsku, bestraf en voorgelig kan word.”29 Christus het sodanige profetiese leiding aan Sy kerk belowe. Soos Ellen White opgemerk het: “Die feit dat God Sy wil aan die mense deur Sy Woord geopenbaar het, het die voortdurende aanwesigheid en leiding van die Heilige Gees nie uitgeskakel nie. Intendeel die Gees is deur ons Heiland belowe om die Woord aan Sy diensknegte te verduidelik en om sy leer op te helder en toe te pas.”30
Die Uitdaging aan die Gelowige. Die profesie in die Openbaring dat die “getuienis van Jesus” hom deur die “gees van die profesie” in die laaste dae van die aardse geskiedenis sou openbaar, daag elkeen uit om nie onverskillig of ongelowig daarteenoor te staan nie, maar om alles te toets en die goeie te behou. Daar is veel om te win – of te verloor – na gelang daarvan of ons hierdie ondersoek wat die Bybel voorgeskryf het, sal uitvoer. Josafat het gesê: “Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.” (2 Kron. 20:20.) Sy woorde geld vandag nog net soseer.
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. Ons kursivering
2. Vir Bybelse voorbeelde van vroulike profete, kyk Exod. 15:20; Rig. 4:4; 2 Kon. 22:14; Lukas 2:36; Hand. 21:9.
3. Frank B. Holbrook, “The Biblical Basis for a Modern Prophet,” bl. 1 (Shelf document, Ellen G. White Estate Incorporated, Wêreldkonferensie van Sewendedag-Adventiste, 6840 Eastern Ave, NW, Washington, D.C. 20012). Vgl. Jemison, A Prophet Among You (Mountain View, C.A.: Pacific Press, 1955), bl. 52-55.
4. Kyk Holbrook, “Modem Prophet,” bl. 3-5.
5. Ongelukkig bestaan daar geen volledige aantekeninge van wat deur die hele Christelike bedeling gebeur het nie.
6. Gerhard Friedrich, “Prophets and Prophecies in the New Testament” in Theological Dictionary of the New Testament, deel 6, bl. 859.
7. Vgl. Friedrich bl. 860, 861.
8. Die uitdrukking “Getuienis van Jesus” kan die beste verstaan word as ‘n subjektiewe genitief, nie as ‘n objektiewe genitief nie. ”Twee vertalings is moontlik: a) Die getuienis aangaande Jesus (objektiewe genitief) is wat Christene aangaande Jesus getuig. b) Die getuienis van of deur Jesus (subjektiewe genitief) is boodskappe van Jesus aan die kerk. Die getuienis volgens die gebruik van hierdie uitdrukking in die boek Openbaring, dui daarop dat dit as ‘n subjektiewe genitief (‘n getuienis van of deur Jesus), verstaan moet word en dat hierdie getuienis deur profetiese openbaring gegee word” (Holbrook, “Modem Prophet,” bl. 7). As een van die bewyse haal Holbrook Openb. 1:1,2 aan: ” ‘Die Openbaring van Jesus Christus wat God aan Hom gegee het om aan Sy diensknegte te toon…en wat Hy deur die sending van Sy engel aan Sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, wat getuig het van die Woord van God en die getuienis van Jesus Christus – alles wat Hy gesien het.’ In hierdie samehang is dit duidelik dat ‘die Openbaring van Jesus’ op ‘n openbaring van of deur Jesus aan Johannes dui. Johannes berig hierdie getuienis van Jesus. Albei genitiewe uitdrukkings is in die verband as subjektief die oortuigendste en stem ooreen met Christus se laaste woorde in die boek: ‘Hy wat dit getuig, sê ja, Ek kom gou’ (Openb. 22:20)” (In ibid., bl. 7, 8).
9. Kyk SDA Bible Commentary hers. uitg., deel. 7, bl. 812; T. H. Blincoe, “The Prophets Were Until John,” Ministry bylae, Julie 1977, bl. 241; Holbrook, “Modern Prophet,” bl. 8.
10. James Moffatt in Expositor’s Greek Testament, uitg. W. Robertson Nicoll, deel. 5, bl. 465.
11. “Spirit of Prophecy,” SDA Encyclopedia, hers. uitg. bl. 1412. By diegene wat na die Wederkoms vooruitsien, het Paulus gesê, is die getuienis van Jesus bevestig sodat hulle aan geen gawe gebrek ly nie (1 Kor. 1:6,7).
12. Uriah Smith, “DoWe Discard the Bible by Endorsing the Visions?” Review and Herald, 13 Jan. 1863, bl. 52, aangehaal in Review and Herald, 1 Des. 1977, bl. 13.
13. White, “A Messenger;’ Review and Herald, 26 Julie 1906, bl. 8. Die titel “die Here se boodskapper” is deur ingewing gegee (ibid.).
14. White, Eerste Geskrifte, bl. 59
15. J. M. Peebles, “The Word Spiritualism Misunderstood,” in Centennial Book of Modern Spiritualism in America (Chicago, IL; National Spiritualist Association of the United States of America, 1948), bl. 34.
16. B. F. Austin, “AFew Helpful Thoughts,” Centennial Book of Modern Spiritualism, bl. 44.
17. White, Die Groot Stryd Tussen Christus en die Satan hfst. 34, par. 25,26; hfst. 36, par. 13-15.
18. Vir die historiese Protestantse siening van die profesieë van Daniël en die Openbaring van die Hervorming tot in die 19de eeu, kyk Froom, Prophetic Faith of Our Fathers, dele 2-4. Kyk ook hfst. 12.
19. Richard Hammill, “Spiritual Gifts in the Church Today” Ministry, Julie 1982, bl. 17.
20. Roger L. Dudley en Des Cummings, Jr., “A Comparison of Christian Attitudes and Behaviours Between Those Adventist Church Members Who Regularly Read Ellen White Books and Those Who Do Not,” 1982, bl. 41, 42. ‘n Verslag van navorsing deur die Institute of Church Ministry, Andrews-Universiteit, Berrien Springs, Michigan. Die opname het meer as 8 200 lid mate betrek wat 193 kerke in die V.S.A. bywoon.
21. Jemison, Prophet Among You, bl. 208-210; Froom, Movement of Destiny (Washington, D.C.: Review and Herald, 1971), bl. 91-132; Damsteegt, Foundations of the Seventh-day Adventist Message and Mission, bl. 103-293.
22. White, Eerste Geskrifte, bl. 78.
23. White, The Great Controversy, bl. vii.
24. William A. Spicer, The Spirit of Prophecy in the Advent Movement (Washington, D.C.: Review and Herald, 1937), bl. 30.
25. White, Testimonies, deel. 5, bl. 664, 665.
26. White, “An Open Letter,” Review and Herald, 20 Jan. 1903, bl. 15 in White, Colporteur Ministry (Mountain View, CA.: Pacific Press, 1953), bl. 125.
27. White, Testimonies, deel 5, bl. 663.
28. Ibid” bl. 665.
29. Ibid., bl. 660. 30. White, The Great Controversy, bl. vii.