Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Jesus het met Sy dood aan die kruis oor die bose magte geseëvier. Hy wat die demoniese geeste tydens Sy vroeë bediening onderwerp het, het hulle mag verbreek en hulle uiteindelike ondergang verseker. Jesus se oorwinning gee aan ons die oorwinnning oor die bose magte wat steeds poog om beheer oor ons uit te oefen terwyl ons in rus en vreugde met Hom wandel, en die versekering van Sy liefde. Die Heilige Gees woon nou in ons en bemagtig ons. Ons word vrygestel van die las van ons optrede van die verlede deur ons voortgesette verbintenis tot Jesus ons Verlosser en Heer. Dit is nie meer vir ons nodig, om soos voorheen in duisternis, met ‘n vrees vir die bose magte, onkundig en in betekenisloosheid te leef nie. Met hierdie nuutgevonde vryheid in Jesus is ons geroepe om op te was na die ewebeeld van Sy karakter, om daagliks met Hom omgang deur middel van gebed te hê, voedsel uit Sy Woord te kry en Sy Woord en die voorsiening wat Hy gemaak het te bepeins, Hom te loof, saam te kom vir godsdiens en om deel te neem aan die kerk se sending. Soos ons onsself in liefdevolle diens aan andere om ons wy, en van Sy verlossing getuig, word elke oomblik en elke taak deur Sy voortdurende teenwoordigheid deur middel van die Heilige Gees, in ‘n geestelike ondervinding omskep. ( Ps. 1:1,2; Ps. 23:4; Ps. 77:11,12; Kol 1:13,14; Kol 2:6,14,15; Luk 10:17-20; Efe. 5:19,20; Efe. 6:12-18; 1 Thess. 5:23; 2 Pet. 2:9; 2 Pet. 3:18; 2 Kor. 3:17,18; Filip. 3:7-14; 1 Thess. 5:16-18; Matt. 20:25-28; Joh. 20:21; Gal. 5:22-25; Rom. 8:38,39; 1 Joh. 4:4; Heb. 10:25.)
Groei in Christus
GEBOORTE IS ‘N OOMBLIK VAN VREUGDE. ‘n Saad ontkiem en die verskyning van daardie eerste twee blaartjies is vir die tuinier ‘n vreugde. ‘n Baba word gebore en die eerste skreeutjie wat geuiter word kondig aan die wêreld aan dat hier ‘n nuwe lewe is waarmee rekening gehou moet word. Die moeder vergeet van haar pyn en val met die res van die familie se vreugde en feestelikhede in. ‘n Volk verkry hulle vryheid en ‘n hele nasie drom in die strate saam en vul die stadspleine, swaai simbole van hulle nuutgevonde vreugde. Maar stel u voor: Daardie twee blare word nie vier nie, maar bly dieselfde of verdwyn; ‘n jaar later glimlag die baba nog nie en neem ook nie sy eerste tree nie, maar vertoef in die eenvoud van sy aankoms in hierdie wêreld; die volk met hulle nuutgevonde vryheid keer vir ‘n wyle in hulleself, word vasgevang in vrees, foltering en gevangeneskap.
Die vreugde van die tuinier, die ekstase van die moeder, die belofte van ‘n toekoms van vryheid verander in teleurstelling, droefheid en rou. Groei – aanhoudende, volgehoue ontwikkeling en ‘n vrugdraende groeiproses – is noodsaaklik vir lewe. Daarsonder het die geboorte geen betekenis, doel of bestemming nie.
Om te groei is ‘n onafskeidbare vergelyking tot die lewe – beide fisies en geestelik.
Fisiese groei vereis behoorlike voeding, omgewing, versorging, oefening, opvoeding, opleiding en ‘n doelgerigte lewe.. Hier oorweeg ons egter geestelike groei. Hoe groei ons in Christus en word volwasse Christene? Wat is die waarmerk vir geestelike groei?
Die Lewe begin met die Dood
Die mees basiese en unieke beginsel aangaande die Christelike lewe is moontlik dat dit met die dood begin – om die waarheid te sê met twee voorvalle van die dood. Eerstens maak Christus se dood aan die kruis nuwe lewe vir ons moontlik, vrygestel van Satan se heerskappy (Kolossense 1:13, 14), vrygestel van die veroordeling van sonde (Romeine 8:1), vrygestel van die dood en die straf van sonde (Romeine 6:23) – en dit bewerkstellig versoening met God en die mens. Tweedens, maak die dood van die eie-ek dit vir ons moontlik om die lewe wat Christus vir ons bied, aan te neem. Gevolglik wandel ons derdens in die vernuwing van die lewe.
Christus se dood. God se verlossingsplan sentreer om die kruis. Daarsonder sou die Satan en sy demoniese magte nie verslaan gewees het nie, daar sou nie ’n oplossing vir die sondeprobleem gewees het, en die dood sou nie vernietig gewees het nie. Die apostel sê: “ . . . en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Johannes 1:7). “Want so lief het God die wêreld gehad,” sê die Bybel se mees geliefde gedeelte. As God se liefde die plan van verlossing oorsponklik bedink het, word die voltrekking daarvan in die tweede deel van die skrifgedeelte verduidelik: “dat Hy sy eniggebore Seun gegee het.” God se gawe is nie uniek in die feit dat Hy Sy Seun gegee het nie, maar dat Hy Hom gegee het om vir ons sonde te sterf. Sonder die kruis sou daar geen vergifnis vir sonde wees, geen ewige lewe, en geen oorwinning oor Satan nie.
Christus het deur Sy dood aan die kruis oor die Satan getriomfeer. Van die vurige versoekings in die wildernis, tot die angs van Getsemane, het Satan die aanval op die Seun van God genadeloos gelei – om Sy wil te verswak, om te veroorsaak dat Hy struikel, om aanleiding te gee daartoe dat Hy Sy Vader wantrou en om druk op Hom uit te oefen om Hom as plaasvervangende offer, weg te keer van die las van die bitter beker van die mensdom se sonde. Die kruis was die finale aanslag. Daar was die Satan met sy engele in menslike gestalte aanwesig,”1 om die groot aanslag teen God tot die uiterste aan te voer in die hoop dat Christus selfs toé die kruis sou verlaat en versuim om God se doel van verlossing deur Sy Seun as offer vir die sonde te gee, te vervul (Johannes 3:16). Maar Christus het deur Sy lewe aan die kruis te gee, Satan se mag verbreek, “owerhede en magte uitgeklee” en “hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kolossense 2:15). “Die stryd was op die kruis volstry”. “Sy [Christus] se regterhand en Sy heilige arm het Hom die oorwinning besorg. As Oorwinnaar het Hy Sy banier op die ewige hoogtes geplant. . . .Die ganse hemel het getriomfeer in die Heiland se oorwinning. Die Satan is verslaan, en hy wil dat sy konkryk verlore is.”2
Die apostel se grafiese beskrywing in Kolossense is merkwaardig. Christus het eerstens die bose owerhede en magte ontwapen. Die Grieks vir ontwapen beteken letterlik om te stroop. Die Satan is deur middel van die kruis gestroop van sy demoniese mag oor God se volk, solank hulle hulle vertoue plaas in die Een wat die oorwinning op die kruis moontlik gemaak het. Die kruis het tweedens van die Satan en sy bende “ ’n openbare skouspel” voor die heelal gemaak. Die een wat op ’n keer gespog het dat hy hom sou “gelykstel met die Allerhoogste” (Jesaja 14:14) is nou ’n kosmiese skouspel van skande en nederlaag. Boosheid het nie meer mag oor gelowiges wat uit die mag van duisternis na die koninkryk van lig beweeg het nie (Kolossense 1:13). Die kruis het derdens die finale eskatologiese oorwinning oor die Satan, die dood en sonder verseker.
Die kruis het dus die werktuig van God se oorwinning oor boosheid geword:
- ’n Middel waardeur die vergifnis van sonde moontlik gemaak word (Kolossense 2:13)
- ’n Kosmiese bewys van universele versoening (2 Korinthiërs 5:19)
- ’n Versekering van die huidige moontlikhede van ’n lewe van oorwinning en groei in Christus waardeur sonde nie in ons gedagtes en liggame sal heers nie (Romeine 6:12) – en ons status as seuns en dogters van God (Romeine 8:14)
- ’n Eskatologiese verekering dat hierdie bose wêreld wat eenkeer die wederregtelike domein van die Satan was, gereinig gaan word van die teenwoordigheid en mag van sonde (Openbaring 21:1)
Met elke tree op hierdie leer van verlossing en oorwinning aanskou ons die vervulling van Christus se eie profesie, “Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val” (Lukas 10:18).
Christus van die kruis is God se verlossingsdaad vir die sondeprobleem. Uit vrees dat ons die feit vergeet, het Jesus verklaar dat Sy bloed sou “vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Matthéüs 26:28). Die uitstort van die bloed is noodsaaklik om verlossing te ondervind en waardeer. Dit praat van sonde. Sonde is ’n werklikheid. Sonde is duur. Die greep van sonde is so ontsaglik en dodelik dat die vergifnis van sonde en vryheid van die mag en skuld daarvan onmoontlik is sonder die “kosbare bloed van Christus” (1 Petrus 1:19). Hierdie waarheid aangaande sonde moet weer en weer herhaal word, omdat ons in ’n wêreld woon waar die realiteit van sonde ontken word of onverskillig daar teenoor gestaan word. By die kruis word ons gekonfronteer met die duiwelse aard van sonde, wat slegs deur daardie bloed gereinig kan word “wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Matthéüs 26:28).
Laat ons nooit vergeet of onverskillig staan teenoor die feit dat Jesus vir ons sonde gesterf het en dat sonder Sy dood, daar geen vergifnis kon wees nie. Dit is ons sonde wat Jesus na die kruis gedryf het. Soos Paulus sê: “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. . . daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was’ (Romeine 5:6, 8). Of soos Ellen White sê: “Die sondes van die mens het swaar op Christus gedruk, en die besef van die toorn van God teen die sonde het Sy lewe uitgepers.”3 Ons kan nie wegkom van die bekragtiging en verklaring van die “eens en vir altyd” (lees Romeine 6:10; Hebreërs 7:27; 10:10) opofferende en plaasvervangende aard van die dood van Jesus nie.
Ons word nie gered deur Christus die goeie mens, Christus die God-mens, deur Christus die groot Leermeester of deur Christus se onbesproke voorbeeld nie. Ons word gered deur die Christus van die kruis: “Christus is behandel soos ons verdien het, sodat ons behandel kan word soos Hy verdien het. Hy is veroordeel vir ons sondes waaraan Hy geen deel gehad het nie, sodat ons geregverdig kan word deur Sy geregtigheid waarin ons geen deel gehad het nie. Hy het ons dood gesterf, sodat ons Sy lewe kan ontvang. “Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”4
Die bloed van Jesus verseker dan vergifnis van sonde en saai die saad vir vernuwing en groei. Een van die eerste aspekte van hierdie vernuwing en groei in die Christelike lewe is versoening. Die kruis is God se werktuig waardeur Hy die versoening van die mens met Hom bewerkstellig. Die apostel Paulus se: “. . .dat God in Christus, die wêreld met Homself versoen het” (2 Korinthiërs 5:19). Ons kan sonder sonde en vreesloos voor God staan as gevolg van dit wat Hy op die kruis vermag het. Dit wat ons van God vervreem het is afgehandel. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Psalm 103:12). Die Man op die kruis het ’n nuwe toegangsweg tot die teenwoordigheid van God voorsien. Aan die kruis het Hy aangekondig “Dit is verby”, en sy volgelinge toe aangemoedig om ’n ewigdurende gemeenskap met God te betree.
Versoening met God is ’n onmiddellike inleiding tot die tweede fase van die verlossende groeiproses; versoening met ons medemens. Een van die pragtige gesigte by die kruis is die verskeidenheid mense wat daar saamgedrom het. Almal was nie Jesus-bewonderaars nie. Almal was nie vroom nie. Kyk na die mense. Daar was Egiptenare wat hulle beroem het op hul besigheidsvernuf; daar was Romeine wat met beskawing en kultuur gespog het; daar was Grieke met uitmuntende geleerheid; daar was Jode wat hulleself as God se uitverkore volk beskou het; daar was Fariseërs wat gedink het dat hulle die uitverkore van die uitverkorenes was; daar was Saduseers wat gedink het dat hulle leerstellig onbevlek was; daar was slawe wat hulle vryheid wou hê; daar was vry mense wat toegegee het aan die luukse van ontspanning; daar was manne, vroue en kinders.
Die kruis het egter geen onderskeid tussen hulle almal getref nie. Hulle is almal as sondaars geoordeel; aan elkeen is die goddelike weg van versoening gebied. Aan die voet van die kruis is almal is op gelyke vlak. Almal word verenig en daar is geen skeiding meer tussen die mensdom nie. Dit is die begin van ’n nuwe broederskap. ’n Nuwe gemeenskap ontstaan. Die ooste verenig met die weste, die noorde kom af na die suide, wit reik uit na swart, die rykes reik ’n hand na die armes uit. Die kruis nooi elkeen na die fontein van bloed – om die aangenaamheid van die lewe te ervaar, om deel te hê aan die ondervinding van genade en om aan die wêreld die verskyning van nuwe lewe bekend te maak, ’n nuwe familie. (Efesiërs 2:14-19). Die kruis het dus die oorwinning oor Satan ingewy en gevolglik ’n nuwe lewe in Christus tot stand gebring.
Die afsterwe van die eie-ek. ’n Tweede belangrike sy van Christelike vernuwing en groei, is die afsterwe van die ou self. U kan nie die Nuwe Testament lees sonder om die grondbeginsels van die nuwe lewe as ’n Christen te bemeester nie. Lees Galasiërs 2:20, 21: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Of lees Romeine 6:6-11: “. . .ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. . . So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” Of lees Jesus se uitspraak ten opsigte van die beginsels van ’n nuwe lewe: “. . . as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug”(Johannes 12:24).
Die Christelike lewe begin dus nie by geboorte nie. Dit begin met die dood. Totdat die eie-ek sterf, totdat die eie-ek gekruisig is, is daar hoegenaamd geen begin nie. Daar moet ’n radikale, doelbewuste, algehele chirurgie van die self plaasvind.
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Korinthiërs 5:17). “Die Christelike lewe is nie ’n wysigiging of verbetering van die oue nie, maar ’n herskepping van die natuur. Dis ‘n afsterwing van die ego en die sonde, en ’n totale nuwe lewe. Hierdie verandering kan net deur die werk van die Heilige Gees teweeggebring word.”5 Die apostel lig beide die afsterwe van sonde en die opstanding tot ’n nuwe lewe deur die ervaring van die doop: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel” (Romeine 6:3, 4). Die doop open dus op simbliese wyse die deur tot nuwe lewe en versoek ons om te groei in Christus.
Iets vind plaas in die persoon wat Jesus as Verlosser en Meester aanneem. Simon die weifelaar word dapper Petrus. Saulus die vervolger word Paulus die bekendmaker. Ongelowige Thomas word ’n baanbreker sendeling. Dapperheid vervang lafhartigheid. Die fakkel van geloof vervang ongeloof. Jaloesie word deur liefde veswelg. Eiegelang verdwyn in broederliefde. Daar is nie plek in die hart vir sonde nie. Die eie-ek word gekruisig. Paulus skryf gevolglik: “omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kolossense 3:9, 10).
Jesus het daarop aangedring: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis op-neem en My volg.” (Matthéüs 16:24 vgl. Lukas 9:23). In die Christelike lewe is die afsterwe van die eie-ek nie opsioneel nie, maar noodsaaklik. Die onmiddellike en finale vereistes van die kruis moet teenoor Christen dissipelskap gestel word en absolute optrede vereis. Dit is die moeite werd om op Dietrich Bonhoeffer se kragtige kommentaar te let: “Indien ons Christelikheid opgehou het om ernstig te wees oor dissipelskap, in-dien ons die evangelie afgewater het tot ’n emosionele opheffing wat geen kosbare eise stel nie, wat nalaat om onderskeid te tref tussen ’n natuurlike en Christelike bestaan, kan ons nie voorkom dat die kruis beskou word as ’n doodgewone, alledaagse ramp, een van die beproewings van die lewe nie. . . Wanneer Christus ’n persoon roep, versoek hy hom om te sterf. . . dit is altyd dieselfde dood – dood in Jesus Christus, die dood van die ou mens.”6
So word die oproep tot ’n Christelike lewe, ’n oproep tot die kruis – om voortdurend die eie-ek die volharden-de begeerte te ontsê om sy eie verlosser te wees en ten volle vas te hou aan die Man van die kruis “sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God” (1 Korinthiërs 2:5, AOV)
Om ’n Nuwe Lewe te Lei: ’n Derde oogmerk van groei in Christus is om die nuwe lewe uit te leef. Een van die groot misverstande van die Chirstelike lewe is dat verlossing ’n gawe van God se genade is – en dat dit
al is. Dit is nie. Ja, dit is waar dat “in Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efesiërs 1:7). Dit is ook waar dat “uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efesiërs 2:8, 9).
Ja, genade is gratis. Maar genade het God die lewe van Sy Seun gekos. Gratis genade beteken nie goedkoop genade nie. Om Bonhoeffer weer aan te haal: “Goedkoop genade beteken die verkondiging van vergifnis sonder dat bekering vereis word, die doop sonder kerkdissipline, die Nagmaal sonder belydenis, kwytskelding sonder persoonlike belydenis. Goedkoop genade is genade sonder dissipelskap, genade sonder die kruis, genade sonder Jesus Christus, lewend en in vlees.”7
Goedkoop genade het niks met Jesus se oproep te make nie. Wanneer Jesus ’n persoon roep, bied hy vir hom of haar ’n kruis aan om op te neem. Om ’n dissipel te wees beteken om ’n volgeling te wees en om ’n volgeling van Jesus te wees is geen goedkoop kunsie nie. Paulus skryf kragtig aan die Korinthiërs ten opsigte van die verantwoordelikhede van genade. Hy praat eerstens van sy eie ondervinding: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek -nie, maar die genade van God wat met my is ( 1 Korinthiërs 15:10).
Paulus herken dus die oppergesag van God se genade in sy lewe. Hy voeg ook onmiddellik by dat hierdie genade nie tevergeefs aan hom gegee is nie. Die Grieks eis kenon word letterlik vertaal as “vir leegheid”.
Dit wil sê, Paulus het nie genade ontvang sodat hy ’n ydel, leë lewe kon leef nie – maar eerder ’n lewe gevul met die vrug van die Gees en selfs dit nie uit sy eie krag nie, maar die krag van die inwonende genade.
Ooreenkomstig pleit hy met die gelowiges “dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie” (2 Korinthiërs 6:1).
Die genade van God het ons nie kom verlos van een soort leegheid om ons te verplaas na ’n ander soort leegheid nie. God se genade is Sy daad waarmee Hy ons met Homself versoen, om ons deel van die gesin van God te maak. Wanneer ons deel van hierdie gesin word, leef ons in die gesin, en dra die vrugte van God se liefde deur die krag van Sy verbasende genade.
Groei in Christus, is dus ’n groei in volwassenheid sodat ons dag na dag die wil van Christus weerkaats en Christus se weg bewandel. Gevolglik ontstaan die volgende vraag: Wat is die waarmerke van hierdie volwasse lewe en die tekens van volgehoue groei? Sonder om die lysie uit te put kan ons sewe sulke waarmerke oordink.
Waarmerke van Groei in Christus
1. ’n Geestelike lewe: Jesus het aan Nikodemus gesê: “as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie” (Johannes 3:5). Sonder die herskeppende krag van die Heilige Gees kan die Christelike lewe nie eers ’n aanvang neem nie. Hy is die Gees van waarheid (Johannes 14:17). Hy lei ons in alle waarheid (Johannes16:13) en laat ons die wil van God verstaan soos dit in die Skrif aan ons geopenbaar word. Hy oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (Johannes 16:7, 8), waarsonder ons nie die huidige en ewige gevolge van ons optrede en die lewe wat ons lei kan peil nie. Dit is die veranderende krag en teenwoordigheid van die Gees in ons lewe wat van ons seuns en dogters van God maak.(Romeine 8:14). Dit is deur die Gees van Christus “wat in ons bly” (1 Johannes 3:24). ’n Nuwe lewe begin met die inwoning van die Heilige Gees – nuut in die opsig dat die ou manier van dink, optree en verhoudings wat teen die wil van God was, verwerp word; ook nuut in die opsig dat dit van ons nuwe skepsels maak, versoen en verlos, van sonde bevry om sodoende in geregtigheid te groei (Romeine 8;1-16) en om die beeld van Jesus te weerkaats “van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Korinthiërs 3:17, 18).
“As die Gees van God van die hart besit neem, herskep Hy die lewe. Sondige gedagtes word verban, bose dade versaak; liefde, nederigheid en vrede vervang woede, afguns en veglus. Vreugde droefheid en die gelaat straal van die hemelse lig. Niemand sien die hand wat die las wegneem of die lig wat van die hemelse howe neerdaal nie. Die seën kom wanneer die siel hom in geloof aan God oorgee. Dan skep daardie krag wat geen menslike oog kan sien nie, ’n nuwe wese na die beeld van God.”
Die Gees maak van ons “erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:17). Die lewe van die Gees is dus ’n oproep tot geestelike optrede: Verwerp die ou orde van sonde en word deelgenote van Chritus se lyding in die huidige lewe sodat ons deel kan hê in die toekomstige heerlikheid. Christelike geestelikheid is dus nie ’n vlug na ’n geheimsinnige fantasiewêreld nie. Dit is ’n oproep om te ly, deel, getuig, aanbid en die lewe van Christus in hierdie wêreld te leef, in ons gemeenskappe en tuis. Dit is slegs moontlik deur die inwonende teenwoordigheid van die Gees. Jesus se gebed is dat selfs al is ons in die wêreld dat ons nie van die wêreld sal wees nie (Johannes 17:15). Ons moet in hierdie wêreld lewe – dit is ons woning en dit is ons sendingarena. Maar ons behoort nie aan die wêreld nie, want ons burgerskap en hoop is in die wêreld wat kom (Filippense 3:20) Paulus beskryf die Gees-bemagtigde lewe as een wat geestelik groei en volwasse word. Hierdie volwassenheid sal die werke van die vlees verwerp – “owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge: (Galasiërs 5:19-21) – en die vrugte van die Gees omarm en voortbring: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22, 23).
2. ’n Lewe van liefde en eenheid. Die Christelik lewe is ’n lewe van eeheid, ’n lewe van versoening met God aan die eenkant en versoening met ’n persoon se medemens aan die anderkant. Versoening is die genesing van ’n geskende verhoudings en die primêre oorsaak van hierdie skending van ‘n verhouding is sonde. Sonde het ons van God geskei (Jesaja 59:2) en het die mensdom in ’n magdom partye laat versplinter – ras, etniesiteit, geslag, nasionaliteit, kleur, stand ensovoorts. Die evangelie van Jesus hanteer hierdie sondeprobleem en al die skendingsfaktore wat daarmee gepaard gaan en skep ’n nuwe orde van eenheid en versoening. Gevolglik kon Paulus sê: “God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus” (2 Korinthiërs 5:18). ’n Nuwe gemeenskap kom uit hierdie versoening voort – ’n verloste gemeenskap wat geken word aan vertikale eenheid met God en horisontale eenheid met ’n persoon se medemens. Hierdie lewe van liefde en eenheid is inderdaad die kern van die evangelie. Het Jesus nie as hoëpriester so in Sy gebed gesê nie dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Johannes 17:20, 21)? Jesus se algehele sending van verlossing en die krag van Sy evangelie roep om regverdiging in liefde en ’n eenheid wat die lede van die verloste gemeenskap moet saambind. Daar is geen Christelike groei sonder dié liefde en eenheid nie. Al die skeidsmure sal neertuimel waar hierdie liefde en eenheid heers. Hindernisse ten opsigte van ras, volke herkoms, geslag, stand, kleur en ander onderskeidende faktore is opgehef in die lewe van die persoon wat die nuwe skepping ervaar het, ’n nuwe mens (Efesiërs 2:11-16). Soos daardie persoon groei en volwasse word skyn die heerlike waarheid van versoening, liefde, en eenheid altyd meer helder in beide die individu en die gesamentlike uiting van die Christelik lewe.
Die liefdesfaktor in die Christelike groeiproses is uniek aan die evangelie. Jesus het daarna as die nuwe gebod verwys (Johannes 13:34), maar die nuutheid verwys nie na die liefde nie, maar na die voorwerp van die liefde. Mense het lief, maar hulle het lief wat beminlik is – hulle is lief vir hulle eie. Maar Jesus het ’n nuwe faktor bekend gestel: “Net soos ek julle liefgehad het, moet julle mekaar ook liefhê.” Dit wil sê dat ons liefde net so universeel, so opofferend en volmaak soos Jesus se liefde behoort te wees. Die nuwe liefde rig geen skeidsmuur op nie; dit is omvattend; dit het selfs die vyand lief. Aan daardie soort liefde “hang die hele wet en die profete” (Matthéüs 22:37-40).
Daar is geen plek vir aanpassings in die gebod om ons naaste lief te hê nie.
Ons kies nie wie ons wil liefhê nie; daar word ’n beroep gedoen om almal lief te hê. As die kinders van een Vader, word daar van ons verwag om mekaar lief te hê. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan het Christus daarop gewys “dat ons naaste nie net iemand is van die kerk of geloof waaraan ons behoort nie. Dit hou geen verband met ras, kleur of klasse-onderskeid nie. Ons naaste is enigeen wat ons hulp nodig het. Ons naaste is elke siel wat deur die aartsvyand gewond en gekneus is. Ons naaste is elkeen wat die eiendom van God is.”9
Ware naasteliefde dring deur die kleur van die vel en kom te staan voor die menslikheid van die persoon; dit weier om skuiling te vind in stand, maar dra by tot die verryking van die siel; dit red die waardigheid van die persoon van vooroordeel en ontmensliking; dit bevry die menslike lot van die filosofiese uitwissing van ’n ding-wees. Dit kom daarop neer dat ware liefde die beeld van God in elke gesig sien – potensieel, latent of werklik. ’n Groeiende, volwasse Christen sal oor die soort liefde beskik wat inderdaad die grondslag vir alle ware Christelike eenheid is.
3. ’n Lewe van studie. Voedsel is ’n basiese noodsaaklikheid vir groei. Enige lewende organisme vereis voldoende en voortdurende voeding om te kan funksioneer. Dis is ook so met geestelike groei. Maar waar vind ons ons geestelike voedsel? Hoofsaaklik uit twee bronne: voortdurende gemeenskap met God deur middel van die studie van Sy Woord en deur die beoefening van ’n gebedslewe. Die belangrikheid van God se Woord vir die geestelike lewe word nêrens anders so duidelik geleer as in Jesus se eie woorde nie: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4). Jesus gee ’n volmaakte voorbeeld van hoe Hy die Woord gebruik het om Satan te trotseer: “Jesus het die Satan met die Skrif beantwoord. “Daar is geskrywe,” het Hy gesê. In elke versoeking was Sy wapen die Woord van God. Die Satan het van Christus ’n wonderwerk geëis as teken van Sy Godheid. Maar wat groter as alle wonderwerke is – ’n onwrikbare vertroue op “So sê die Here,” – was ’n teken wat nie weerspreek kon word nie. Solank Christus hierdie stelling gehandhaaf het, kon die verleier niks uitrug nie.”10
So is dit met ons. Die Psalmis sê: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Psalm 119:11). Voeg hierby die belofte wat aan die apostel gegee is: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebreërs 4:12).
Wannneer die Christen van hierdie skerp, tweesnydende swaard van die Gees gebruik maak om die aanslae van Satan af te weer, is hy of sy aan die wenkant van die stryd. Die gelowige word bemagtig om deur elke hindernis tot geestelike groei te dring en om reg en verkeerd te onderskei sodat ’n standhoudende keuse ten opsigte van dit wat reg is gemaak kan word en om onderskeid te tref tussen die stem van God en die influisteringe van die duiwel. Dit maak van die Woord ’n onvervangbare werktuig vir geestelike groei.
Paulus het geskryf, “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:16, 17). Wil u groei in die begrip van die waarheid en leerstelling? Wil u weet hoe om u gees op die spoor te hou vir God? Wil u weet wat God vir u vir vandag, more en die volgende dag weggebêre het? Reik uit na die Bybel. Bestudeer dit daagliks. Benader dit met gebed. Daar is geen beter manier om God se wil te leer ken, en Sy weg na te volg nie.
4. ’n Lewe van gebed. God spreek tot ons deur Sy Woord. Om te weet wat Sy wil is, is deel van geestelike groei – deel van gemeenskap met Hom hê. Nog ’n sy van hierdie gemeenskap met God en groei in Hom, is gebed. Indien die Woord van God die brood is wat ons siel voed, is gebed die asem wat ons siele lewendig hou. Gebed is ’n gesprek met God, om na sy stem te luister, om in oorgawe neer te kniel en weer op te staan met volle bemagtiging deur die krag van God. Dit vereis niks van onsself nie – buiten dat ons onsself verloën, op sy krag steun en op Hom wag. Vanuit daardie wag vloei die krag waarmee ons die Christelike reis kan aflê en die geestelike stryd stry. Die gebed van Getsemane verseker die oorwinning van die kruis.
Paulus ag gebed so belangrik in die Chistelike lewe en vir groei dat hy melding maak van ses fundamentele beginsels: “Bid by elke geleentheid;” “Bid met smeking in die Gees;” “bid in die gees;” “bid met waaksaam-heid;” “bid met volharding” “bid. . . vir al die heiliges” (Efesiërs 6:18). Ons word dikwels in die versoeking gestel om soos die Fariseër (Lukas 18:11) te bid ter wille van die vertoon, vir onsself of eenvoudig as roetiene. Doeltreffende gebed is selfverloënend, Gees vervuld, bemiddelend, pleitend vir ander se behoeftes, selfs soos ons bid vir die vervulling van God se wil op aarde deur getroue getuies te wees. Gebed is voortdurende gemeenskap met God; dit is die suurstof van die siel en daarsonder kwyn die siel weg en sterf. Ellen White sê: “Gebed is een van die mees noodsaaklike pligte. Daarsonder kan u nie die Christelike wandel onderhou nie. Dit verhef, versterk en veredel; dit is die siel wat met God praat.”11
5. ’n Lewe wat vrugte dra: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” het Jesus gesê (Matthéüs 7:20).
Om vrugte te dra is ’n belangrike sy van Christelik groei. Verlossing deur genade word dikwels verkeerdelik verstaan as ’n ontkenning van gehoorsaamheid en die dra van vrugte. Niks kan verder van die Bybelse waarheid wees nie. Dit is waar, ons is ruimskoots gered deur geloof in dit wat God se genade deur Christus verrig het en ons kan nie in onsself roem nie (Efesiërs 2:7, 8; Johannes 3:16). Ons is egter nie gered om te maak soos ons wil nie; ons is gered om volgens die wil van God te leef. Daar is niks wetties en dus onnodig met betrekking to gehoorsaamheid aan die wet nie, maar dit is die natuurlike gevolg tot God se genadige bevryding van sonde. Gevolglik, “is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood” (Jakobus 2:17)
Neem Jesus se verklaring en hoop in Johannes 14 en 15 in ag. Die verklaring is Sy verhouding met die Vader en die hoop is vir die verhouding van Sy dissipels met Hom. In die eersgenoemde verklaar Jesus, “net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in Sy liefde bly” (Johannes 15:10). Jesus se gehoorsaamheid aan Sy Vader is nie ’n wettiese inskiklikheid nie, maar ’n gevolg van volharding in die liefde van Sy Vader. Die intieme verhouding tussen die Vader en die Seun is op liefde en slegs liefde gegrondves en dit is hierdie liefde wat daartoe aanleiding gegee het dat die Seun die Vader se wil aanvaar het en die bitter smaak van Getsemane en die kruis geproe het.
Jesus maak gebruik van die Vader-Seun liefdesverhouding ter illustrasie van die soort verhouding wat Sy dissipels met Hom behoort te handhaaf. Net soos Jesus se verhouding met die Vader Sy gehoorsaamheid aan die Vader voorafgegaan het, moet die verhouding van die dissipels met Jesus hulle gehoorsaamheid tot Hom voorafgaan. “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15). “Maar dat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen net soos die Vader My beveel het” (vers 31).
Neem die hoop wat Jesus vir Sy dissipels het waar. Hy doen soos die Vader beveel sodat die wêreld sy liefdesverhouding met die Vader kan sien. Die liefdesverhouding gaan die uitvoer van die wil van die Vader vooraf. Hy het Sy Vader lief en doen derhalwe gewilliglik die Vader se wil. Net so verwag Jesus ’n liefdesgrondslag vir Sy eie dissipels. Hy sê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie” (Johannes 15:4). Die dra van vrugte, gehoorsaamheid en om te lewe volgens God se wil is dus noodsaaklike tekens van geestelike groei. Die afwesigheid van vrugte dui dus daarop dat ons nie in Christus bly nie.
6. ’n Lewe van geestelike stryd. Christelike dissipelskap is nie ’n gerieflike reis nie. Ons is verbind tot ’n egte en gevaarlike stryd. Soos Paulus sê: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efesiërs 6:12. 13).
Ons word deur bonatuurlike magte in hierdie stryd aangekla. Net soos engele van die Here verbind is tot die bediening en versorging van Sy volgelinge, om hulle te verlos van die bose en hulle te lei in geestelike groei (Psalm 34:7; 91:11, 12; Handelinge 5:19, 20; Hebreërs 1:14; 12:22), so span die gevalle engele saam om ons te laat wegkeer van die eise wat dissipelskap stel. Die Bybel verklaar dat die Satan en sy engele toornig teen die volgelinge van Jesus is (Openbaring 12:17) en die duiwel self “loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8, 9). Die weg na geestelike groei is besaai met die duiwel se lokvalle, en dit is hier waar die woestheid van ons stryd begin. Gevolglik maak Paulus van etlike sterk aksiewoorde gebruik: Staan! Neem op! Trek aan! Wees sterk! (Efesiërs 6:12, 13). “Die Christelike lewe is ’n stryd en ’n skof. In hierdie stryd is daar geen vrystelling nie; die stryd moet voortdurend en volhardend voortgesit word. Mens moet Christelike opregtheid met onweerstaanbare krag nastreef en met doelbewuste vasberadenheid handhaaf. . . Almal moet hierdie stryd self stry; niemand anders kan ons stryd vir ons stry nie. Ons is persoonlik verantwoordelik vir die uitslag van die stryd.”12
God laat ons egter nie alleen in hierdie stryd nie. Hy het oorwinning in en deur Christus Jesus voorsien (1 Korinthiërs 15:57). Hy het ‘n goed getoetste wapenrusting aan ons voorsien waarmee ons die vyand kan aandurf. Paulus beskryf hierdie wapensrusting as bestaande uit die gordel van die waarheid, die borswapen van die geregtigheid, die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene, die skild van die geloof, die helm van verlossing, die swaard van die Gees, en die volhardende krag van gebed (Efesiërs 6:13-18). Met sulke wapenrusting beveilig, in algehele afhanklikheid van die getroue krag van die Gees, kan ons nie anders as om te groei in geestelike onverskrokkenheid nie en die oorwinning te behaal in hierdie stryd waarby ons betrokke is.
7. ’n Lewe van aanbidding, getuienis en hoop. Christelike groei vind nie in ’n vakuüm plaas nie. Dit vind aan die een kant in die gemeenskap van die verlostes plaas en aan die anderkant, as getuie aan die gemeenskap wat verlossing nodig, het. Neem die apostoliese gemeenskap waar. Net na Christus se hemelvaart, vergesel van die krag van die Heilige Gees, het die vroeë kerk beide individueel en gesamentlik sy groei en volwassenheid geopenbaar deur aanbidding, gemeenskap, studie en getuienis (Handlinge 2:42-47; 5:41,42; 6, 7). Sonder gesamentlike aanbidding, loop ons die identiteit en die arena van ons gemeenskap mis en dit is met hierdie gemeenskap en interpersoonlike verhouding met andere dat ons volwassenheid bereik en groei. Gevolglik die apostel se raad: “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25).
Hoe meer ons groei in aanbidding, studie en gemeenskap, hoe meer word ons aangespoor oman getuienis. Jesus het gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook (Johannes 20:21). Dit was nooit die doel dat die Christelik lewe ’n lewe om self moes wees nie, maar moes altyd uitgestort word in diens en getuienis aan andere. Die Groot Opdrag in Matthéüs 28 beveel die Christen om volwasse genoeg te wees om die evangelie van vergifnis aan die wêreld rondom hom te neem sodat almal van die verlossende genade van God kan hoor. Die teken van ’n Geestelike lewe en Christelike groei is ’n lewe van immer-uitbreidende getuienis – Jerusalem, Judea, Samaria en die uiterste van die aarde (Handelinge 1:8).
Ons leef, aanbid, hou gemeenskap en getuig mettertyd – en vir die Christen skep tyd ’n toekomsverwagting. Pauls sê: “ek. . . strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:12-14). Dieselfde apostel sê dat ons ’n geheiligde lewe moet lei, sodat “julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus” (1 Thessalonicense 5:23). Groei in Christus is dus groei in afwagting, in die hoop van die uiteindelike volvoering van die verlossingsondervinding in die komende Koninkryk. “Die huis van God op aarde, is vir die nederige gelowige siel, die poort na die hemel. Die loflied, die gebed, die woorde wat deur Christus se verteenwoordigers gepreek is, is God se aangewese bemiddeling om ’n volk vir die kerk daar bo voor te berei, vir die meer verhewe aanbidding waar daar niks kan indring wat kan besoedel nie.”13
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
TERUGVOER
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
INSERT VIDEO HERE
INSERT SOUNDTRACK HERE
Verwysings:
1. Ellen G. White, Die Koning van die Eeue, bl. 630
2. Ibid., 639.
3. Ibid., 579.
4. Ibid., 16.
5. Ibid., 136.
6. Dietrich Bonhoeffer, The Cost of Discipleship (New York: The Macmillan Company, 1959),
pp. 78, 79.
7. Ibid., 47.
8. White, Die Koning van die Eeue, bl. 137.
9. Ibid., 425.
10. Ibid., 91.
11. White, Testimonies for the Church, vol. 2, bl. 313.
12. ____________, Die Helende Hand, bl. 435.
13. ____________, Testimonies, vol. 5, bl. 491