Lesing 5: Die Duisend Jaar
Ds. Louis Jordaan
Die reeks bestaan uit 16 lesings. Ek stel voor dat u by lesing 1 begin en werk stap vir stap deur die lesings. Byna al die verse is aanhalings uit die 1953 Arikaanse Bybel. Onder aan elke lesing kan u die volledige lesing aflaai in pdf, klankgreep en video.
Onderaan die bladsy is die skakels vir die volledige pdf, mp3 en video van die lesing.
Hfst. 5: Inleiding
Die duisend jaar is die tydperk tussen die eerste en 2de opstanding
Gewoonlik kyk ons holisties na verse, waar ons na die hele Bybel kyk om vir ons die “prent” te skilder oor ‘n onderwerp. Met die 1000jr. is ons beperk met net Openbaring 20. Nêrens anders in die Bybel kom die onderwerp voor nie. Hierdie 1000jr is die tydperk tussen eerste en tweede opstanding.
Daar is so bietjie sensasie rondom die duisend jaar, wanneer dit begin en eindig en waar… maar dit moet ons sekondêre rede wees vir die ondersoek. Ons moet met ‘n gebed in ons hart vra, wat wil God vir my vandag sê? Wat wil God vir my wys van die “hiernamaals”. Soos Paulus in Korintiërs vir ons uitwys: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” (1Kor 2:9) Laat ons gedagtes bepeins oor wat God vir ons wel uitgewys het.
Onthou dat die eerste drie hoofstukke vir ons uitgewys het hoe sonde in die wêreld ingekom het en die laaste drie hoofstukke vir ons wys hoe sonde heeltemal verwyder is. Ons gaan begin kyk na daardie laaste 3 hoofstukke
Satan Gebind Vir Die Duisend Jaar
Open 20: 1-3 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand, En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, En hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
Ketting Van Omstandighede
Hoe word die afvallige engele gebind?
2 Pet 2:4 “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;”
Hier sien ons dat die Bybel praat van simboliese kettings, nie letterlike kettings nie. Kettings van duisternis! So wat is die kettings wat Satan bind? Watter omstandighede geld op daardie stadium? Wat gebeur terwyl Satan gebind word?
Die Opregtes
1Thess 4:16-18 “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Die regverdiges is nou nie meer op die aarde nie. Hulle is Hemel toe!. Hulle is besig om in wolke weg gevoer te word die Here tegemoet in die lug!
Ons eerste taak in die Hemel
Die Goddeloses
2Thess 2:8 “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.” (Jer 25:33, Jer 4:24-27)
Die Goddelose, die wat lewe wanneer Jesus kom, sal dan verdelg word. Hulle sal oor die aarde verstrooi lê en nie versamel word nie.
Open 20:5 “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.”
Die onregverdige dode herlewe nie tot na die duisend jaar nie.
Die omstandighede wat Satan bind, is dat almal buite sy bereik is. Die Regverdiges opgeneem in die Hemel en die Onregverdiges is nog in hulle Grafte. Hulle gaan eers aan die einde van die 1000jr. opgewek word.
Dus is daar niemand wat hy kan mislei of versoek nie. Hy is gevange geneem in ‘n tronk… waar niemand is nie, want die onregverdiges is dood en die regverdiges is hemel toe.
Ons Eerste Taak In Die Hemel
Open 20:4 “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee;…
1 Kor 6:2,3 “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?”
Die grootste saak op ons gedagtes op hierdie stadium sal wees:
Wie is gered en wie is nie? Is my kinders en my ouers daar?
God se Genade is vir Almal maar nie almal wou dit aanvaar nie.
Matt 24:31 “En Hy sal Sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”
Matt 9:30 “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”
Daar gaan dus mense in die hemel wees wat jy nooit daar verwag het nie. Erger as dit, daar gaan mense in die hemel wees wat jy daar verwag het, maar wat daar nie is nie.
Die grootste wonder is dat jy self daar is.
Matt 24:40,41 “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.”
Van ons geliefdes gaan nie in die hemel wees nie.
Die einde van die duisend jaar
Paar punte wat nou verstaan moet word:
- Die oordeel is klaar gedoen. Dit word die ondersoekende oordeel genoem. Daardie oordeel is gedoen voordat Jesus ons kom haal het. Hy het klaar geweet wie gaan hemel toe en wie word verdelg voordat Hy aarde toe gegaan het, want met die wederkoms, word sekeres gehaal en ander vernietig, sekeres word opgewek en ander word nie opgewek nie.
- God wil hê dat ons Sy oordeel regverdig ag. Dit dan die rede waarom die Here die Oordeel ook deur ons hande wil laat gaan, sodat ons kan sien hoe die mense gereageer het op Sy roepstem, op Sy verlossingsplan.
- Hoe sal ons geluk in die hemel beleef as ons dink Hy het nie regverdig geoordeel nie.
- Net die Regverdiges is in die Hemel. Die onregverdiges sal eers aan die einde van die 1OOOjr.opgewek word.
Om te laat te ween is ‘n verskriklike saak. Dit is baie beter om nou te ween. Dit is beter om nou die Bitter-Soet inligting aan te hoor as om dit te laat te hoor.
Open 20:4 (volledig) 4En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.
Ons gaan almal se lewensboek kan uitneem en kyk hoekom is die een hier en die ander nie. Ons sal die martelare, Johannes Hus, Calvyn, Martin Luther se boeke kan deurkyk.
Ons gaan nog kyk oor wie die dier en sy beeld is. Ons gaan sien dat ALMAL op die aarde die beeld en die dier aanbid. Almal is darem ‘n baie omvattende woord. Wat is spesiaal aan ons dat ons nie mislei is nie?
Ons sal moet besef ons moet weet wat is die merk van die dier, sodat ons kan seker maak ons kry nie die merk nie.
Laastens gaan ons as konings regeer. Jy kan nie ‘n koning wees, ‘n bestuurder wees, as jy nie die hele besigheid verstaan nie. Wanneer ons in die Hemel is, kyk ons nie meer in ‘n Spieël en ‘n raaisel nie(Paulus) maar ons is dan ingelig.
Perspektief:
I. Die eerste opstanding is die begin van die IOOO jaar.
2. Die tweede opstanding sluit die 1000 jaar af,
3. Die tydperk tussen die twee opstandings staan bekend as die 1000 jaar.
4. Gedurende die 1000 jaar is die regverdiges in die hemel saam met Jesus.
5. Gedurende 1000 jaar is die goddelose nog in hul grafte, daar is geen lewe op die aarde nie.
6. Die Satan is deur hierdie omstandighede gebind vir die 1000 jaar.
7. Aan die einde van die 1000 jaar word Satan vir ‘n kort tydjie ontbind, as die onregverdiges uit die grafte uit opgewek word.
Einde Van Die Duisend Jaar
Open 20:7 “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis
ontbind word.”
Goddeloses vir ‘n kort tydjie opgewek saam met Satan
Heilige Gees pleit nie nou meer met die goddeloses nie. Satan is nou in volle beheer.
Open 20:5 ‘En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.”
Open 20: 13 “En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke,”
Nou was die regverdiges vir ‘n 1000 jaar in die Hemel. Die goddelose word nou opgewek.
Satan Verlei Weer Die Mense
Open 20:7,8 “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; En hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die God en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.”
Hulle wie nie hierdie genade boodskap van God in Openbaring, Sy laaste oproep aan die wêreld aanneem nie, sal soos die sand van die see wees. Dit is ‘n baie swaar boodskap hierdie. Hoe baie sand is daar nie op die strand nie? Daar is so min wat reageer op God se roepstem. Daar is so min wat Hom wil volg waar Hy ook heen gaan. Daar is so min wat wil toelaat dat die Woord van God hul heilig (Joh 17:16-18).
Matt 7:13–15 13Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 14Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.15Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
Rom 9:27 En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word; (Jes 10:22)
Soek Jesus terwyl Hy nog te vinde is. Dis U vrye keuse!!!
Die Nuwe Hemel en die Nuwe aarde
Goddelose wil die Nuwe Jerusalem Vernietig
Wat gebeur met die regverdiges na die 1000 jaar?
Open 21:2 “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.”
Satan is in volle beheer oor die goddelose. Kwaad kom tot volle wasdom. God laat dit toe vir ‘n kort tydjie. Onder aanvoering van die Satan omsingel die goddeloses nou die Regverdiges wat met die Nuwe Jerusalem vanuit die Hemel neer gedaal het. Maar God sal nie toelaat dat hierdie oormag die Regverdiges vernietig nie.
Onthou jy is nou net klaar met die Oudit van die oordeel. Jy het gesien God was regverdig met Sy oordeel. En nou met die opwekking van die ontelbare goddeloses, sien jy jou broer weer, in die sondige toestand, sondige liggaam.. Nou kom die vrugte van die sonde tot wasdom. Jou broer verenig met Satan om jou en die stad(nuwe Jerusalem) te vernietig. Die ware karakter van al die goddeloses word nou finaal gewys.
Open 20:9 “En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel …
Die onregverdiges kom uit hulle grafte in dieselfde toestand as wat hulle daarin is. Met dieselfde sondige verwronge liggame, met dieselfde, haat, jaloesie, selfsug, selfverheffing…
Daarteenoor was die regverdiges 1000 jaar saam met God.
Dit is op hierdie stadium die enigste geleentheid dat die Regverdiges en die Onregverdiges saam voor God sal verskyn. Die regverdiges in die Nuwe Jerusalem saam met God en die Onregverdiges wat die stad nou omsingel het onder aanvoering van die Satan. Hulle is gereed om die stad te vernietig.
Open 20:9 “En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.”
God se vreemde daad [Jes 28:21]
Ons het vir hierdie lewe die Kwaad geken vir 60-80 jaar. Kennis Van Goed En Kwaad. Die goddelose bevestig God se regverdigheid. Dit is op hierdie stadium soos Paulus sal sê dat elke knie voor die Here sal buig.
Na die 1000 jaar in die Hemel sal ons ook die Goeie beleef het vir ‘n 1000 jaar. Dit is net moontlik dat ons al vergeet het, teen hierdie tyd, hoe die kwaad regtig is. Nou sien ons die kontras tussen goed en kwaad. Ons was vir 60-80 jaar deel van die kwaad en 1000 jaar weg van die kwaad.
Vuur Daal Neer En Vernietig Die Onregverdiges
Hulle verdorwenheid is nou duidelik, want onder aanvoering van Satan omsingel hulle die Nuwe Jerusalem met die doel om die regverdiges te vernietig, Hierdeur word hulle ongeskiktheid vir die ewigheid baie duidelik geïllustreer. Almal besef dat die beëindiging van hulle bestaan ‘n genade daad teenoor hulle is.
Vuur Daal Neer En Vernietig Die Onregverdiges
Open 20:9 “En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.”
Sodom En Gomorra As Voorbeeld
Jud 1:7 “Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.”
Die Dooie see – die enigste dooie kol op aarde. Daar lewe geen vis of enige Lewende organisme nie. God het dit as voorbeeld gestel van hoe hierdie vernietiging sal plaasvind.
Die vuur wat Sodom & Gomorra vernietig het, was ‘n Ewige Vuur genoem. Daardie vuur brand nie nog vandag nie. Dis woestyn en ‘n dooie see. Die ewigheid daarvan het nie daarin gelê dat die vuur vir ewig gebrand het nie, maar dat die gevolg daarvan vir ewig is. .
As ons die ewige vuur wil verstaan sê die Bybel moet ons na die vernietiging van Sodom & Gomorra kyk, want dit is as ‘n voorbeeld aan ons gegee.
Die Nuwe Hemel En Die Nuwe Aarde
God het Sy vreemde daad uitgevoer en die ewige lewe herstel.
Open 2 I: 1,2 “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is,”
Die Here Gaan Nou By Ons Woon
Open 21:3 “En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel(God se blyplek) van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal Sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.”
Die Trane Afgevee
Open 21:4 “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
Dit is verby!
Ons het nou net van ons geliefdes buite die stad gesien en daarna sien ons hoe hulle in rebellie teen God en ons draai, – heeltemal ongeskik vir die ewigheid – en God moes hulle vernietig. – God het ons trane af gevee en ons verseker daar sal nooit weer dood wees nie, ons sal nooit weer ween nie, ons sal nooit weer moeite hê nie, WANT die eerste dinge het verby gegaan… DIS VERBY!
Ja, God het die sondaar (u en ek ) lief, maar die sonde vernietig!
Dit Is Die Waarheid.
Open 21:5 “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.“
Hierdie woorde is die waarheid. Wat doen ons met hierdie waarheid!
Die Sondenag Is Verby
Open 21:6 “En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.”
Ons Moet In Jesus Oorwin. Daar is geen rede dat jy verlore hoef te gaan nie.
Open 21:7 “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.”
Oproep van God af:
Open 21:8 “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.”
Ons gaan weer huise bou en bewoon
Die Nuwe Hemel En Die Nuwe Aarde
God se beloftes bly standvastig staan. Nie alleen skenk Hy ons die ewige lewe nie, maar Hy reinig ons gedagtes van die vorige dinge.
Jes 65: 17 “Want kyk, Ek skep ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word nie, en hulle sal in die hart nie opkom nie.”
Ons gaan weer huise bou na ons smaak
Jes 65 :21 “En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan “
Geen Oorheersing
Jes 65:22,23 “Hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van My volk sal wees soos die dae van die bome, en My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ‘n geslag van die wat deur die Here geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.”
Geen vloek meer nie
Jes 65:25 “Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ‘n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op My hele heilige berg nie, sê die Here.”
Ons sal saamkom vir Aanbidding
Jes 66:22,23 “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwe maan en elke week op die Sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor My aangesig, sê die Here.”
Groot Waarskuwing
2 Pet 3:3,4 “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel, en sê: Waar is die belofte van Sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”
Die Here het ‘n Vasgestelde Tyd Vir Sy Wederkoms
2 Pet 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Die dag van die Here gaan skielik kom
2 Pet 3: I0 “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”
Die nuwe hemel en die nuwe aarde is ons vaste hoop2 Pet 3: 13 “maar ons verwag volgens Sy belofte, nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.
Lesing Media
Lesing 5, Die Duisend Jaar, pdf: 05 Die Duisend Jaar – Openbaring van Jesus Christus – JLL Jordaan.pdf
Volledige klankbaan van Lesing 05 : Die Duisend Jaar
Oorspronklike Video van Lesing 05: 05 Die Duisend Jaar -JLL-Jordaan.mp4
Elke hoofstuk word aan die einde van die bladsy beskikbaar gestel in pdf (geskrewe formaat), mp3 (klankbaan) en mp4 (video). U is welkom om die materiaal en die webwerf te deel soos u goeddink. Daar is wel een voorwaarde: moet nie die inhoud op enige manier verander dat dit afbreek maak van die oorspronklike nie. As u enige veranderinge aan die oorspronklike wil maak, kontak ds. Louis Jordaan se seun Jaco by info@TeksOpTeks.co.za of TeksOpTeks@gmail.com