Lesing 10: Die Valse Kerk – Die Hoervrou van Openbaring
Ds. Louis Jordaan
Die reeks bestaan uit 16 lesings. Ek stel voor dat u by lesing 1 begin en werk stap vir stap deur die lesings. Byna al die verse is aanhalings uit die 1953 Arikaanse Bybel. Onder aan elke lesing kan u die volledige lesing aflaai in pdf, klankgreep en video.
Onderaan die bladsy is die skakels vir die volledige pdf, mp3 en video van die lesing.
Hfst. 10: Inleiding (Open. 17:1,2)

in Openbaring 12 was ons voorgestel aan die REIN VROU of REIN KERK. Let nou op na die eerste vers van Openbaring 12.
Openbaring 12:1 “En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre.”
Hier in Openbaring 17 word die VALSE VROU aan ons verduidelik. Hier word met baie sterk taal na die valse kerke verwys. Let mooi op na die eerste vers van Openbaring 17:
Openbaring 17: 1 “En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op baie waters sit.”
Om hierdie twee hoofstukke reg te verstaan, is dit vir ons belangrik om te onthou dat die simboliek van die VROU na die KERK verwys. Paulus stel dit as volg:
2 Kor. 11:2 “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.”
Nou lees ons weer Openbaring 17:1
Openbaring 17: 1 “En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op baie waters sit.”
Wat is die betekenis van die waters?
Openbaring 17:2 “Met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bywoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.”
Al die leiers van die aarde, die ministers en presidente van die aarde, sê die Bybel, ondersteun haar. Is deel van haar. Die mense van die wêreld is dronk van haar dwaalleer, dinge wat sy leer wat nie van God kom nie. Dronk beteken dat hulle onder haar invloed dwaal, haar navolg en oortuig is dat hulle reg is. Ja, soos alkohol die mense benewel, so het sy met haar valse leer die wêreld dronk gemaak van dwaalleer. Hulle is soos ‘n dronk mens selfvoldaan oor hulle standpunt en hulle leerstellings, terwyl Openbaring dit die “wyn van haar hoerery” noem. Hierdie leerstellings het geen Bybelse oorsprong nie.
Wie is Hierdie Valse Kerk?
Openbaring 17:3 “En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooidier, vol godlasterlike name, met sewe koppe en tien horings.“
‘Wie is hierdie valse kerk? Dit is die kerk wat ontstaan het na die val van die vierde ryk, nl. Die Romeinse ryk. Dit is die kerk wat ontstaan het tussen die Tien nasies wat uit die Romeinse Ryk gekom het. Daar is net een kerk wat in hierdie tyd ontstaan het en dit is die Roomse Katolieke kerk. Vers 9 stel dit onomwonde.
Openbaring 17:9 “ Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit.”
Dit is dan juis die Katolieke Kerk wat in die groot wêreld-stad, Rome op sewe heuwels, haar hoofsetel het, nl. Die Vatikaan. Die antwoord tot op hierdie punt in die profesie, is dus ondubbelsinnig, dat die Katolieke kerk die Groot Moeder van die Valsheid is. Dit is dan juis die boodskap van die 5de vers, seker die krasste vers in die Bybel:
Openbaring 17:5 “En op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”.
Jou naam het juis die kruks van jou karakter beskryf. Die Bybel wil haar karakter vir ons hier ontbloot. Die eerste woord waarmee God haar wil beskryf is “verborgenheid”. Sy doen alles in die geheim, agter geslote deure, sodat die mensdom nie haar ware kleure kan sien nie. Maar God maak dit duidelik vir ons, met baie reguit, kras woorde. Ja, sy is nie net ‘n hoer nie, maar die moeder van baie hoere. Ja, daar is baie kerke wat haar volg. Die hele wêreld het verwonderd agter haar aangegaan(Opb 13:3) Is u en ek so uniek dat ons nie deel is van die “hele wêreld” nie? Die hele wêreld word dronk van haar dwaalleer. Al die bewoners van die aarde aanbid haar (Opb13:8) Sy is die moeder van die hoere en dus die moeder van die dwaalleer wat die kerke ingekom het. Sy is die moeder van die gruwels van die aarde. Alle paaie lei na Rome toe, ja volg elke moderne oorlog en jy kom by haar uit.
Hierdie teks is baie kras, sodat ons nie dalk die vers mag mis lees nie. God het dit pertinent so kras gestel, sodat ons nie dalk uit gerieflikheid onthalwe dit mis lees nie. Hierdie teks se volume is kliphard en duidelik
Antichris = POUSDOM
Sy is nie God nie, maar het haar ontstaan uit ‘n samesmelting van die Heidendom en die Christendom
Openbaring 17:4 “En die vrou was beklee met purper en skarlaken en versier met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol van gruwels en onreinheid van haar hoerery.”
Sy, die valse kerk is welgesteld. Vandaar dan ook die meegaande respek wat sy as gevolg hiervan geniet. Haar dwaalleer is hulle in ‘n Goue Beker. Ja, dit word geleer in die grootste Universiteite en inrigtings in die wêreld. Die grootste professore en doktors. Ja, al die leerstellings wat sy oorsprong nie uit die woord van God het nie, maar uit die Heidense godsdienste.
Tog het sy daarin geslaag om hierdie Heidense leerstellings in te burger in die Christelike en nie Christelike wêreld. Ja, die Christene en nie-Christene is dronk van hierdie dwaalleer. Die Christene was so subtiel mislei dat hulle heeltemal oortuig voel dat al hierdie dinge wat uit die heidendom die kerk binne gekom het, van God gekom het, dis deel van ons Christelike erfenis. Daarom stel die Profesie dit so duidelik dat die wêreld dronk van hierdie dwaalleer is.
Maria
Dit was so subtiel die kerk binne gebring. Dit was begin deur Jesus se Moeder, Maria ‘n tussenganger, ‘n goddelike wese te maak. Iemand wat aanbiddingswaardig is. In lyn met die heidense gebruik.
So was ook die ongetroude Babiloniese Priester en die Babiloniese Tempel Maagde die kerk in gebring. Kersdag was die geboortedag van Jesus, wat in werklikheid die geboortedag van Tamus is, die groot godeseun uit die Babiloniese leer.
So is daar nog baie leerstellings wat vandag ‘n integrale deel van ons Christelike “erfenis” is, wat nie sy oorsprong by God gehad het nie. Die Bybel is baie presies oor die instellings wat God van ons verwag. Tog is dit belangrik om hier te besef dat dit ‘n groot dwaal was om van Maria ‘n “God” te maak. Dit staan lynreg teenoor die Tweede Gebod.
Kersfees, Priester, Nonne
Met Kersfees, die ongetroude Priester, en die Nonne is dit nie so ‘n ernstige saak nie. Ons verbreek nie God se insettinge/wet nie. Dis mensgemaakte konsepte. Die Babiloniese/antieke heidense gelowe het hierdie konsepte gefabriseer en dit is in ons Christelike ervaring vermeng. Ons moet nie die nonne en monnike oordeel nie, daar is pragtige nonne en monnike vandag. Hulle is net dronk van die dwaalleer, soos die hele wêreld is. Hulle is goeie mense, hulle is net mislei. Ons moet besef dat God nooit van ons gevra het om selibaat te wees nie. God gee ons die keuse of ons wil trou of nie. Tot Paulus het nie getrou nie en het wel uitgewys dis beter so, maar nie ‘n vereiste nie.. Let op na:
1 Kor. 7:32, 33 “Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag. Maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag.“
Ons moet net besef dat God nie van ons verwag om kersfees te hou nie en dat God nie van ons verwag om nie te trou nie.
So ook met die viering van Kersdag. Wanneer kersdag vandag gevier word doen mense dit nie om Tammus te vereer nie. Dit is net belangrik vir ons om te weet wat die oorsprong van hierdie dinge was. Dis ‘n mens gemaakte konsep. Kersdag is nie vir ‘n vervanging of verandering van ‘n instelling van die Here nie. Dit is suiwer ‘n menslike instelling. Wat tog, as dit reg gehou word, ons gedagtes kan terug vat na die Messias se geboorte. Ons moet verstaan dat dit nie ‘n gebod van God oortree om kersfees te hou of nie. Satan het baie vreemde goed in die kerk ingebring, maar sy hoof aanvalspunt was die verlossingsplan en die wet van God.
Die Tien Gebooie
Die grootste instelling of standaard lewensreël is die Tien Gebooie. Die profesie lig egter een kardinale punt uit waaraan die Antichris sy hand sou slaan en dit is die verandering van die Wet van God en tye van die wet. Die eerste wet van die Tien gebooie wat deur God ingestel was, is die Sabbat. Dit was reg aan die begin ingestel, voor die sondeval.
Gen.2:1-3 “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leermag. En God het op die sewendedag Sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewendedag gerus van al Sy werke wat Hy gemaak het. En God het die sewendedag geseën en geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”
Dit dan ook die eerste van die Tien Gebooie wat ingestel was. Die Sabbat is ook die gebod wat die meeste omskryf en herhaal word. Kom ons kyk nou vir ’n oomblik na die gebod self:
Exodus 20:8-11 “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen Maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sewendedag geseën en dit geheilig.“
Teken Tussen My en Julle






Hierin word ons baie pertinent gevra om dit te heilig. Vir die ses dae kan ons al ons sake afhandel, maar die Sewendedag behoort aan ons Skepper. Ons moet dit heilig en toesien dat ons hele huisgesin dit onderhou. DAN WORD ONS WEEREENS DAARAAN HERINNER DAT DIT BY DIE SKEPPING INGESTEL WAS AS ‘N SKEPPINGS ORDINANSIE. Daardeur erken ons verbandskap met God.
Die Sabbat is dan ook ons Seël of Teken dat ons aan God behoort.
Esegiël 20:12 “Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat hulle heilig.”
Die woord wat as teken vertaal geword het, kan net so wel seël vertaal geword het. Die Sabbat is ‘n bewys/seël/teken dat God jou heilig. Ja, God is die een wat jou kliphart uithaal en vir jou ‘n hart van vlees gee. Dis God, die een wat jou geskape het, wat jou nou weer herskape(heilig). God verklaar dat die Sabbat is ‘n teken dat Hy jou heilig. Net die Skepper God kan jou heilig. Net die Skepper God kan jou herskape.
Esegiël 20:20 “En heilig my sabbatte; en hulle sal ’n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is.”
As ons dus die Sabbat onderhou, is dit ‘n bewys dat ons graag aan die Here wil behoort en dat dit die Here is wat ons geheilig het. Dis ‘n bewys dat God ons kliphart uithaal en vir ons ‘n hart val vlees gee, dat God ons nuwe skepsels maak, dat God ons Heilig. Dis die teken dat ons, nie net deur God geskape was nie, maar dat God die een is wat ons Herksape. DIE SABBAT IS ‘N TEKEN DAT GOD ONS GOD IS.
JOHANNES 14:21.23 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Wanneer ons tyd met God spandeer, wanneer ons in gehoorsaamheid Sy gebooie bewaar, wanneer ons Hom kies sal die Bybel vir jou begin sin maak, want Jesus en Sy Vader gaan in jou kom woning maak. In jou gaan jy ‘n innerlike lewens motivering wees wat jy vroeër nie geken het nie.
Jesus Se Gewoonte
Jesus wat ook gekom het om ons volmaakte voorbeeld te wees, het gereeld die Sabbat onderhou. Let op die volgende teks.
Lukas 4: 16 “Toe kom Hy in Nasaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die Sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.”
Paulus Se Gewoonte
Dit was ook die gewoonte van Paulus, meer as veertig jaar na die kruisiging om die Sabbat te onderhou.
Han 12:2 “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie Sabbatte met hulle gespreek uit die Skrifte.”
Wat was Paulus se gewoonte byna 44n.C.?
Han 18:4 “En hy het elke Sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.”
Paulus het ook die heidene op die Sabbat onderrig.
Han 13:42,44 “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende Sabbat tot hulle gespreek word. En die volgende Sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor.”
Dit is dan duidelik dat Paulus geensins die Heidene wou leer om die Sondag te onderhou nie. Hy het voort gegaan om die Sabbat te onderhou en juis van die Sabbat gebruik gemaak om die Evangelie te verkondig.
Matt 5: 17-19 “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verby gaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verby gaan nie, totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense so leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemel; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemel.”
Jesus stel dit onomwonde dat ons nie die wet in sy kleinste besonderheid mag verander nie. Ja, nie eers ‘n punt of komma mag ons verander nie. As ons wel die gebooie van God onderhou en andere ook leer om dit te onderhou, gaan ons groot genoem word in die hemel. Dan ook baie duidelik dat as ons die gebooie verbreek sal daar in die koninkryk van liefde nie eers na ons verwys kan word nie.
‘n Baie Sterk Stelling – Deur Paulus
Heb: 4:3,4,5,8,9 “Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal my rus nie ingaan nie – alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld volbring is.”
Hierdie is baie sterk woorde wat ek glo ons almal hoop om nooit te hoor nie. Maar die vraag is dan nou, waaroor voel die Here so sterk? Ja Maria Magdalena en die vrou by die put het vergifnis ontvang, wat van die grondlegging van die wêreld al in plek gestel is. Maar waaroor voel God se sterk dat sekere mense Sy rus nie sal ingaan nie?
Daar bly dus ‘n Sabbatsus oor vir die Volk van God
Kom ons kyk nou versigtig na die volgende verse, wat die rede gee:
Heb 4:4,5 “Want Hy het êrens van die sewendedag so gespreek: En God het op die sewendedag van al Sy werke gerus; 5. en nou hier weer. Hulle sal My rus nie ingaan nie.“
Hier word daar ondubbelsinnig na die Sabbat verwys en weereens herhaal dat ons hierdie gebod nie oor die hoof mag sien nie. In vers 8 word dit ook duidelik gestel dat daar nie nou na ‘n ander dag verwys word nie.
Heb 4:8 “Want as Josua aan julle ‘n rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag spreek nie.”
Nou in die volgende verse gaan dit onomwonde gestel word dat die Sabbat vandag nog net so bindend is as wat dit was die dag toe God dit ingestel het.
Heb 4:9 “Daar bly dus “n Sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in Sy rus ingegaan het, rus self ook van sy werke soos God van syne.”
Die woord wat gebruik word vir Sabbatsrus in vers 9 is sabbatismos. Die rus wat uiteindelike vir jou gaan lei tot die ewige rus. Dis die rus wat by die Skepping ingestel is. Hierdie rus wat jy in die Here rus. Ja, gaan werk jou ses dae, maar ek het hierdie tydperk eenkant gesit deur God, sodat jy en God saam kan rus. Ja God het dit geseën en geheilig.
Die Satan het baie pertinent besef, solank die mens in ‘n verhouding met God staan, kan hy die mens nie aanraak nie. Daarom, moes Satan, as hy die mens meer suksesvol wil mislei, moes hy hierdie tyd van die wet verander. Dank God, honderde jare voor Satan dit gedoen het, die Bybel dit voorspel.
Heb 4:10 want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.
Watter dag is Sabbat?
Lukas 23:54,56 “Dit was Vrydag, en die Sabbat het al begin aanbreek Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die Sabbatdag het hulle gerus soos die gebod bepaal. Die Sondag more vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het.” (AFR 83)
Sabbat is die dag na Vrydag en word opgevolg deur Sondag.
Dit Was Voorspel Dat Die Sabbat Vertrap Sou Word
Esegiël 22:26 “Sy priesters verkrag My wet en ontheilig My heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie; daarby maak hulle hul oë toe vir My Sabbatte; ja, Ek word onder hulle ontheilig.”
Hier word baie duidelik voorspel dat die WET VAN GOD vertrap sou word, en dat dit wat God as REIN, ook dit wat Hy as HEILIG gestel het, nie ge-ag sou word nie. Baie duidelik word dit uitgelig dat die mense nie bereid sou wees om die HEILIGHEID VAN DIE SABBAT te erken nie.
DIT WAS OOK VOORSPEL DAT DIE HERE ONS GAAN TERUG ROEP NA DIE ONDERHOUDING VAN DIE SABBAT.
Dis merkwaardig om te sien dat die hoofstuk in die Bybel gegee word as: “VALSE en WARE GODSDIENS”
Jesaja 58:12,13 “En die wat uit jou voorkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van die vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.”….
Hier word dit duidelik gestel dat God weer die mens sal terugroep tot dit wat oorspronklik ingestel was, en wat nou soos ‘n ou murasie deur die mens verwerp en vertrap is. Ja, dit sê hier dat die weg wat die Here oorspronklik vir ons gegee het om op te wandel, weer ingestel moet word.
MAAR WAT IS DIT WAT DIE BYBEL HIER NA VERWYS, WAT TERUG GEBRING MOET WORD?
Jesaja 58:12-14 “.…As jy jou voet terug hou van die Sabbat,- om nie jou sake op My heilige dag te doen nie, en as jy die Sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek, of ydele taal spreek nie; Dan sal jy jou verlustig in die Here, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die Here het dit gespreek.”
Die Sabbat Gaan In Die Hemel Onderhou Word
Jesaja 66:22,23 “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, sal julle nageslag en julle naam bestendig wees En elke maand op die nuwemaan en elke week op die Sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor My aangesig, sê die Here.“
Hier word dit dan onomwonde gestel dat in die Hemel en op die nuwe aarde ons nog steeds die Sabbat sal onderhou. Daar is nie sprake daarvan dat ons in die hemel ‘n ander dag sal onderhou nie.
Open. 17: 8



Die Sabbat vertrap deur verraad
Die ANTICHRIS, DIE KLEIN HORINKIE, DIE POUSDOM, HET DIE SABBAT VAN DIE HERE NEERGEWERP EN DIE DAG VAN DIE SONNEBEELD, NAAMLIK SONDAG INGESTEL.
Dit was dan juis die waarskuwing en voorspeIling in die boek Daniël.
Daniël 7:25 “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd.”
Ja, dit was presies wat die dier met SEWE KOPPE en TIEN HORINGS gedoen het. Dit is dan juis hierdie dier wat die VALSE KERKE dra.
Die Goue Beker in haar hand is vol gruwels. Hoe swaar dit ook al vir ons is, moet ons besef dat Sondag, die eerste dag van die week, nie by God sy oorsprong het nie. Dit is die dag van die Sonnebeeld. Die dag waarop die son aanbid was.
Open 17:5 “En op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.”
Verborgenheid = Groot Babilon. Sy is nie van die Here nie. Haar oorsprong is uit die Heidendom.
2Thess 2:7 “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk.”
Die ongeregtigheid lê vandag verborge
Open 17:6 “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.”
Dit was die Katolieke Kerk wat mense by die miljoene om die lewe gebring het. Johannes het hom verwonder toe hy haar sien. Hy was baie verbaas toe die Here hierdie groot bewegings aan hom getoon het. Hoekom was hy verwonderd toe hy hulle sien?
Want dit lyk so eg. Dit lyk so Christelik. Dit is juis die waarskuwing in Mattheus.
Matt 24:24 “Want daar sal valse Christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
Die Bybel sê hy het hom uitermate verbaas toe hy haar sien. Net so verbaas soos u en ek is by die aanhoor van hierdie profesie. Die Bybel noem dit ‘n verborgenheid. Dit het sy ontstaan by die moeder van die gruwels van die aarde.
Open 17:7 “Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra.”
Die engel raas nou met Johannes en vra hom waarom hy nie glo wat aan hom verduidelik is nie. AI lyk die dinge so Christelik, is dit nie van God nie. Die Engel sê dat hy dit nou weer aan hom sal verduidelik. Hy herinner hom daaraan dat dit die dwaalleer van die dier met die Sewe Koppe en die Tien Horings is. Met ander woorde, die leer van die Antichris.
Nou gaan alles weer vir ons saam gevat word deur die volgende teks.
Open 17:8 “Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.”
Die Dier Was, en Is nie en sal weer opstaan en sal in die verderf eindig. Tog sal die bewoners van die aarde dit met die grootste bewondering en agting bejeën. Hulle wat nie ag gegee het op die Openbaring van Jesus nie. (Opb 13:8)
As jy ag gee, word jou naam in die Boek van die Lewe geskryf. Dit is waarom ons gevra word om hierdie dinge te Lees, dit werklik te Hoor, en dit dan te Glo. Met ander woorde, die dwaalleer uit u lewe verwyder “die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is“
Alhoewel die dier nie meer is nie is hy en sy misleiding nog by ons. Die vraag is wat maak jy met die Bybelse waarheid? Staan jy verwonderd as jy die dier sien en volg jy hom na? Of vat jy die waarskuwing van God, wat wys dat die dier en die hoervrou jou mislei al lyk sy so wonderlik. As jy nie uit haar uit kom nie, gaan jy saam met haar die plae ontvang.
Die Pousdom het vir 1260 jaar bestaan, en sy Staatsmag is hom ontneem in 1798. So het hy sy dodelike wond ontvang, maar dit was nie die einde van die Pousdom nie.
Openbaring 13:3 “En ek het een van sy koppe gesien net of dit lelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan”
Sabbat na Sondag




Die wond genees en hy is besig om weer sy wêreld aansien terug ontvang. Die Bybel sê dat die hele wêreld hom nou eers met verwondering navolg.
Wat hulle navolg is sy Dwaalleer wat hy vanaf die Heidendom die Kerk ingevoer het. Hulle het dit aangegryp en aanvaar as die leer van God.
Dit is die hoofdoel van die boek Openbaring. Om aan die wêreld die waarheid uit te lig.
Die waarheid dat die meeste die Dier, die Antichris, dit is die Pousdom, se leer met verwondering navolg en nie meer glo en doen wat die Bybel regtig leer nie.
Ons begin nou Mattheüs 7:21,22,23 verstaan.
Open 17: 9 “Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is die sewe berge waar die vrou op sit.”
Hierdie teks kan dit nie duideliker uitspel nie. Die Pousdom = die Antichris, Dit is die leer van die Pousdom wat almal navolg.
Hier kom die groot verduideliking nou in.
Open 17:10 “En hulle is sewe konings, vyf het geval, en een is; en die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ‘n kort tydjie bly.”
Hulle is sewe konings. Die dwaal het ontstaan en verloop in sewe eras. Die dwaal het by Babilon begin.
Daarna het dit oorgegaan na die Meders en die Perse en toe deur die Grieke en verder deur die Romeine oorgeneem. Dit was die eerste vier eras.
Ja, die Romeinse Ryk het nou verander in die Rooms Katolieke Kerk. Dit was ‘n vermenging van die Heidense leerstellings met die Christelike Leerstellings.
Dit was die slinksste aanval nog ooit op die kerk. Dit het gebeur in die tyd wat in die geskiedenis die Donker Eeue genoem word. Dit was ‘n Donker Tyd. Die algemene lid was nie toegelaat om ‘n Bybel te besit nie (Dit was op die grond neergewerp).
Toe die voortrekkers met hulle ossewaens ons land makgemaak het, was hierdie groot dwaling al lank reeds ingeburger in die kerke. God het hierdie aanval van die Satan eers geheim gehou. Dit sou eers hier aan die Tyd van die Einde deur die boeke Daniël en Openbaring oop gemaak word.
Hand 17:30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,
God het die inligting verborge gehou. Met ons volgende lesing gaan ons sien hoekom dit verborge gehou is.
Vyf het geval en een is.
Op die stadium wat die verborge inligting oopgemaak was, ‘n ruk na die 1260 jaar was die eerste vyf eras al verby en het die sesde era op hierdie stadium al die lewenslig gesien.
Die Katolisisme was opgevolg deur die Protestante. AI was die lesse van die Protestante beweging “Solo Scripto” (die Bybel en die Bybel alleen) het hulle nie volkome terug gekeer na die leer van die Bybel nie.
Open 3: 1,2 “En skryf aan die gemeente van Sardis: …. Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood. Wees wakker. … Want ek het jou werke nie volkome gevind nie.”
Die sesde era is nie net die Protestante nie, maar die mag loop saam met die protestante.
Die Sewende Era
Die sewende het op daardie stadium nog nie gekom nie, maar wanneer hy kom moet hy vir ‘n kort tydjie bly. Dit is die Lamagtige-dier wat ons in ons volgende lesings uit
Openbaring 13: I 1-19 met u gaan deel.
Die dier wat was en nie is nie, wat se wond weer genees het en dus nou bestaan, word nou hier gestel as ‘n agtste. Met ander woorde, die Vyfde Era, die Katolieke kerk sal as ‘agtste” hier aan die Tyd van die Einde saam met die Sewende mag heers. Hierdie twee sal tot en met die einde hul valse verleidende invloed deur die wêreld laat geld.
Vers 1,3,5,9,11,18
Open 18:4 “En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en haar plae ontvang nie.”Kom uit haar uit My volk. Die Hele wêreld volg met verwondering die leer van die Katolieke Kerk direk of indirek na
Lesing Media
Lesing 10, DieValse kerk (Die Hoervrou van Openbaring), pdf: 10 Die Valse Kerk.pdf
Volledige klankbaan van Lesing 10 : Die Valse Kerk.mp3
Oorspronklike Video van Lesing 10: 10 Die Valse Kerk (Die Hoervrou van Openbaring) (Hiedie skakel vat u na ons OneDrive omgewing toe, waar u dan op die aflaai pyltije
moet druk.
Elke hoofstuk word aan die einde van die bladsy beskikbaar gestel in pdf (geskrewe formaat), mp3 (klankbaan) en mp4 (video). U is welkom om die materiaal en die webwerf te deel soos u goeddink. Daar is wel een voorwaarde: moet nie die inhoud op enige manier verander dat dit afbreek maak van die oorspronklike nie. As u enige veranderinge aan die oorspronklike wil maak, kontak ds. Louis Jordaan se seun Jaco by info@TeksOpTeks.co.za of TeksOpTeks@gmail.com



