Die Boek Openbaring – 02 Die Toekoms geopenbaar

Lesing 2: Die Toekoms geopenbaar

Ds. Louis Jordaan

Die reeks bestaan uit 16 lesings. Ek stel voor dat u by lesing 1 begin en werk stap vir stap deur die lesings. Byna al die verse is aanhalings uit die 1953 Arikaanse Bybel. Onder aan elke lesing kan u die volledige lesing aflaai in pdf, klankgreep en video.

Onderaan die bladsy is die skakels vir die volledige pdf, mp3 en video van die lesing.

Hfst. 2: Inleiding

Soos ons gesien het (Lesing 1), in Mattheus 24, toe die dissipels vir Jesus vra: “Hoe sal die einde wees?” Het Jesus vir ons die sleutel gegee:

Matt 24: 15 “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – Laat hy wat lees, oplet”

Waar het ons gesien gaan Satan werk, waar gaan hierdie gruwel wees?  Binne die kerk!!!.  Nou vra Jesus ons om die boek Daniel te lees en OP TE LET.

Let op dat Jesus ons hier maan om dit goed te begryp. Die rede is dan dat Daniël die EINDE VAN DIE DAE toelig.

Kom ons kyk dan na ons eerste profesie:

Dan 2:28 “Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.”

Hierdie profesie het te doen met die tyd waarin ons lewe.

Dan 2: 1-2 “En in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar ‘n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was. Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Toe hulle kom en voor die koning gaan staan,

Die koning het dadelik besef dat dit geen gewone droom is nie, daarom het hy al sy geleerdes bymekaar laat kom, om die droom vir hom te verklaar. 

Ons as mens is nie verniet in leierskap nie. Die koning wou egter seker maak dat hulle nie net ‘n uitleg uit die duim suig nie, daarom het hy hulle nie die droom vertel nie, maar wou eers hulle egtheid toets. As hulle hom kon vertel wat hy gedroom het, dan sou dit die bewys wees dat hulle waarlik kontak met die gode het.  Hy sou later uitvind dit is die ware enigste God waarmee hulle in verbinding moes wees.

Vers 5,9 “Die koning het geantwoord en aan die Chaldeërs gesê: Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word Want as julle die droom my nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om ‘n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging te kenne kan gee.”

Hierdie manne staan in die koning se diens, maar hy kon nooit in die verlede hulle egtheid toets nie.  Met hierdie toets kon hy hulle egtheid toets.

Hierdie wyse manne was egter nou in ‘n hoek, want hulle het altyd hulle eie vertolkings gegee en daarom moes hulle nou erken dat hulle nie werklik gesigte kon verklaar nie, maar dat slegs God wat die gesig gegee het, dit kan verklaar.

Vers 10 “Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen mense op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeërs verlang nie.”

God stel konings aan.

Die koning was nou baie ontsteld omdat hy besef het dat hierdie manne nog altyd net aan hom stories vertel het, wanneer hulle voorgegee het om drome te kan verklaar. Daarom het die koning nou besluit om hulle om die lewe te laat bring.

Vers 12-13 “Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring. Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word.”

Dit is nou hier waar Daniël na vore tree om hulle lewens te red. Hy vra die koning om hom tyd te gee om die droom en sy uitlegging vir die koning te kan verklaar.

Vers 16 “Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee.” Nou doen Daniël ‘n baie mooi ding. Hy gaan na sy drie vriende en saam bid hulle oor die saak.

Vers 17-18 “Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hananja, Misael en Asarja, sy metgeselle, die saak bekend en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.”

Die Here verhoor hulle gebede deur nou ook vir Daniël die droom te gee, asook die uitlegging. Hiervoor was hulle die Here baie dankbaar.

Vers 19-20 “Daarop is in ‘n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof. Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.’

Baie insiggewend is die woorde wat Daniël nou eerste uitroep. Dit gaan ook vir ons die SLEUTEL wees tot die uitlegging van hierdie gesig.

Daniël maak dit duidelik dat dit die Here is wat die regeerders van die wêreld aanstel, en weer afstel soos die Here die geskiedenis rig. Ons sal duidelik sien hoe hierdie konsep later in die uitlegging van Daniël na vore kom.

Vers 21-22 “Hy tog verander tye en geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duisternis is, en die lig woon by Hom.”

Nou kom die groot toets vir Daniël. Hy moet nou vir die koning die droom vertel. Die koning het die droom nog vir niemand vertel nie, en nou staan hierdie jong Jood voor hom en sê dat hy weet wat die koning gedroom het. Daniël het egter die toets heeltemal geslaag, want hy het presies vir die koning vertel wat hy gedroom het. Dit het die koning vertroue in Daniël gegee.

Die Droom

Vers 31-33 “U, 0 koning, het ‘n gesig gehad – daar was ‘n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; en dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.”

Die Uitleg

Nou gebeur daar iets wat nie deur die mens bewerkstellig kan word nie. “Sonder toedoen van mensehande.”

‘n Klip raak los en tref die beeld aan sy voete en vergruis die hele beeld van onder na bo.

Na die beeld vernietig is, sê dit dat die klip die hele aarde gevul het.

Vers 34-35 “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en klei en dit fyn gestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloer in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.”

Maar nou weet Nebukadnesar nog steeds nie wat is die betekenis van hierdie droom nie:

Uitleg van die droom

Nou gee Daniël aan ons die uitlegging van die droom wat oor die EINDE VAN DIE TYD gaan, en wat Jesus gesê het moet ons sorg dat ons dit GOED BEGRYP.

Let op dat die Bybel self nou die gesig verklaar.

Vers 36-40 “Dit is die droom; sy uitlegging salons nou voor die koning sê: U, 0 koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag En die sterkte en die eer verleen het, … u is die hoof van goud. En na u sal daar ‘n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; .. , daarna ‘n ander, ‘n derde Koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; En die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos yster wat vergruis, sal dit alles fynstamp en vergruis.”

So kom Nebukadnésar en ons nou agter, dat die beeld oor koninkryke gaan.  Verder besef Nebukadnésar dat Babilon nie vir ewig gaan regeer nie.  Net soos die Afrikaners in Suid Afrika besef het dat hulle nie vir ewig hier gaan regeer nie.

Hoof Van Goud

U is die hoof van goud. Nebukadnésar was die koning van Babilon, dus het die hoof van goud die Babiloniese ryk voorgestel.

Bors Van Silwer

Daarna kom die volgende koninkryk, die Meders en Perse wat deur die Silwer voorgestel word. Ons weet dit nie net uit die geskiedenis nie, maar dit word ook vir ons in Daniël 8 gesê.

Dan 8:20 ” … die konings van die Meders en die Perse.”

 Lendene Van Koper

Daarna kom die gedeelte van koper wat Griekeland voorstel. Weereens weet ons nie net uit die geskiedenis dat Griekeland volg nie, maar die profesie van Daniël 8, wat ons later gaan bestudeer, sê vir ons vooruit, voordat Griekeland nog bestaan het, dat hulle die Meders en die Perse sou opvolg.

Dan 8:21“is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.”

Alexander die grootte kom en verower vanaf Griekeland tot in Indië

Bene Van Yster

Nou kom die LAASTE WÊRELDWYE ryk wat ons in die geskiedenis geken het, nl. die magtige ROMEINSE RYK. Ons gaan nou nie baie aandag aan die Romeinse Ryk gee nie, want in die volgende gesigte van Daniël 7-9, gaan ons baie aandag daaraan gee.

Vers 40 “en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal dit alles fynstamp en vergruis.”

Dit is ‘n groot saak hierdie om te besef dat die Here, soos Daniël dit uitgeroep het, die geskiedenis vooruit ken. Dat die Here hier honderde jare vooruit gesê het watter nasies gaan heers. Nasies wat op daardie stadium nog nie eers bestaan het nie.

Voete Van Yster En Klei

Vers 41 “En die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was – dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees,”

Hier sê die Bybel nou dat na die vierde ryk, daar ‘n verdeelde nasie sal wees. In Daniël 7 word dit gesê dat dit in 10 ryke sal verdeel. Ons sien in die kaart die Latynse name.

Dan 7:24 “En die tien horings – uit daardie koninkryk sal tien horings opstaan,”

Dit is dan ook presies wat met die Romeinse ryk gebeur het.  In die 395 het die Romeinse ryk begin val en teen die jaar 476 n.C. was dit verdeeld in 10 koninkryke. Presies soos die Bybel voorspel het; en dit is die nasies waaruit Europa vandag nog bestaan. Dan sê die teks verder dat sommige van hierdie nasies STERK en ander SWAK sal wees. En dit was en is inderdaad waar. Die Duitsers, die Franse en Engelse, was inderdaad sterk nasies, terwyl die ander relatiewe swak nasies gebly het.

Vers 42 “en dat die voete en die tone deels van yster en deels van klei is – gedeelte  van die koninkryk sal hard en ‘n gedeelte sal bros wees.

Ja ons ken nie meer wêreld ryke nie.  Die wêreld-ryke het nou verdeel…

Nou sê die Bybel verder dat hierdie nasies sou probeer om Europa weer te verenig, maar dat hulle NOOIT daarin sal slaag nie.

Vers 43 “Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het – hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aan mekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.” 

Hierdie droom is waar.

Presies dit het in die geskiedenis gebeur. Daar was herhaalde pogings deur verskeie lande om Europa te verenig. Almal het besef dat as hierdie sentrale kontinent, Europa, kon verenig, ja as die Duitsers, die Franse, die Engelse, die Spanjaarde, ens. kon verenig en een nasie word, dit die magtigste nasie in die wêreld sou word. Net soos die Bybel voorspel het, het baie ook probeer om Europa onder een vlag te kry.

NAPOLEON van Frankryk het probeer, maar nie geslaag nie.

HITLER van Duitsland het hard probeer, maar net soos die Bybel voorspel het, het hulle ook nie geslaag nie. Engeland het probeer, dit is waarom ons land ook onder die Engelse

vlag was.

Maar die Bybel het sê: “HULLE SAL NIE AAN MEKAAR VASKLEEF NIE” en daarom weet ons dat daar nie weer net EEN nasie oor die wêreld sal heers nie. Ja, ons hoef nie te vrees dat, KOMMUNISME of wat ook al, die wêreld sal oorheers nie.

Die Wederkoms

Vers 44 “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, … en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie;”

Deel 6:

Maar in die dae van die konings, gaan die Here sy evangelie na die hele wêreld neem. Die heerskappy sal nie meer aan een volk oorgelaat word nie. Nou is dit belangrik om te onthou, dat tot op hierdie tydstip in die geskiedenis was die EVANGELIE net aan die Joodse volk bekend.

Die Bybel het eeue voor die tyd, (deur hierdie profesie) bepaal dat in hierdie tyd, en dit was die tyd toe die Romeinse ryk besig was om te verbrokkel, die evangelie na alle nasies geneem sou word.

Dit is presies op die regte tydstip dat Paulus en die ander apostels die evangelie na die wêreld geneem het.  Hierdie is inderdaad ‘n groot saak.  Dat die Here al in die antieke tyd van Babilon, presies gesê het watter ryke mekaar sou opvolg, en ook die regte tyd wat die evangelie aan die wêreld geneem sou word. Vandag is daar nie ‘n gedeelte op die aarde waar ons nie die geloof in Jesus aantref nie.

Nou het ons die droom van die beeld byna volledig behandel.

  1. Kop van Goud = Babilon
  2. Bors van Silwer = Meders en Perse
  3. Lendene van Koper- Griekeland
  4. Bene van Yster = Romeine
  5. Voete & Tien Tone van Yster en klei = Europese Nasies

Al wat nog in vervulling moet tree van hierdie droom, is die klip wat sonder toedoen van

mensehande moet kom, en dit is die belofte wat die meeste in die Bybel voorkom, nl. die

Vers 45 “net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. ‘” Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”

Die WEDERKOMS VAN DIE Jesus Christus. (1518 keer).

Die droom is WAAR en sy uitlegging BETROUBAAR. Alles wat die profesie gesê het gebeur, en al wat nou nog oorbly is die WEDERKOMS.

Daar gaan in die laaste dae diegene wees, wat sê dat die wederkoms nie sal plaasvind nie.

Hulle self is juis die bewys dat dit wel gaan gebeur, want die Here het gesê dat hulle daar gaan wees.

2Pet 3:3, 4, 9,10,13,17

Vers 3,4 “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel En sê: waar is die belofte van die wederkoms? Want vandat ons vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”

Die Here vertraag nie sy beloftes nie, maar Hy het ‘n spesifieke tydsverloop soos ons in die studie gesien het.

Wat beteken ‘n datum?  Dit beteken dis soveel jaar na wie?  Na Jesus aarde toe gekom het.

Vers 9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

Die Here gaan egter verseker kom, en vir baie gaan dit onverwags wees. Hierdie aarde soos ons hom nou ken, gaan nie vir altyd bestaan nie.

Vers 10 “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”

Ons groot hoop bly, dat die Here sê dat Hy ‘n NUWE HEMEL en ‘n NUWE AARDE gaan skep.

Vers 13 “Maar ons verwag volgens Sy belofte nuwe hemele en nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”

Ons moet vasstaan in hierdie hoop soos die profesie dit vir ons bring.

Vers 17 “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op julle hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie.”

Samevatting

In hierdie eerste Profesie van die GROOT BEELD, uit die boek Daniël, is dit dan baie duidelik dat die Here die geskiedenis verloop vooruit gesien het. In hierdie profesie is die  geskiedenis verloop vanaf die tyd van BABILON tot en met die WEDERKOMS van die HERE aan ons gegee.  Die 21ste vers het dit dan ook baie duidelik gestel.

Dan 2:21 “Hy tog verander tye en geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het.”

In die volgende vers word dit ook baie duidelik gestel.

Han 17:26 “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,” Soos ons reeds in vers 45 gesien het, dat dit baie duidelik gestel was, dat hierdie profesie; “WAAR is en dat die uitleg BETROUBAAR is.” In ons volgende studie gaan ons die volgende profesie in die boek Daniël doen. Uit die studie salons dan duidelik sien wie die ANTICHRIS is.

Lesing Media

Lesing 2 Die Toekoms Geopenbaar pdf: 02-Die Toekoms Geopenbaar-Openbaring van Jesus Christus – JLL Jordaan.pdf

Volledige klankbaan van Lesing 02 : Die Boek Openbaring – Die Toekoms geopenbaar.

Oorspronklike Video van Lesing 02: -Die-Boek-Openbaring-Die-Openbaring-van-Jesus-Christus-JLL-Jordaan.mp4

Elke hoofstuk word aan die einde van die bladsy beskikbaar gestel in pdf (geskrewe formaat), mp3 (klankbaan) en mp4 (video). U is welkom om die materiaal en die webwerf te deel soos u goeddink. Daar is wel een voorwaarde: moet nie die inhoud op enige manier verander dat dit afbreek maak van die oorspronklike nie. As u enige veranderinge aan die oorspronklike wil maak, kontak ds. Louis Jordaan se seun Jaco by info@TeksOpTeks.co.za of TeksOpTeks@gmail.com

Lesing 3: Die Wederkoms

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *