17. Wat is Geestelike Gawes?

Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.

DOWNLOAD

Inleiding:

God deel aan alle lede van Sy kerk in elke eeu geestelike gawes uit wat elke lid in ‘n liefdevolle bediening moet ge­bruik vir die algemene welsyn van die kerk en die mensdom. Hierdie gawes, wat deur middel van die Heilige Gees aan elke lid volgens Sy eie wil gegee word, voorsien in al die bekwaamhede en bedieninge wat die kerk nodig het om sy Goddelik aangewese funksies te kan uitvoer. Volgens die Skrifte sluit hierdie gawes bedieninge soos geloof, genesing, profesie, verkondiging, onderrig, administrasie, versoe­ning, deernis, en selfopofferende diens en weldadigheid in om mense te help en aan te moedig. Sommige lede word deur God geroep en deur die Gees toegerus vir funksies wat deur die kerk erken word in herderlike, evangelistiese, aposto­liese en opvoedkundige bedieninge wat veral nodig is om die lede toe te rus vir diens, om die gemeente op te bou tot geestelike volwassenheid, en om die eenheid van die geloof en kennis van God te bevorder. As lede hierdie geestelike gawes as getroue rentmeesters van God se genadebedelinge gebruik, word die kerk beskerm teen die verwoestende in­vloed van valse leerstellings, groei hy met ‘n wasdom wat van God is, en word hy in geloof en liefde opgebou. Rom. 12:4-8; 1 Kor. 12:9-11, 27,28; Efe. 4:8,11-16; Hand. 6:1-7; 1 Tim. 3:1-13; 1 Petrus 4:10, 11

Geestelike Gawes en Bedieninge

Die woord wat Jesus kort voor Sy he­melvaart gebesig het, het die loop van die geskiedenis verander. “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mar. 16:15).

Aan die hele wêreld? Aan die ganse mensdom? Die dissipels moet gedink het dis ‘n onmoontlike taak. Bewus van hul hulpeloosheid het Christus hulle beveel om Jerusalem nie te verlaat nie, “maar om te wag op die belofte van die Vader.” Toe het Hy hulle die versekering gegee: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:4, 8).

Na Jesus se hemelvaart het die dissipels veel tyd aan gebed deurgebring. Eensge­sindheid en ootmoed het die dissipels se naywer, wat soveel van hul tyd saam met Jesus bederf het, vervang. Die dissipels was bekeerd. Hul innige gemeenskap met Christus en die gevolglike eenheid was die nodige voorbereiding vir die uitstorting van die Heilige Gees.

Soos Jesus ‘n besondere salwing deur die Heilige Gees ontvang het om Hom vir Sy bediening te bekwaam (Hand. 10:38), het die dissipels die doop van die Heilige Gees ontvang (Hand. 1 :5) om hulle in staat te stel om te getuig. Die gevolge was ver­stommend. Die dag toe hulle die gawe van die Heilige Gees ontvang het, het hulle drieduisend mense gedoop (kyk Hand. 2:41).

Die Gawes van die Heilige Gees

Christus het die gawes van die Heilige Gees met ‘n gelykenis geillustreer: “Dit is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan” (Matt. 25:14, 15).

  Die man wat na ‘n ver land vertrek, stel Christus voor wat op pad na die hemel is. Die man se “diensknegte” is Sy volgelinge, wat “duur gekoop” is (1 Kor. 6:20) – “diekosbare bloed van Christus” (1 Pet. 1:19). Christus het hulle vir diens uitgekoop, en hulle lewe “nie meer vir hulself” nie, “maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Kor. 5:15).

Christus het aan elke dienskneg goedere uitgedeel volgens sy vermoë, en “vir elk­een sy werk” (Markus 13:34). Saam met ander gawes en bekwaamhede (kyk hoof­stuk 20 van hierdie boek), stel hierdie goedere die besondere gawes voor wat deur die Gees uitgedeel is.1

In ‘n besondere sin het Christus hierdie geestelike gawes met Pinkster aan Sy kerk gegee. “Toe Hy opgevaar het in die hoogte,” het Paulus verklaar, “het Hy…gawes aan die mense gegee.” Dus is “aan elkeen van ons…die genade gegee volgens die mate van die gawe van Chris­tus” (Efe. 4:8, 7). Dit is deur die Heilige Gees dat die gawes uitgedeel word, “aan elkeen afsonderlik soos Hy wil” (1 Kor. 12:11) – gawes wat die kerk in staat stel om sy aangewese taak te verrig.    

Die Doel van die Geestelike Gawes

Die Heilige Gees verleen aan elke lid ‘n besondere bekwaamheid, wat hom in staat stel om die kerk te help om sy Goddelike sending uit te voer.

Eenheid In die Kerk. Die Korinthiese ge­meente het geen geestelike gawe ontbreek nie (1 Kor. 1:4, 7). Ongelukkig het hulle soos kinders geredekawel oor watter gawes die belangrikste was.

Paulus was bekommerd oor die ver­deeldheid in die gemeente en het aan die Korinthiërs geskryf oor die ware aard van hierdie gawes en hoe hulle bedoel was om te funksioneer. Geestelike gawes, het hy verduidelik, is genadegawes. Van die­selfde Gees kom ‘n “verskeidenheid van genadegawes,”wat lei tot ‘n “ver­skeidenheid van bedieninge.” Maar Pau­lus het beklemtoon dat dit “dieselfde God [is] wat alles in almal werk” (1 Kor. 12:4-6).

Die Gees deel gawes aan elke gelowige uit – vir die stigting, of opbouing van die kerk. Die behoeftes van die werk van die Here bepaal wat die Gees uitdeel en aan wie. Almal ontvang nie dieselfde gawes nie. Volgens Paulus gee die Gees aan een wysheid, aan ‘n ander kennis, aan ‘n ander geloof, aan ‘n ander wonderwerke, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander die onder­skeiding van geeste, aan ‘n ander tale en aan ‘n ander die uitleg van tale. “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil”(vers 11). Dankbaarheid oor die wer­king van ‘ngawe in die kerk moet aan die Gewer betoon word, nie aan die een wat die gawe beoefen nie. En omdat die gawes vir die kerk gegee word en nie vir die in­dividu nie, moet die ontvangers die gawes nie as hul private eiendom beskou nie.

Omdat die Gees die gawes uitdeel soos Hy goed ag, moet geen gawe verag of ge­ringskat word nie. Geen kerklidmaat het die reg om aanmatigend op te tree omdat hy ‘n besondere aanstelling of funksie het nie, en niemand moet minderwaardig voel omdat hy ‘n nederige taak opgedra is nie.

1. Hoe dit werk. Paulus het die same­werking van die verskillende gawes by die menseliggaam vergelyk. Die liggaam het baie dele wat almal ‘n sonderlinge rol te vervul het. “Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het” (vers 18).

Geen deel van die liggaam moet vir die ander een sê: “Ek het jou nie nodig nie!” Hulle is almal van mekaar afhanklik en “die lede van die liggaam…wat die swak­ste lyk” is noodsaaklik. “En die lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sier­likheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oor­vloediger eer gegee” (verse 21-24).

As een orgaan nie funksioneer nie, tas dit die hele liggaam aan. Sonder brein sou die maag nie funksioneer nie; en sonder ‘n maag sou die brein nutteloos wees. So sal ook die kerk daaronder ly as enige lid, hoe nietig ook, nie daar was nie.

Sekere dele van die liggaam wat struktureel swakker is, moet spesiaal be­skerm word. ‘n Mens sou nog sonder ‘n hand of been kon klaarkom, maar nie son­der lewe, hart of longe nie. Ons stel ge­woonweg ons gesig en hande bloot, maar ons bedek ander dele van die liggaam met klere ter wille van ordentlikheid en kuis­heid. Verre van die geringer gawes te minag, moet ons hulle met groter sorg be­jeen omdat die gesondheid van die kerk daarmee gemoeid is.

God het bedoel dat die uitdeling van geestelike gawes in die kerk “verdeeld­heid in die liggaam” moet voorkom en dat dit ‘n gees van eensgesindheid en afhank­likheid moet teweegbring, en “dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam, en as een lid geëer word, is al die lede saam bly” (verse 25, 26). As een gelowige dus ly, moet die hele gemeente daarvan bewus gemaak word en help om die lyding te versag. Alleen wan­neer hierdie persoon weer homself is, is die gesondheid van die kerk veilig. Nadat Paulus die waarde van elk van die gawes bespreek het, het hy ‘n aantal opge­noem: “God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesond­making, helpers, regeringe, allerhande tale” (vers 28; vgl. Efe. 4:11). Omdat geen lid al die gawes het nie, het hy almal aangemoedig om hulle te beywer “met die oog op die beste gawes” (vers 31), verwysende na die wat die nuttigste vir die kerk is.2

2. Die onontbeerlike dimensie. Die gawes van die Heilige Gees is egter nie vanself toereikend nie. Daar is ‘n “uit­nemender weg” (vers 31). Terwyl die gawes van die Gees sal verbygaan met die wederkoms van Christus, is die vrugte van die Gees vir ewig. Dit bestaan uit die ewige deug van liefde, en die vrede, goedheid en geregtigheid wat die liefde meebring (kyk Gal. 5:22, 23; Efe. 5:9). Hoewel die profesie, tale en kennis sal verdwyn, sal geloof, hoop en liefde bly. En “die grootste hier­van is die liefde” (1 Kor. 13:13).3

Hierdie liefde wat God gee (agape in Grieks), is ’n selfopofferende en vrygewige liefde (1 Kor. 13:4-8). Dit is “die hoër tipe liefde, wat waarde sien in die persoon of voorwerp wat bemin word; liefde wat op beginsel berus, nie op emosie nie; liefde wat uit respek vir die prysenswaardige hoedanighede van die voorwerp groei.”4 Gawes sonder gepaardgaande liefde bring verwarring en verdeeldheid in die kerk. Die uitnemender weg is daarom dat elkeen wat met geestelike gawes bedeel is, ook hierdie volkome onselfsugtige liefde moet besit. “Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes” (1 Kor. 14:1).

‘n Lewe tot Eer van God. Ook in sy Sendbrief aan die Romeine het Paulus melding van die geestelike gawes gemaak. In ‘n be­roep op elke gelowige om tot eer van God te lewe (Rom. 11:36-12:2), het Paulus weer die liggaamsdele genoem om die ver­skeidenheid en tog eenheid te illustreer wat die gelowiges kenmerk wat in die kerk verenig is (verse 3-6).

Omdat hulle besef dat sowel die geloof as die geestelike gawes hul oorsprong in God se genade het, bly die gelowiges nederig. Hoe meer gawes aan ‘n gelowige gegee is, hoe groter sy geestelike invloed en hoe groter behoort sy afhanklikheid van God tewees.

In hierdie hoofstuk het Paulus die vol­gende gawes opgenoem: die profesie (in­gegewe uitsprake, verkondigings), bediening (diens), lering, vermaning (aan­moediging), vrygewigheid (mededeel­saamheid), leierskap en barmhartigheid (deernis). Soos in 1 Korinthiërs 12 het hy sy bespreking met die grootste beginsel van die Christelike geloof afgesluit – die liefde (vers 9).

Petrus het die onderwerp van geestelike gawes teen die agtergrond van die einde van alle dinge genoem, nl. dat dit “naby” is (1 Pet. 4:7). Die dringendheid van die uur vereis dat die gelowiges hierdie gawes moet gebruik. Namate elkeen  ‘n  genade­gawe ontvang het, moet julle mekaar daar­mee dien soos goeie dienaars van die veelvuldige genade van God” (vers 10). Soos Paulus, het Petrus ook verklaar dat hierdie gawes nie vir selfverheerliking be­doel is nie, maar “dat God in alles verheer­lik kan word” (vers 11), Hy het die liefde ook met hierdie gawes in verband gebring (vers 8).

Wasdom van die Kerk. In Paulus se derde en laaste bespreking van die geestelike gawes het hy by gelowiges aangedring “om te wandel waardig die roeping waar­mee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ern­stig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede” (Efe. 4:1-3).

Geestelike gawes dra by tot die kweek van eendrag wat die kerk laat groei. Aan elke gelowige “is die genade gegee vol­gens die mate van die gawe van Christus” (vers 7).

Christus self “het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evan­geliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (verse 11-13). Diegene wat geestelike gawes ont­vang, moet veral die gelowiges dien en hulle oplei vir die soorte bediening wat by hul gawes pas. Dit bou die kerk op tot die volwassenheid wat die volle grootte van Christus bereik.

Hierdie bedieninge verhoog geestelike bestendigheid en versterk die kerk se ver­dediging teen valse leerstellings, sodat gelowiges “nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid be­trag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (verse 14, 15).

Dan ook bring die geestelike gawes in Christus sowel die eenheid as die welsyn van die kerk. “Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamver­bind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afson­derlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde” (vers 16). As die kerk die groei moet ondervind wat God beoog, moet elke lid die genadegawes gebruik wat Hy voor­sien.

Die gevolg sal wees dat die kerk ‘n twee­voudige groei ondervind – ‘n groei in die getal lidmate en ‘n toename in individuele geestelike gawes. Die liefde is natuurlik deel van hierdie roeping, want die kerk kan hierdie stigting en groei alleen ver­wesenlik as hy hierdie gawes in liefde aan­wend.

Implikasies van Geestelike Gawes

‘n Gemeenskaplike Bediening. Die Skrif skraag nie die siening dat die predikante moet bedien terwyl die gewone lidmate maar net die kerkbanke moet warm sit en wag om gevoed te word nie. Sowel die leke as die leraars maak die kerk uit, “God se eie volk”  ( 1 Pet. 2:9). Saam is hulle ver­antwoordelik vir die welsyn van die kerk en vir sy voorspoed. Hulle is geroepe om saam te werk, elkeen ooreenkomstig sy of haar besondere gawes wat Christus gegee het. Die verskil in gawes gee aanleiding tot ‘n verskeidenheid van bedieninge, almal verenig in hul getuienis om die koninkryk van God te verbrei en om die wêreld voor te berei om hul Heiland te ontmoet (Matt. 28:18-20; Openb. 14:6-12).

Die Rol van die Leraars. Die leer van geestelike gawes plaas die verantwoorde­likheid om die gemeente op te lei, op die skouers van die leraar. God het apostels, profete, evangeliste, herders en onderwy­sers aangestel om Sy volk toe te rus vir die bediening. “Predikante moet nie die werk verrig wat deur die gemeente gedoen be­hoort te word en sodoende hulself uitput en verhoed dat ander hul plig nakom nie. Hulle moet die lidmate leer hoe om in die kerk en in die gemeenskap te arbei.5

Die leraar wat nie die gawe het om op te lei nie, behoort nie in die herderlike be­diening nie maar in ‘n ander deel van die werk van God.6  Die sukses van die plan van God vir die kerk hang af van die ge­willigheid en vermoë van sy leraars om die lidmate af te rig vir die gebruik van hul Godgegewe gawes.

Gawes en Sending. God gee geestelike gawes om die hele liggaam te bevoordeel, nie eenvoudig die individue wat hulle ont­vang nie. En net soos die ontvanger nie die gawe vir sy eie voordeel gegee word nie, ontvang die kerk ook nie die totaliteit van gawes vir homself nie. God bedeel die kerklike gemeenskap met gawes om hom voor te berei om sy sending aan die wêreld, wat God aan hom opgedra het, te vervul.

Geestelike gawes is nie die beloning vir ‘n taak wat goed afgehandel is nie, maar is die werktuie om die taak goed mee te ver­rig. Die Gees gee gewoonlik gawes ooreen­komstig ‘n mens se natuurlike talente, hoewel natuurlike talente op sigself nie geestelike gawes is nie. Dit kos die we­dergeboorte om iemand met die Gees te besiel. Ons moet weer gebore word om met geestelike gawes bedeel te kan word.

Eenheid in Verskeidenheid, Nie Eenvor­migheid Nie. Party Christene probeer om elke ander gelowige soos hulleself te maak. Dit is die plan van mense, nie van God nie. Dat die kerk verenig bly ondanks die verskeidenheid geestelike gawes, dui op die aanvullende aard van die gawes. Dit toon dat die vooruitgang van die kerk van God van elke gelowige afhang. God beoog dat al die gawes, bedieninge en werksaamhede binne die kerk saamge­voeg moet wees in die bouwerk op die fon­dament wat deur die historiese kerk gelê is. In Jesus Christus, die hoeksteen, “in wie die hele gebou goed saamgevoeg [is], ver­rys [dit] tot ‘n heilige tempel in die Here” (Efe. 2:21).

 Getuienis die Doel van die Gawes Gelowiges ontvang ‘n verskeidenheid van gawes,’n aanduiding dat elkeen ‘n indivi­duele bediening het. Tog moet elke gelo­wige in staat wees om van sy geloof te getuig, mee te deel wat hy glo en aan ander te vertel wat God vir hom gedoen het. Die doel waarvoor God elke gawe gee, ongeag wat dit is, is om die besitter in staat te stel om te getuig.

Versuim om Geestelike Gawes te Ge­bruik. Gelowiges wat weier om hul geeste­like gawes te gebruik, sal nie net vind dat hul gawes wegkwyn nie, maar hulle stel ook hul ewige lewe in gevaar. In tere kom­mer het Jesus plegtig gewaarsku dat die dienskneg wat nie sy talent gebruik het nie, niks minder as ‘n “slegte en luie diens­kneg” is nie (Matt. 25:26-30).7 Die ontroue dienskneg het openlik erken dat sy ver­suim opsetlik en voorbedag was. Hy moes daarom die verantwoordelikheid vir die versuim dra. “In die groot oordeelsdag sal diegene wat maar net saamgeloop en hul geleenthede laat verbygaan en hul verantwoordelikhede ontduik het, deur die groot Regter saam met kwaaddoeners geklassifi­seer word.8

Die Ontdekking van Geestelike Gawes Ten einde met welslae in die sending van die kerk betrokke te kan wees, moet lidmate hul gawes ken. Die gawes funksio­neer soos ‘n kompas en rig die besitter na die diens en genot van die oorvloedige lewe (Joh. 10:10). In die mate dat ons “ver­kies om nie (of eenvoudig versuim om) ons gawes te herken, ontwikkel en beoefen nie, is die kerk minder as wat dit sou kon wees. Minder as wat God beoog het dat dit moet wees.”9

Die proses om ons geestelike gawes te ontdek10 moet deur die volgende geken­merkword:

Geestelike Voorbereiding. Die apostels het ernstig gebid om toegerus te word om woorde te besig wat sondaars na Christus sou lei. Hulle het hul geskille en die eersug wat onmin tussen hulle veroorsaak het, opsygesit. Die belydenis van sonde en berou het hulle in ‘n noue gemeenskap met Christus gebring. Diegene wat Christus tans aanneem, het ‘nsoortgelyke voor­bereiding nodig vir die doop van die Heilige Gees.

Die doop van die Gees is nie ‘n een­malige gebeurtenis nie; ons kan dit daagliks ondervind.11 Ons moet die Here smeek om daardie doop omdat dit die kerk die krag gee om te getuig en die evangelie te verkondig.

Om dit te kan doen, moet ons ons lewe gedurig aan God onderwerp, ten volle in Christus bly, en Hom om wysheid vra om ons gawes te ontdek (Jak. 1:5).

Ondersoek die Skrifte. Ons biddende on­dersoek na wat die Nuwe Testament leer aangaande geestelike gawes gee die Heilige Gees die geleentheid om ons die besondere bediening wat Hy vir ons beoog, op die hart te druk. Dit is noodsaak­lik dat ons glo dat God ons ten minste een gawe gegee het om in Sy diens te gebruik.

Ontvanklikheid vir Goddelike Leiding. Dis nie vir ons om die Gees te gebruik nie; Hy moet ons gebruik, want dit is God wat in Sy kinders werk “om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filip. 2:13). Dit is ‘n voorreg om enige tipe diens te kan ver­rig wat die voorsienigheid van God ons bied. Ons moet God die geleentheid gee om deur ander te werk om ons hulp te verkry. Ons moet dus gereed wees om te reageer op die behoeftes van die kerk tel­kens as hulle opduik. Ons moenie bang wees om nuwe dinge aan te pak nie, maar ons moet ook bereid wees om diegene te antwoord wat by ons kom aanklop ter wille van ons talente en ondervinding.

Bevestiging Deur die Liggaam. Aangesien God hierdie gawes gee om Sy kerk op te bou, moet ons verwag dat die bevesti­ging van ons gawes van die oordeel van die liggaam van Christus moet kom en nie van ons eie gevoelens nie. Dit is dikwels moeiliker om ons eie gawes raak te sien as die van ander. Nie alleen moet ons gewil­lig wees om te luister na wat ander vir ons vertel aangaande ons gawes nie, maar dit is noodsaaklik dat ons God se gawes in het, in ander eien en bevestig. Niks is meer opwindend en bevredigend nie as om te weet dat ons die soort bediening of diens verrig wat die Voorsienigheid aan ons toegewys het. ­ Watter seën is dit nie vir ons om die besondere gawe wat Christus ons deur die Heilige Gees gegee het, in sy diens gebruik nie. Christus verlang om Sy genadegawes aan ons uit te deel. Ons kan Sy uitnodiging vandag aan­neem en ontdek wat Sy gawes in ‘ n deur die Gees gevulde lewe kan uitrig!

Wonder jy soms wat jou Geestelike Gawes is? Volg die skakel hier onder om uit te vind wat jou Geestelike Gawe is!

WAT IS MY GEESTELIKE GAWE?

Videos en Klankbane:

Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.

Vrae:

Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.

TERUGVOER

Addisionele hulpbronne:

Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Verwysings:

1. Kyk E. G. White, Die Gelykenisse van Christus, bl. 327, 328. Ons kan nie altyd maklik onderskei tussen die bonatuurlike, die oorgeërfde en die verworwe bekwaamhede nie. By diegene wat onder die beheer van die Gees is, skyn dit dikwels asof hierdie bekwaamhede saamsmelt.

2. Kyk Richard Hammill, “Spiritual Gifts in the Church Today,” Ministry, Julie 1982, bl. 15, 16.

3. In die volste sin is die liefde ‘n gawe van God, want alle goeie dinge spruit uit Hom (Joh. 1:17). Dit is die vrug van die Gees (Gal. 5:22), maar nie ‘n geestelike gawe in die sin dat die Heilige Gees dit aan sommige gelo­wiges uitgedeel het maar nie aan almal nie. Elkeen moet “die liefde najaag” (kyk 1 Kor.14:1).

4. SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 6, bl. 778.

5. White, “Appeals for Our Missions,” in Historical Sketches of the Foreign Missions of the Seventh-day Adven­tists (Basel, Switserland: Imprimerie Polyglotte, 1886, bl. 291. Vgl. Rex D. Edwards, A New Frontier

Geestelike Gawes en Bedieninge

Every Be­liever a Minister [Mountain View, CA: Pacific Press, 1979], bl. 58-73).

6. Vgl. J. David Newman, “Seminar in Spiritual Gifts;’ ongepubliseerde MS, bl. 3.

7. Oor die erns van hierdie toestand, kyk White, “Home Discipline,” Review and Herald, 13 Junie 1882,

bl. [1].

8. SDA Bible Commentary, hers. uitg. deel 5, bl. 511.

9. Don Jacobsen, “What Spiritual Gifts Mean to Me,” Adventist Review, 25 Desember 1986. bl. 12.

10. Kyk Roy C. Naden, Discovering Your Spiritual Gifts (Berrien Springs, MI: Institute of Church Ministry, 1982); Mark A. Finley. The Way to Adventist Church Growth (Siloam Springs, AR: Concerned Communications, 1982); C. Peter Wagner, Your Spiritual Gifts Can Help Your Church Grow (Glendale, CA: Regal Books 1979).

11. Vgl. White, Acts of the Apostles, bl. 50; White, Counsels to Parents, Teachers and Students (Mountain View, CA: Pacific Press, 1943), bl. 131.