14. Hoe is Jesus se Liggaam die Kerk?

Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.

DOWNLOAD

Inleiding:

Die kerk is een liggaam met baie lede, wat uit elke nasie, stam en taal en volk geroep word. In Christus is ons ‘n nuwe skepping; onderskeiding tussen ras, kultuur, geleerdheid en nasionaliteit, en verskille tussen hoog en laag, ryk en arm, man en vrou, moet nie verdeeldheid tussen ons bring nie. Ons is almal gelyk in Christus, wat ons deur een Gees saamgebind het in een gemeenskap saam met Hom en met mekaar; ons moet dien en gedien word sonder partydigheid of voor­behoud. Deur die openbaring van Jesus Christus in die Skrifte deel ons dieselfde geloof en hoop, en reik ons die hand in een getuienis aan almal. Hierdie eenheid het sy bron in die eenheid van die Drie-enige God, wat ons as Sy kinders aangeneem het.

Eenheid in die Liggaam van Christus

Nadat Jesus Sy werk op aarde afge­handel het (Joh. 17:4), was Hy steeds diep bekommerd oor die toestand van Sy dissipels, selfs nog op die aand voor Sy dood.

Naywer het ‘n stryery afgegee oor wie die grootste is en wie die hoogste posisies in die koninkryk van Christus sou kry. Jesus se verduideliking dat nederigheid die stempel van Sy koninkryk is en dat Sy ware volgelinge dienaars sou wees wat hulself gewilliglik beskikbaar stel sonder om selfs dank daarvoor te verwag, het skynbaar op dowe ore geval (Lukas 17:10). Selfs die voorbeeld wat Hy gestel het deur te buk en hul voete te was toe nie een van hulle, weens die implikasies daarvan, bereid was om dit te doen nie, was oën­skynlik tevergeefs (kyk hoofstuk 15 van hierdie boek).

Jesus is Liefde. Dit was weens Sy sim­patie dat die massas Hom gevolg het. Omdat Sy dissipels hierdie onselfsugtige liefde nie verstaan het nie, was hulle sterk bevooroordeeld teenoor nie-Jode, vroue, “sondaars,” en die armes, wat hulle ver­blind het teen die alomvattende liefde van Christus, selfs teenoor die veragtes. Toe die dissipels Hom met ‘n Samaritaanse vrou van twyfelagtige karakter sien praat, het hulle nog nie geleer dat die lande, wat ryp vir die oes is, graan van elke soort in­gesluit het wat gereed was om ingesamel te word nie.

Christus sou Hom egter nie laat beïn­vloed deur tradisie, openbare mening of selfs familiedruk nie. Sy onkeerbare liefde het na benede gereik en die gebroke mens­dom herstel. So ‘n liefde, wat hulle sou on­derskei van die gevoellose publiek, sou die bewys wees van ware dissipelskap. Soos Hy liefgehad het, moes hulle liefhê. Die wêreld sou Christene altyd kon uitken ­nie weens hul belydenis nie, maar weens die openbaring van die liefde van Christus in hulle (vgl. Joh. 13:34,35).

Selfs in die tuin van Getsemane was Christus se hoofgedagte die eenheid van Sy kerk diegene wat “uit die wêreld ” sou kom (Joh. 17:6). Hy het by Sy Vader ge­pleit om eendrag in die kerk soortgelyk aan die wat die Godheid ondervind. “Ek bid…dat hulle almal een mag wees net soos U,Vader, in My en Ek in U;dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat UMy gestuur het” (Joh. 17:21).

So ‘n eenheid is die kerk se kragtigste werktuig vir getuienis, want dit getuig van Christus se onselfsugtige liefde vir die mens. Soos Hy gesê het: “Ek in hulle en Uin My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat UMy ge­stuur het, en hulle liefgehad het net soos Umy liefgehad het” (Joh. 17:23).

Bybelse Eenheid en die Kerk

Watter soort eenheid het Christus vir die huidige sigbare kerk beoog? Hoe is so ‘n liefde en eenheid moontlik? Wat is sy grondslag? Wat is sy bestanddele? Vereis dit eenvormigheid of laat dit verskeiden­heid toe? Hoe funksioneer so ‘n eensge­sindheid?

Eenheid van die Gees. Die Heilige Gees is die dryfkrag agter kerkeenheid. Deur Hom word gelowiges na die kerk getrek. Deur Hom word hulle “gedoop tot een lig­gaam” (1 Kor. 12:13). Hierdie gedoopte lede moet ‘n eensgesindheid besit wat Paulus beskryf het as “die eenheid van die Gees” (Efe. 4:3).

Die apostel het die basiese bestanddele van hierdie eenheid van die Gees beskryf: “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is” (Efe. 4:4-6). Die sewevoudige herhaling van die woord een beklemtoon die volkome eenheid wat Paulus in gedagte gehad het.

Die Heilige Gees roep mense uit elke na­sionaliteit en ras en doop hulle tot een lig­gaam – die liggaam van Christus, die kerk. Namate hulle in Christus opwas bring kulturele verskille nie meer ver­deeldheid nie. Die Heilige Gees breek skeidsmure af tussen hoog en laag, ryk en arm, man en vrou. In die besef dat God hulle almal gelyk ag, het hulle respek vir mekaar.

Hierdie eenheid funksioneer ook op die gesamentlike vlak. Dit beteken dat plaas­like gemeentes oral gelyk is, selfs al ont­vang sommiges geld en sendelinge van ander lande. So ‘n geestelike eenheid ken geen hiërargie nie. Inboorlinge en sende­linge is gelyk voor God.

Die verenigde kerk het een hoop die “salige hoop” van verlossing wat ver­wesenlik sal word met “die verskyning van die heerlikheid…van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:13). Hierdie hoop is ‘n bron van vrede en blydskap en is ‘n kragtige dryfveer vir ‘n eendragtige getuienis (Matt. 24:14). Dit lei tot ‘n verandering in lewenswyse, want “elkeen wat hierdie hoop op Hom het, rei­nig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

Dit is deur ‘n gemeenskaplike geloof persoonlike geloof in die soenoffer van Jesus Christus dat almal deel van een liggaam word. Die een doop wat Christus se dood en opstanding simboliseer (Rom. 6:3-6), is ‘n volkome uitdrukking van hier­die geloof en getuig van’n vereniging met die liggaam van Christus.

Laastens leer die Skrif dat daar een Gees is, een Here, en een God en Vader. Alle as­pekte van kerkeenheid vind hul grondslag in die eenheid van die Drie-enige God. “Daar is wel verskeidenheid van genade­gawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeiden­heid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk” (1 Kor. 12:4-6).

Die Ontvang van Eenheid. Gelowiges on­dervind ‘n eensgesindheid van gees en oordeel. Let op die volgende vermaninge: “En mag die God van lydsaamheid en be­moediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheer­lik” (Rom. 15:5, 6). “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieself­de mening” (1 Kor. 1:10). “Wees eensge­sind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees” (2 Kor. 13:11).

Die kerk van God moet dus ‘neenheid van gevoel, denke en handeling openbaar. Beteken dit dat die lede identiese ge­voelens, gedagtes en handelinge aan die dag moet lê? Vereis Bybelse eenheid een­vormigheid?

Eenheid in Verskeidenheid. Bybelse een­heid beteken nie eenvormigheid nie. Die Bybelse beeld van die menslike liggaam demonstreer dat die kerk se eenheid in ver­skeidenheid berus.

Die liggaam het baie organe wat almal bydra tot die beste funksionering van die liggaam. Elkeen vervul ‘n onontbeerlike hoewel afsonderlike taak; nie een is nutte­loos nie.

Hierdie selfde beginsel geld vir die kerk. God deel Sy gawes “afsonderlik uit… soos Hy wil” (1 Kor. 12:11), en bring sodoende ‘ngesonde verskeidenheid teweeg wat die gemeente tot voordeel strek. Nie al die lede dink eenders nie, en hulle is ook nie be­voeg om dieselfde soort werk te verrig nie. Almal funksioneer egter onder die leiding van dieselfde Gees, en bou die kerk op na die beste van hul Godgegewe vermoëns.

Om sy sending te kan vervul, het die kerk die bydraes van al die gawes nodig. Saam voorsien hulle die krag vir totale evangelisasie. Die sukses van die kerk hang nie daarvan af dat elke lid dieselfde is en dieselfde ding doen as elke ander lid nie; inteendeel, dit hang daarvan af dat al die lede die take verrig wat God aan hulle opgedra het.

In die natuur voorsien die wingerdstok met sy takke ‘n illustrasie van die eenheid in verskeidenheid. Jesus het die beeld van die wingerd gebruik om die eenheid tussen Homself en die gelowiges te illus­treer (Joh. 15:1-6). Die takke, die gelowiges, is die verlengings van die Ware Wynstok – Christus. Soos elke tak en blaar, verskil elke afsonderlike Christen van die ander, en tog bestaan daar ‘n een­heid, omdat almal hul voeding van dieself­de bron ontvang, naamlik die Wynstok. Die takke van die wingerd is elk afsonder­lik en smelt nie in mekaar nie: tog sal elke tak gemeenskap met die ander hê as hulle aan dieselfde stam geheg is. Hulle ontvang almal hul voeding van dieselfde bron: en assimileer dieselfde lewegewende eien­skappe.

So is Christelike eenheid afhanklik van die inenting van die lede in Christus. Hy voorsien die krag wat die Christelike lewe opwek. Hy is die bron van die talente en krag wat nodig is om die kerk se taak te volbring. Deur met Hom verenig te wees, word die smaak, gewoontes en lewens­wyse van alle Christene gevorm. Deur Hom is al die lede aan mekaar verbonde en sluit hulle saam in ‘n gemeenskaplike sending. Wanneer die lede in Hom bly, word selfsug verdryf en kom Christelike,­eenheid tot stand, wat hulle in staat stel om Sy sending te volbring.

Terwyl daar dus verskillende tem­peramente in die kerk is, werk almal onder die een Hoof. Hoewel daar baie gawes is, is daar net een Gees. Hoewel die gawes verskil, is daar eendragtige handeling. “Dit [is] dieselfde God wat alles in almal werk” (1 Kor. 12:6).

Eenheid van Geloof. ‘n Verskeidenheid , van gawes beteken nie ‘n verskeidenheid van gelowe nie. In die laaste dae sal die kerk van God uit mense bestaan wat saam op die platvorm van die ewige evangelie staan –hul lewe gekenmerk deur die be­waring van die gebooie van God en die ge­loof van Jesus (Openb. 14:12). Saam verkondig hulle God se uitnodiging tot verlossing aan die wêreld.

Hoe Belangrik Is Kerkeenheid?

Eenheid is noodsaaklik vir die kerk. Daarsonder sal die kerk nie sy heilige sending kan volbring nie.

Deur Eenheid is die Kerk se Optrede Doelmatig. In ‘n wêreld wat deur konflik en tweedrag geskeur word, getuig die liefde en eensgesindheid onder kerklede van uiteenlopende persoonlikhede, geaardhede en neigings kragtiger van die kerk se boodskap as wat enigiets anders kan. Hierdie eenheid verskaf onbetwisbare getuienis van hul verbintenis met die hemel en van die geldigheid van hul ge­loofsbriewe as dissipels van Christus (Joh. 13:35). Dit bewys die krag van die Woord van God.

Konflik tussen belydende Christene is deur ongelowiges met veragting bejeen en was moontlik die vernaamste rede waarom hulle die Christelike geloof nie aangeneem het nie. Ware eenheid onder gelowiges werk hierdie houding tee. Dit is ‘n belangrike getuienis aan die wêreld, het Christus gesê, dat Hy hul Verlosser is (Joh. 17:23).

Eenheid Toon die Werklikheid van die Koninkryk van God. ‘n Waarlik verenigde kerk op aarde toon dat sy lede opreg in hul verwagting van ‘n samelewing in die hemel is. Eendrag op aarde toon die werk­likheid van God se ewige koninkryk. Aan diegene wat so leef, sal die Skrif vervul word: “Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!” (Ps. 133:1).

Eenheid Toon die Krag van die Kerk. Eendrag maak mag, tweedrag verswak. ‘n Kerk is waarlik vooruitstrewend en sterk as sy lede eendragtig saamwerk vir die redding van die wêreld. Dan en alleen dan is hulle in die waarste sin “medewerkers van God” (1 Kor. 3:9).

Christelike eenheid is ‘n uitdaging aan die toenemende verskeurdheid van ‘n wêreld wat deur liefdelose selfsug verdeeld is. Die verenigde kerk demonstreer die ant­woord vir ‘n samelewing wat verdeeld is deur kultuur, ras, geslag en nasionaliteit. ‘n Verenigde kerk sal die sataniese aan­valle afweer. Trouens, die magte van die duisternis is magteloos teen die kerk wie se lede mekaar liefhet soos Christus hulle liefgehad het.

Die positiewe en lieflike uitwerking van ‘n verenigde kerk kan by die spel van ‘n orkes vergelyk word. Die oomblikke voor­dat die dirigent verskyn, heers daar ‘n ka­kofonie soos die orkeslede hul instrumente stem. Wanneer die dirigent egter die podium betree, hou al die chaotiese geluide op en is alle oë op hom gevestig. Elke lid van die orkes sit oorge­haal, gereed om te speel soos hy dirigeer.

Die orkes volg die dirigent se leiding en lewer pragtige, harmonieuse geluide.

“Eenheid in die liggaam van Christus beteken om die instrument van my lewe te laat saamsmelt met die groot orkes van die uitverkorenes, onder die stok van die God­delike Dirigent. As Hy die staf swaai volgens die oorspronklike partituur van die skepping, het ons die voorreg om die simfonie van die liefde van God vir die mens voor te dra.”1

Om Eenheid te Bereik

As die kerk eenheid wil verkry, moet sowel die Godheid as die gelowiges daar­by betrokke wees. Wat is die bron van een­heid? Kan dit verkry word? Watter rol speel gelowiges daarin?

Die Bron van Eenheid. Die Skrif wys daarop dat eenheid die volgende bronne het: (1) die behoudende krag van die Vader (Joh. 17:11), (2) die Vader se heerlikheid wat Christus aan Sy volgelinge gegee het (Joh. 17:22), en (3) Christus se inwoning in die gelowiges (Joh. 17:23). Die Heilige Gees, die “Gees van Christus” in die liggaam van Christus, is die bindende krag en teenwoordigheid wat elke gedeelte verenig hou.

Soos die naaf en speke van ‘n wiel, kom die kerklede (die speke), hoe nader hulle na mekaar kom, hoe nader aan Christus (die naaf). “Die geheim van ware eenheid in die kerk en in die gesin is nie diplomasie nie, nie bestuur nie, nie ‘n bomenslike poging om moeilikhede te bowe te kom nie hoewel baie hiervan nodig sal wees ­- maar eenheid met Christus.”2

Die Heilige Gees as Vereniger. As die “Gees van Christus” en die “Gees van die waarheid” bring die Heilige Gees eenheid teweeg.

1.  Die brandpunt van eenheid. Namate die Gees in gelowiges se lewens inkom, laat Hy hulle hulle menslike vooroordele jeens kultuur, ras, geslag, kleur, na­sionaliteit en status te bowe kom (kyk Gal. 3:26-28). Hy doen dit deur Christus in die hart in te bring. Diegene in wie Hy woon, sal hul gedagtes op Jesus toespits, nie op hulself nie. Hul eenheid met Christus smee die band van eenheid onder mekaar – die vrugte

van die inwonende Gees. Hulle sal dan minder bewus wees van hul verskille en meer verenig wees in die strewe om Jesus te verheerlik.

2.  Die rol van die geestelike gawes in die bereiking van eenheid. Hoe moontlik is die ideaal van kerkeenheid? Toe Christus Sy middelaarswerk aan die sy van Sy Vader in die hemel begin het, het Hy gesorg dat die doelwit om Sy kinders te verenig, nie ‘n illusie is nie. Deur die Heilige Gees het Hy besondere gawes gegee wat veral be­doel was om “die eenheid van die geloof” onder gelowiges te vestig.

Van hierdie gawes het Paulus gese: Christus “het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars.” Hierdie gawes is aan die kerk gegee “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n  volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efe. 4:11-13).

Hierdie unieke gawes is bedoel om die “eenheid van die Gees” te ontwikkel “totdie eenheid van die geloof” (Efe. 4:3, 13), sodat gelowiges volwasse en standvastig sal wees en “nie meer soos kinders sou wees wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van le­ring, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring nie” (Efe. 4:14; kyk hoofstuk 16 van hierdie boek).

Deur hierdie gawes spreekgelowiges die waarheid in liefde en was hulle op in Christus, die Hoof van die kerk – en so­doende ontwikkel hulle’n dinamiese een­heid van liefde. In Christus, het Paulus verklaar, word die hele liggaam “goed saamgevoeg en saamverbind deur die on­dersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate” (Efe. 4:16).

3. Die basis vir eenheid. Die Heilige Gees tree as “Gees van die waarheid” (Joh.15:26) op om Christus se belofte uit te voer. Sy taak is om gelowiges in alle waar­heid te lei (Joh. 16:13). Die waarheid wat op Christus gesentreer is, is dus klaar­blyklik die basis vir eenheid.

Die Gees se sending is om gelowiges in die “waarheid soos dit in Jesus is” te lei. So ‘n  studie het ‘n verenigende uitwerking. Tog is studie alleen nie genoeg om die ware eenheid teweeg te bring nie. Alleen wanneer die waarheid soos dit in Jesus is geglo, uitgeleef en verkondig word, kan ware eenheid bewerkstellig word. Gemeenskap, geestelike gawes en liefde is almal baie be­langrik, maar hul volheid kom deur die Een wat gesê het: “Ekis die weg en die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6). Christus het gebid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Om eenheid te kan ondervind, moet gelowiges dus die lig ontvang soos dit uit die Woord skyn.

Namate hierdie waarheid soos dit in Jesus is in die hart woon, sal dit die lewe louter, veredel en reinig en alle vooroor­deel en wrywing uitskakel.

Christus se Nuwe Gebod. Soos die mens, is die kerk na die beeld van God gemaak. Soos elke lid van die Godheid liefde vir die ander het, sal die lede van die kerk mekaar liefhê. Christus het gelowiges aangesê om hul liefde vir God te toon deur andere soos hulleself lief te hê (Matt. 22:39).

Op Golgota het Jesus self die liefdesbe­ginsel tot die uiterste uitgeleef. Net voor Sy dood het Hy die gebod wat Hy vroeër neergelê het, uitgebrei deur die dissipels ‘n nuwe gebod te gee “dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” (Joh. 15:12; vgl. 13:34). Dit was asof Hy vir hulle gesê het: “Ekvra julle om jul regte nie te verdedig nie, om nie te sorg dat julle kry wat julle toekom nie, om nie hof toe tegaan as julle dit nie kry nie. Ek vra julle om die hemp uit te trek vir die sambok, om die ander wang te keer, om vals beskuldig te word, bespot en gehoon te word, om gekneus, gebreek, aan ‘n kruis gespyker en begrawe te word, as dit soveel kos om ander lief te hê. Want dit is wat dit beteken om ander lief te hê soos Ek julle liefhet.”

1.  Die onmoontlike moontlikheid. Hoe kan ons liefhê soos Christus liefgehad het? Onmoontlik! Christus vra die onmoont­like, maar Hy kan die onmoontlike verrig. Hy belowe: ” EnEk, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek” Goh. 12:32), Want eenheid in die liggaam van Christus is ‘n belewenis van die vlees­wording, die eenheid van gelowiges met God deur die Woord wat vlees geword het. Dit is ook die belewenis van ‘n verwant­skap, die eenheid van gelowiges deur hul gemeenskaplike wortels in die Wingerd­stok. En laastens is dit in die kruis gewor­tel: die liefde van Golgota wat in die hart van die gelowiges opkom.

2.  Eenheid by die kruis. Kerkeenheid ge­skied by die kruis. Alleen wanneer ons besef dat ons nie soos Jesus liefhet of kan liefhê nie, erken ons ons behoefte aan Sy inwonende teenwoordigheid – en glo ons Hom wanneer Hy sê: “SonderMy kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5). By die kruis besef ons dat Hy nie net vir ons gesterf het nie, maar vir elke mens op aarde. Dit beteken dat Hy alle nasionaliteite, rasse, kleure en klasse liefhet. Hy het almal ewe lief, afgesien van watter verskille daar ook tussen hulle mag wees. Dit is waarom een­heid in God gewortel is. Die mens se enge siening neig om mense te skei. Die kruis breek deur menslike blindheid en plaas God se pryskaartjie op mense. Dit toon dat niemand waardeloos is nie. Almal is gesog. As Christus hulle liefhet, moet ons dit ook doen.

Toe Christus voorspel het dat Sy dood almal na Hom sou trek, het Hy bedoel dat die magnetiese trekkrag van Hom wat die grootste van lydendes was, in Sy liggaam, die kerk, eenheid sou bring. Die ontsaglike kloof tussen die hemel en ons, die kloof wat Christus oorgesteek het, maak die klein treetjie nietig wat ons oor die straat of dorp moet neem om ‘n broer te bereik.

Golgota beteken “Dra mekaar se laste” (Gal. 6:2). Hy het die hele las van die ganse mensdom gedra en dit het Sy lewe uit­gepers sodat Hy aan ons lewe kon gee en ons kon vrystel om mekaar te help.

Stappe tot Eenheid. Eenheid kom nie vanself nie. Gelowiges moet stappe doen om dit te bewerkstellig.

1.  Eendrag in die huis. ‘n Ideale voorbe­reidingskool vir kerkeenheid is die huis (kyk hoofstuk 22 van hierdie boek). As ons, met die kruis as middelpunt, verstandige bestuur, vriendelikheid, sagmoedigheid, geduld en liefde leer, sal ons in staat wees om hierdie beginsels in die kerk toe te pas.

2.  Strewe na eenheid. Ons sal nooit een­heid verkry tensy ons dit doelbewus na­streef nie. En ons kan nooit ontspan en dink ons het dit bereik nie. Ons moet daagliks om eenheid bid en dit met toewyding kweek.

Ons moet verskille gering ag en ar­gumente oor onnodige dinge vermy. Liewer as om ons aandag op die dinge te vestig wat verdeel, moet ons oor die baie kosbare waarhede praat waaroor ons dit eens is. Praat van eenheid en bid dat Chris­tus se gebed verwesenlik mag word. So­doende kan ons die eenheid en harmonie bereik wat God van ons verlang.

3. Streef saam na ‘n gemeenskaplike doel. Die kerk sal geen eenheid ken voor­dat hy eendragtig betrokke is by die ver­kondiging van die evangelie van Jesus Christus nie. So ‘n sending is die ideale op­leiding om eensgesindheid te bereik. Dit leer gelowiges dat hulle almal afsonderlike dele van God se magtige gesin is en dat die geluk van die geheel afhang van die wel­syn van elke gelowige.

In Sy bediening het Christus die herstel van die siel en die herstel van die liggaam as ‘n eenheid behandel. En toe Hy Sy dissi­pels op hul sending uitgestuur het, het Hy op ‘n soortgelyke nadruk aangedring: om te predik en te genees (Lukas 9:2; 10:9).

Daarom moet Christus se kerk sowel die taak van prediking die bediening van die Woord – as die mediese sendingwerk voortsit. Nie een van hierdie fases van die werk van God moet onafhanklik van die ander onderneem word of die hele pro­gram in beslag neem nie. Soos in Christus se tyd moet ‘n ewewig, ‘n harmonieuse samewerking, ons arbeid vir siele ken­merk.

Diegene wat in verskillende fases van die kerk se werksaamhede betrokke is, moet ten nouste saamwerk as hulle die evangelie-uitnodiging met krag aan die wêreld wil bring. Sommige glo dat eenheid dieselfde is as konsolidasie vir doeltref­fendheid. Die beeld van die liggaam dui egter aan dat elke orgaan, groot of klein, belangrik is. Samewerking – nie mede­dinging nie – is God se plan vir Sy wêreld­kerk. Eenheid binne die liggaam van Christus word dus ‘n vertoning van Chris­tus se onselfsugtige liefde wat so pragtig aan die kruis bewys is.

4. Ontwikkel ‘n globale perspektief. ‘n Kerk is nie waarlik verenig tensy hy aktief bedrywig is in die opbouing van die werk van God in alle dele van die wêreld nie. ‘n Kerk moet alles in sy vermoë doen om na­sionale, kulturele of plaaslike isolasio­nisme te vermy. Om eenheid van oordeel, doel en optrede te verkry, moet gelowiges van verskillende nasionaliteite met me­kaar omgaan en saam dien.

Die kerk moet oppas dat hy nie afsonder­like nasionale belange handhaaf wat sy verenigde invloed op die wêreld kan bena­deel nie. Kerkleiers moet so optree dat ge­lykheid en eenheid bewaar sal word, en moet sorg dra dat programme of fasiliteite nie in enige besondere gebied ontwikkel word ten koste van die bevordering van die werk in ander dele van die wêreld nie.

5. Vermy gesindhede wat verdeel. Ge­sindhede soos selfsug, hoogmoed, selfvertroue, selfvergenoegdheid, meer­derwaardigheid, vooroordeel, kritiek, veroordeling en foutsoekery onder ge­lowiges dra by tot onenigheid in die kerk. Dikwels skuil ‘n verlies van die eerste liefde in die Christelike ondervinding agter hierdie houdinge. ‘n Herbetragting van die gawe van God in Christus op Gol­gota kan liefde vir mekaar vernuwe (1 Joh. 4:9-11). Die genade van God wat deur die Heilige Gees meegedeel word, kan hierdie bronne van onenigheid in die onvernieude hart onderwerp.

Toe een Nieu-Testamentiese gemeente ‘n probleem met onenigheid ontwikkel het, het Paulus hulle aangemoedig om te “wandel deur die Gees” (Gal. 5:16). Deur volhardende gebed moet ons die leiding van die Gees soek, wat ons tot eenheid sal lei. Om in die Gees te wandel, kweek die vrug van die Gees – liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing – ‘n doeltreffende teen­middel teen onenigheid (Gal. 5:22, 23).

Jakobus het nog ‘n ander wortel van on­enigheid veroordeel: om mense te be­handel ooreenkomstig hul rykdom of status. Hy het voortrekkery kras veroor­deel: “As julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders be­straf” (Jak. 2:9). Omdat God onpartydig is (Hand. 10:34), moet ons ook nie sommige kerklede met meer agting bejeen weens rykdom, posisie of bekwaamheid nie. Ons kan hulle respekteer, maar ons moet hulle nie belangriker vir ons hemelse Vader ag as die geringste van die kinders van God nie. Christus se woorde bring ons denke in perspektief: “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My ge­doen” (Matt. 25:40). Hy word verteen­woordig in die persoon van die geringste, asook in die mees geseënde van lede. Almal is Sy kinders en is daarom ewe be­langrik vir Hom. Net soos ons Here, die Seun van die mens, ‘n broer vir elke seun en dogter van Adam geword het, so word ons, Sy volge­linge, geroep om ons broers en susters uit “alle nasies en stamme en tale en volke” (Openb. 14:6) met een gesindheid die hand te reik.

Videos en Klankbane:

Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Vrae:

Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.

TERUGVOER

Addisionele hulpbronne:

Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.

INSERT VIDEO HERE

INSERT SOUNDTRACK HERE

Verwysings:

  1. Benjamin F. Reaves, “What Unity Means to Me,” Adventist Review, (4 Desember 1986, bl. 20.
  2. White, The Adventist Home (Nashville, TN: Southern Publishing Assn., 1952), bl. 179.