Druk hieronder op DOWNLOAD om hierdie studie in ‘n PDF formaat af te laai.
Inleiding:
Die Heilige Skrifte, die Ou en die Nuwe Testament, is die geskrewe Woord van God, deur Goddelike ingewing oorgedra aan heilige manne van God wat gespreek en geskryf het soos deur die Heilige Gees gedrywe. In hierdie Woord het God die kennis aan die mens oorgedra wat nodig is vir sy verlossing. Die Heilige Skrifte is die onfeilbare openbaring van Sy wil. Hulle is die norm vir karakter, die toets vir ondervinding, die gesaghebbende openbaarder van leerstellings en die betroubare beskrywing van God se handelinge in die geskiedenis. (2 Pet. 1:20, 21; 2Tim. 3:16, 17; Ps. 119:105; Spr. 30:5,6; Jes. 08:20; Joh. 17:17; 1 Thess. 02:13; Heb. 4:12.)
Die Woord van God
Geen boek is nog ooit so bemin, so gehaat, so geëerbiedig, so veroordeel as die Bybel nie. Mense het vir die Bybel gesterf. Ander het ter wille daarvan doodgemaak. Dit was die besieling vir die grootste en edelste dade en is geblameer vir die laakbaarste en doemwaardigste optredes. Oorloë het oor die Bybel gewoed, rewolusies het in sy inhoud uitgebroei, en koninkryke het geval as gevolg van sy idees. Mense van alle oortuiginge – van bevrydingsteoloë tot kapitaliste, van fasciste tot Marxiste, van diktators tot bevryders, van pasifiste tot militariste-blaai deur sy boeke vir woorde wat hul dade sal regverdig.
Die Bybel se unieke posisie spruit nie uit sy weergalose politieke, kulturele en maatskaplike invloed nie, maar uit sy bron en uit sy inhoud. Dit is God se openbaring van die unieke Godmens: die Seun van God, Jesus Christus die Verlosser van die wêreld.
Goddelike Openbaring
Hoewel party mense deur die geskiedenis heen die bestaan van God betwyfel het, het baie met groot oortuiging verklaar dat Hy bestaan en dat Hy Hom bekend gemaak het. Hoe het God Hom geopenbaar, en hoe funksioneer die Bybel in hierdie openbaring?
Algemene Openbaring. Die insig in die natuur van God wat die geskiedenis, menslike gedrag, die gewete en die natuur ons gee word dikwels “algemene openbaring” genoem, omdat dit tot almal se beskikking is en hom op die rede beroep.
Vir miljoene “vertel [die hemele die eer van God en…verkondig [die uitspansel] die werk van sy hande” (Ps. 19:2). Die sonlig, die reën, die berge en strome getuig almal van ‘n liefdevolle Skepper. “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Rom. 1:20).
Andere sien bewyse van ‘n sorgsame God in die heuglike verhoudinge en buitengewone liefde tussen vriende en familielede, man en vrou, ouers en kinders. “Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos” (Jes. 66:13). “Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees” (Ps. 103:13).
Tog kan dieselfde son wat van ‘n liefdevolle Skepper getuig, die aarde in ‘n dorre woestyn verander en hongersnood bring. Dieselfde reën kan ‘n watervloed veroorsaak wat gesinne laat verdrink; dieselfde hoë berg kan verkrummel en neerstort. En menseverhoudinge bring dikwels jaloesie, nyd, woede en selfs haat wat tot moord lei.
Die wêreld om ons wek gemengde waarnemings en stel net so veel vrae as wat dit beantwoord. Dit openbaar ‘n stryd tussen goed en kwaad, maar verklaar nie hoe hierdie stryd ontstaan het nie, wie dit is wat veg, waarom of wie uiteindelik sal seëvier nie.
Besondere Openbaring. Die sonde beperk God se openbaring van Homself deur Sy skepping, want dit verswak ons vermoë om Sy getuienis te vertolk. In Sy liefde het God Hom spesifiek geopenbaar sodat ons antwoorde op hierdie vrae kan kry. Deur sowel die Ou as die Nuwe Testament het Hy Hom op spesifieke wyse aan ons geopenbaar, sodat daar geen twyfel oor Sy liefdevolle geaardheid kan bestaan nie. Eers het Hy Hom deur profete bekend gemaak; daarna het Sy hoogste openbaring gevolg, in die wese van Jesus Christus (Heb. 1:1; Heb. 1:2).
Die Bybel bevat stellings wat die waarheid omtrent God openbaar; en dit openbaar Hom ook as ‘n wese. Albei hierdie fasette van die openbaring is nodig. Ons moet God deur Jesus Christus ken (Joh. 17:3), asook “die waarheid wat in Jesus is” (Efe. 4:21, NAB). En deur middel van die Skrifte breek God deur ons verstandelike, sedelike en geestelike beperkinge en toon Hy hoe gretig Hy is om ons te red.
Die Brandpunt van die Skrifte.
Die Bybel openbaar God en ontbloot die mens. Dit stel die ellende bloot waarin ons verkeer en toon Sy oplossing. Dit stel ons voor as verlore en van God vervreem, en openbaar Jesus as die een wat ons vind en na God terugneem.
Jesus Christus is die brandpunt van die Skrifte. Die Ou Testament noem die Seun die Messias, die Verlosser van die wêreld; die Nuwe Testament openbaar Hom as Jesus Christus, die Verlosser. Elke bladsy, of dit nou in sinnebeeld of werklikheid is, openbaar een of ander fase van Sy werk en natuur. Jesus se kruisdood is die hoogste openbaring van die natuur van God.
Die kruis maak hierdie hoogste openbaring uit omdat dit twee uiterstes versoen: die mens se onpeilbare ongeregtigheid en God se onuitputlike liefde. Wat sou ons ‘n helderder insig kon gegee het in die feilbaarheid van die mens? Wat sou die sonde beter kon uitbeeld? Die kruis toon ‘n God wat toegelaat het dat Sy enigste Seun gedood word. Watter ontsettende offer!
Watter groter openbaring van Sy liefde kon Hy gegee het? Waarlik, die brandpunt van die Bybel is Jesus Christus. Hy neem die sentrale plek in op die verhoog van die kosmiese drama. Weldra sal Sy sege op Golgota vervul word in die uitskakeling van ongeregtigheid. Die mens en God sal herenig wees.
Die tema van die liefde van God, veral soos geopenbaar in Christus se soendood op Golgota – die grondigste waarheid van die heelal – is die brandpunt van die Bybel. Al die vernaamste Bybelwaarhede moet daarom vanuit hierdie perspektief bestudeer word.
Outeurskap van die Skrifte
Die Bybel se gesag om geloof en praktyk voor te skryf, berus by sy oorsprong. Sy skrywers het die Bybel in ‘n totaal ander lig as ander geskrifte gesien. Hulle het daarna verwys as “Heilige Skrifte” (Rom. 1:2; 2 Tim. 3:15), “die woorde van God” (Rom. 3:2; Heb. 5:12).
Die unieke posisie van die Skrifte berus op hul oorsprong en bron. Die Bybelskrywers het daarop aanspraak gemaak dat hul boodskappe nie by hulle ontstaan het nie, maar dat hulle dit van Bo ontvang het. Dit was deur Goddelike openbaring dat hulle die waarhede wat hulle oorgedra het, kon “sien” (kyk Jes. 1:1; Amos 1:1; Miga 1:1; Hab. 1:1; Jer. 38:21).
Hierdie skrywers het na die Heilige Gees verwys as die Een wat deur middel van die profete met die volk gekommunikeer het (Neh. 9:30; vgl. Sag. 7:12). Dawid het gesê: “Die Gees van die Here spreek in my, en sy woord is op my tong” (2 Sam. 23:2).
Esegiël het geskryf: ”Die Gees het in my gekom,” “toe val die Gees van die Here op my” (Eseg. 2:2; 11:5, 24). En Miga het getuig: “Ek … is vol krag, met die Gees van die Here” (Miga 3:8).
Die Nuwe Testament het die rol van die Heilige Gees in die ontstaan van die Ou Testament erken. Jesus het gesê dat Dawid deur die Heilige Gees besiel is (Markus12:36). Paulus het geglo dat die Heilige Gees “deur Jesaja” gespreek het (Hand. 28:25). Petrus het geopenbaar dat die Heilige Gees al die profete besiel het en nie net enkeles nie (1 Pet. 1:10, 11; 2 Pet. 1:21). Soms het die skrywer heeltemal in die agtergrond verdwyn en is net die ware Outeur – die Heilige Gees – erken: ”Die Heilige Gees spreek… ” “waarmee die Heilige Gees dit duidelik maak… ” (Heb. 3:7; 9:8).
Die skrywers van die Nuwe Testament het die Heilige Gees as die bron van hul eie boodskappe erken. Paulus het verklaar: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word” (1 Tim. 4:1). Johannes verklaar: “Ek was in die Gees op die dag van die Here” (Openb. 1:10). En Jesus het deur middel van die Heilige Gees Sy opdrag aan die apostels gegee (Hand. 1 :2; vgl. Efe. 3:3-5).
So het God Homself dan in die persoon van die Heilige Gees deur die Heilige Skrifte geopenbaar. Hy het hulle geskryf, nie met Sy hand nie, maar deur ander hande – ongeveer veertig paar – oor ‘n tydperk van meer as 1500 jaar. En aangesien God die Heilige Gees die skrywers besiel het, is God dus die skrywer.
Die Inspirasie van die Skrifte
“Die hele Skrif” sê Paulus, “is deur God ingegee” (2 Tim. 3:16). Die Griekse woord theopneustos, wat as ingegee vertaal word, beteken letterlik deur God “ingeblaas”. God het waarheid by mense “ingeblaas.” Op hulle beurt het hulle dit in die woorde uitgedruk wat in die Skrifte voorkom. Ingewing is dus die proses waardeur God Sy ewige waarheid aan die mense bekend maak.
Die Inspirasieproses. Die Goddelike openbaring is deur God ingegee aan “heilige mense van God” wat “deur die Heilige Gees gedrywe” is (2 Pet. 1:21). Hierdie openbarings is in mensetaal met al sy beperkinge en tekortkominge beliggaam; tog was dit God se getuienis. God het mense besiel – nie woorde verskaf nie.
Was die profete net so passief soos bandopnemers wat presiese woorde weergee wat opgeneem is? In sommige gevalle is die skrywers aangesê om die presiese woorde van God te herhaal, maar in die meeste gevalle het God hulle opdrag gegee om wat hulle gesien en gehoor het, so goed moontlik te beskryf. In laasgenoemde gevalle die skrywers hulle eie taalpatroon en styl gebruik. In een geval praat en skryf God die pre-Paulus het gesê dat “die geeste van die is aan die profete onderworpe” (Kor.14:32). Ware ingewing wis nie die profeet se individualiteit, rede, integriteit of persoonlikheid uit presiese woorde – die Tien Gebooie. Hulle is profete (1 deur God, nie die mens nie, opgestel). -(Exod. 20:1-17; 31:18; Deut. 10:4,5), en tog of moes selfs dit in woorde uitgedruk word. wat die mens sou verstaan.
In ‘n sekere opsig illustreer die verhouding tussen Moses en Aäron die tussen die Heilige Gees en die skrywer. God het aan Moses gesê: “Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees”(Exod. 7:1; vgl. 4:15, 16). Moses het God se boodskappe aan Aäron meegedeel, en op sy beurt het Aäron dit in sy eie taal en styl aan Farao meegedeel. Net so het die Bybelskrywers bevele, gedagtes en idees wat hulle van God ontvang het, in hulle skryfstyl oorgedra, Dit is omdat God op hierdie wyse kommunikeer dat die woordeskat in die verskillende boeke verskil en die mate van opvoeding en kultuur van die skrywers aan die lig gebring word.
Die Bybel “is nie God se wyse van dink en spreek nie….Mense sal dikwels beweer dat so ‘n uitdrukking nie in God se natuur is nie. God plaas Homself egter nie onder verhoor wat woorde, logika, en retoriek in die Bybel betref nie. Die skrywers van die Bybel was God se penvoerders.”1 “Die ingewing werk nie op die mens se woorde of sy uitdrukkings nie, maar op, die mens self wat, onder die invloed van die Heilige
Gees, met gedagtes besiel word. Die woorde kry egter die beslag van die individuele gees. Die Goddelike gees word uitgestraal. Die Goddelike gees en wil word verenig met die menslike gees en wil; so word die uitinge van die mense die woord van God.”2
In een geval praat en skryf God die presiese woorde – die Tien Gebooie. Hulle is deur God, nie die mense nie, opgestel (Exod. 20:1-17; 31:18; Deut. 10:4, 5), en tog moes selfs dit in woorde uitgedruk word wat die mens sou verstaan.
Die Bybel is dus die Goddelike waarheid wat in mensetaal uitgedruk word. Stel u dit voor om kwantumfisika aan ‘n baba te leer! Dit is die soort probleem waarmee God te kampe het in Sy poging om Goddelike waarhede aan sondige, perkgebondemense mee te deel. Dit is ons beperkinge wat Sy mededelings aan ons aan bande lê.
Daar is ‘n soortgelyke ooreenkoms tussen die vleesgeworde Jesus en die Bybel. Jesus was tegelyk God en mens, ‘n vereniging van die Goddelike en die menslike. So is ook die Bybel die Goddelike en die menslike in een. Wat van Christus gesê is, kan ook van die Bybel gesê word, naamlik, “die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon” (Joh.1:14). Hierdie Goddelik-menslike vereniging maak die Bybel enig onder literêr werke.
lnspirasie en die Skrywers. Die Heilige Gees het sekere mense voorberei om Goddelike waarheid te kommunikeer. Die Bybel verstrek die besonderhede van hoe Hy hierdie individue bekwaam het nie, maar op een of ander wyse het Hy ‘nvereniging tussen die Goddelike en die menslike dienaar bewerkstellig. Diegene wat die Bybel help skryf het, is nie weens natuurlike aanleg gekies nie. Ook het die Goddelike openbaring nie die persoon bekeer of hom van die ewige lewe verseker nie. Bileam het ‘nboodskap onder Goddelike ingewing verkondig terwyl hy teen God se raad opgetree het (Num. 22-24). Dawid wat deur die Heilige Gees gebruik is, het groot misdade gepleeg (vgl. Ps. 51). Al die Bybelse skrywers was manne van sondige natuur wat daagliks die genade van God nodig gehad het (vgl. Rom. 3:12).
Die besieling wat die Bybelse skrywers ontvang het, was meer as blote verligting of Goddelike leiding, want dit is beskikbaar vir almal wat na die waarheid soek. In werklikheid het die Bybelse skrywers die Goddelike boodskap wat hulle bekend gemaak het, soms nie mooi verstaan nie (1 Pet. 1:10-12).
Die skrywers het nie op dieselfde wyse gereageer op die boodskappe wat hulle moes verkondig nie. Daniël en Johannes het verklaar dat hulle verbyster was oor hul geskrifte (Dan. 8:27; Openb. 5:4), en 1 Petrus 1:10 dui aan dat ander skrywers gesoek het na die betekenis van hul boodskappe aan ander. Soms was hierdie manne bang om ‘ningegewe boodskap te verkondig, en party het selfs met God geredekawel (Hab. 1; Jona 1:1-3; 4:1-11).
Die Metode en lnhoud van die Openbaring. Dikwels het die Heilige Gees Goddelike kennis deur middel van gesigte en drome meegedeel (Num.12:6). Soms het Hy hoorbaar of tot die innerlike wese gepraat. God het hoorbaar met Samuel gepraat (1 Sam. 9:15). Sagaria het simboliese voorstellings met verklarings ontvang (Sag. 4). Die hemelse gesigte wat Paulus en Johannes ontvang het, is deur mondelinge opdragte vergesel (2 Kor. 12:1-4; Openb. 4, 5). Esegiël het gebeurtenisse waargeneem wat elders afgespeel het (Eseg. 8). Party skrywers het deelgeneem aan hul gesigte en sekere funksies uitgevoer as deel van die visioen self (Openb. 10).
Wat inhoud betref: aan sommiges het die Gees toekomstige gebeurtenisse bekend gemaak (Dan. 2:7, 8, 12). Ander skrywers het historiese gebeurtenisse neergepen, of op die basis van persoonlike ervaring of deur materiaal uit bestaande historiese gegewens uit te soek (Rigters, 1 Samuel, 2 Kronieke, die Evangelies, Handelinge).
Inspirasie en die Geskiedenis. Die Bybelse aanspraak dat “die hele Skrif … deur God ingegee” of deur God “ingeblaas” is en nuttig is tot onderwysing in die geregtigheid (2 Tim. 3:15, 16), laat geen twyfel oor die leiding van God in die verkiesingsproses nie. Of die inligting nou van persoonlike waarneming kom, van mondelinge of skriftelike bronne, of regstreekse openbaring, die skrywer het alles onder die Heilige Gees se leiding ontvang. Dit is die waarborg van die betroubaarheid van die Bybel.
Die Bybel openbaar God se plan in Sy dinamiese interaksie met die mensdom nie in ‘n versameling abstrakte leerstellings nie. Sy selfopenbaring is gegrond op ware gebeurtenisse wat op ‘n bepaalde tyd en plek plaasgevind het. Die betroubaarheid van die historiese relase is van die grootste belang omdat hulle die raamwerk vorm van ons begrip van die aard van God en Sy doel met ons. ‘n Presiese begrip lei tot die ewige lewe, maar ‘n onjuiste begrip lei tot verwarring en die dood.
God het aan sekere mense die taak opgedra om ‘n geskiedenis te skryf oor Sy handelinge met Israel. Hierdie historiese beskrywings, wat uit ‘n ander oogpunt as sekulêre geskiedenis geskryf is, maak ‘n belangrike deel van die Bybel uit (vgl. Num. 33:1, 2; Jos. 24:25, 26; Eseg. 24:2). Hulle gee ons ‘n noukeurige, objektiewe relaas, uit die Goddelike oogpunt gesien. Die Heilige Gees het die skrywers besondere insigte gegee, sodat hulle in die gebeurtenisse in die stryd tussen goed en kwaad die natuur van God kon demonstreer en leiding aan die mens kon gee in sy soeke na verlossing.
Die historiese gebeurtenisse is “skadubeelde” of “voorbeelde” en “is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:11). Paulus sê: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Rom. 15:4). Die verwoesting van Sodom en Gomorra dien as “‘n voorbeeld” of waarskuwing (2 Pet. 2:6; Judas 7). Abraham se ondervinding en regverdiging is ‘n voorbeeld vir elke gelowige (Rom. 4:1 – 25; Jak. 2:14-22). Selfs die burgerlike wette van die Ou Testament bevat diepe geestelike betekenis en is ter wille van ons in hierdie dae geskryf (1 Kor. 9:8, 9).
Lukas verklaar dat hy sy Evangelie geskryf het omdat hy ‘n verslag van die lewe van Jesus wou gee “sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is” (Lukas. 1:4). Johannes se maatstaf vir sy keuse van insidente in Jesus se lewe vir sy Evangelie is “dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam” (Joh. 20:31). God het die Bybelskrywers op so ‘n wyse gelei dat hulle ons tot verlossing kon rig.
Die lewensbeskrywings van Bybelse persoonlikhede bied nog ‘n voorbeeld van Goddelike ingewing. Hierdie verslae gee ‘n noukeurige weergawe van die swakhede sowel as deugde van hul karakters. Dit gee ‘n getroue beskrywing van hul sondes asook van hul suksesse.
Daar word geen doekies omgedraai oor Noag se gebrek aan selfbeheersing of oor Abraham se bedrog nie. Die opvlieëndheid van Moses, Paulus, Jakobus en Johannes staan aangeteken. Die geskiedenis stel die tekortkominge van Israel se verstandigste koning en die swakhede van die twaalf apostels aan die kaak. Die Skrif probeer hulle nie vergoelik nie en probeer ook nie om hul skuldigheid te verbloem nie. Dit gee ‘n getroue weergawe van wat hulle deur die genade van God was en van wat hulle geword het of versuim het om te word. Sonder ingewing van Bo sou geen biograaf met soveel insig kon geskryf het nie.
Die Bybelskrywers het alle historiese gebeurtenisse wat beskryf word as ware historiese aantekeninge beskou – nie as mites of sinnebeelde nie. Baie hedendaagse skeptici verwerp die verhale van Adam en Eva, Jona en die sondvloed. Tog het Jesus hulle aanvaar as histories juis en geestelik relevant (Matt. 12:39-41; 19:4-6; 24:37-39).
Die Bybel praat nie van gedeeltelike besieling of van grade van inspirasie nie. Hierdie teorieë is bloot gissings wat die Bybel sy Goddelike gesag wil ontneem.
Die Betroubaarheid van die Skrifte. Net soos Jesus “vlees geword en onder…ons gewoon” het (Joh. 1:14), so is ook die Bybel in mensetaal gegee, sodat ons dit kon verstaan. Die inspirasie van die Skrifte waarborg hul betroubaarheid.
In hoe ‘n mate het God die oordrag van die teks beveilig behalwe dat Hy gesorg het dat sy boodskap geldig en waar is? Dit is duidelik dat hoewel die ou manuskripte verskille toon, die wesenlike waarhede bewaar is.3 Hoewel dit heeltemal moontlik is dat oorskrywers en vertalers van die Bybel geringe foute kon begaan het, toon die resultate van Bybelse argeologie dat baie beweerde foute werklik wanbegrippe aan die kant van die geleerdes was. Party van hierdie probleme het ontstaan omdat mense Bybelse geskiedenis en gewoontes uit ‘n Westerse oogpunt gelees het. Ons moet erken dat mense maar net gedeeltelik verstaan – hul insig in die Goddelike werkinge bly fragmentaries.
Waar teenstrydighede teëgekom word, moet dit nie vertroue in die Skrifte ondermyn nie; hulle is dikwels die gevolg van ons onnoukeurige begrippe eerder as werklike foute. Staan God voor die regbank as ons ‘n sin of ‘n teks teëkom wat ons nie mooi kan verstaan nie? Ons sal moontlik nooit elke teks in die Skrif kan Ondanks pogings om hom te vernietig is die Bybel met verbasende, soms wonderbaarlike noukeurigheid bewaar. ‘n Vergelyking tussen die Dooie See perkamente en die latere manuskripte van die Ou Testament toon met watter omsigtigheid dit oorgeskryf is.4 Hulle bevestig die betroubaarheid van die Skrifte as die onfeilbare openbaring van die wil van God.
Die Gesag van die Skrifte
Die Skrifte geniet Goddelike gesag omdat God deur die Heilige Gees daarin spreek. Die Bybel is daarom die geskrewe Woord van God. Waar is die bewyse van hierdie aanspraak en wat is die implikasies vir ons lewens en ons soeke na kennis?
Die Aansprake van die Skrifte. Die Bybelskrywers getuig dat hul boodskappe regstreeks van God af kom. Dit is “die woord van die Here” wat tot Jeremia, Esegiël, Hosea en ander gekom het (Jer. 1:1,2, 9; Eseg. 1:3; Hos. 1:1; Joel 1:1; Jona 1:1). As boodskappers van die Here (Hag. 1:13; 2 Kron. 36:16) het die profete van God die opdrag gehad om in Sy Naam te praat en te sê: “So spreek die Here” (Eseg. 2:4; vgl. Jes. 7:7). Sy woorde was hul Goddelike geloofsbriewe en gesag.
Soms het die rol van die mens wat God gebruik het, in die agtergrond verdwyn. Mattheus verwys na die gesag agter die Ou-Testamentiese profeet wat hy soos volg aanhaal: “Dithet alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het” (Matt. 1:22). Hy sien God as die regstreekse outeur, die gesag; die profeet speel ‘n onregstreekse rol.
Petrus klassifiseer Paulus se geskrifte as Skrif (2 Pet. 3:15, 16). En Paulus getuig oor sy eie geskrifte: “Ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus” (Gal. 1 :12). Die Nieu-Testamentiese skrywers het die woorde van Christus as Skrif erken met dieselfde gesag as die Ou-Testamentiese geskrifte (1 Tim. 5:18; Lukas 10:7).
Jesus en die Gesag van die Skrifte. Dwarsdeur Sy bediening het Jesus die gesag van die Skrifte beklemtoon. Toe Hy deur die Satan versoek is of Hom teen Sy teenstanders moes verdedig, was sowel Sy verdediging as Sy aanval: “Daar is geskrywe” (Matt. 4:4, 7, 10; Lukas 20:17). “Die mens sal nie van brood aIleen lewe nie,” het Hy gesê, “maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Toe Hy gevra is hoe ‘n mens die ewige lewe kan ingaan, het Hy geantwoord: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” (Lukas 10:26).
Jesus het die Bybel bo menslike oorlewerings en sienswyses gestel. Hy het die Jode bestraf omdat hulle die gesag van die Skrif tot niet gemaak het (Markus 7:7-9) en het ‘n beroep op hulle gedoen om die Skrifte noukeuriger te bestudeer deur te sê: “Het julIe nooit in die Skrifte gelees nie?” (Matt. 21:42; vgl. Markus 12:10,26).
Hy het onwrikbaar geglo in die gesag van die profetiese woord en het geopenbaar dat dit op Hom betrekking gehad het.
Die Skrifte, het Hy gesê, “getuig van My.” “As julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe” (Joh. 5:39, 46). Jesus se mees oortuigende aanspraak op Sy Goddelike sending berus op Sy vervulling van die Ou-Testamentiese profesieë (Lukas 24:25-27).
Christus het die Heilige Skrifte dus sonder voorbehoud aangeneem as die gesaghebbende openbaring van die wil van God vir die mensdom. Hy het die Skrifte beskou as ‘n dokument van die waarheid, ‘n objektiewe openbaring wat gegee is om die mens uit die duisternis van verkeerde oorleweringe en mites na die lig van ‘n reddende kennis te lei.
Die Heilige Gees en die Gesag van die Skrifte. Terwyl Jesus op aarde was het die godsdienstige leiers en die onverskillige massas nie Sy ware identiteit besef nie. Party het gedink Hy is ‘n profeet soos Johannes die Doper, Elia of Jeremia ‘n gewone mens. Toe Petrus bely het dat Jesus “die Christus, die Seun van die lewende God” is, het Jesus daarop gewys dat dit ‘n ingewing van Bo was wat so ‘n belydenis moontlik gemaak het (Matt. 16:13-17). Paulus het hierdie waarheid. beklemtoon: “Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees (l Kor. 12:3).
So is dit met die geskrewe woord van God. Sonder dat die Heilige Gees ons gees verlig sal ons die Bybel nooit reg kan verstaan of dit selfs kon erken as die gesaghebbende wil van God nie.5 Omdat “niemand [weet] wat in God is nie, behalwe die Gees van God” (1 Kor. 2:11), spreek dit vanself, “die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor. 2:14). Die gevolg is dat “die woord van die kruis … dwaasheid [is] vir die wat verlore gaan” (1 Kor. 1:18).
Alleen met die hulp van die Heilige Gees, wat “die dieptes van God” ondersoek (1 Kor. 2:10), kan ‘n mens oortuig raak van die gesag van die Bybel as ‘n openbaring van God en Sy wil. Dit is dan dat die kruis “die krag van God” word (1 Kor. 1:18) en ‘n mens soos Paulus kan getuig: “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Kor.2:12).
Die Heilige Skrifte en die Heilige Gees kan nooit geskei word nie. Die Heilige Gees is sowel die outeur as openbaarder van Bybelse waarheid.
Die gesag van die Skrifte in ons lewe neem toe of af na gelang van ons begrip van inspirasie. As ons die Bybel bloot as ‘n versameling menslike getuienisse beskou, of as die gesag wat ons daaraan toeken in een of ander opsig afhang van ons gevoelens of emosies, vermurf ons sy gesag in ons lewe. Maar as ons besef dat. dit die stem van God is wat deur die skrywers spreek, afgesien van hoe swak of menslik hulle ook was, word die Skrifte absolute gesag ten opsigte van leer, vermaning, bestraffing en onderrig in geregtigheid (2 Tim. 3:16).
Die Omvang van Skriftelike Gesag. Weerspreking tussen die Skrifte en die wetenskap is dikwels die gevolg van gissing. As ons die wetenskap nie met die Skrif kan versoen nie, is dit omdat ons “‘n wanbegrip het van of die wetenskap of die openbaring…maar as dit reg verstaan word, stem die twee volkome saam.”6
Alle menslike wysheid moet aan die gesag van die Skrifte onderwerp word. Die Bybelse waarhede is die norm waaraan ander idees getoets moet word. Om die Woord van God deur die beperkte menslike standaarde te beoordeel, is omtrent dieselfde as om die sterre met ‘n meetsnoer te meet. Die Bybel moet nie aan menslike norme onderwerp word nie. Dit is verhewe bo alle menslike wysheid en geskrifte. Pleks dat ons die Bybel beoordeel, sal ons daardeur geoordeel word, want dit is die norm van karakter en die toets van alle belewenisse en gedagtes.
In die laaste instansie behou die Skrifte ook hul gesag oor die gawes wat van die Heilige Gees afkomstig is, waaronder leiding deur die profetiese gawe of die spreek in tale (1 Kor. 12; 14:1; Efe. 4:7-16). Die gawes van die Gees is nie bo die Skrif verhewe nie; trouens, hulle moet aan die Bybel getoets word, en as hulle nie daarmee ooreenstem nie, moet hulle verwerp word as nie eg nie. ”’Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie” (Jes. 8:20). (Kyk hoofstuk 17 van hierdie boek.)
Die Eenheid van die Skrifte
As die Skrifte oppervlakkig gelees word, sal hulle oppervlakkig verstaan word. As hulle so gelees word, kan mens die indruk kry dat die Bybel maar net ‘n versameling stories, preke en geskiedenis is. Diegene wat egter ontvanklik is vir die verligting van die Gees van God, diegene wat gewillig is om geduldig en met veel gebed na die verborge waarhede te soek, ontdek dat die Bybel ‘n onderliggende eenheid openbaar in wat hy aangaande die beginsels van die verlossing leer. Die Bybel het nie ‘n eentonige eenvormigheid nie. Dit bestaan eerder uit ‘n ryke en kleurvolle verskeidenheid van ooreenstemmende getuienisse wat groot skoonheid aan die dag lê. En juis as gevolg van sy verskeidenheid perspektiewe is hy beter in staat om te alle tye in aIle menslike behoeftes te voorsien.
God het Hom nie in ‘n ononderbroke reeks verklarings bekend gemaak nie, maar broksgewyse deur opeenvolgende geslagte. Of dit nou deur Moses in die platteland van Midian geskryf is, of deur Paulus in In Romeinse gevangenis, die boeke lê dieselfde deur die Gees ingegewe kommunikasie aan die dag. ‘n Begrip van hierdie “progressiewe openbaring” help ‘n mens om die Bybel en sy eenheid te verstaan.
Hoewel hulle geslagte uitmekaar geskryf is, bly die waarhede van die Ou en die Nuwe Testament onskeibaar en weerspreek hulle mekaar nie. Die twee Testamente is een, soos God een is. Die Ou Testament openbaar, deur profesieë en sinnebeelde, die evangelie van die komende Verlosser; die Nuwe Testament openbaar, deur die lewe van Jesus, die Verlosser wat gekom het – die evangelie in werklikheid. Albei openbaar dieselfde God. Die Ou Testament dien as grondslag vir die Nuwe. Dit verskaf die sleutel om die Nuwe mee oop te sluit, terwyl die Nuwe die verborgenhede van die Oue verklaar.
In Sy genade roep God ons om Hom te leer ken deur Sy Woord te ondersoek. Daarin vind ons die ryke seën van die sekerheid van ons verlossing. Ons kan persoonlik ontdek dat die Skrifte “nuttig [is] tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.” Deur hulle kan ons “volkome… wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16, 17).
Videos en Klankbane:
Kyk of luister nou na die lesings hieronder wat ‘n indiepte bespreking lewer oor die Woord van God. Beantwoord daarna die vrae.
Vrae:
Druk hieronder op TERUGVOER om die paar kort vragies te beantwoord.
Addisionele hulpbronne:
Vind hieronder nog hulpbronne wat jou sal help om hierdie onderwerp nog beter te verstaan.
Verwysings:
1. Ellen G. White, Selected Messages (Washington D.C.: Review and Herald, 1958), deel 1, bl. 21.
2. Ibid.
3. Ter wille van sekere uitlopende lesings, kyk White, Eerste Geskrifte (Washington D.C.: Review and Herald, 1945), bl. 220, 221.
4. Sien Siegfried H. Horn. The Spade Confirms the Book, hersiene uitg., (Washington D.C.: Review and Herald, 1980).
5. Vir ‘n algemene begrip van Bybelvertolking deur Sewendedag-Adventiste, kyk Wêreldkonferensie-komitee, Verslag van die Jaarlikse Raad van die Wêreldkonferensiekomitee, 12 Okt., 1986, “Methods of Bible Study,” versprei deur die Biblical Research Institute, Wêreldkonferensie van Sewendedag-Adventiste, 6840 Eastern Ave., N.W., Washington, D.C. 20012. Kyk ook A Symposium on Biblical Hermeneutics, red. G.M. Hyde (Washington, D.C.: Review and Herald, 1974); Gerhard F. Hasel, Understanding the Living Word of God (Mountain View, CA:.Pacific Press, 1980). Vgl. P. Gerard Damsteegt, “Interpreting the Bible,” (Referaat opgestel vir die Far Eastern Division Biblical Research Committee, Singapoer, Mei 1986)
6. White, Die
Verhaal van Patriarge en Profete (Kenilworth, Kaapstad, Sentinel-Uitgewery,
1978) bl. 114