Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Die Nagmaal is deelname aan die simbole van die liggaaln en bloed van Jesus om geloof in Hom, ons Here en Verlosser, te betuig. In hierdie gemeenskap is Christus teenwoordig om Sy kinders te besoek en te versterk. In ons deelname verkondig ons die Here se dood met blydskap totdat Hy weer kom.. Voorbereiding vir die Nagmaal behels onder ander selfondersoek, berou en belydenis. Die Meester het die voetewasdiens ingestel as ‘n simbool van hernieude reiniging, Om bereidwilligheid te toon om mekaar in ware Christelike nederigheid te dien en om ons hart in liefde te verenig. Die Nagmaal is vir alle gelowige Christene toeganklik. (1 Kor. 10:16-17; 1 Kor. 11:23-30; Matt. 26:17-30; Openb. 3:20; Joh. 6:48-63; Joh. 13:1-17.)
Die Heilige Nagmaal
Hulle het met stofbedekte voete in die bokamer vir die Pasga aangekom. Iemand het ‘n beker water, ‘n kom en ‘n handdoek vir die gebruiklike voetewassing voorsien, maar niemand wou hom verwerdig om hierdie nederige taak te verrig nie.
Terdeë bewus van Sy naderende dood, het Jesus met droefheid gesê: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie” (Luk. 22:15, Luk. 22:16).
Die naywer wat die dissipels teenoor mekaar gevoel het, het Jesus tot droefheid gestem. Hy het besef dat hulle steeds twis oor wie die grootste in Sy koninkryk moet wees (Luk. 22:24; Matt. 18:1; Matt. 20:21). Dit was hul wedywering vir poste, hulhoogmoed en eiewaarde wat verhinder het dat die dissipels hulle verootmoedig om in te staan vir die dienskneg en mekaar se voete te was. Sou hulle ooit leer dat ware grootheid in die koninkryk van God uit nederigheid en liefdevolle naastediens bestaan?
“Gedurende die maaltyd” (Joh. 13:2,4)1 het Jesus stilweg opgestaan, die dienskneg se handdoek om Hom vasgebind, water in die kom gegooi, gekniel en die dissipels se voete gewas. Die Meester ‘n dienskneg! Die dissipels het die ongesproke bestraffing gesnap en was met skaamte vervul. Toe Hy die taak afgehandel en na Sy sitplek teruggekeer het, het Hy gesê: “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ekse vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘ngesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Joh. 13:14-17).
Toe het Jesus in die plek van die Pasga die diens ingestel wat ter aandenking van Sy groot opoffering sou dien: die Heilige Nagmaal. Hy het die ongesuurde brood geneem, ennadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis,” Toe neem Hy die beker “en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” “Doendit so dikwels as wat julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (Kyk Matt. 26:26-28; 1 Kor.11:24-26; 10:16).
Die bestaan uit die insettinge van die voetewassing en die Heilige Nagmaal. Christus het so albei hierdie insettinge gegee om ons te help om in gemeenskap met Hom te tree.
Die Voetewassing
Dit was ‘n gebruik onder Joodse gesinne wat die Pasga vier dat hulle voor die eerste dag van die Week van die Ongesuurde Brode (Exod. 12:15, 19, 20) alle suurdeeg, sonde, uit hul huise verwyder. So moet gelowiges alle sonde bely – waaronder hoogmoed, naywer, jaloesie, gegriefdheid en selfsug en dit berou voordat hulle in die regte gemoedstemming kan wees om in gemeenskap met Christus op hierdie grondigste vlak te kan verkeer.
Vir hierdie doel het Christus die seremonie van die voetewassing ingestel. Nie alleen het Hy ‘n voorbeeld gestel nie, maar het Hy verklaar dat hulle dieselfde moes doen en hulle ‘n seën belowe:”As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Joh. 13:17). Hierdie plegtigheid, wat die Heilige Nagmaal voorafgaan, vervul die vermaning dat almal hulself moet ondersoek sodat hulle nie “op onwaardige wyse”aan die Nagmaal deelneem nie (1 Kor.ll:27-29).
Die Betekenis van die Plegtigheid. Hierdie plegtigheid openbaar iets omtrent sowel die sending van Christus as die ondervinding van die deelnemers.
1. ‘n Herinnering aan Christus se selfvernedering. Die voetewasplegtigheid gedenk die selfvernedering van Christus in Sy menswording en diensvaardige lewe.2 Hoewel Hy te midde van die hemelse heerlikheid by die Vader was, het Hy “Homself ontledig deur die gestalte van’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword” (Fili. 2:7).
Dit was vernederend vir die Seun van God om so onselfsugtig en met soveel liefde te gee net om verwerp te word deur die meerderheid van diegene wat Hy kom red het. Deur Christus se hele aardse lewe was die Satan daarop uit om Hom by elke geleentheid tot die uiterste te verneder. Watter selfverloëning het dit Hom – die Onskuldige – nie gekos om as ‘n misdadiger gekruisig te word nie!
Christus se lewe was een van onselfsugtige diens. Hy het nie gekom “omgedien te word nie, maar om te dien”(Matt. 20:28). Deur voetewas het Hy getoon dat Hy enige diens sou verrig, hoe nederig ookal, om mense te red. So het Hy Sy lewe van diensvaardigheid en sagmoedigheid by Sy volgelinge op die hart gedruk.
Deur van hierdie voorbereidingsplegtigheid ‘n insetting te maak, het Christus beoog om mense tot tederheid en liefde te beweeg sodat hulle andere sou dien. Hierdie plegtigheid moedig diegene aan wat die betekenis daarvan bepeins om andere met nederigheid en deernis te behandel. Deur Christus tot voetewassing te volg, bely ons Sy gees: “Dien mekaar deur die liefde” (Gal. 5:13).
Hoewel deelname in hierdie diens verootmoedigend is, is dit hoegenaamd nie vernederend nie. Wie sou dit nie ‘nvoorreg ag om voor Christus te buk en daardie selfde voete te was wat aan die kruis genael was nie? Jesus het gesê: “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (Matt. 25:40).
2. ‘n Sinnebeeld van hoër reiniging. Voetewassing het meer gedoen as om voete te reinig. Dit het ‘n hoër reiniging voorgestel – ‘n reiniging van die hart. Toe Petrus vir Jesus gevra het om sy hele liggaam te was, het Jesus geantwoord: “Hy wat gewas is, het niks meer nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein” (Joh. 13:10).
Iemand wat bad, is skoon. Maar voete wat in oop sandale loop, raak gou vol stof en moet weer gewas word. So was dit met die dissipels. Hul sondes is afgewas deur die doop, maar dieversoeking het hulle tot hoogmoed, jaloesie en boosheid van hart genoop. Hulle was nie gereed om ‘n intieme gemeenskap met hul Meester te geniet of om die nuwe verbond wat Hy op die punt was om met hulle aan te gaan, te ontvang nie. Deur hul voete te was, wou Christus hulle voorberei vir deelname aan die Nagmaal. Met die uitsondering van Judas, die verraaier, is hulle hart deur die genade van Christus van selfsug en hoogmoed gereinig en was hulle in liefde vir mekaar verenig; deur Jesus se onselfsugtige daad is hulle tot ootmoed gedwing en was hulle inskiklik vir onderrig.
Soos die dissipels, is ons, wanneer ons gedoop is, gereinig deur Sy bloed. Maar ons fouteer ook in ons Christelike wandel. Ons voete raak vol stof. Ons moet weer na Christus kom en toelaat dat Sy reinigende genade ons besoedeling afwas. Ons hoef egter nie weer gedoop te word nie, “want hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie” (Joh. 13:10). As insetting herinner die voetewas ons aan ons behoefte aan gereëlde reiniging en dat ons geheel en al van die bloed van Christus afhanklik is. Die voetewassing self kan ons nie van sonde reinig nie. Alleen Christus kan.
3. ‘n Gemeenskap van vergifnis. Vergewensgesindheid onder die deelnemers toon dat die reiniging wat hierdie plegtigheid voorstel, verwesenlik is. Alleen as ons vergewe, kan ons die vergifnis van God ervaar. “As julle die mense hul oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Matt. 6:14, Matt. 6:15).
Jesus het gesê: “Julle [is] ook verplig om mekaar se voete te was” (Joh. 13:14). Ons moet sowel bereid wees om ander se voete te was as om toe te laat dat ander ons voete was. In laasgenoemde geval erken ons ons behoefte aan geestelike hulp.
Wanneer die diens oor is, stel ons geloof ons gerus dat ons rein is omdat ons sondes afgewas is. Deur wie? Deur Christus. Maar dit is medegelowiges wat die simbole van Christus se bediening op ons toepas, en so word die seremonie ‘n gemeenskap van vergifnis.4
4. Gemeenskap met Christus en gelowiges. Hierdie voetewasdiens demonstreer Christus se liefde vir Sy volgelinge “totdie einde toe” (Joh. 13:1). Toe Petrus geweier het om sy voete te laat was, het Jesus geantwoord: “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie” (vers 8). Geen reiniging nie, geen gemeenskap nie. Diegene wat verlang om steeds gemeenskap met Christus te hê, sal deelneem aan hierdie seremonie.
Daardie selfde aand het Jesus gesê: ” ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (vers 34). Die boodskap van die plegtigheid is duidelik: “Dienmekaar deur die liefde” (Gal. 5:13). Om hierdie soort liefde te hê, beteken dat ons die hoogste posisie aan ons naaste sal afstaan en ander beter as onsself sal ag (Fili. 2:3). Dit beveel ons om diegene lief te hê wat van ons verskil. Dit verhoed ons om gevoelens van meerderwaardigheid te koester of om partydig te handel. Ons lewenswyse sal ons liefde vir medegelowiges weergee. Deur voor hulle te kniel en hul voete te was, verheug ons ons daarin dat ons in ewigheid saam met hulle sal lewe. Almal wat Christus se voorbeeld in hierdie diens volg, sal op een of ander wyse ervaar wat dit beteken om lief te hê soos Christus liefgehad het. En so ‘n liefde kan ‘n kragtige getuienis wees.
‘n Boeddhistepriester het ‘n sendeling eens gevra om ‘n toneel aan die hand te doen wat die Christelike geloof sou uitbeeld. Kunstenaars moes ‘n saal in die kloosterkompleks dekoreer met muurskilderye en reliëfs wat die vernaamste wêreldgodsdienste sou voorstel. Nadat die sendeling nagedink het, het hy die verslag in Johannes 13 voorgelees. Die monnik “het niks gesê terwyl ek voorlees nie,” het die sendeling vertel, “maar ek het ‘n eienaardige, voelbare stilte en krag gewaar terwyl die Skrifgedeelte beskryf hoe Jesus die dissipels se voete was.” In daardie kultuur word enige openbare vermelding van voete as swak maniere beskou.
“Toe ek klaar gelees het, was daar vir ‘n oomblik stilte. Hy het my ongelowig aangekyk en gesê: ‘Wil jy vir my sê dat die Stigter van jul godsdiens Sy leerlinge se voete gewas het?’ “Ja,” het ek geantwoord. Die aangesig met die skoongeskeerde winkbroue wat gewoonlik so gelate is, het skok en verbasing uitgedruk. Hy was spraakloos, en ek ook. Ek het etlike kere hard gesluk en ons was albei oorweldig deur die drama van die toneel. Terwyl ek hom aankyk, verander die blik van ongelowigheid op sy gelaat na een van eerbied en ontsag. Jesus, die Stigter van die Christendom, het vuil vissersvoete aangeraak en gewas! Na enkele oomblikke het hy sy selfbeheersing herwin en opgestaan. ‘Nou sien ek die wese van die Christendom.”5
Die Viering van die Nagmaal
Onder Protestante het die seremoniële breek van die brood en neem van die beker die naam Nagmaal gekry (1 Kor. 11:20). Onder ander benaminge wat die Woord gebruik, is “die breek van die brood” (kyk Hand. 20:7; Hand. 2:42).6 – Die Nagmaal behoort ‘n blye geleentheid te wees, nie ‘n droewige nie. Die voorafgaande voetewasdiens verleen die geleentheid vir selfondersoek, die belydenis van sondes, die bylegging van geskille, en vergifnis. Nadat die versekering ontvang is dat die gelowiges deur die bloed van die Heiland gereinig is, is hulle gereed om hierdie besondere gemeenskap met hul Here te betree. Hulle wend hul met blydskap tot Sy tafel en staan in die reddende lig, nie die skaduwee nie, van die kruis, gereed om hierdie verlossingsege van Christus te vier.
Die Betekenis van die Nagmaal. Die Nagmaal vervang die Pasga van die ou verbond. Die Pasga het sy vervulling bereik toe Christus, die Paaslam, Sy lewe opgeoffer het. Voor Sy dood het Christus self hierdie vervanging ingestel, die groot fees van die geestelike Israel onder die nuwe verbond. Die wortels van veel van die simbolisme van die Nagmaal strek dus terug na die Pasga.
1. Herdenking van verlossing uit die sonde. Soos die Pasga Israel se verlossing van hul slawerny uit Egipte herdenk het, herdenk die Nagmaal verlossing van die geestelike Egipte, die slawerny van die sonde.
Die Paaslam se bloed aan die lateie en deurposte het die inwoners teen die dood beskerm, en die voedsel wat die vlees verskaf het, het hulle krag gegee om uit Egipte te ontsnap (Exod. 12:3-8). So bring die offer van Christus bevryding van die dood; gelowiges word gered deur sowel Sy liggaam en bloed in te neem (Joh. 6:54). Die Nagmaal verkondig dat die dood van Christus aan die kruis ons verlossing teweeggebring het, vergifnis verskaf het en die ewige lewe gewaarborg het.
Jesus het gesê: “Doen dit tot my gedagtenis” (1 Kor. 11:24). Hierdie plegtigheid beklemtoon die plaasbekledende aard van Christus se versoening. “Dit is my liggaam wat vir julle gebreek word,” het Jesus gesê (1 Kor. 11:24; vgl. Jes. 53:4-12). Aan die kruis het die Onskuldige die plek van die skuldige ingeneem, die Regverdige die van die ongeregtiges. Hierdie groothartige daad het aan die vereistes van die wet voldoen dat die sondaar met die dood gestraf moet word, en voorsien vergifnis, vrede en die versekering van die ewige lewe vir berouvolle sondaars. Die kruis het ons veroordeling verwyder en het ons van die kleed van die geregtigheid van Christus voorsien met die krag om die Bose te bowe tekom.
a. Die brood en die vrug van die wingerdstok. Jesus het verskillende beelde gebruik om verskillende aspekte omtrent Homself te beskryf. Hy het gesê: “Ek is die deur” (Joh. 10:7), “Ek is die weg” (Joh. 14:6), “Ek is die ware wynstok” (Joh. 15:1), en “Ek is die brood van die lewe”,(Joh. 6:35). Ons kan nie een van hierdie uitdrukkinge letterlik opneem nie, want Hy is nie teenwoordig in elke deur, pad of wingerdstok nie. Hulle vertolk net dieper waarhede.
Toe Jesus 5 000 mense wonderbaarlik gevoed het, het Hy die diepere betekenis van Sy liggaam en bloed geopenbaar. As die ware brood het Hy gesê: “Dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo sal nooit dors kry nie” (Joh. 6:32-35). Hy het Sy liggaam en bloed aangebied om die honger en dors van ons diepste behoeftes en verlangens te bevredig (Joh. 6:50-54).
Die Paasbrood wat Jesus geëet het, was ongesuur en die vrug van die wynstok ongegis.7 Suurdeeg, wat gisting veroorsaak en die brood laat rys, is as ‘n simbool van sonde beskou (1 Kor. 5:7, 8), wat dus ongeskik was om die Lam voor te stel wat “sonder gebrek en vlekkeloos” was (1 Pet. 1:19).8 Alleen ongesuurde of “ongegiste” brood kon die sondelose liggaam van Jesus versinnebeeld. Net so kon net die ongegiste vrug van die wynstok – die ongegiste wyn – die vlekkelose volmaaktheid van die reinigende bloed van Christus voorste1.2
b. Die eet en drink. “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:53, 54).
Die eet van die vlees van Christus en die drink van Sy bloed is simboliese taal vir die assimilering van die Woord van God, waardeur gelowiges gemeenskap met die hemel handhaaf en in staat gestel word om ‘n geestelike lewe te lei. Hy sê: “Diewoorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” Qoh. 6:63). “Diemens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4).
Gelowiges word deur Christus, die brood van die lewe, gevoed deur die Woord van die lewe – die Bybel- te lees. Saam met daardie Woord kom die lewegewende krag van Christus. In die Nagmaalsdiens eet ons Christus ook deur Sy Woord deur die Heilige Gees te assimileer. Om hierdie rede gaan die verkondiging van die Woord met die Heilige Nagmaal gepaard.
Aangesien ons die vrugte van Christus se soenoffer deur die geloof aanneem, is die Nagmaal veel meer as net ‘n gedenkmaal. Deelname aan die Nagmaalsdiens beteken ‘n vernuwing van ons lewe deur Christus se onderhoudende krag, wat ons van lewe en vreugde voorsien. Kortom, die simboliek leer ons “onsis net so afhanklik van Christus vir geestelike lewe as wat ons van voedsel en drank vir die fisieke lewe is.”10
In die Nagmaalsdiens “seën” ons die beker (1 Kor. 10:16). Dit beteken dat soos Christus vir die beker “gedank het” (Matt.26:27), so betuig ons ook dank vir die bloed van Jesus.
2. Gesamentlike gemeenskap met Christus. In ’n wêreld vol tweedrag en verdeeldheid dra ons gesamentlike deelname aan hierdie plegtighede by tot die eenheid en bestendigheid van die kerk. Dit demonstreer ware gemeenskap met Christus en met mekaar. Paulus beklemtoon hierdie gemeenskap deur te sê: “Diebeker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (1 Kor. 10:16, 17).
”Dit is ‘n verwysing na die feit dat die nagmaalsbrood in baie stukkies gebreek en deur die gelowiges geëet word, en soos al die stukkies van dieselfde brood kom, so word al die gelowiges wat aan die nagmaalsdiens deelneem, verenig in Hom wie se gebroke liggaam aldus deur die gebreekte brood voorgestel word. Deur saam aan hierdie plegtigheid deel te neem, toon Christene openlik hulle is een groot gesin wie se hoof Christus is. “11
Al die kerklidmate behoort aan hierdie Heilige Nagmaal deel te neem omdat Christus daar deur die Heilige Gees, “Sy volk ontmoet en met Sy teenwoordigheid verkwik. Onwaardige harte en hande kan selfs die Nagmaal bedien, maar Christus is daar om Sy kinders te bedien. Almal wat kom met hul geloof op Hom gevestig, sal ‘n groot seën wegdra. Almal wat hierdie tye van Goddelike voorreg verwaarloos, sal skade ly. Van hulle sal tereg gesê kan word: ‘Julle is nie almal rein nie,'”12
Ons ondervind die kragtigste en grondigste belewing van gemeenskap aan die tafel van die Here. Hier kom ons op gemeenskaplike terrein byeen en word die versperrings wat ons van mekaar skei, afgebreek. Hier besef ons dat terwyl daar veel in die samelewing is wat ons verdeel, ons in Christus alles het wat nodig is om ons te verenig. Met die deel van die Nagmaalsbeker het Jesus die nuwe verbond aan Sy dissipels opgedra. Soos Hy gesê het: “Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Matt. 26:27, 28; vgl. Lukas 22:20). Waar die ou verbond met die bloed van geofferde diere bekragtig is (Exod. 24:8), so is die nuwe verbond met die bloed van Christus bekragtig. Met hierdie plegtigheid hernieu gelowiges hul gelofte om getrou aan hul Heer te bly en erken hulle opnuut dat hulle deel van ‘n verbysterende ooreenkoms is waardeur God Hom, deur Jesus, aan die mensdom verbind het. As deel van die verbond het hulle iets om te vier. Die Nagmaal is daarom sowel ‘n herdenking as ‘n danksegging vir die verseëling van die ewige genadeverbond. Die seëninge wat ontvang word, is na verhouding tot die geloof van die deelnemers.
3. In afwagting op die Wederkoms. “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26). Die Nagmaalsdiens dek die tyd tussen Golgota en die Wederkoms. Dit verbind die kruis en die koninkryk. Dit sluit die “reeds” en die “nog nie/saam, wat die kern van die Nieu-Testamentiese siening van die wêreld is. Dit verbind die Heiland se offer met Sy wederkoms die verlossing voorsien en die verlossing verwesenlik. Dit verklaar dat Christus deur die Gees teenwoordig is totdat Hy sigbaar kom.
Christus se belofte: “Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader” (Matt. 26:29), is profeties. Dit vestig ons geloof op ‘n toekomstige viering van die Nagmaal saam met ons Heiland in die koninkryk. Daardie geleentheid is die groot “bruilofsmaal van die Lam” (Openb. 19:9).
Ter voorbereiding vir hierdie gebeurtenis het Christus vermaan: “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien” (Lukas 12:35-37).
Met Sy volgelinge om die bankettafel geskaar, sal Christus die Nagmaal vier soos Hy dit in Jerusalem gedoen het. Hy het so lank vir hierdie geleentheid gewag, en nou is alles gereed. Hy staan van Sy troon af op en tree na vore om te bedien. Almal is verbaas. Hulle voel hulle die eer dat Christus hulle bedien, heeltemal onwaardig. Hulle protesteer: “Laat ons bedien!” Maar Christus wys dit stilweg van die hand en beduie dat hulle moet sit.
“Nooit was Christus groter op aarde as by die onvergeetlike geleentheid van die Heilige Nagmaal toe Hy die rol van ‘n dienskneg oorgeneem en Hom verootmoedig het nie. Nooit is Christus groter in die hemel as wanneer Hy Sy heiliges bedien nie.”13 Dit is die klimaktiese verwagting wat die Nagmaal voorafskadu, die vreugde van toekomstige heerlikheid deur persoonlike gemeenskap met Christus in Sy ewige koninkryk.
Vereistes vir Deelname Daar is twee groot plegtighede wat die Christelike geloof dien – die doop en die Nagmaal. Eersgenoemde is die poort tot die kerk, en laasgenoemde is tot voordeel van diegene wat lede is.14 Jesus het die Nagmaal net vir Sy belydende volgelinge bedien. Die Nagmaal is daarom vir gelowige Christene bedoel. Kinders neem gewoonlik nie deel aan hierdie bediening tensy hulle gedoop is nie.15
Die Bybel vermaan gelowiges om hierdie seremonie met die nodige eerbied vir die Here te vier, want “wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here” (1 Kor. 11:27). Hierdie “onwaardige wyse” bestaan uit òfonbehoorlike gedrag (kyk vers 21) òf ‘n gebrek aan ‘n lewende, aktiewe geloof in die soenoffer van Christus.”16 Sodanige gedrag toon oneerbiedigheid teenoor die Here en kan as ‘n verwerping van die Heiland beskou word en daarom deelname aan die skuld van diegene wat Hom gekruisig het.
‘n Onbehoorlike deelname haal’n mens God se mishae op die hals. Wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ” ‘n oordeel” oor hulle, “terwyl hulle die liggaam van die Here nie onderskei nie” (1 Kor. 11:29). Hulle onderskei nie tussen gewone kos en die geheiligde simbole wat die dood van Christus voorstel nie. “Gelowiges moet nie die seremonie as maar net die herdenkingsplegtigheid van ‘n gebeurtenis beskou nie. Dit is dit wel, maar veel meer; dit herinner aan wat die sonde die Here gekos het en wat die mens aan die Heiland verskuldig is. Dit verfris ook die gelowige se geheue dat hy in die openbaar moet getuig van sy geloof in die soendood van die Seun van God.17
Met die oog op hierdie vermaninge raai Paulus die gelowige aan om “homself [te] beproef” voordat hy aan die Nagmaal deelneem (1 Kor. 11:28). Voordat gelowiges deelneem moet hulle hul Christelike belewenis biddend in oorsig neem, hul sondes bely en gebroke verhoudinge herstel.
Die ondervinding van die Adventistepioniers toon watter seën so’n selfondersoek kan wees: “Toe ons nog maar min in getal was, het ons die seremonies op besonder voordelige wyse gevier. Die vorige Vrydag het elke lidmaat van die kerk probeer om enigiets uit die weg te ruim wat sou neig om hom van sy broeders en van God te vervreem. Harte is inniglik ondersoek, gebede dat God verskole sondes aan die lig moet bring het ernstig opgegaan; belydenis van ‘n transaksie wat te ver gedryf is; van onverstandige woorde wat haastig ontglip het, of gekoesterde sonde, is gedoen. Die Here was na aan ons, en ons is baie versterk en bemoedig.”18
Hierdie selfondersoek is ‘n persoonlike taak. Ander kan dit nie doen nie, want wie kan die hart lees of die onkruid van die koring onderskei? Christus, ons voorbeeld, het eksklusiwiteit by die Nagmaal verwerp. Hoewel openlike sonde ‘n mens onaanneemlik vir deelname maak (1 Kor. 5:11), het Jesus self die maal met Judas gedeel – wat uitwendig ‘n belydende volgeling was maar innerlik ‘n dief en’n verraaier was. Die kenmerke van diegene wat kwalifiseer vir deelname aan die Nagmaalsdiens, is dus die toestand van die hart – volle oorgawe aan Christus en geloof in Sy offer, en nie lidmaatskap van enige besondere kerk nie. Daarom kan gelowige Christene van alle kerke deelneem aan die Heilige Nagmaal. Almal word uitgenooi om hierdie groot fees van die nuwe verbond dikwels te vier, en deur hul deelname te getuig van hul aanname van Christus as hul persoonlike Saligmaker.19
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
TERUGVOER
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. Kyk Robert Odom, “The First Celebration of the Ordinance of the Lord’s House,” Ministry, Jan. 1953, bl. 20; White, Die Koning van die Eeue, hfst. 71, par. 4-18.
2. Ibid., par. 25-27.
3. Daar is ‘n verband tussen die doop en die Nagmaal. Die doop gaan kerklidmaatskap vooraf, terwyl die voetewassing diegene dien wat reeds kerklidmate is. Gedurende hierdie seremonie kan ons behoorlik nadink oor ons doopgeloftes.
4. Kyk C. Mervyn Maxwell, “A Fellowship of Forgiveness,” Review and Herald, 29 Junie 1961, bl. 6, 7.
5. Jon Dybdahl, Missions: A Two-Way Street (Boise, ID: Pacific Press, 1986), bl. 28.
6. Hoewel algemeen verstaan word dat die uitdrukking in Handelinge 20:7 na die viering van die Nagmaal verwys, verwys dit nie net na hierdie plegtigheid nie. In Lukas 24:35 verwys dit na ‘n gewone daaglikse ete.
7. Met die veronderstelling dat dit in Bybelse tye nie moontlik was om druiwesap lank te bewaar in die warm klimaat van Israel vanaf die druiweoes tot die Pasga in die lente nie, word aangeneem dat die Jode die Pasga met gegiste wyn gevier het. Hierdie veronderstelling hou nie steek nie. Dwarsdeur die antieke wêreld is sappe dikwels vir lang tydperke deur verskillende metodes in ‘n ongegiste toestand bewaar. Een metode was om die sap tot ‘n stroop te konsentreer deur dit te kook. As hierdie konsentraat in ‘n koel plek bewaar word, sal dit nie gis nie. Deur dit later eenvoudig met water te verdun, het dit ‘n nie-alkoholiese “soet wyn” gelewer. Kyk William Patton, Bible Wines – Laws of Fermentation (Oklahoma City, OK: Sane Press, n.d.), bl. 24-41; kyk ook C. A. Christoforides, “Moreon Unfermented Wine,” Ministry, April 1955, bl. 34; Lael O. Caesar, “The Meaning of Yayin in die Ou Testament” (Ongepubliseerde M.A.-tesis, Andrews-Universiteit, 1986), bl. 74-77; White, Koning van die Eeue, hfst. 72, par. 5. Die pasgawyn kon ook van rosyne gemaak word (F. C. Gilbert, Practical Lessons From the Experience of Israel for the Church of Today [Nashville, TN: Southern Publish. Assn., 1972 uitg.), bl. 240241).
8. In hierdie lig is dit nie sonder betekenis dat Christus nie die gewone woord vir wyn gebruik nie (Grieks oinos) maar die uitdrukking “die vrug van die wynstok” (Markus 14:25). Hoewel oinos na sowel gegiste as ongegiste wyn kan verwys, verwys die vrug van die wynstok na die suiwer sap – ‘n gepaste simbool vir die bloed van Christus, wat Homself “die ware wynstok” noem (Joh. 15:1).
9. Suurdeeg veroorsaak ook die gissing van dnuiwesap. Suurdeegspore wat deur insekte deur die lug gedra word, heg hulle aan die waslaag van die druiwedoppe. Wanneer die druiwe gepars word, meng die spore met die sap. Teen kamertemperatuur vermenigvuldig die suurdeegselle vinnig en laat die wyn gis (kyk Martin S. Peterson, Arnold H. Johnson, reds., Encyclopedia of Food Technology [Westport, CT.: Avi Publishing Co. , 1974), deel2, bl. 61-69; idem, Encyclopedia of Food Science [Westport, CT: Avi Publishing Co., 1978], deel 3, bl. 878.
10. R. Rice, Reign of God, bl. 303.
11. SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 6, bl. 746.
12. White, Koning van die Eeue, hfst. 72, par. 17; vgl. par. 29-31.
13. M. L. Andreasen, “The Ordinances of the Lord’s House,” Ministry, Jan. 1947, bl. 44,46.
14. Vgl. White, Evangelism, (Washington, D.C.: Review and Herald, 1946), bl. 273.
15. Kyk bv. Frank Holbrook, “ForMembers Only?” Ministry, Feb. 1987, bl. 13.
16. SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 6, bl. 765.
17. Ibid.
18. White, Evangelism, bl. 274; vgl. SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 6, bl. 765. 19. Die Bybel skryf nie voor hoe dikwels die Nagmaal gevier moet word nie (Kyk 1 Kor. 11:25, 26). Die Adventiste het die gebruik van talle Protestante gevolg deur dit vier maal per jaar te vier. “Deur die kwartaallikse plan te volg, het die vroeë Adventiste gelowiges gevoel dat as die diens meer dikwels gehou word, die gevaar van formaliteit sou ontstaan met ‘n versuim om die plegtigheid van die diens te besef.” Dit lyk na ‘n middeweg – tussen dit te dikwels te vier en dit met te lang tussenposes te vier, soos een keer per jaar (W. E. Read, “Frequency of the Lord’s Supper,” Ministry, April 1955, bl. 43).