Die Boek Openbaring – 11 Die Uur van Sy oordeel het gekom

Die Drie Engel boodksap

Ds. Louis Jordaan

Die reeks bestaan uit 16 lesings. Ek stel voor dat u by lesing 1 begin en werk stap vir stap deur die lesings. Byna al die verse is aanhalings uit die 1953 Arikaanse Bybel. Onder aan elke lesing kan u die volledige lesing aflaai in pdf, klankgreep en video.

Onderaan die bladsy is die skakels vir die volledige pdf, mp3 en video van die lesing.

Die Oordeel is ‘n goeie boodskap

Die oordeel het altyd ‘n negatiewe konnotasie aan ‘n oordeel konsep.  Wanneer ons ‘n konstabel by die deur sien met ‘n dagvaardiging in sy hand is ons geskok.  Wat ons egter nie aan dink nie is dat die regter ons skuldig of onskuldig kan verklaar.  Ons is bang vir skuldig, maar die teenoorgestelde kan ook plaasvind waar ons onskuldig verklaar word. Daarom verklaar die boek Johannes dat die oordeel deel is van die goeie nuus.  Ons gaan in die lesing sien hoe God hierdie as goeie nuus verklaar.  Want jy mag veroordeel word OF jou verlossing mag vir ewig bevestig word. In hierdie lesing gaan u besef dat u kan kies aan watter kan u staan.  Soos Hebreërs vir ons verklaar dat ons ‘n Hoë Priester, ‘n advokaat het wat in ons verlossing belangstel.  Hy ken ons agtergrond, ons rea leemtes, soos wat Hy Maria Magdalena geken het, soos Hy Saggéüs se geldgierigheid geken het en hulle gaan in die Hemel wees. Ons het ‘n advokaat, die beste advokaat wat jou saak stry en hy sit aan die regterhand van God. 

Die Eerste Engel Se Boodskap

In Openbaring 14:1-5 verklaar vir ons die 144000, maar in die lesing gaan ons nie daarna kyk nie, maar wel na hul karaktertrekke. Ons begin by vers 6:

Open 14:6 “En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” 

Hierdie engel vlieg in die middel van die lug. Dit is dan ewe vêr van almal af.  God roep na elke mens.  As jy Sy stem wil hoor kan jy dit hoor.  Onthou ons kyk na die oordeel en hoe jy die ewigheid kan verkry.  Soos elke vers van die Bybel gelees en behandel word, werk die Heilige Gees op jou hart en God kyk hoe  jy daarop reageer.

Elkeen wat God met sy hele hart soek sal Hom vind. Ja hulle sal God se goeie nuus van verlossing, die evangelie vind.  

Wat is die aankondiging wat hy nou wil maak?

Open 14:7 “En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die see en die waterfonteine gemaak het.”

Sy groot aankondiging wat hy maak, is dat DIE UUR VAN GOD SE OORDEEL nou aangebreek het. Dit is dan nou ook die onderwerp van hierdie studie, naamlik die OORDEEL.

Die Oordeel.  Wanneer Jesus op die wolke kom is die oordeel al klaar gedoen.  Die regverdige dode(1Thess 4:16) word opgewek en die regverdiges wat lewe sal saam met hulle die Here tegemoet gaan in die wolke(1Thess 4:17).  Die onregverdiges is met “die verskyning van Sy wederkoms tot niet gemaak”(2 Thess 2:8) en die ander “dode het nie herlewe tot die duisend jaar voleindig”(Opb 20:5) was nie.  Dus wanneer Jesus kom, is die ondersoekende oordeel klaar afgehandel.

Wat is die eerste taak wat aan ons opgedra gaan word as ons deur die genade van die Here die Hemel instap?  Wat gaan ons maak as ons, ons pa daar verwag het en hy is nie daar nie?  Hoe gaan ons geluk vind in die hemel as ons dink God het verkeerd geoordeel?  In die duisend jaar gaan God die oordeel in jou hande plaas. Jy gaan die oordeel in jou eie hande neem en kyk hoe het God geoordeel en ons gaan sien hoe regverdig is God werklik. Open 20:4 “Ek het trone gesien en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee …

Is my geliefdes daar?

Hieruit is dit dan duidelik dat die eerste onderneming waaraan ons gaan deel in die hemel, gaan wees dat ons die OORDEEL gaan doen. Paulus stel dit ook baie duidelik.

I Kor 6: 2,3 “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?”

Deur die oordeelsboeke oop te maak, gaan ons sien hoeveel keer God na die siel uitgereik het, hoeveel keer God na hom geroep het.  Ons gaan sien wat almal weet, maar ons gaan sien wat in die geheim ook gebeur het.  Ons moet bid vir ons kinders en ‘n voorbeeld wees vir ons kinders.

Hierdie is egter ‘n baie ernstige en ‘n baie seer saak. In hierdie verslae van ons geliefdes wat dan nie daar is nie, sal ons baie duidelik hulle hele lewensloop kan naspeur. Ons sal sien hoeveel male die Here gepoog het om hulle harte te bereik, maar hoe hulle telkemale die Heilige Gees weggestuur het.

Omdat hierdie saak so ernstig is, is dit vir ons baie belangrik om te weet presies hoe die Here die oordeel gaan doen. Om hierdie saak te verduidelik gaan ons twee insidente neem uit die lewe van die WYSE MAN, SALOMO.

Die Gesteelde Baba

Toe Salomo as jongman op die troon gekom het, het die Here aan hom gesê dat hy enigiets van die Here kon vra en soos ons almal weet, was sy groot versoek dat die Here aan hom WYSHEID moes gee. Die Here het toe aan hom hierdie ‘Versoek toegestaan.

I Kon. 3:12 ” 12so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ’n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie..

Salomo was nog maar jonk op die troon toe hy oor ‘n baie delikate saak, ‘n oordeel moes vel. Dit was ‘n saak van ‘n baba diefstal. Dit was ‘n baie sensasionele saak. Soos alle baba diefstalle maar altyd is, het hierdie saak die hele Israel aangegryp.

 1Kon.3:20 “Toe staan sy in die middel van die nag op en neem my seun langs my weg terwyl u dienares slaap; en sy het hom in haar skoot neergelê, maar haar dooie seun in my skoot neergelê.”

In hierdie antieke tyd was dit vir ‘n vrou baie belangrik om kinders te kon baar en veral ‘n seun.  Hierdie vrou kon nie dink dat sy sonder ‘n seun moes wees en bekend moes wees dat sy haar seun dood gele het nie. Dus gaan sy dieselfde nag en ruil haar dooie seun om met die slapende dame langs haar se lewende seun. Natuurlik het die slapende dame die oggend gou besef dit nie haar seun wat oorlede is nie en sy gaan lê die klag.

Soos by alle sulke gevalle was die mense in twee gedeel. Sommige mense sal hulle skaar by die vrou wat die klag lê en die ander sal hulle skaar by die beskuldigde vrou. Deur hierdie saak te BEOORDEEL kon dit die jong Salomo se toekoms benadeel. Maak nie saak watter een van die twee vrouens hy skuldig vind nie. Die mense wat hulle agter die ander vrou sou skaar, sal nie tevrede voel nie.

Salamo se Wysheid

https://en.wikipedia.org/wiki/Judgement_of_Solomon

Hy sou dus op so ‘n manier moes oordeel dat die saak onteenseglik blootgelê word. Salomo het nou met die goddelike wysheid wat aan hom gegee was ‘n baie wyse besluit gemaak.

Die Lewende Kind In Twee Gekap

Salomo gee nou bevel dat die lewende kind in twee gekap moet word en die twee verskillende dele aan die verskeie vroue gegee moes word. In daardie dae was konings se bevele gehoorsaam, maak nie saak of dit ‘n lewe gekos het of nie. Hoekom doen Salomo so ‘n ding, wat is sy plan.  Niemand kan weer die lewe van die kind terugbring nie. Terwyl die soldaat gereed staan om die daad te pleeg, gereed, geoefen met ‘n skerp swaard staan die soldaat met die baba..

Die vroue staan daar, verstar.  Almal wonder wie praat die waarheid en wie is ‘n dief en leuenaar. Soms lyk dit of die opregte een die leuenaar is. Net soos Openbaring 12 en Openbaring 17 se twee verskillende vroue. Tot Johannes het verwonderd na die valse vrou gekyk.  Soms kom die valse vrou meer gaaf, meer subtiel en mooier voor.

Baie keer lyk dit of die gehoor eerder die valse vrou wil aanhang. Want sy is slinks.  ‘n Ware kind van God is nooit slinks nie.  Op die hitte van die oomblik, toe die swaard wou val het albei vroue geskree.

I Kon. 3:26 “Maar die vrou wie se kind die lewendige was, het met die koning gespreek, want haar binneste was ontroerd oor haar seun en het gesê: Ag, my heer, gee haar die lewendige kind en maak hom tog nie dood nie! – terwyl die ander sê: Hy sal nie myne en ook nie joune wees nie; sny deur.” .

Het u mooi opgelet na die verskillende reaksies van hierdie vroue?  Die vrouens se harte is nou ontbloot.  In ‘n oomblik van krisis het hul ware kleure uitgekom.

1 Kon. 3:27 “Toe antwoord die koning en sê: Gee haar die lewendige kind en maak hom in geen geval dood nie, sy is die moeder.”

Die volk kon toe nie anders as om die OORDEEL te aanvaar wat Salomo gemaak het nie, want hy het aan hulle bewys wat werklik in die harte van die twee vrouens aangegaan het. Die skuldige het haarself verraai en die onskuldige het baie duidelik haar onskuld bewys.  So kon die hele gehoor weet wat in elke moeder se hart aan die gang is. 

Let dan nou ook baie mooi op na die volk se reaksie nadat Salomo hierdie oordeel afgehandel het. Hulle verwys daarna as Goddelike wysheid.

1 Kon. 3:28 “En die hele Israel het gehoor van die vonnis wat die koning uitgespreek het, en hulle was bevrees vir die koning; want hulle het gesien dat daar goddelike wysheid in sy binneste was om reg te doen.”

Dit was die punt wat so duidelik uit hierdie verhaal na vore gekom het. God oordeel met goddelike wysheid. Die Here doen dus die oordeel op so ‘n wyse dat die hart van ons as mens duidelik blootgelê word, sodat almal die motiewe duidelik sal kan raaksien en dus besef dat God reg geoordeel het. God se oordeel is so.  Elke mens se hart gaan in die hitte van die oomblik ontbloot word.  Die Woord verklaar dat wanneer die nuwe Jerusalem gaan neerdaal, gaan elke knie buig en erken dat God regverdig is. Dieselfde het met Salomo se oordeel gebeur.  Die hele Israel het die regverdigheid, die Goddelike wysheid van Salomo erken en hom gevrees.

Hooglied

Die Oordeel Van Israel

Vir ons om die oordeel in die boek Openbaring te verstaan is dit vir ons noodsaaklik om te verstaan hoe die oordeel van Israel plaasgevind het. Om dit in perspektief te sien gaan ons nou uit die boek Hooglied ons volgende simboliek haal ter verduideliking van die oordeel.

Hooglied

Weereens in die boek Hooglied het ons met Salomo te doen. Hy aan wie die Here goddelike wysheid gegee het. Hier gaan ons nog iets leer aangaande Salomo se vermoë om te oordeel. Hierdie keer gaan ons sien hoe hy die dogters van Jerusalem beoordeel het.

Salomo Se Keuse Van Sy Vrou

Toe die jong Salomo vir hom ‘n vrou moes neem wat dan die KONINGING sou word, het hy in sy wysheid besef dat dit vir hom ‘n baie moeilike taak sou wees. Hy het besef dat baie dames bereid sou wees om sy vrou te word vanweë die eer wat hulle daardeur sou bekom en nie noodwendig omdat hulle hom as persoon lief het nie. Daarom het Salomo met ‘n baie slim plan na vore gekom. ‘n Plan waarmee hy seker sou maak dat die vrou wat hy uiteindelik mee sou trou, vir hom as persoon sou omgee, en nie net vir die eer wat sy sou bekom nie.

Salomo Se Plan

Salomo het sy koninklike klere uitgetrek en vir hom skaapwagtersklere aangetrek. Ook het hy vir hom ‘n trop skape geneem en dus vermom as ‘n skaapwagter na die Libanon vlakte gegaan, en hom daar voorgedoen as ‘n dood gewone skaapwagter. Sy doel hiermee was om dan vir hom so na ‘n meisie te soek wat hom net so as ‘n skaapwagter sou aanvaar, sonder die wete dat hy in werklikheid die koning was.

So sou hy dus vir al die dogters van Jerusalem ‘n onteenseglike toets bring. Almal was bereid om met die koning te trou. Nou sou hy sien of hulle in hom as doodgewone mens sou belangstel.

Dit was dan ook baie interessant dat hy in sy soektog na die Libanon vlakte gaan, want daar het die arm mense gewoon. Hy vind dan ook “n meisie wat in sy smaak val.

Hooglied 1:6 “Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie.”

Sy was ‘n meisie wat hard moes werk omdat sy uit die arm-klas gekom het. Sy het baie duidelik gevoel dat hierdie omstandighede haar in diskrediet gebring het by hierdie jongman. Min het sy besef dat hy moeg was vir die meisies wat die heeldag net voor die spieelkas  gesit het, maar nooit deur die werklike hardheid van die lewe tot wasdom gebring was nie. So dit wat sy gedink het haar in diskrediet gebring het, was juis wat Salomo in sy wysheid na verlang het.

Tog het hierdie meisie aangevoel dat daar iets nie pluis was nie. Hy was die koning maar sy het dit nie geweet nie. Tog het sy iets aangevoel. Daarom vra sy hom dan ook waar hy vandaan kom en wie hy werklik is. Maar met al sy wysheid het hy daarin geslaag om al hierdie slim vrae te omseil. Kom ons lees nou die volgende twee verse.

Figuur 2 DIE OORDEEL VAN ISRAEL

Hooglied 1: 7,8 “Vertel my tog, my sielsbeminde waar laat u weë, waar laat u smiddags die vee lê en rus? .. As jy dit self nie weet nie, mooiste onder die vroue, gaan dan uit op die spore van my skape.”

So het hy geslaag om die onsekerhede van sy ware identiteit te omseil. Die liefdesweg tussen hulle het mooi verloop. Let op die volgende tekse:

Hooglied 2:5 “Versterk my met rosynkoeke, verkwik my met appels, want ek is krank van die liefde.”

So het Salomo daarin geslaag om vir hom ‘n vrou te bekom wat hom aanvaar het vir wie hy as persoon is en nie vir wat sy as koningin sou bereik nie.

Salomo het later teruggegaan en vir die troue voorberei. Hulle bruidskar was ‘n groot bruidstoel wat deur sestig soldate gedra moes word. Mooi was die wonderlike ontdekking toe hierdie arm skaapwagters meisie deur die koning gehaal was om die koningin van Israel te wees.

Let nou na die volgende tekse:

Hooglied 3:7-11 “Kyk, dit is die draagstoel van Salomo, sestig helde daaromheen, van die helde van Israel. Koning Salomo het vir hom ‘n draagstoel gemaak van die hout van die Libanon en die stele daarvan het hy gemaak van silwer, die leuning van goud, die sitplek van purper, die binnekant mooi opgemaak- ‘n liefdegawe van die dogters van Jerusalem, kom uit dogters van Sion, en aanskou met vreugde die koning Salomo, die krans waarmee sy moeder hom bekrans het op sy troudag en op die dag dat sy hart vrolik is.”

Hooglied se hootepunt

Op ‘n dag na baie maande, word daar aangekondig dat die koning na hulle dorpie toe kom.  Hulle is almal opgewonde.  In die skare was sy ook.  Sy stel nie so baie belang om die koning te sien nie, sy was op soek na haar geliefde.  Haar oë het so deur de skare gesoek.  Waar kan hy wees?  Sowaar, daar draai die hele prosessie in haar straat af en kom tot stilstand voor haar ou arm huisie.  Toe vang haar oë, sy oë…  Haar geliefde is die koning en hy het haar kom haal.

So het Salomo dan vir die dogters van Jerusalem onteenseglik blootgelê. As Salomo met sy skape verbygestap het wou hulle niks met hom te doen hê nie. Maar as hy sy koninklike klere aan gehad het, wou hulle oor sy klere doodgaan. Dit was nie vir Salomo met sy goddelike wysheid genoeg nie. So het Salomo bewys wat werklik in hulle harte omgegaan het.

Ons as mens sien altyd net die uiterlike, die vroomheid, maar die Here kyk diep in die hart. Die groot doel van die oordeel is om aan die mense te bewys wat werklik in die harte aangaan.

Die Oordeel Gaan Dit Bewys

Die Oordeel Van Israel

Toe Jesus die eerste maal na die aarde gekom het, het Hy net soos Salomo Sy Koninklike klere uitgetrek. Jesus die Koning van die aarde wat nie gebore is  in ‘n paleis of in die tempel nie, maar in ‘n stal, ‘n kraal. Hy was tussen die diere, in ‘n krip, ‘n voerbak, neergelê.

John 1:10,11 Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. 11Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

Wat het die Jode, God se kinders, hulle wat die Woord gehad het, met Jesus gedoen?  Wat het hulle met Jesus gedoen toe Hy met dood gewone klere in die strate van Israel gewandel het?  Nog niemand het so goed die woord van God verklaar soos Hy nie.  Niemand het nog ooit vir arm mense so omgegee nie.  Nog niemand het vir ‘n sondaar so baie omgegee nie. Die vrou by de put was verwerp deur mense en God het vir haar verlossing gebring. Nog niemand het so baie omgegee nie. Wat maak die Joodse volk met die man van Liefde, met God in Sy skaapwagters klere?  Wat maak hulle met die Skepper in Sy armmans klere?  Ja hulle het al die profesieë gehad om vir hulle te verklaar wie Hy is, maar wat maak hulle met Hom?  Het hulle ag gegee op die profesieë?  Wat het die dominee’ en pastore van daardie tyd met Hom gemaak? Hy wat liefde uit geleef het.  Uiteindelik het hulle hom voor die hof gedaag.  Hy was onskuldig.  Tot die Romein, die heiden het niks fout gevind in Hom nie.  Wat skree die Jood, die sinode op daardie dag? KRUISIG HOM, WEG MET HOM.

Die Joodse oordeel

Joh 3:19 En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

Ja die lig, Jesus het in hulle midde gewandel.  Liefde het tussen hulle gewandel, hulle het die waarheid hoor spreek, hulle het die lig ontvang.  Die grootste demonstrasie van liefde was in die seun van God beliggaam.  Die monogeneis, die enige geborene,  wat verklaar het dat as ons Hom gesein het het jy die Vader gesien.  Almal het Hom geken. Nou hoekom het hulle Hom gedood?  WANT HULLE WERKE WAS BOOS.

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, was die volgelinge van Jesus maar 500.  Ja hulle was soos hierdie vrou wat gese het, gee dan eerder my kind weg.  Al verwerp die hele nasie Hom, ek sal by Hom bly.   Paar weke later 3000 wat deur Petrus, vervul met die Heilige Gees, bekeer het en net daarna 5000. 

Jesus as Baba

Toe Jesus, as baba geneem was om geseën te word deur die priester.  Die priester, die pastoor van die dag, neem die Seun van God in sy hande en hy weet nie eers dis God nie!  Daar was enkeles gewees wat wel vroom en opreg was.

Luke 2:25 EN daar was ’n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom…. 34En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word 35ja, ’n swaard sal deur jou eie siel gaan—sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.

Maria het nie geweet dat sy die dood van haar kind sou sien nie.  Sy was by die kruis tot  Hy oorlede is.

Die Oordeel Van Die Laaste Dae

Die Oordeel Van Die Laaste Dae

Open 14:6 “En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.”  7 “En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die see en die waterfonteine gemaak het.

God vra ons om die regte God te aanbid.  Die ware God wat die aarde gemaak het.

Open 13:1 EN ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ’n naam van godslastering. 3En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. 4En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? 8En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.  15En dit is hom gegee om ’n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.

Onthou ons fokus nou op aanbidding.  God vra ons om die ware God te aanbid, maar hier sien ons die hele wêreld aanbid die dier en nie God nie.  Dieselfde Gees wat Jesus gekruisig het, ja die geestelike leiers word deur die gees gelei.

Open 14:7 “En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die see en die waterfonteine gemaak het.

Hierdie vers ontbloot ons hart, soos Salomo die vrouens se harte ontbloot het.  Die vraag is wie aanbid jy werklik? Wie jy het werklik lief?  Het jy God lief, het jy Sy woord lief? 

Markus 7:7 Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. 8Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.

Volg/aanbid ons werklik God of volg ons tradisie.  Is ons werklik gehoorsaam.  Wie vrees jy, die mens of God?

Eks 20: 11 “Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewendedag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbat geseën en dit geheilig.”

Wat se die engel in werklikheid vir ons?  Wat maak jy met die heel eerste gebod wat in die Bybels taan?  Die een wat verwys na die skepping toe?

Net soos die eerste engel in Openbaring, verwys die Gebod ons hier na die Skepping. Ons word dus herhaalde male verwys na die feit dat die Sabbat die eerste wet is wat die Here ingestel het.

Ja die engel van Openbaring 14:7 haal die vierde gebod aan.  Hy vra of ons die God van die gebod aanbid.  Hy vra of ons daardie skepper God aanbid.  Ons kan nie se ons aanbid God en verwerp Sy wette nie.  As jy ‘n mag se wette verwerp, rebelleer jy teen die mag. [JJ1] 

Gen 2: 1-3 “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leermag. En God het op die sewendedag Sy werk voltooi wat Hy gemaak het en op die sewende dag gerus van al Sy werke wat Hy gemaak het. En God het die sewendedag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al Sy werke wat God geskape het deur dit te maak.”

Hierdie instelling word in die gebooie herhaal en so wys dit vir ons uit wie se gebooie dit is.

Die Woord – ‘n Tweesnydende Swaard

In die boek Hebreërs word hierdie saak dan baie pertinent gestel. Dat die Bybel, die Woord van God, ‘n tweesnydende swaard is, wat die ware gedagtes van ons harte gaan blootlê.

Heb 4:12,13 “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as ‘n tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van die siel en die gees en van die gewrigte en murg, en is ‘n beoordeelaar van die oorlegginge en die gedagtes van die hart.”

Hier word die beginsel wat in die OORDEEL gebruik word baie pertinent gestel. Dit gaan uiteindelik oor die oorlegging en die gedagtes van elke mens se hart. Soos die twee vrouens se harte blootgelê was. Soos Simeon dit gestel het, dat Jesus se “skaapwagters” klere die Jood se ware hart sou blootlê.

Heb 4:13 “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.”

Vir Jesus is niks van ons harte onsigbaar nie. Alles lê vir Hom oop en bloot.

 In die tien gebooie verwys dit na die God wat die hemel en aarde gemaak, die see en alles wat daarin is…  En die gebod vra dat ons die dag moet gedenk en Heilige (Ex 20:8).  As iets geheilig word, is dit omdat God daarin is.  Niks kan geheilig wees sonder God nie: Kyk wat se Open 15: 4″Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het. ”  Hier sien ons Dat God alleen Heilig is en waar Hy is, is dit Heilig.  Ons sien die konsep met die feit dat die Woord ons Heilig en Jesus is die Woord.  Verder was die brandende bos in die woestyn net Heilig omdat God in die brande bos was.  Daar is niks besonders aan die bos nie, dis net omdat God daarin is.  (Ons kan nie die bos heilig maak nie)  So is dit ook met ‘n dag.  ‘n Dag is net Heilig as God daarin is/geheilig het met Sy teenwoordigheid. 

God vra wel vir ons in die gebod, dat ons moet doen wat Hy gedoen het.  Ons moet die Sabbat eenkant plaas (heilig) soos Hy die Sabbat geheilig het.  Hy het op gehou werk en nou wil Hy nie hê ons moet werk nie.  Die Sewendedag Sabbat is dus Heilig omdat God dit geheilig is, Hy is tog immers die Here van die Sabbat: Matthew 12:8 “want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.”

Nou hoe koppel Openbaring 14:7 aan die Sabbatsgebod.  Eerstens word ‘n gedeelte van die Sabbatsgebod aangehaal:  “…Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”  Tweedens word daar gevra om Hom te aanbid, omdat Hy die Skepper is en die gedeelte gekoppel aan die aanbidding is ‘n herhaling van die tien gebooie(vierde gebod).  Waar die doel van die vierde gebod juis aanbidding is, waar ons die Heilige dag (omdat God dit geheilig het) met God deel en Hom dank en loof.

Die konsep van aanbid en die Sabbat is een.   Ons sien in Jes 66:22-2322Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. 23En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here.

Laastens wil ek graag uitwys dat die Sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie.  Dus het God die sewende dag Sabbat gemaak.  Hy het die Sabbat gemaak nie ons nie.  Hy het gevra dat ons daarop rus, soos Hy gedoen het.  Hy verklaar dat ons op die Sabbat vir ewig Hom sal aanbid..

Ons Oordeelsinstrument

Ons Oordeelsinstrument

Hier in hierdie 4de hoofstuk van Hebreërs, word die oordeels-instrument vir ons baie duidelik uitgespel. M.a.w. hier gaan ons sien wat die instrument, of metode is wat Jesus gaan gebruik om die oorlegging van die hart van die laaste dag Christen bloot te lê.

Nou met ‘n gebed in ons hart, kom ons gaan nou versigtig deur hierdie hoofstuk.

In die 1ste vers gaan ons sien dat ons hier gevra word om seker te maak dat daar niks in ons hart is wat sal verhinder dat ons die ewige rus, die Hemel sal kan ingaan nie.

 Heb 4: I “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog stand hou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie.”

Hierdie is ‘n baie ernstige saak. Nie een van ons sal eendag wil agterbly nie. Daarom moet ons seker maak.

In die 24ste vers word dit duidelik gestel dat almal die Bybel het maar dat nie almal regtig ter harte neem wat daar in staan nie.

Heb 4:2 “Want aan ons is die evangelie verkondig net soos aan julle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaar nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.”

Ja, nie almal het ter harte geneem dit wat uit die Woord na hulle gekom het nie en dit dus nie geglo het nie.

In die 3de Vers word daar ‘n baie ernstige stelling gemaak. Hier word dit onomwonde gestel dat sommige nie in die hemel sal kan ingaan nie. Alhoewel die verlossingsplan reg van die begin af daar was. In hierdie vers blyk dit ook dat die Here ontsteld is.

Heb 4:3 “Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal My rus nie ingaan nie alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.”

Hierdie vers stel dit baie sterk dat die Here in Sy toorn sê dat jy nie sal kan in gaan nie. Waaroor gaan hierdie ontsteldheid? Wat is dit wat ons uit die Hemel sal kan hou?

Ons sal die antwoord op hierdie ernstige saak nou in die 4de vers vind. Kom ons lees hierdie vers nou met “n gebed in ons harte:

Heb 4:4 “Want Hy het êrns van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werk gerus.

Die groot saak hier is die Sewendedag Sabbat. Hier in hierdie teks word daar net soos in Openbaring na die Skepping verwys waar die Here net na die skepping van die aarde die Sabbat ingestel het.

Die groot waarheid vandag is dat die Christen-wêreld hierdie instelling van God verwerp het.

In die 5de vers word dit weereens net soos in die 3de vers baie pertinent gestel dat ons sonder die onderhouding van die Sewendedag Sabbat nie die rus van die Here sal kan ingaan nie. Kom ons lees nou die 5de vers.

Heb 4:5 “En nou hier weer: Hulle sal my rus nie ingaan nie.”

Hierdie woorde kan nie duideliker gestel word nie. Ons sal hiersonder die Hemel nie kan ingaan nie.

In die 9de vers word die gedagte wat in die 4de vers so duidelik gestel was weereens beklemtoon. Heb 4:9Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. 10want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.”

Ons Oordeelsinstrument vervolg

Heb 4:11–12 (DIE BYBEL: Afrikaans 1933/1953-vertaling)

11Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.

12Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

 Hier het ons nou by die groot waarheid gekom. Hier is nou die saak wat elke mens se hart gaan blootlê. Die onderwerp is die Sewendedag Sabbat. Met ‘n groot skok ontdek die mens in die Profesieë dat God se eerste instelling reg aan die begin van die Skepping nog nooit afgeskaf was nie.

Die vraag is, wat maak jy met die woord van God.  Gaan jy ongehoorsaam wees?  Sny hierdie woord diep in jou hart om te wys wat werklik daar aangaan.  Wil jy Jesus se kind wees of nie?  Wil jy Hom gehoorsaam of nie?

Dit was die Klein Horinkie wat die Sondag kom instel het, “en die hele wêreld het met verwondering agter die dier aangegaan.” (Openbaring 13:3)

Nou word elke Christen voor ‘n keuse gestel. Of hy gaan die Sabbat van die Here onse God (Exodus 20: 10) onderhou, of die Sondag wat suiwer ‘n menslike instelling is, onderhou.

Nou sê hierdie teks dit gaan ons hart blootlê tot by die ware oorlegging van ons harte

(” … en dit bring deur tot die skeiding van die Siel en die Gees en van die gewrigte en murg, en is “n beoordeelaar van die oorlegging en gedagtes van die hart.”)

Kom ons lees nou die 13de vers

Heb 4: 13 “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.”

Alles lê oop en bloot voor die Here. God sê gedenk die Sabbat dat jy dit Heilig. Die Pous sê onderhou Sondag. Wie gaan ons gehoorsaam.

Die uur van Sy OORDEEL het gekom

Dit is wat die Engel in Openbaring aangekondig het. Hy het ons verwys na die Skepping.

By die Skepping was die Sabbat ingestel.

Die 4de Gebod self sê dat die rede waarom ons die Sabbat moet onderhou is omdat dit

 “n Skeppingsordinansie is.

In Hebreërs die 4de Hoofstuk is ons weer daaraan herinner dat die Sabbat by die Skepping ingestel is en dat ons dit moet onderhou.

Dan het hierdie hoofstuk vir ons gesê dat die Sabbat ons ware gedagtes en oorlegginge van ons harte gaan blootlê.

Die Boeke Van Die Oordeel Geopen

Ons wil nou terug gaan na Daniël 7. Dit was die lesing oor die Klein Horinkie, die Antichris.

Toe ons die lesing gedoen het, het ons die dag Daniël 7:9,10 oorgeslaan. Vandag wil ons dit onder u aandag bring. Dit sê hier dat wanneer die studie oor die Antichris aan ‘n persoon gebring word gaan sit die Here op Sy oordeelstroon om waar te neem wat

jy gaan doen as jy van die verandering van die Sabbat na die Sondag hoor. Kom ons lees die twee tekse:

Daniel 7:9,10 “En ek het bly kyk totdat trone reggesit is en die Oues van dae gaan sit het: ….. .die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.”

God sit dus op Sy Oordeelstroon wanneer jy en ek hierdie oopgemaakte Profesieë aanhoor, want dit openbaar wat werklik in ons harte aangaan. Gee ons genoeg vir die Here om, om te doen wat HY van ons vra? ” … sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.”

Ons het reeds herhaaldemale gehoor van die Antichris wat in die kerke sou kom sit en voorgee dat Hy god is.

2 Thess 2:4 ” … sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. “

Die Bybelleer ook dat hy hier in die kerke Kragtige dade sal verrig en dat hy “wonderlike” leuens sal vertel.

2 Thess 2:9 “Hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen.” ” … die wat verlore gaan ….. “

Ons Oordeelsinstrument vervolg

Die volgende teks bring dan aan ons, Wie sal verlore gaan? Dit sal hulle wees wat nie ‘n Liefde vir hierdie geopenbaarde waarheid het nie (Kom ons luister mooi na hierdie woorde want ons wil mos nie verlore gaan nie)

2 Thess 2:10 “En met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.

Nou kom daar ‘n baie moeilike teks. Hier word gesê dat as ons verkies om die leuen te glo, die Here dan maar sal toelaat dat jy deur die krag van die dwaling mislei sal word. Luister aandagtig en met ontsag na die volgende teks:

2 Thes 2: 11 “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo.”

Dit is dan ook hoe ons die merkteken van die dier ontvang.

Hoekom Laat God Dit Toe????

Die antwoord is ‘n swaar antwoord. Dit is die persoon self wat die keuse gemaak het. Hy wil nie die Waarheid soos dit hier in die Profesieë geopenbaar is, aanvaar nie. Wat kan die Here dan nou anders doen as jou maar tussen die dwaling te laat en dat jy nou deur die “wonder van die leuen” verder mislei sal word. Ja, so ontvang hy/sy wat nie ‘n liefde vir die WAARHEID het nie die” …. krag van die dwaling …. om die leuen te glo.” .

Satan het “n oorlog teen die WET gemaak.

Openbaring 12:17 en Daniël 7:25 sê dat Satan die WET van God beveg het en dat hy die Tyd van die Wet verander het. (Van die Sewendedag na die Eerstedag van die week)

Waarheid met voorspoed op die grond neergewerp.

Openbaring 13:3 en Daniël 8:12 sê dat die Satan die Waarheid met voorspoed op die grond neergewerp het en dat die hele wêreld hom met verwondering hierin nagevolg het. Ja, hy het die Sabbat verander na die Sondag en almal het hom hierin gevolg net soos die profesie voorspel het.

Open 13:3 “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan.”

Dan 8:12 “En dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.”

Die Paspoort Tot Die Hemel

Openbaring 22:14 maak dit onomwonde duidelik dat ons nie die Poorte van die Hemel sal kan ingaan as ons nie toegelaat het dat die Here sy WET volkome in ons harte plaas nie. Jesus het dit in

Matt 5: 17-19 duidelik gemaak dat ons nie die wet in sy kleinste besonderheid mag verander en die mense so leer nie.

Open 22: 14 “Salig is hulle wat Sy gebooie doen sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte van die stad.”

Geliefdes ons mag nie toelaat dat ons mislei word nie. Die Sondag is gedurende die donker eeu die kerk ingebring. Dit was ‘n donkere gebeurtenis. God het dit verborge gehou omdat Hy dit in Sy Alwysheid, soos ons dit in die boek Hebreërs gesien het, as “n oordeels-instrument wou gebruik.

Ons hart is nou blootgelê. Ons moet nou “n keuse maak. Ons moet of hierdie waarheid aanneem en sodoende die seël van God ontvang. Want daardeur bewys jy dat jy God bokant die wêreld verkies.

Of jy kan die liefde tot die waarheid nie aanneem nie, en dan sal dit vir die Here duidelik word dat jy dit nie wil aanneem nie, en jy oorgelaat sal word aan die Krag van die dwaling en jy dan die leuen sal glo.

Die 1ste En Die 3de Engele Se Boodskap.

Ten slotte lees ons net hierdie twee Engele se boodskappe saam.

Open 14:6-10; “En ek het “n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met die ewige evangelie om te verkondig. En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom, en aanbid Hom wat die see en die waterfonteine gemaak het. En ’n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery. En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid, en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is, in die beker van Sy toom.” Salig is hulle wat die woorde van Openbaring Lees, Hoor, Bewaar (Openbaring 1:2).

Lesing Media

Lesing 11: Die Uur van Sy Oordeel het gekom, pdf: 11 Die Uur van Sy Oordeel het gekom

Volledige klankbaan van Lesing 11 :Die Uur van Sy Oordeel het gekom.mp3

Oorspronklike Video van Lesing 11: 11 Die Uur van Sy Oordeel het gekom.mp4 (Hiedie skakel vat u na ons OneDrive omgewing toe, waar u dan op die aflaai pyltije moet druk.

Elke hoofstuk word aan die einde van die bladsy beskikbaar gestel in pdf (geskrewe formaat), mp3 (klankbaan) en mp4 (video). U is welkom om die materiaal en die webwerf te deel soos u goeddink. Daar is wel een voorwaarde: moet nie die inhoud op enige manier verander dat dit afbreek maak van die oorspronklike nie. As u enige veranderinge aan die oorspronklike wil maak, kontak ds. Louis Jordaan se seun Jaco by info@TeksOpTeks.co.za of TeksOpTeks@gmail.com

Lesing 12: Die Uur van Sy Oordeel het gekom

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *