Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Die kerk is die gemeenskap van gelowiges wat Jesus Christus as Here en Verlosser bely. As opvolgers van die volk van God in Ou-Testamentiese tye word ons uit die wêreld uitgeroei en ons verenig ons vir aanbidding, vir gemeenskap, vir onderrig uit die Woord, vir die viering van die Heilige Nagmaal, vir diens aan die mensdom en vir die verkondiging van die evangelie oor die hele wêreld. Die kerk ontvang sy gesag van Christus, wat die vleesgeworde Woord is, en uit die Skrifte, wat die geskrewe Woord is. Die kerk is die gesin van God, deur Hom as kinders aangeneem, en sy lede leef op die grondslag van die nuwe verbond. Die kerk is die liggaam van Christus, ‘n geloofsgemeenskap waarvan Christus self die Hoof is. Die kerk is die bruid vir wie Christus gesterf het sodat Hy haar kan heilig en reinig. Met Sy triomfantlike wederkoms sal Hy haar as ‘n heerlike kerk vir Hom neem die getroues van al die eeue, wat met Sy bloed gekoop is en sonder vlek of rimpel, maar heilig en vlekkeloos is.
Die Kerk
Deur woede oorweldig, slaan die ou man die rots met die stok wat hy dra. Hy lig dit op en swaai dit nogmaals en skree: “Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?”
Skielik stroom
water uit die rots om in Israel se behoeftes te voorsien. Maar, deur vir
Homself die eer vir die gawe van water toe te eien pleks van die Rots
die eer daarvoor te gee, het Moses gesondig. En weens daardie sonde kon hy die
Beloofde Land nie binnegaan nie (kyk Num. 20:7-12).
Daardie Rots was Christus, die fondament waarop God Sy volk sowel individueel as gesamentlik gevestig het. Hierdie beeldspraak kom dwarsdeur die Skrifte voor.
In sy laaste boodskap aan Israel het Moses, moontlik met hierdie voorval nog in gedagte, die gelykenis van die rots gebruik om God se trou en onveranderlikheid uit te beeld:
“Geegrootheid aan onse God!
Die Rots – volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte;
‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deut. 32:3, 4).
Eeue later het Dawid dieselfde tema herhaal – sy Verlosser is die rots:
“By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God” (Ps. 62:8).
Jesaja het dieselfde beeldspraak vir die komende Messias gebruik: ” ‘n Grondsteen, ‘nbeproefde steen, ‘nkosbare hoeksteen wat vas gegrond is” (Jes. 28:16).
Petrus het getuig dat Christus hierdie voorspelling verwesenlik het, nie as ‘ngewone klip nie, maar ‘n”lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is” (1 Pet. 2:4). Paulus het Hom aangewys as die enigste vaste fondament deur te verklaar: ”Niemand kan ‘nander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Kor. 3:11). Met verwysing na die rots wat Moses geslaan het, het hy gesê: “Almal [het] dieselfde geestelike drank gedrink…want hulle het gedrink uit die geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Kor. 10:4).
Jesus Christus het die beeld self regstreeks toegepas toe Hy verklaar het: “Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Hy het die Christelike kerk op Homself, die Lewende Rots, gevestig. Sy eie liggaam sou geoffer word vir die sondes van die w’reld, die slaan van die rots. Teen ‘n kerk wat op die vaste fondament berus wat Hy voorsien het, kan niks standhou nie. Uit hierdie Rots sou die helende waters na die dorstige nasies vloei (vgl. Eseg. 47:1-12; Joh. 7:37, 38; Openb. 22:1-5).
Hoe swak en kragteloos was die kerk toe Christus hierdie verklaring gedoen het! Dit het bestaan uit enkele moeë, twyfelende, eersugtige dissipels, ‘n handjievol vroue, en die wispelturige menigte wat verdwyn het toe die Rots geslaan is. Tog is die kerk gevestig, nie op swakke menslike wysheid en vernuf nie, maar op die Rots van die Eeue. Die tyd sou toon dat niks Sy kerk kan vernietig of dit sou afskrik van sy sending om God te verheerlik en manne en vroue na die Heiland te neem nie (vgl. Hand. 4:12, 13,20-33).
Die Bybelse Betekenis van “Kerk”
In die Skrifte is die woord kerk1 ‘n vertaling van die Griekse ekklesia, wat “‘n uitroeping” beteken. Hierdie uitdrukking is algemeen gebruik vir die byeenroeping van mense om hulle te vergader.
Die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament, wat in Jesus se tyd gewild was, het ekklesia gebruik om die Hebreeuse kwahal te vertaal, wat ‘n “byeenkoms,” of ‘n “vergadering” beteken het (Deut. 9:10; 18:16; 1 Sam. 17:47; 1 Kon. 8:14; 1 Kron. 13:2).2
Hierdie gebruik is in die Nuwe Testament uitgebrei. Kyk maar hoe gebruik dit die benaming kerk: (1) gelowiges wat op ‘n spesifieke plek byeengekom het vir godsdiensoefening (1 Kor. 11:18; 14:19, 28); (2) gelowiges wat in ‘n sekere omgewing woon (1 Kor. 16:1; Gal. 1 :2; 1 Thess. 2:14); (3) ‘n groep gelowiges in die huis van ‘n individu (1 Kor. 16:19; Kol. 4:15; Fil. 2); (4)’n groep gemeentes in ‘n bepaalde geografiese gebied (Hand. 9:31);3 (5) die hele liggaam gelowiges deur die hele wêreld (Matt. 16:18; 1 Kor. 10:32; 12:28; vlg. Efe. 4:11-16); (6) die hele getroue skepping in hemel en op aarde (Efe. 1:20-22; vgl. Filip. 2:9-11).
Die Aard van die Kerk
Die Bybel stel die kerk as ‘n heilige instelling voor en noem dit “die gemeente van God” (Hand. 20:28; 1 Kor. 1:2). Jesus het die kerk met Goddelike gesag beklee (Matt. 18:17, 18). Ons kan die aard van die Christelike kerk verstaan deur dit teen die agtergrond van die Ou Testament te beskou en teen die verskillende beelde waarmee die Nuwe Testament daarna verwys.
Die Wortels van die Christelike Kerk. Die Ou Testament beskryf die kerk as ‘n georganiseerde vergadering van die kinders van God. Van die vroegste tye af was godvresende gesinne in die afstamming van Adam, Set, Noag, Sem en Abraham die bewaarders van Sy waarheid. Hierdie gesinne, waarin die vader as priester opgetree het, kon as die kerk in die kleine beskou word. Aan Abraham het God die ryke beloftes gegee deur wie hierdie huishouding van God geleidelik ‘n nasie geword het. Israel se sending was eenvoudig ‘n voortsetting van wat aan Adam gegee is: Om ‘n seën vir die nasies te wees (Gen. 12:1-3), om God se liefde aan die wêreld te demonstreer.
Die volk wat God uit Egipte uitgelei het, is die “vergadering in die woestyn” genoem (Hand. 7:38). Sy lede is as ” ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie” beskou (Exod. 19:6), of God se “heilige volk” (Deut. 28:9; vgl. Lev. 26:12) – Sy kerk of gemeente.
God het hulle in Palestina geplaas, wat die middelpunt van die groot beskawings van die wêreld was. Drie groot vastelande – Europa, Asië en Afrika – het in Palestina byeengekom. Hier moes die Jode “diensknegte” vir ander nasies wees om die uitnodiging aan ander te rig om hulle by hul aan te sluit as die kinders van God. Kortom, God het hulle uitgeroep om die nasies in te bring (Jes. 56:7). Deur Israel wou Hy die grootste gemeente op aarde tot stand bring – ‘n kerk waar verteenwoordigers van al die nasies van die wêreld sou kom om te aanbid, die ware God te leer ken en om na hul eie volke terug te keer met die boodskap van verlossing.
Ondanks God gedurig oor Sy volk gewaak het, het Israel in afgodery, isolasionisme, nasionalisme, hoogmoed en selfsug verval. Die volk van God het versuim om hul sending te vervul.
In Jesus het Israel ‘n keerpunt bereik. Die volk van God het ‘n Messias verwag om hul nasie te bevry, maar nie ‘n Messias om hulle van hulself te bevry nie. By die kruis het Israel se geestelike bankrotskap aan die lig gekom. Deur Christus te kruisig het hulle innerlike verrotting uiterlik vertoon. Toe hulle uitgeroep het: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie!” (Joh. 19:15), het hulle geweier om God toe te laat om oor hulle te regeer.
Voor die kruis het twee teenoorgestelde sendings ‘n hoogtepunt bereik: eerstens die van die kerk wat skeefgeloop het, so met homself behep dat hy blind was vir juis die Een wat hom tot stand geroep het; die tweede, die van Christus, so vol liefde vir die mensdom dat Hy in hul plek gesterf het om aan hulle die ewige lewe te gee.
Waar die kruis die einde van die sending van Israel gekenmerk het, het die opstanding van Christus die Christelike kerk en sy sending ingelui: die verkondiging van die evangelie van verlossing deur die bloed van Christus. Toe die Jode hul sending verbeur het, het hulle net nog ‘n nasie geword en was hulle nie meer die kerk van God nie. In hul plek het God ‘n nuwe volk gestig – ‘n kerk wat Sy sending sou uitdra aan die wêreld (Matt. 21:41,43).
Die Nieu-Testamentiese kerk, wat nou verwant was aan Israel van ouds se geloofsgemeenskap,4 bestaan uit sowel Jode as nie-Jode wat in Jesus Christus glo. Die ware Israel is dus almal wat Christus deur die geloof aanneem (kyk Gal. 3:26-29). Paulus illustreer die nuwe organiese verwantskap van hierdie verskeie volke met die beeld van twee bome – ‘n goeie en ‘n wilde olyfboom, Israel en die nie-Jode onderskeidelik. Die Jode wat Christus nie aanneem nie, is nie meer kinders van God nie (Rom. 9:6-8), en word voorgestel deur takke wat van die goeie boom afgebreek word, terwyl die Jode wat Christus aanneem, aan die boom bly.
Paulus beeld die nie-Jode wat Christus aanneem uit as takke van die wilde olyfboom wat op die goeie boom ingeënt word (Rom. 11: 17-25). Hy vermaan hierdie nuwe nie-Joodse Christene om die Goddelike herkoms van God se verkose werktuie te eerbiedig: “As die wortel heilig is, dan die takke ook. En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘ n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem -dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou” (Rom. 11:16-18).
Die Nieu-Testamentiese kerk verskil wesenlik van sy Ou-Testamentiese voorganger. Die apostoliese kerk het ‘n onafhanklike organisasie geword, afgeskei van die volk van Israel. Landsgrense is veronagsaam, en dit het die kerk ‘n universele aansien gegee. Pleks van ‘n volkskerk het dit ‘n sendingkerk geword wat bestaan het om God se oorspronklike plan uit te voer, soos dit heruitgedruk is in die Goddelike mandaat van Sy stigter, Jesus Christus: “Maak dissipels van al die nasies” (Matt. 28:19).
Metaforiese Beskrywings van die Kerk. Die metaforiese beskrywings van die Nieu-Testamentiese kerk werp lig op die aard van die kerk.
1. Die kerk as ‘n liggaam. Die beeld van die liggaam beklemtoon die eenheid van die kerk en die funksionele verband van elke lid tot die geheel. Die kruis versoen alle gelowiges “in een liggaam met God” (Efe. 2:16). Deur die Heilige Gees word hulle “gedoop tot een liggaam” (1 Kor. 12:13) – die kerk. As liggaam is die kerk niks minder as die liggaam van Christus nie (Efe. 1:23). Dit is die organisme waardeur Hy Sy volheid meedeel. Gelowiges is die lede van Sy liggaam (Efe. 5:30). Daarom gee Hy geestelike lewe deur Sy krag en genade aan elke ware gelowige. Christus is “die hoof van die liggaam” (Kol. 1:18), die “hoof van die gemeente” (Efe. 5:23).
In Sy liefde het God aan elke lid van Sy kerkliggaam minstens een geestelike gawe gegee wat die lid in staat stel om ‘n noodsaaklike funksie te verrig. Net soos die funksie van elke orgaan noodsaaklik vir die menslike liggaam is, hang die suksesvolle voltooiing van die kerk se sending af van die funksionering van elk van die geestelike gawes wat aan lede uitgedeel is. Wat sou ‘n liggaam werd wees sonder ‘n hart, of hoeveel minder doelmatig sou dit kon optree sonder oë of ‘n been? As die lede hul gawes weerhou, sal die kerk dood wees, of blind, of minstens mank. Hierdie besondere gawes wat God uitdeel is egter nie ‘n doel op sigself nie (kyk hoofstuk 16 van hierdie boek).
2. Die kerk as tempel. Die kerk is “die gebou van God, ” ‘n tempel van God” waarin die Heilige Gees woon. Jesus Christus is sy fondament en “hoeksteen” (1 Kor. 3:9-16; Efe. 2:20). Hierdie tempel is nie ‘n lewelose struktuur nie; dit groei dinamies. Aangesien Christus “die lewende steen” is, sê Petrus, so is gelowiges “lewende stene” wat ‘n “geestelike huis” uitmaak (1 Pet. 2:4-6).
Die gebou is nog nie voltooi nie. Nuwe lewende stene word nog gedurig bygevoeg by die tempel wat “opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (Efe.2:22). Paulus dring by gelowiges aan om die beste boustowwe in hierdie tempel te gebruik, sodat dit die vuurproef in die Oordeelsdag sal kan weerstaan (1 Kor.3:12-15.
Hierdie beeld van die tempel beklemtoon sowel die heiligheid van die plaaslike gemeente as die van die kerk as geheel. Die tempel van God is heilig, het Paulus gesê. “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend” (1 Kor. 3:17). Om nou met ongelowiges saam te werk, is strydig met sy heilige aard, het Paulus verklaar, en moet vermy word, want “watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid? ..Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?” (2 Kor. 6:14, 16). (Sy raad dek sowel sake as huweliksverhoudings.) Die kerk moet in ere gehou word, want dit is die instelling wat God se hoogste agting geniet.
3. Die kerk as bruid. Die kerk word ook as ‘n bruid voorgestel, met die Here as die bruidegom. Die Here belowe plegtig: “Ek sal My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming” (Hos. 2:18).
Paulus gebruik dieselfde beeldspraak: “…om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Kor. 11:2). Christus het sy kerk so innig en ewig lief dat Hy “Homself daarvoor oorgegee het” (Efe. 5:25). Hy het hierdie offer gebring “om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord”(Efe. 5:26).
Deur die heiligende invloed van die waarheid van die woord van God (Joh. 17:17) en die reiniging wat die doop voorsien, kan Christus die lede van die kerk reinig en hul besoedelde klere verwyder en hulle met die kleed van Sy volkome geregtigheid beklee. So kan hy die kerk voorberei om Sy bruid te wees – “verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks , maar…dat dit heilig en sonder gebrek sou wees”(Efe. 5:27). Die kerk sal nie voor die wederkoms van Christus ten volle verheerlik wees nie.
4. Die kerk as die Jerusalem daarbo.” In die Skrifte heet die stad Jerusalem Sion. Daar woon God tussen Sy volk (Ps. 9:12); dit is uit Sion wat die verlossing kom (Ps. 14:7; 53:7). Daardie stad was bestem om “die vreugde van die hele aarde” te wees (Ps.48:3).
Die Nuwe Testament beskou die kerk as die “Jerusalem daarbo,” die geesteliike weergawe van die aardse Jerusalem (Gal. 4:26). Die burgers van hierdie Jerusalem het hul “burgerskap in die hemel” (Filip. 3:20). Hulle is die “kinders van die belofte,” wat “na die Gees” gebore is en die vryheid geniet waarmee Christus hulle bevry het (Gal. 4:28, 29; 5:1). Die burgers van hierdie stad verkeer nie langer in die slawerny wat “geregverdig wil wees deur die wet” nie (Gal. 4:22, 26, 31; 5:4); hulle “verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.” Hulle besef dat dit in Christus Jesus “die geloof [is], wat deur die liefde werk”wat aan hulle die burgerskap besorg (Gal. 5:5, 6).
Diegene wat deel van hierdie heerlike groep is, “het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (Heb. 12:22, 23).
5. Die kerk as ‘n gesin. Die kerk in hemel en op aarde word as ‘n gesin beskou (Efe. 3:15). Twee beelde word hier gebruik om te vertel hoe mense hulle by hierdie gesin kan voeg: aanneming (Rom. 8:14-16; Efe. 1 :4-6) en die wedergeboorte (Joh. 3:8). Deur geloof in Christus is diegene wat pas gedoop is, nie meer slawe nie, maar kinders van die hemelse Vader (Gal. 3:26-4:7) wat op die grondslag van die nuwe verbond lewe. Nou behoort hulle aan die “huisgenote van God” (Efe. 2:19), die “huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10).
Lede van die gesin van God spreek Hom as “Vader” aan (Gal. 4:6) en is broers en susters vir mekaar (Jak. 2:15; 1 Kor. 8:11; Rom. 16:1). Omdat hy baie mense in die gesin van God gebring het, beskou Paulus hom as ‘n geestelike vader. “In Christus Jesus,” verklaar hy, “het ek julle vader geword deur die evangelie” (1 Kor. 4:15). Hy verwys na diegene wat hy aangebring het as “my geliefde kinders” (1 Kor. 4:14; vgl. Efe.5:1).
‘n Besondere kenmerk van die kerk as ‘n gesin is gemeenskap. Christelike gemeenskap (koinonia in Grieks) is nie bloot sosiale verkeer nie, maar ‘n “gemeenskap aan die evangelie” (Filip. 1:5). Dit sluit in opregte gemeenskap met God die Vader, Sy Seun en die Heilige Gees (1 Joh. 1:3; 1 Kor. 1:9; 2 Kor. 13:14) en ook met die gelowiges (1 Joh. 1:3, 7). Lede gee daarom aan enigeen wat deel van die gesin word, “die regterhand van gemeenskap” (Gal. 2:9).
Die beeld van ‘n gesin dui op ‘n kerk wat omgee, “waar mense met liefde, agting en erkenning bejeen word. ‘n Plek waar mense erken dat hulle mekaar nodig het. Waar talente ontwikkel word. Waar mense groei. Waar elkeen vervulling vind.”5 Dit hou ook verantwoordelikheid in, eerbied vir geestelike ouers, ‘n soeke na geestelike broers en susters. En boonop beteken dit dat elke lid teenoor elke ander lid ‘n liefde sal voel wat ‘n diepe lojaliteit sal kweek en wat sal onderskraag en versterk.
Lidmaatskapin ‘n kerk stel individue wat wyd van mekaar in aard en disposisie verskil, in staat om mekaar se geselskap te geniet en om mekaar te ondersteun. Lede van ‘n kerkgesin leer om eendragtig saam te leef sonder om hul individualiteit prys te gee.
6. Die kerk as pilaar en grondslag van die waarheid. Die kerk van die lewende God is “‘n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim. 3:15). Dit is die bewaarplek en vesting van die waarheid wat dit teen die aanslae van die vyand beskerm. Die waarheid is egter dinamies en nie staties nie. As lede aanspraak maak op nuwe lig – ‘n nuwe leer of ‘n nuwe vertolking van die Skrifte – moet die ervare lede hierdie nuwe leer aan die norm van die Skrifte toets (kyk Jes. 8:20). As die nuwe lig aan hierdie norm voldoen, dan moet die kerk dit aanvaar; so nie moet dit verwerp word. Alle lede moet hulle aan hierdie Bybelse oordeel onderwerp, want “indie veelheid van raadgewers is redding” (Spr. 11:14).
Deur die waarheid te verkondig, met ander woorde, deur sy getuienis, word die kerk “die lig van die wêreld,” “‘ n stad wat bo-op ‘n berg lê” en daarom nie weggesteek kan word nie, en “die sout van die aarde” (Matt. 5:13-15).
7. Die kerk as leër –strydend en triomferend. Die kerk op aarde is soos ‘nleer wat hom in ‘n stryd begewe. Hy word tot die stryd geroep teen geestelike duisternis. “Onsworstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte,teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug (Efe. 6:12). Christene moet “dievolle wapenrusting van God” aantrek, sodat hulle “staande kan bly” (Efe. 6:11, 13).
Deur die eeue heen moes die kerk teen die vyand veg, sowel van binne as van buite (kyk Hand. 20:29, 30; 1 Tim. 4:1). Hy het merkwaardige vordering gemaak en oorwinnings behaal, maar is nog nie die triomfantlike kerk nie. Ongelukkig het die kerk nog groot tekortkominge. Met nog ‘n beeld het Jesus die tekortkominge binne die kerk verduidelik: “Diekoninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan” (Matt. 13:24, 25). Toe die diensknegte die onkruid wou uittrek, het die boer gesê: “Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat die twee saam groei tot die oes toe” (Matt. 13:29,30).
Koring en onkruid het albei in die land gefloreer. Terwyl God bekeerlinge die kerk binnelei, bring die Satan die onbekeerdes in. Hierdie twee groepe beïnvloed die hele liggaam – die een arbei tot reiniging, die ander tot verderwing. Die konflik tussen hulle – binne die kerk – sal voortduur tot met die oes, die Wederkoms.
Die kerk se stryd na buite is ook nog nie verby nie. Daar wag stryd en benoudheid voor. Omdat die Satan weet sy tyd is kort, is hy woedend oor die kerk van God (Openb. 12:12, 17), en sal daar ” ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘nvolk bestaan het” nie. Maar Christus sal ten behoewe van Sy getroue kinders ingryp, en hulle sal “gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Dan. 12:1). Jesus gee ons die versekering dat “wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matt. 24:13).
Met die wederkoms van Christus sal die kerk triomfeer. Dan sal Hy “die gemeente voor Hom… stel, verheerlik, sondervlek of rimpel of iets dergeliks; maar… heilig en sonder gebrek” (Efe. 5:27), die getroues uit al die eeue wat Hy met Sy bloed gekoop het.
Die Sigbare en die Onsigbare Kerk. Die woorde sigbare en onsigbare word gebruik om twee aspekte van die kerk op aarde te onderskei. Die beeldspraak wat ons hierbo gebruik het, verwys in besonder na die sigbare kerk.
1. Die sigbare kerk. Die sigbare kerk is God se kerk wat vir diens georganiseer is. Dit vervul Christus se opdrag om die evangelie aan die wêreld te verkondig (Matt. 28:18-20), en berei mense vir Sy heerlike wederkoms voor (1 Thess. 5:23; Efe.5:27).
As Christus se uitverkore getuie verlig dit die wêreld en dien dit deur die evangelie aan die armes te bring, om die wat verbryseld van hart is, te genees, om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur en om die aangename jaar van die Here aan te kondig (Lukas 4:18, 19).
2. Die onsigbare kerk. Die onsigbare kerk, wat ook die universele kerk genoem word, bestaan uit al die kinders van God deur die hele wêreld. Dit sluit in gelowiges in die sigbare kerk en baie wat, hoewel hulle nie aan ‘n kerkorganisasie behoort nie, al die lig gevolg het wat Christus hulle gegee het Joh. 1 :9). Laasgenoemde groep sluit diegene in wat nooit die geleentheid gehad het om die waarheid omtrent Jesus Christus te leer nie maar wat aan die Heilige Gees gehoor gegee het en “van nature die dinge van die wet” van God doen (Rom. 2:14).
Die bestaan van die onsigbare kerk toon dat die aanbidding van God in die hoogste sin geestelik is. “Die ware aanbidders,” het Jesus gesê, sal “die Vader in gees en waarheid … aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom so aanbid” (Joh. 4:23). Weens die geestelike aard van ware aanbidding kan mense nie presies vasstel wie deel van God se kerk is en wie nie.
Deur die Heilige Gees lei God mense van die onsigbare kerk tot vereniging met die sigbare kerk. “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh. 10:16). Alleen in die sigbare kerk kan hulle die waarheid van God, liefde en gemeenskap ten volle belewe, omdat Hy die geestelike gawes wat sy lede gesamentlik en individueel stig, aan die sigbare kerk gegee het (Efe. 4:4-16). Toe Paulus tot bekering gekom het, het God hom met Sy sigbare kerk in aanraking gebring en hom toe aangestel om voor te gaan in die sendingtaak van Sy kerk (Hand. 9:10-22). Ook vandag wil Hy Sy kinders na Sy sigbare kerk bring, wat gekenmerk word deur lojaliteit aan God se gebooie en wat die geloof van Jesus het, sodat hulle kan deelneem aan die voleindiging van Sy sending op aarde (Openb. 14:12; 18:4; Matt. 24:14; kyk hoofstuk 12 van hierdie boek).
Die begrip van die onsigbare kerk sluit ook die verenigde kerk in hemel en op aarde in (Efe. 1:22,23),en die kerk wat hom in tye van vervolging verskuil (Openb. 12:6, 14).
Die Organisasie van die Kerk
Christus se mandaat om die evangelie aan die hele wêreld te verkondig, sluit ook die opbouing van diegene in wat reeds die evangelie aangeneem het. Nuwe lede moet in die geloof gevestig en geleer word om hul Godgegewe talente en gawes in sendingwerk te gebruik. Aangesien “God nie ‘n God van wanorde [is] nie,” maar wil hê dat alle dinge “welvoeglik en ordelik” moet toegaan (1 Kor. 14:33, 40), moet die kerk ‘ n eenvoudige maar doeltreffende organisasie hê.
Die Aard van die Organisasie. Kom ons beskou die kerklidmaatskap en organisasie.
1. Kerklidmaatskap. As bekeerlinge aan sekere vereistes voldoen, word hulle lidmate van die gemeenskap van gelowiges onder die nuwe verbond. Lidmaatskap vereis dat nuwe gesindhede teenoor ander mense, die staat en God aangeneem moet word.
a. Vereistes vir lidmaatskap. Mense wat lidmate van Jesus Christus se kerk wil word, moet Hom as Here en Verlosser aanneem, berou oor hulle sondes hê en hulle laat doop (Hand. 2;36-41; vgl. 4:10-12). Hulle moet die wedergeboorte ervaar het en Christus se opdrag aangeneem het om ander te leer om alles te onderhou wat Hy hulle beveel het (kyk Matt. 28:20).
b. Gelykheid en diens.Ooreenkomstig Christus se verklaring “julle is almal broers” en “diegrootste van julle moet jul dienaar wees” (Matt. 23:8, 11), moet lidmate op die basis van gelykheid met mekaar omgaan. Hulle moet egter ook besef dat om Christus se voorbeeld te volg, ook beteken dat hulle na die behoeftes van ander moet omsien en hulle na die Meester moet lei.
c. Priesterskap van alle gelowiges. Met Christus se bediening in die hemelse heiligdom het die Levitiese priesterskap tot niet geraak. Nou het die kerk ” ‘n heilige priesterdom” geword (1 Pet. 2:5). “Julle,” het Petrus gesê, “is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk ,’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9).
Hierdie nuwe orde, die priesterskap van alle gelowiges, magtig geen individu om na willekeur te dink, te glo en te onderrig sonder om rekenskap aan die kerkliggaam daaroor te gee nie. Dit beteken dat elke kerklidmaat die verantwoordelikheid het om ander in die Naam van God te bedien en dat hulle regstreeks met Hom kan kommunikeer sonder ‘ n mens as tussenganger. Dit beklemtoon die onderlinge afhanklikheid van kerklidmate, asook hul onafhanklikheid. Hierdie priesterskap tref geen kwalitatiewe onderskeid tussen die kerkleraars en die gewone lidmate nie, hoewel dit ruimte laat vir onderskeid in hul funksies.
d. Trou aan God en staat. Die Bybel erken die hand van God in die vestiging van regerings en vereis van gelowiges om die siviele gesag te respekteer en te gehoorsaam. Die een wat met die burgerlike gesag beklee is, is ” ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaaddoen, te straf.” Kerklidmate moet daarom “betaal. .. aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom” (Rom. 13:4, 7).
In hul houding teenoor die staat het lede die beginsel wat Christus gestel het as rigsnoer: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Matt. 22:21). As die staat egter ‘n gebod van God wil dwarsboom, is hulle hul hoogste trou aan God verskuldig. Soos die apostels gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand. 5:29).
2. Vemaamste funksie van kerkorganisasie. Die kerk is georganiseer om God se plan te vervul om hierdie planeet met die kennis van die heerlikheid van God te vul. Alleen die sigbare kerk kan ‘n aantal van die funksies vervul wat vir hierdie doel noodsaaklik is.
a. Aanbidding en vermaning. Deur die hele geskiedenis was die kerk die byeenroeper van gelowiges om die Skepper op die Sabbat te aanbid. Christus en Sy apostels het hierdie gebruik gevolg, en die Skrifte vermaan gelowiges vandag om nie die “onderlinge byeenkoms” te versuim nie, “maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb.l0:25; vgl. 3:13). Gemeentelike aanbidding verkwik die aanbidder, bemoedig hom en vul hom met vreugde.
b. Christelike gemeenskap. Deur die kerk word die lid se innigste behoeftes volkome bevredig. “Gemeenskap aan die evangelie” (Filip. 1:5) gaan alle ander betrekkinge te bowe, want dit voorsien ‘n intieme verhouding met God en met geloofsgenote (1 Joh. 1:3, 6, 7).
c. Onderrig in die Skrifte. Christus het “die sleutels van die koninkryk van die hemele”aan die kerk gegee (Matt. 16:19). Hierdie sleutels is die woorde van Christus – al die woorde van die Bybel. Meer spesifiek sluit hulle “die sleutel van die kennis” in oor hoe om die koninkryk binne te gaan (Lukas 11:52). Jesus se woorde is gees en is lewe vir almal wat hulle aanneem (Joh. 6:63). Hulle bring die ewige lewe (Joh. 6:68).6
Wanneer die kerk die Bybelwaarhede verkondig, het hierdie sleutels tot verlossing die krag om te bind of te ontbind, om die hemel te open of te sluit, omdat hulle die norme uiteensit waarvolgens mense ontvang of verwerp word, gered word of verlore gaan. Daarom adem die kerk se verkondiging van die evangelie “‘n reuk van die lewe” of ” ‘n reuk van die dood” (2 Kor. 2:16).
Jesus het geweet hoe belangrik dit is om te leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Alleen deur dit te doen, kan die kerk Jesus se opdrag “omalles te onderhou wat Ek julle beveel het,” vervul (Matt. 28:19).
d. Bediening van die Goddelike sakramente. Die kerk is God se werktuig vir die toediening van die sakrament van die doop, die toegangseremonie tot kerklidmaatskap (kyk hoofstuk 14 van hierdie boek), die voetewasseremonie en die Heilige Nagmaal (kyk hoofstuk 15 van hierdie boek).
e. Verkondiging van die evangelie oor die hele wêreld. Die kerk is georganiseer vir sendingdiens om die werk te volbring wat Israel versuim het om te doen. Soos in die lig van die Meester gesien, is die grootste diens wat die kerk aan die wêreld bewys, sy algehele toewyding om die evangelie te verkondig “tot ‘n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14), toegerus met die krag van die Heilige Gees.
Hierdie sending betrek die verkondiging van ‘n boodskap ter voorbereiding vir die wederkoms van Christus, wat aan sowel die kerk self (1 Kor. 1:7, 8; 2 Pet. 3:14; Openb. 3:14-22; 14:5), as aan die res van die mensdom gerig word (Openb. 14:6-12; 18:4).
Kerkbestuur
Ná Jesus se hemelvaart was die apostels verantwoordelik vir die leiding van die kerk. Hul eerste organisatoriese handeling was om in oorleg met die ander gelowiges ‘n ander apostel in die plek van Judas aan te stel (Hand. 1:15-26),
Namate die ledetal toegeneem het, het die apostels besef dat dit onmoontlik is om die evangelie te verkondig en nog na die kerk se praktiese behoeftes om te sien. Daarom het hulle hierdie pligte opgedra aan sewe mans wat deur die kerk aangestel is. Hoewel die kerk het tussen die verkondiging van “die woord van God” en die bediening van die “tafels” (Hand. 6:14) onderskei het, het dit nie probeer om die predikante van die leke te skei in die sendingwerk van die kerk nie. Trouens, twee van die sewe, nl. Stefanus en Filippus, het bekend geword vir hul doeltreffende prediking en evangelisasie (Hand. 7 en 8).
Die kerk se uitbreiding na Asië en Europa het bykomende organisasie genoodsaak. Toe talle nuwe gemeentes gestig is, is ouderlinge in elke gemeente georden om bestendige leiding te verseker (Hand. 14:23).
Toe ‘n ernstige krisis ontstaan het, is die betrokke partye die geleentheid gegee om hul saak voor ‘n algemene, verteenwoordigende vergadering, bestaande uit apostels en ouderlinge te stel. Die besluite van hierdie raad is as bindend op albei partye beskou, en is aanvaar as die stem van God (Hand. 15:1-29). Hierdie insident illustreer die feit dat in aangeleenthede wat die hele kerk raak, beraadslaging en gesag op ‘n veel breer grondslag nodig is as die van ‘n plaaslike gemeente. In hierdie geval was die besluit van die raad die gevolg van ‘n ooreenkoms wat bereik is tussen die verteenwoordigers van al die betrokke partye (Hand. 15:22,25).
Dit is duidelik in die Nuwe Testament dat God, namate die behoefte ontstaan het, rigting gegee het aan die leiers van Sy werk. Met Sy leiding en met die beraadslaging van die kerk, het dit ‘n vorm van kerkbestuur uitgemaak wat, as dit vandag gevolg word, die kerk teen dwaling sal beskerm en dit in staat sal stel om sy groot sendingopdrag uit te voer.
Bybelse Beginsels van Kerkbestuur
1. Christus is die hoof van die kerk. Christus is hoof van die kerk, hoofsaaklik vanweëSy middelaarswerk. Sedert Sy oorwinning oor die Satan aan die kruis, is Christus “alle mag in die hemel en op aarde” gegee (Matt. 28:18). God het “alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee” (Efe. 1:22; vgl. Filip. 2:10, 11). Hy is daarom “Here van die here en Koning van die konings” (Openb. 17:14).
Christus is ook hoof van die kerk omdat die kerk Sy liggaam is (Efe. 1:23; Kol. 1:18). Gelowiges is “‘lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efe. 5:30). Hulle moet intiem aan Hom verbonde wees omdat die kerk deur Hom “deur die gewrigte en verbindinge…saamgebind word en so met goddelike groei groot word” (Kol. 2:19).
2. Christus is die bron van alle gesag. Christus toon Sy gesag in (a) die stigting van die Christelike kerk (Matt.16:18), (b) die instelling van die sakramente wat die kerk moet bedien (Matt. 26:26-30; 28:19, 20; 1 Kor. 11:23-29; Joh. 13:1-17), (c) die delegering van gesag aan die kerk om in Sy naam op te tree (Matt. 16:19; 18:15-18; Joh. 20:21-23), (d) die stuur van die Heilige Gees om die kerk onder Sy gesag te rig (Joh. 15:26; 16:13-15), (e)die toekenning van sekere gawes aan die kerk sodat individue kan optree as apostels, profete, evangeliste, leraars (herders) en onderwysers om sy lede voor te berei vir diens, en “tot opbouing van die liggaam van Christus” totdat almal eenheid in die geloof ondervind en “die volle grootte van Christus” weergee (Efe. 4:7-13).
3. Die Skrifte bevat Christus se gesag. Hoewel Christus Sy kerk deur die Heilige Gees bestuur, is die Woord van God die enigste norm waarvolgens die kerk optree. Al sy lede moet die Woord gehoorsaam omdat dit in die absolute betekenis wet is. Alle menslike oorleweringe, gewoontes en kulturele gebruike is aan die gesag van die Skrifte onderworpe (2 Tim. 3:15-17).
4. Christus se gesag en die kerklike ampte. Christus oefen Sy gesag deur Sy kerk en sy aangestelde dienaars uit, maar Hy dra nooit Sy mag oor nie. Niemand beklee onafhanklike gesag afgesien van Christus en Sy Woord nie.
Sewendedag-Adventiste gemeentes kies hul ampsdraers. Maar hoewel hierdie ampsdraers as verteenwoordigers van die gewone lede optree, ontvang hulle hul gesag van Christus. Hul verkiesing bevestig net die roeping wat hulle van Christus ontvang het. Die plig van die verkose ampsdraers is in die eerste plek om toe te sien dat die Bybelse opdragte vir godsdiens, leer, dissipline en die verkondiging van die evangelie uitgevoer word. Aangesien die kerk die liggaam van Christus is, moet hulle Hom raadpleeg in verband met hul besluite en handelinge.
Die Nieu-Testamentiese Ampsdraers van die Kerk. Die Nuwe Testament vermeld twee kerklike ampte – die van ouderlinge en die van diakens. Hoe belangrik hierdie ampte is, word beklemtoon deur die hoë sedelike en geestelike vereistes wat gestel word vir diegene wat hulle moet beklee. Die kerk erken die heiligheid van die beroep om leierskap deur inseëning, die handeoplegging (Hand. 6:6; 13:2,3; 1 Tim. 4:14; 5:22).
1. Die ouderlinge
a. Wat is ‘n ouderling? Die ouderlinge (Grieks, presbuteros) of “opsieners” (episkopos) was die kerk se belangrikste ampsdraers. Die benaming ouderling beteken ‘n bejaarde, wat daarom waardigheid en ontsag beklee. Sy posisie was soortgelyk aan die een wat toesig oor die sinagoge gehad het. Paulus het die benaminge ouderlinge en opsieners beurtelings gebruik en aan hulle dieselfde betekenis gegee (Hand. 20:17,28; Titus 1:5, 7).
Diegene wat hierdie posisie beklee het, het oor die pas gestigte gemeentes toesig gehou. Ouderling het na die status of rang van die amp verwys, terwyl opsiener na die pligte of verantwoordelikheid van die amp verwys het.7 Aangesien die apostels hulself ook ouderlinge genoem het (1 Pet. 5:1; 2 Joh. 1; 3 Joh. 1), blyk dit dat daar sowel plaaslike ouderlinge as reisende ouderlinge was, of algemene ouderlinge. Albei tipes ouderling het egter as herders vir die gemeentes gedien.
b. Die bevoegdhede. Om vir die amp van ouderling in aanmerking te kom, moet ‘n man “onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie; een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra? Hy moet nie ‘n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie. Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie” (1 Tim. 3:1-7; vgl. Titus 1:5-9).
Voor so ‘n kandidaat dus tot die amp aangestel word, moet hy sy leierskapsvermoë in sy eie huis bewys het. “Die gesin van iemand wat vir die pos voorgestel word, moet in ag geneem word. Is hulle onderdanig? Kan die man sy sy eie gesin eervol beheer? Watse karakters het sy kinders? Sal hulle hul vader se invloed eer? As hy nie takt, wysheid of vrome gesag in die huis het om sy eie gesin te regeer nie, is dit veilig om af te lei dat dieselfde ongeheiligde bestuur hier aan die dag gelê sal word.”8 Die kandidaat moet, as hy getroud is, leierskap tuis aan die dag lê voordat hy die groter verantwoordelikheid van leierskap in “die gemeente van die lewende God” opgedra kan word (1 Tim. 3:15).
Omdat die pos so belangrik is, het Paulus beveel: “Moenie haastig iemand die hande oplê nie” (1 Tim. 5:22).
c. Ouderlinge se verantwoordelikheid en gesag. Ouderlinge is in die eerste plek geestelike leiers. Hulle word gekies “omas herders die gemeente van God te versorg” (Hand. 20:28). Onder hulle verantwoordelikhede tel die ondersteuning van die swakker lede (Hand. 20:35), die berisping van die dwalende (1 Thess. 5:12), en om te waak teen enige leer wat tweedrag kan veroorsaak (Hand. 20:29-31). Ouderlinge moet modelle wees vir die Christelike lewenswyse (Heb. 13:7; 1 Pet. 5:3) en moet ‘n voorbeeld van vrygewigheid stel (Hand. 20:35).
d. Die gesindheid teenoor ouderlinge. In ‘n groot mate hang die doelmatige kerkleiding af van die lojaliteit van die kerklidmate. Paulus vermaan gelowiges om hul leiers te eerbiedig en om “hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hul werk” te bewys (1 Thess. 5:13). “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer” (1 Tim. 5:17).
Die Skrif is baie duidelik oor die noodsaaklikheid dat die kerkleiding met eerbied bejeen word: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee” (Heb.13:17; vgl. 1 Pet. 5:5). As lidmate dit vir die leiers moeilik maak om hul Godgegewe verantwoordelikhede na te kom, sal albei ongelukkig wees en die vreugde van die voorspoed van God misloop.
Gelowiges word aangemoedig om ag te slaan op die vrome lewenswyse van hul leiers. “Aanskou die uiteinde van hulle lewenswyse en volg hulle geloof na” (Heb. 13:7). Hulle moet hul nie met skinderpraatjies ophou nie. Paulus het gewaarsku: “Moenie ‘n beskuldiging teen ‘n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienisvan twee of drie” (1 Tim. 5:19).
2. Die diakens en diakonesse. Die woord diaken kom van die Griekse woord diakonos, wat “dienaar” of “helper” beteken. Die diakenspos is ingestel om die apostels in staat te stel om hulle voltyds aan “die gebed en die bediening van die woord” te wy (Hand. 6:4). Hoewel diakens die praktiese aangeleenthede van die kerk moes versorg, was hulle ook aktief by sendingwerk betrokke (Hand. 6:8; 8:5-13, 26-40).
Die vroulike vorm van die benaming kom in Romeine 16:1 voor.9 Dit word in Afrikaans as “dienares” vertaal. “Die woord en sy gebruik in hierdie teks dui aan dat die pos diakones in die kerk gevestig was toe Paulus die boek Romeine geskryf het.”10.
Net soos die ouderlinge moes die diakens ook op grond van hul sedelike en geestelike hoedanighede deur die kerk gekies word (1 Tim. 3:8-13).
Kerkdissipline. Christus het die gesag aan Sy kerk oorgedra om sy lidmate te tug, en het behoorlike beginsels daarvoor vasgestel. Hy verwag dat die kerk hierdie beginsels toepas wanneer dit nodig is om die hoë roeping van ‘n “koninklike priesterdom” en “heilige volk” te kan handhaaf (Matt. 18:15-18; 1 Pet. 2:5,9). Tog moet die kerk probeer om dwalende lidmate die noodsaaklikheid op die hart te druk dat hulle hul moet bekeer van hul weë. Christus prys die gemeente te Efese omdat hy “slegte mense nie kan verdra nie” (Openb. 2:2), maar bestraf die gemeentes te Pergamus en Thiatire omdat hulle kettery en onsedelikheid verdra (Openb. 2:14, 15, 20). Let op die volgende Bybelse raad oor dissipline:
1. Die hantering van private oortredings. As een lid ‘n ander te na kom, (Matt. 18:15-17), raai Christus aan dat die veronregte persoon die oortreder moet nader die skaap wat afgedwaal het – en hom probeer oorreed om van gedrag te verander. As dit nie help nie, maak dan ‘n tweede poging, maar hierdie keer saam met een of twee onpartydige getuies. As hierdie poging nie slaag nie, moet die saak aan die hele gemeente voorgelê word.
As die fouterende lid die wysheid en gesag van die gemeente van Christus verwerp, sonder hy hom af van sy gemeenskap. Deur die lidmaatskap van so iemand te skors, bevestig die kerk maar net die skuldige se toestand. As die kerk onder die leiding van die Heilige Gees die Bybelse raad stiptelik nagekom het, sal sy besluite in die hemel erken word. Christus het gesê: “Alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees” (Matt. 18:18).
2. Openbare oortredings. Al het almal gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23), moet flagrante en opstandige optrede wat die kerk benadeel, stiptelik teen opgetree word en die oortreder geskors word.
Skorsing verwyder die kwaad – wat andersins soos suurdeeg sou deurgetrek het – en herstel die reinheid van die kerk, en dien ook as ‘n reddingsmiddel vir die oortreder. Toe Paulus verneem van ‘n geval van seksuele ontug in die Korinthiese gemeente, het hy op onmiddellike optrede aangedring. “In die Naam van die Here Jesus Christus,” het hy geskryf, “as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus – [moet julle] so iemand aan die Satan oor.. lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus …. Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees” (1 Kor. 5:4, 5, 7). Moenie omgaan met iemand wat homself ‘n gelowige noem, maar ” ‘n hoereerder…of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower [is] nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie…. Verwyder tog die slegte mens onder julle uit” (1 Kor. 5:11, 13).
3. In verband met tweedragsaaiers. ‘n Lid wat “tweedrag en aanstoot veroorsaak” (Rom. 16:17), “wat onordelik wandel,” wat weier om die Bybelse vermaning te gehoorsaam, moet vermy word “sodat hy skaam kan word” oor sy houding. Maar “beskou hom nie as ‘n vyand nie,” het Paulus geskryf, “maar vermaan hom as ‘n broeder” (2 Thess. 3:6, 14, 15). As die man wat “verdeeldheid bring,” weier om na die”tweede vermaning” van die kerk te luister, moet hy verwerp word, “wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan” (Titus 3:10,11).
4. Die herstel van oortreders. Kerklidmate moet nie die geskorste lid verag, vermy of verwaarloos nie. Hulle moet eerder probeer om sy verhouding met Christus deur berou en ‘n wedergeboorte te herstel. Geskorste individue kan tot kerklidmaatskap herstel word wanneer hulle genoegsame blyke lewer van opregte bekering (2 Kor. 2:6-10).
Dit is veral in die herstel van sondaars in die kerk dat God se mag, heerlikheid en genade geopenbaar word. Hy verlang om die gevangenes van die sonde te bevry en hulle van die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van lig oor te bring. Die kerk van God, die skouburg van die heelal, vertoon die krag van Christus se soendood in die lewens van manne en vroue. Tans nooi Christus deur middel van Sy kerk almal uit om deel van Sy gesin te word. “Kyk,” sê Hy, “Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openb. 3:20).
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
TERUGVOER
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. Aangaande die oorsprong van die benaming kerk het Berkhof geskryf: “Die name ‘church,’ ‘kerk,’ en ‘Kirche’ is nie van die woord ekklesia afgelei nie, maar van die woord kuriake, wat beteken ‘behorende aan die Here.’ Hulle beklemtoon die feit dat die kerk die eiendom van God is. Die naam to kuriakon of he kuriake het in die eerste instansie die plek aangedui waar die kerk vergader het. Hierdie plek is as die eiendom van God beskou, en is daarom to kuriakon genoem” (Systematic Theology, bl. 557).
2. “Church, Nature of,” SDA Encyclopedia, hers. uitg., bl. 302; “Church,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 224.
3. Volgens die modeme vertalings wat die Tisschendorf-lesing van die enkelvoud aanneem, gebaseer op die Codex Sinaiticus, Alexandrinus, Vaticanus en Ephraemi Rescriptus.
4. Afgesien van hul leer aangaande Jesus was die dinge wat die vroeë kerk geglo het, baie soortgelyk aan die van die Judaïsme. Sowel die Joodse as nie-Joodse Christene het voortgegaan om op die Sabbat in die sinagoge te aanbid en te luister hoe die Ou Testament uitgelê word (Hand. 13:42-44; 15:13, 14,21). Die skeur van die tempelvoorhangsel het te kenne gegee dat die seremonies deur hul teenbeeld vervul is. Die doel van Hebreërs is om die Christen se gedagte weg te voer van die skadubeelde tot die onderliggende werklikhede wat deur die skadubeelde voorgestel is: die soendood van Jesus, Sy priesterskap in die hemel en Sy reddende genade. Die Nieu-Testamentiese era was ‘n oorgangstydperk, en hoewel die apostels soms aan die rites van die Ou Testament deelgeneem het, toon die besluit van die eerste raad te Jerusalem dat hulle geen reddende waarde daarin gesien het nie.
5. Charles E. Bradford, “What the Church Means to Me,” Adventist Review, 20 Nov. 1986, bl. 15.
6. Kyk SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 5, bl. 432.
7. Kyk SDA Bible Commentary, hers. uitg., deel 6, bl. 26, 38.
8. White, Testimonies, deel 5, bl. 618.
9. Diakonos kan sowel die manlike of vroulike geslag aandui, met die gevolg dat die geslag in hierdie geval deur die konteks bepaal word. Omdat Phoebe, wat “ons suster” is, ook diakonos is, moet die woord vroulik wees al word dit as ‘n manlike naamwoord gespel.
10. “Deaconess,” SDA Bible Dictionary, hers. uitg., bl. 277. In die Nieu-Testamentiese tyd het die woord diakonos ‘n breë betekenis gehad. “Dit was nog gebruik om enigeen wat die kerk in enige hoedanigheid dien, te beskryf. Hoewel Paulus ‘n apostel was, het hy dikwels na homself (kyk 1 Kor. 3:5; 2 Kor. 3:6; 6:4; 11:23; Efe. 3:7; Kol. 1:23) en na Timotheüs (kyk 1 Tim. 4:6) as diakonoi (meervoud van diakonos) verwys. (SDA Bible Commentary, hers. uitg., dee1 7, bl. 300). In hierdie gevalle is dit as “dienaar” vertaal pleks van “diaken.”